............
“Die DA se regsverteenwoordigers het Donderdag dokumente by die Hooggeregshof ingedien om die rasionaliteit van drie verskillende regulasies in die hof te betwis, naamlik die aandklokreël, die beperkings op e-handel en die beperkte tyd van drie ure soggens waartydens mense toegelaat word om te oefen.”
............
Die DA en die Vryheidsfront Plus gaan die grondwetlikheid van sommige van die regering se inperkingsregulasies in die hof betwis.
Die DA se tussentydse leier, John Steenhuisen, sê die bedreiging wat die huidige grendelstaat vir die land inhou, is veel groter as die bedreiging wat die koronavirus inhou. Hy sê die land het geen ander keuse as om die harde inperking te beëindig en die ekonomie weer aan die gang te kry nie.
Die opposisieleier het die publiek se frustrasie na afloop van Woensdagaand se toespraak deur president Cyril Ramaphosa aangegryp en mense gevra om die DA finansieel te steun in hulle regsproses om die regering hof toe te neem.
Today, the DA announced the court action we are taking to end the national hard lockdown that is tearing our society and economy to pieces. #Day49ofLockdown #EndTheLockdown - @jsteenhuisen https://t.co/JoT1RBzyf9
— Democratic Alliance (@Our_DA) May 14, 2020
“Mense het dalk magteloos gevoel om te help, maar nou kan hulle na ons webwerf gaan en bydra tot ons terugveg regsgeding,” het Steenhuisen mense aangespoor om hulle beursies vir die DA oop te maak.
The threat posed by this lockdown crisis is so much greater than the threat of the virus, that we have no choice but to end the hard lockdown now and start our economy up. #EndTheLockdown
— Democratic Alliance (@Our_DA) May 14, 2020
Die DA se regsverteenwoordigers het Donderdag dokumente by die Hooggeregshof ingedien om die rasionaliteit van drie verskillende regulasies in die hof te betwis, naamlik die aandklokreël, die beperkings op e-handel en die beperkte tyd van drie ure soggens waartydens mense toegelaat word om te oefen. Die party sê hierdie maatreëls kan nie regverdig word nie en behoort onmiddellik geskrap te word.
Hofstukke sal ook Vrydag ingedien word om die grondwetlikheid van die rampbestuurswet regulasies uit te daag. Volgens die DA voldoen dit nie aan die grondwetlike vereistes nie en is die besluite wat deur die Nasionale Korona-bevelsraad geneem word, gevolglik nie geldig nie.
............
“Die opposisieleier het die publiek se frustrasie na afloop van Woensdagaand se toespraak deur president Cyril Ramaphosa aangegryp en mense gevra om die DA finansieel te steun in hulle regsproses om die regering hof toe te neem.”
............
Steenhuisen sê die party wend hom tot die howe omdat sekere inperkingsregulasies nie rasioneel regverdig kan word nie, en daarom tersyde gestel moet word. Hy sê COVID-19 kan moontlik nog vir die volgende twee jaar ’n bedreiging inhou, en daarom sal Suid-Afrikaners moet leer om die virus te bestuur en daarmee saam te leef.
Die Vryheidsfront Plus het vroeër ook bekendgemaak dat hy ’n dringende aansoek in die Hooggeregshof gaan bring om die geldigheid van die Nasionale Rampbestuurswet te betwis. Die party vra dat die hof moet bevind dat die regering die wet misbruik en dat regulasies wat ingestel is, ongrondwetlik is.
VF Plus gaan op dringende basis hof toe om grendelstaat te laat beëindig. @GroenewaldPJ #COVID19SA #LockdownSA pic.twitter.com/dj8TUU61mD
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) May 14, 2020
Die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, sê die ontsluiting van die ekonomie moet nou voorkeur kry maar dat dit weens streng inperkingsregulasies nie kan gebeur nie. Die hof sal ook gevra word om die regering te versoek om redes te verskaf vir die streng regulasies en die redes om daarmee te volhard selfs nadat die regulasies reeds hul primêre doelwit bereik het.
“Die regering moet ook die data bekend maak waarop die ramptoestand gegrond word en hoe beweegredes en tydlyne vir die vlakke van inperking daarvolgens bepaal word. Daar moet redes verskaf word waarom daar so lank gesloer word met die afkondiging van regulasies wat in talle gevalle gebrekkig en sonder enige tydskedule is. Die VF Plus sal daarom op ’n dringende basis die hof nader. Die magsmisbruik van die regering kan nie geduld word nie,” sê Groenewald.
Ramaphosa sê intussen konsultasies sal Vrydag begin oor die moontlikheid om van vlak 4 na vlak 3 van inperking af te skuif. Hy het Woensdagaand gesê dat vlak 3 in dele van die land die einde van die maand in werking sal tree, maar dat gebiede met hoë getalle infeksies op vlak 4 kan bly. Ramaphosa het Donderdag tydens ’n besoek aan die Oos-Kaap gesê hulle sal Vrydag begin om onder meer die Nasionale Ekonomiese en Arbeidsraad, of Nedlac, en die provinsiale regerings te raadpleeg.
“Yesterday I announced that we are going to be having consultations with a view to moving to #Level3. I must make it clear that - we will be moving to #Level3Lockdown” ~ President @CyrilRamaphosa during his visit to the Eastern Cape province #CoronaVirusSA #StayHome #COVID19 pic.twitter.com/VA2NQHEiuY
— Presidency | South Africa 🇿🇦 (@PresidencyZA) May 14, 2020
Die President het in die Oos-Kaap gesê die land is nie vir ewig gestraf met die vlakke van inperking nie en Suid-Afrikaners sal hulle lewe hervat. Hy sê wanneer dit gebeur, moet hulle alles tot hulle beskikking hê om hulle gedrag te verander, aangesien die virus nog lank met ons sal wees. Hy wou hom nie uitlaat oor die vraag wanneer mense weer toegelaat sal word om sigarette en drank te koop nie en het gesê daar moet gewag word tot daardie kwessies afgehandel is.
Lees ook
Buro: MvHStaatsgreep in Suid-Afrika: Paranoia of "power to our people"?