Landwye gespot oor regering se klereregulasies

  • 0

......

“‘Die DA is verstom deur die bisarre en buitengewone lys klerasie wat deur Patel in die Staatskoerant gepubliseer is wat lyk asof dit uit Alice in Wonderland kom,’ het Macpherson Woensdag in ’n verklaring gesê.”

......

Suid-Afrikaners is verstom oor die streng regulasies wat dié week in die Staatskoerant gepubliseer is oor watter klere hulle tydens die grendeltyd se fase 4 mag koop en watter items taboe is. Daar word selfs voorgeskryf hoe sekere kledingstukke gedra mag word.

Foto: Pixabay.com

Die DA se skaduminister van handel en nywerheid, Dean Macpherson, sê die regulasies wat deur die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, in die Staatskoerant gepubliseer is, mag dalk aanvaarbaar wees in ’n kommunistiese land soos die destydse Oos-Duitsland, maar nie in ’n demokratiese land soos Suid-Afrika nie.

“Om dit prontuit te stel, minister Patel het die grap van die land geword met hierdie regulasies. Dit is niks anders as die voortgesette paternalistiese obsessie deur minister Patel en die ANC om aan Suid-Afrikaners te wil voorskryf wat hulle mag of nie mag doen nie.”

Alle skoene vir volwassenes wat te koop aangebied word, moet ’n toe toon hê. Selfs pantoffels met oop tone mag nie te koop aangebied word aan volwassenes nie. Babas en kleuters se skoene mag wel oop tone hê.

Die skoene wat volwassenes mag koop, is volgens die regulasies: stewels, pantoffels, hakskoene met ’n toe toon, tekkies, netjiese skoene met ’n toe toon en skoene wat vir ontspanning gedra word, maar met ’n toe toon.

Die regulasies het ook streng voorwaardes watter soort hemde vir volwassenes gekoop mag word.

......

“Macpherson sê die minister se regulasies is lagwekkend en ’n belediging vir Suid-Afrikaners se intelligensie.”

......

Klere wat volwassenes mag koop is: oefenklere, truie, baadjies en jasse, rokke, langmoubloeses en T-hemde, denimbroeke en baadjies, langbroeke, rompe, kortmoutruie waar dit aangedui word dat dit onder ’n ander trui gedra word, kortmou T-hemde waar dit aangedui word dat dit onder ’n ander kledingstuk aangetrek word. Mens mag ook gholfhemde en eenstukke koop sonder enige aanduiding dat dit onder ander kledingstukke gedra moet word.

Daar is ook ’n lang lys beddegoed wat mense mag koop. Dit wissel van komberse tot kussings en dekens.

Die publieke reaksie op Netwerk24 se kommentaarafdeling waar die regulasies gepubliseer is, was een van stomme verontwaardiging. “Wanneer en hoe gaan hierdie totale waansin tot ’n einde kom? Wie het hierdie minister aangestel as modekommunis, om namens my te besluit wat ek mag koop en hoe ek dit moet dra? Dit is kranksinnig in die oortreffende trap van vergelyking. Elke keer as daar ’n hoes of ’n nies uit China kom, gaan hierdie ANC-regering ’n noodtoestand afkondig en hulle vermaak in ons ellende!” was een van die lesers se reaksie.

Johan Van Dyk meen hierdie virus is slim. “As jy sekere klere koop of dra kom hy vir jou! Mens kan maar net lag vir hulle regulasies.”

Iemand vertel op Facebook van ’n veiligheidswag van Shoprite in Gauteng wat die voorskrifte in die regulasie so ernstig opgeneem het dat hy ’n vrou met ’n T-hemp, kortbroek en ’n masker toegang tot die winkel geweier het.

Die DA het hulle stomme verbasing uitgespreek oor die lys. Die party sê die regulasies is doodgewoon gek en is meer van toepassing in die 1980’s onder die Sowjetunie as in ’n demokratiese Suid-Afrika.

“Die DA is verstom deur die bisarre en buitengewone lys klerasie wat deur Patel in die Staatskoerant gepubliseer is wat lyk asof dit uit Alice in Wonderland kom,” het Macpherson Woensdag in ’n verklaring gesê.

Hy sê daar is geen regverdiging vir die minister om te besluit watter kledingstukke mense mag koop nie, en nog erger, hoe hulle dit moet dra nie. Macpherson sê die minister se regulasies is lagwekkend en ’n belediging vir Suid-Afrikaners se intelligensie.

Die DA sê mense moet toegelaat word om die klere te koop wat hulle wil solank as wat dit op ’n veilige manier met gesondheidsprotokol geskied, maar daar bestaan geen rasionaal vir hierdie klerelys nie.

Lees ook 

Suid-Afrikaners is keelvol vir drakoniese inperkings

Staatsgreep in Suid-Afrika: Paranoia of "power to our people"?

Maak gereed vir nog ’n lang skof inperkings

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top