Die eierdans rondom grondbesit in Suid-Afrika word vurig

  • 0

Het Jan van Riebeeck in 1652 grond in sy drie skepe saamgebring toe hy aan die Kaap ’n VOC-verversingstasie kom vestig het?

Jan van Riebeeck se aankoms aan die Kaap in 1652, geskilder deur Charles Davidson Bell (Wikimedia Commons)

Hierdie vraag het opgeduik toe ’n grondaktivis haarself beantwoord het met: “Nee. Hy het die grond kom steel van die oorspronklike bewoners.”

Die sg grondkwessie in Suid-Afrika is die grootste politieke, en emosionele, probleem wat herhaaldelik opduik. Miskien is dit die heel grootste strydpunt in die land.

Aan wie behoort die grond? Waarom het meer wit mense grond as swart mense wat verreweg die meerderheid is? Hoe moet die grond verdeel word om regverdige eienaarskap te bewerkstellig?

Grondverowering deur oorloë, onder meer onder die swart stamme, grondbesetting deur wit trekboere, onderhandeling met stamhoofde, grondoorerwing deur onderhandeling is faktore wat opduik.

Die huidige kwessie draai om die moontlikheid van grondonteiening sonder vergoeding. Dws om grond van wit besitters te neem en aan swart besitters te oorhandig. Die feit dat dit op konfiskasie neerkom, word ontken. Ook dat ’n Zimbabwe-tipe-grondgryp kan voorlê.

Grond beteken nie net plase nie, maar ook standplase in stedelike gebiede.

Die kwessie het nou, onvermydelik, opgeborrel tot ’n nasionale kwessie, die spilpunt waarom die verkiesing in 2019 sal draai.

Hieragter lê ’n verstommende, en moontlik baie slim gaping wat president Cyril Ramaphosa, heeltemal teen sy gewone politieke aard in, geneem het deur om tienuur die aand aan te kondig dat grond sonder vergoeding afgeneem sal word.

Die truuk was deursigtig, want dit was immers ’n regeringsopdrag dat vergaderings deur die land gehou moet word om die mense se gevoelens oor die grondkwessie te toets en of die huidige Grondwet daarvoor verander moet word. Vox populi het toe nie gegeld nie. Die soms baie driftige vergaderings was nog nie voltooi voor Ramaphosa sy finale besluit bekengemaak het nie: die Grondwet gáán verander.      

Hy het bygevoeg dat 139 plase reeds geteiken is.

Inderwaarheid het die President ’n eierdans uitgevoer. Die ANC se regering word deur die populistiese, en dikwels onverantwoordelike, uitsprake van die Economic Freedom Fighters, die EFF, gesnoeker oor die kwessie van grondbesit.

Die EFF het van verhoë af huisloses aangemoedig om grond te gryp, dws grond waarop nie gebou is, te beset. Huisloosheid is ’n skreiende waarheid vir miljoene swart mense.

Onder EFF-aanmoediging het die “vat en bou”-verskynsel begin. Huisloses sou sommer oornag ’n stuk grond beset en onmiddellik, selfs in die donker, sinkhuise begin oprig. Teen die tyd dat die owerheid daarvan bewus word, moet mense ingestuur word om die hutte af te breek, weg te dra en die besetters hardhandig te verwyder. Dis nie ’n mooi prentjie nie.

Die regerende ANC moet die EFF troef. Neem beheer oor grondbesit, op plase en in woongebiede was duidelik die antwoord.

Plaasgrond is ’n tameletjie. Boerdery lê diep in die grein van die swart kultuur, veral beesboerdery. Opkomende swart boere weet dat boerdery duur is. Skuld moet aangegaan word en die vraag is ook: As ’n plaas van ’n wit boer afgeneem word, wie moet die skuld van die plaas dra?

Die meeste swartboere is tans bestaansboere en die meeste van hulle het hul grond van die staatsinstellings in huurpag. Geen individuele eiendomsreg nie. Die staat self besit reeds sowat 4 000 groot plase, maar ook baie nywerheidsgrond nie, waaroor daar gedurig dispute is.

Ook terg die kwessie van sg trustgrond. Die apartheidsregime het swart mense in sg tuislande probeer tuismaak en ook groot stukke trustgrond aan stamhoofde gegee.

Hier lê nou ’n knellende knop. Groot stukke sulke trustgrond word streng deur stamhoofde, dikwels konings, beheer deur uitverhurings en inkomste van die gehuurde grond. Private besit, dws titelaktes vir die bewoners, word nie toegesê nie.

Inmiddels het stedelikegebiedsowerhede begin om titelaktes aan swart mense te gee. “Nou besit jy eiendom. Jy kan lenings by die banke daarop kry. Jou kinders kan die huis erf. Jy kan dit selfs verkoop teen ’n goeie prys, ens” was die boodskap. Groot instansies het self titelaktes befonds deur dit vir talle mense te gee.

Maar die werklikheid van hierdie privaatbesitverwikkeling skuil agter die groot werkloosheidsyfer, wat op 28% van die bevolking staan. Al het iemand ’n titelakte moet hy/sy inkomste hê om te kan bou en vir dienste te kan betaal.

Werkloosheid en behuising bly verstrengel. Oplossings is dus baie moeilik.

Daarom bereik die politieke retoriek amper fantasiehoogtes. Stedelike grond sál onteien word. Maar selfs die duur grond wat deur nogal baie swart rykes en politici in Suid-Afrika besit word? Ook die groot beleggings van buitelanders in plase en stedelike wonings? Geen antwoorde nie; net vae gerusstellings. Die staat sal besluit.

Die salvo vir die verkiesing in 2019 is dus afgevuur. Grondbesit sonder vergoeding sal vermag word. Dit sal nie buitelandse vertroue in die ekonomie skend nie, sê die staat.

Werklik? Daar is nog geen uitspraak oor hoe die staat buitelandse vertroue sal behou of wen nie.

Lees ook

Ramaphosa saai verwarring oor grond

Suid-Afrikaners praat oor grondonteiening sonder vergoeding

Onteiening straks die verskil tussen bloeddruk wat styg en bloed wat vloei?

Die koloniale wond in die grond

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top