Dis vereskud-tyd in Suid-Afrika vir ’n komende verkiesing. Soos ’n siniese ontleder dit beskryf het: Elke politieke haantjie soek nou ’n mishoop om op te kraai.
Inderdaad is die tekens duidelik dat nuwe politieke partye (en partytjies) opduik met verwagtinge vir die verkiesing wat stellig in Mei 2019 gaan plaasvind.
’n Waterskeidingsverkiesing word deur die ontleders voorspel. Na Mei 2019 sal Suid-Afrika ’n heel nuwe bestel beleef.
Die man om wie die verwagtinge wentel is die huidige president, Cyril Ramaphosa. Die woorde Ramaphoria, Ramafury, Ramafixit word gebruik. Maar ten diepste is dit die oorlewing van Ramaphosa wat die politieke klimaat vorentoe kan bepaal.
Sedert einde 2017, toe Ramaphosa met ’n gevaarlik skrale oorwinning tot president verkies is, danksy ’n Faustiaans-tipe pakt met ’n voorheen bittere teenstander, David Mabuza (wat toe onderpresident geword het), moet Ramaphosa die fatale tien jaar van Jacob Zuma se presidentskap nie net oorleef nie, maar omkeer.
Skandale uit daardie era val met reëlmaat uit talle ondersoeke na korrupsie. Die verduisterde geld word in miljarde, eerder as miljoene, aangedui. Hooggeplaastes in talle staatsdepartemente word ondersoek en binne ’n erge onstabiele politieke klimaat aangekla. Reeds het een minister, nogal die minister van finansies, op sy swaard geval. Maar dis duidelik dat nog meer ministers betrokke was met onreëlmatigheid en nog steeds korrupte besluite en selfverryking pleeg.
Tans is dit veral die minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba, wat ’n dubbele skande moet trotseer. Nie net het die Openbare Beskermer bevind dat hy as minister gelieg het in die parlement nie, maar hy self het ’n paar dae gelede verskoning gevra vir ’n video-opname van homself in ’n seksdaad. (Gigaba is bekend vir sy voorliefde vir moderne uitrustings, en om hom by wyse van spreke nou kaal te sien is natuurlik groot pret onder die spotprenttekenaars.)
Ramaphosa trap fyn. Hy sit in sy party in die hoogste gesag, die nasionale uitvoerende komitee, met drie teenstaanders en slegs twee ondersteuners. Hy moet diplomaat speel, sowel as regeerder. Die land is in ’n tegniese resessie, en dienslewering kan nie byhou nie, protesaksies teen kospryse, kragvoorsiening, watergebrek, veral die nood oor behuising is ’n daaglikse verskynsel.
Op sosiale vlak het die geweld teen vroue, en veral die barbaarse moorde op vroue en kinders, ’n nuwe probleem meegebring. Die tronke is vol, en bendes gedy ook in die tronke sowel as in die gemeenskappe. ’n Maatskaplike “meltdown” is dit al genoem.
Dis veral die twee sterkste partye wat tans die grootste vrese vir die verkiesingsuitslae het. Die huidige leierparty, die African National Congress (ANC), en die opposisie, die Demokratiese Alliansie (DA), beleef interne stormagtigheid. Faksies en beweerde verraad gee aan die huidige klimaat ’n byna Shakespeariaanse element. Van die ernstige tot die belaglike kom aan die bod.
So het die ernstigste bankbedrog ooit in die geskiedenis (die Venda Mutual Society Bank-skandaal) verskeie leidende ANC-figure betrek. Gepaard met die lagwekkende en beskamende sekskapade van die Minister van Binnelandse Sake, het die provenance van ’n Pierneef-skildery politieke belangrikheid gekry.
Pierneef word gesien as die bekendste landskapskilder in Suid-Afrika. Sy werk word teen bedrae in die miljoene rande verkoop. Die betrokke baie groot skildery het in die vorige premierskantoor van die Vrystaat, ene Ace Magashule, gehang. Magashule is tans ’n mees omstrede politikus: hy is pro-Zuma, en dus anti-Ramaphosa. Toe hy afstand doen van sy premierskap om die belangrike pos van sekretaris-generaal van die ANC oor te neem, het hy die skildery (’n staatsbesitting) van die muur geneem en dit aan ’n werkskollega geskenk.
Toe beland die skildery by ’n waardeerder. Magashule, reeds verdink van baie korrupsie, word nou bespot oor sy kennis van kuns, en diefstal van die staat.
Dit baat die DA egter glad nie om te koggel of te raas nie. Na ’n uitmergelende en beskamende verhouding met hul Kaapstadse burgemeester, Patricia de Lille, het die vuurvreter met haar aangebore sin vir drama en retoriek op die Hooggeregshof se trappies gaan staan, ’n dramatiese bedankingsbrief as burgemeester onderteken en toe aangekondig dat sy ook die party verlaat.
Die verwagting is dat sy haar vorige party, die Onafhanklike Demokrate, gaan laat herleef. ’n Ietwat bedroë DA daag haar nou voor die hof. Sy daag hulle ook voor die hof.
Die ekstreem-linkse groep Black First Land First, wat hulself as revolusionêre beskou, is tans in direkte konflik met die ander sg revolusionêre party, die Economic Freedom Fighters (EFF), wat op hul beurt ook verdink word van voordele uit die reeds genoemde groot bankskandaal. Al twee hierdie groeperinge roem hulle op straatgevegmodus. Tog word die EFF gesien as die moontlike koningkroners in die verkiesing waar die moontlikheid van koalisievorming met die ANC en/of ’n paar ander partye die wenners kan aandui.
Kleiner partye in die parlement met slegs twee of drie lede hoef nie eers nou al kant te kies nie, want hulle weet hoe gesog hulle sal word wanneer koalisies ter sprake kom.
Inmiddels is die oorlewing van Ramaphosa (’n kalm, gesofistikeerde spreker) volgens vername ontleders van intense belang. Mag daar nooit weer ’n populis soos Zuma die land tref nie, is die gevoel.
Lees ook
Buro: MvH