Suid-Afrikaners praat oor grondonteiening sonder vergoeding

  • 0

Die Suid-Afrikaanse parlement se Grondwethersieningskomitee begin volgende week met openbare verhore oor die onteiening van grond sonder vergoeding.

Meer as ’n miljoen skriftelike voorleggings is reeds deur Suid-Afrikaners ingedien as deel van die openbare kommentaar of die Grondwet gewysig behoort te word om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Die openbare verhore, wat volgende week begin, se doel is om Suid-Afrikaners die geleentheid te gee om verder te reageer op die moontlike wysiging van die Grondwet om grond sonder vergoeding te onteien.

Verskeie partye en instansies het reeds gesê dit is nie nodig om die Grondwet te wysig om die land se grondkwessie aan te spreek nie.

Die EFF en ’n deel van die ANC dring egter aan dat dit noodsaaklik is om die Grondwet te wysig. Partye soos die DA, die Vryheidsfront en Cope is daarteen gekant om die Grondwet te verander om grond sonder vergoeding te onteien.

Die EFF het ook sy bedenkinge uitgespreek oor die groot aantal skriftelike voorleggings wat reeds ontvang is. Die party se woordvoerder Floyd Shivambu het aan die media gesê hy bevraagteken die wettigheid van die voorleggings omdat sekere drukgroepe soos AfriForum volgens hom doelbewus poog om die proses so lank as moontlik te vertraag.

Volgens hom is meer as 500 000 van die voorleggings wat reeds ontvang is waarskynlik afkomstig van ’n baie klein minderheid van die bevolking.

Die openbare verhore oor grondonteiening sal tot in Augustus landwyd gehou word.

Agri SA het vroeër gesê hulle neem kennis van Mike Mlengana, die Direkteur-Generaal van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, se kommentaar dat die regering geen bedoeling het om produktiewe landbougrond te onteien nie. Mlengana het dit vroeër die maand tydens ’n beraad oor plaasmoorde, -aanvalle en veediefstal gesê.

“’n Aanval op die landbougemeenskap is ’n aanval op voedselsekerheid en op die doelstellings van die regering om die ekonomie te ontwikkel,” sê Mlengana. “Die landbousektor maak ’n bydrae tot die ontwikkeling van die land.”

Agri SA het sy waardering hieroor uitgespreek in ’n verklaring wat op hulle webwerf verskyn. Kobus Breytenbach, die voorsitter van Agri SA se Sentrum vir Uitnemendheid: Landelike Veiligheid, sê dit is vanselfsprekend dat die landbougemeenskap effektief beskerm moet word.

Volgens Breytenbach voorsien nagenoeg 34 000 boere en hul plaaswerkers kos aan sowat 55 miljoen mense daagliks. Breytenbach sê daar moet erkenning gegee word aan die landbougemeenskap se bydrae om veiliger gemeenskappe te skep, hulle betrokkenheid by plaaslike georganiseerde landbou en hulle samewerking met die polisie om landelike veiligheid te bevorder.

Intussen sê Boeta du Toit, die vise-voorsitter van Agri SA se Sentrum vir Uitnemendheid:  Landelike Veiligheid dat daar nie ’n beraad gehou kan word, sonder om daadwerklike aksies in te stel nie.

“Daar is ’n gebrek aan effektiwiteit, wat implementering van beleid, die beskerming van boerderygemeenskappe en die ontwikkeling van landbou kniehalter. Verskeie departemente en ander staatsinstellings slaag nie daarin om hulle beleidsverantwoordelikheid na te kom nie, en dit moet dringend aangespreek word.”

Du Toit sê die regering kan nie in sy doelstellings slaag om die land te ontwikkel sonder die privaatsektor se investering nie.

Lees ook

Grondonteiening: Noodsaaklikheid of populisme?

ANC in hoek oor grondonteiening sonder vergoeding

Die koloniale wond in die grond

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top