
William Kentridge en Atandwa Kani (foto: Fiona MacPherson)
30 jaar na sy première en danksy sy dawerende sukses, herenig William Kentridge en die Handspring Puppet Company weer om Faustus in Africa! eers by die Baxter op die planke te bring. Ná uitverkoopte vertonings daar, is die span die afgelope sewe maande op reis. Anders as in die storie, verken hulle nie Afrika nie, maar eerder die Europese vasteland, met optredes in België, Montpellier, Griekeland, Edinburgh, Zürich, Weimar, Duitsland en tans in Parys in ’n gesamentlike projek van Théâtre de la Ville en Festival d’Automne. Van hier vertrek hulle na Genève en dan na Londen.
Dié toer het in Mei in Brussel, België afgeskop as deel van die Kunstenfestivaldesarts.
Voor die speelvlak by dié fees, skryf Michaël Bellon in Bruzz: “Die poppespel van die Handspring Puppet Company, die animasie met Kentridge se houtskooltekeninge, die musiek van Warrick Sony en wyle James Phillips en die woorde van die digter Lesego Rampolokeng maak van hierdie safari van selfsug en ongebreidelde kapitalisme ’n ryk en boeiende skouspel.”
Hy haal ook vir Kentridge aan oor hoe die stuk verander het sedert 30 jaar gelede: “[D]ie produksie het nie verander nie. Ons het die teks met ’n paar minute verkort en die akteurs is natuurlik jonger akteurs. Maar ons het nie die animasie, die musiek of die poppe verander nie. Wat gebeur het, is dat die wêreld self verskuif het. Dinge wat vroeër periferaal was, neem nou die middelpunt in, en andersom. Vrae oor wat om met ou monumente te doen, oor die repatriasie van gesteelde beeldhouwerke en artefakte, die verkoop van state vir geld, die verband tussen politiek en geld het soveel duideliker geword dat ek dink ’n mens sien dieselfde produksie op ’n heel ander manier, asof dit ’n ander produksie is.”
Guy Duplat skryf in La Libre oor Faustus: “Dis ’n verwerking van hul veelbekroonde 1995-produksie met dieselfde naam en het Kentridge in die regisseurstoel, met Lara Foot as mede-regisseur en ontwerp- en marionetmeesterskap deur Handspring Puppet Company se eie Basil Jones en Adrian Kohler. Dié groep vier vanjaar hul 44ste bestaansjaar en het ons soveel vreugde gebring in 16 teaterstukke, waaronder my gunstelinge War horse, Little Amal, Tall horse en Life and times of Michael K.
“Die maatskappy word wêreldwyd gereken vir uitsonderlike werk wat kuns en teater moeiteloos vermeng. Alhoewel die toneelstuk dalk ’n bietjie dialoog-swaar is, behou die pragtige poppe, die subtiele toneelspel van die poppespelers, en bowenal, Kentridge se poëtiese animasiefilms hul bekoring.”
Die persverklaring van Faustus in Africa! beskryf: “Hierdie vrolik oneerbiedige ontmoeting met die ‘Faustian pact’ is ’n tydlose verhaal en bly ’n kragtige metafoor vir ons tyd. Die temas van kompromie is universeel. Hulle maak dringend sin vir elke opeenvolgende geslag. Die verraad van ’n mens se beter oordeel vir korttermyn wins verlei ons almal en is die brandende vraag agter ons klimaatnood en die afweging en doeltreffendheid wat onderliggend is aan die desperate probleme waarmee die wêreld vandag te kampe het.”
Die 2025-weergawe word deur Quaternaire/Paris vervaardig en weer op die planke gebring met ondersteuning van Théâtre de la Ville/Festival d’Automne (Parys) en medevervaardigers die Baxter (Kaapstad), Centre d’art Battat (Montreal), Cité européenne du théâtre – Domaine d’O – Montpellier / PCM2025 (Montpellier), Grec Festival (Barcelona), Kunstenfestivaldesarts (Brussel) en Thalia Theater GmbH (Hamburg).
Die 1995-weergawe is deur Handspring Puppet Company saam met die Markteater, Art Bureau (Munich), Kunstfest (Weimar), Standard Bank National Arts Festival, The Foundation for the Creative Arts, Sharp Electronics en Mannie Manim Productions vervaardig. William Kentridge was die regisseur. Die stuk is ook in 1995 by die Markteater opgevoer en het in 1996 die Vita-toekenning vir beste produksie van die jaar vir ’n nuwe SA toneelstuk gewen.
Toe was Suid-Afrika op die drumpel van ’n nuwe era: Demokrasie was die gonswoord; die Wêreldbeker Rugby-oorwinning nog vars in die geheue.
Ek het in 1995 op Malmesbury gebly, pas getroud en hart verlangend om elke week ander teater in die stad te kan gaan kyk, maar op ’n broodloon was dit onmoontlik. Gelukkig open Die Boer in Durbanville, wat darem net meer as ’n halfuur se ry weg is, en stadig maar seker word ons teaterhorisonne verbreed.
Toe Faustus by die (toe nog) Grahamstad Nasionale Kunstefees open met Dawid Minnaar as Faustus, Antoinette Kellermann as Helena van Troje, Leslie Fong as Mephisto, Busi Zokufa as Gretchen en God, Louis Seboko as Johnston en Basil Jones en Adrian Kohler as die hiëna, het ons amper deurgery Oos-Kaap toe om dit te gaan meemaak.
Ons het toe nie, maar goeie goed gebeur met dié wat geduldig wag! Drie dekades later en op die verhoog in die indrukwekkende rolverdeling is Atandwa Kani, Jennifer Steyn, Wessel Pretorius, Eben Genis, Mongi Mthombeni, Asanda Rilityana en Buhle Thembisile.
Die wêreld is ’n baie ander plek as in 1995. Falende wêreldleiers, oorloë en klimaatsveranderinge is dalk nou meer op die voorgrond. Ons is nog meer poppe wie se toutjies meedoënloos deur poppemeesters getrek word. Ons het nie uit die verlede geleer nie. Inteendeel.
Die stelontwerp is verbysterend realisties en neem jou na ’n koloniale bestel met hout-liasseerkabinette tot barstens toe vol; ’n telefoonsentrale waar outydse drade nog deur ’n vrou uitgetrek en ingedruk word om mense – onsuksesvol? – met mekaar te verbind; boekrakke en stempels en amptenare wat niks vermag nie.
.......
Dit word 100 minute van “wegraping”. Dit voel asof jy deur Scottie met ’n lang ligstraal iewers anders heen verplaas is. Ek glo mens moet dié stuk weer en weer sien, want nie alleen kry die poppe lewe deur hul meesterlike hanteerders nie, die dialoog is ook gevat, vreesaanjaend en skerp.
.......
Dit voel amper asof jy by ’n grenspos iewers in Afrika staan: uitgelewer aan dié wat mag oor jou hou, sonder dat hulle regtig daarvoor toegerus is. Poppe, as’t ware, wie se toutjies deur ander getrek word.
Dit word 100 minute van “wegraping”. Dit voel asof jy deur Scottie met ’n lang ligstraal iewers anders heen verplaas is. Ek glo mens moet dié stuk weer en weer sien, want nie alleen kry die poppe lewe deur hul meesterlike hanteerders nie, die dialoog is ook gevat, vreesaanjaend en skerp. Wessel Pretorius is amper te goed in sy rol as die duiwel en die hiëna amper te opvreetbaar oulik om nie sy ware kleure raak te sien nie.
Jennifer Steyn wat moeiteloos tussen twee baie uiteenlopende karakters wissel, kry vir my die prys van die vertoning.
Ons weet niks; ons is selfsugtig; ons is swak. Faustus is net die sondebok in hierdie verhaal, maar in ons elkeen se verhaal is ons skuldig.
En daardie storie verander nie, ongeag hoeveel jaar verloop.
Nathalie Simon skryf in Le Figaro: “Die vertoning kan slegs bewondering wek. [Dit] herstel [...] ’n wêreld van klank en woede. Dis nie sonder swart humor nie en nooi ons steeds uit om na huidige gebeure te kyk.”
Die groep is tans besig met voorbereidings vir hul vertrek na Genève. Ek gesels met Lara Foot (mede-regisseur) en Adrian Kohler (ontwerp, popperegisseur, stelontwerp en poppekonstruksie):
MR: Waarom die besluit om die produksie na drie dekades te laat herleef?
LF: Die Handspring Puppet Company en William Kentridge wou een van hul vroeë werke laat herleef. Hulle het gevoel dat die produksie baie relevant vir die wêreld op die oomblik sou wees en Adrian Kohler was veral trots op die poppe in Faustus.

Lara Foot (foto: Fiona MacPherson)
MR: Hoe voel dit om betrokke te wees by iets wat dalk nou nog meer relevant is, teen die agtergrond van wêreldpolitiek, as wat dit 30 jaar gelede was?
LF: Op sommige vlakke voel dit hartseer om te weet dat die wêreld nie verander het nie, dat kolonisasie voortduur en dat die skending van menseregte selfs meer algemeen voorkom as in die verlede.
MR: Hoeveel is die storie vir die 2025-vertoning aangepas?
LF: William Kentridge en Handspring wou nie die teks verander nie, aangesien dit saam met die films geskep is. Maar ons het wel van die opvoerings verander. Ek het probeer om ’n meer driedimensionele speelruimte vir die poppe te skep.
MR: Het jy die oorspronklike vertoning gekyk, en indien wel, wat daarvan het jou beïnvloed?
LF: Ja, ek het, en ek was betower. Ek het nog nooit so iets gesien nie. Die poppe was magies en die film baie ontstellend. Dit is geskep net ná die oorgang na demokrasie in ons land en in reaksie op apartheid. Dit was uiters roerend.
MR: Wat is dit omtrent die toneelstuk wat gehore terugtrek daarna? Is ons nie nog moeg vir gierigheid en oordaad nie?
LF: Die toneelstuk is ’n visuele en teatrale fees. Die werk is betowerend en Kentridge se films is subliem. Gehore word op ’n buitengewone reis na die hart van kolonisasie geneem en word gekonfronteer met die realiteite van wat verby is en wat nog gaan kom. Ja, ek is moeg vir gierigheid en oordaad. Wie is nie?
.......
“Die toneelstuk is ’n visuele en teatrale fees. Die werk is betowerend en Kentridge se films is subliem. Gehore word op ’n buitengewone reis na die hart van kolonisasie geneem en word gekonfronteer met die realiteite van wat verby is en wat nog gaan kom.” – Lara Foot
.......
MR: Watter boodskap hoop jy laat hierdie stuk by gehore en wat is die boodskap van die stuk?
LF: Daar is geen boodskap as sodanig nie. Die produksie is ervaringsgerig en vra baie vrae. In wese werp dit lig op die gruweldade wat deur mense gepleeg word in hul soeke na rykdom en geluk. Dit vra: Sal jy jou siel aan die duiwel verkoop om betekenis te vind?
MR: Jy kry ’n oproep drie dekades na ’n vertoning en moet poppe en ’n stel verskaf. Waar om te begin? Was daar enigiets oor van die oorspronklike produksie?
AK: Na ’n bestendige tydperk van Handspring-aktiwiteit – Little Amal het nog geloop, Life and times of Michael K het goed getoer en War horse het pas geopen in die eerste nuwe Britse produksie sedert Covid – het ons daaraan gedink om dit rustig te vat, toe ons verteenwoordiger in Europa, Quaternaire, ’n herlewing van Faustus in Africa! voorstel. Uit die drie toneelstukke wat ons in die 90’s saam met William Kentridge vervaardig het, was Faustus die enigste een wat nog nie herleef is nie. Moontlik omdat dit tegnies kompleks is, moontlik omdat die Goethe-teks aangepas is om ’n spesifieke oomblik in Suid-Afrika te weerspieël – die onderhandelinge rondom die opstel van ons eerste demokratiese Grondwet in 1994. Moontlik die feit dat daar geen video-opname van die oorspronklike produksie is nie. Aangesien ek egter ’n lid van die rolverdeling was, het ek onthou dat van al daardie toneelstukke Faustus die lekkerste was om op te voer. Kentridge slaan altyd hard, maar daar was baie humor in die stuk, plus ’n reeks interessante karakters. Dit is goed om hulle weer in aksie te sien.

Adrian Kohler, William Kentridge en Atandwa Kani (foto: Fiona MacPherson)
Toe ek in die stoorkamer delf, was daar nog heelwat daar. Die stelle is lankal afgeskaf – te groot om te bêre – maar ek het destyds baie gedetailleerde planne gemaak, omdat een toerstel in München gebou is. Al die poppe was daar, selfs die paar waarvan ek nie gehou het nie, en hul kostuums was in ’n relatiewe goeie toestand. Baie van die magdom rekwisiete was ook daar. Nie een van die akteurs se kostuums het behoue gebly nie.
.......
“Kentridge slaan altyd hard, maar daar was baie humor in die stuk, plus ’n reeks interessante karakters. Dit is goed om hulle weer in aksie te sien.” – Adrian Kohler
.......
Ons het met William in Johannesburg vergader om die draaiboek deur te gaan, om te bepaal of dit te veel aan sy oorspronklike tydperk gebonde was. Om te sien hoe dit verander kon word. Ons kon dit verkort met die doel om ’n pouse uit te skakel, maar het gevind dat die toneelstuk self selfs meer relevant was vir die geopolitiek van die wêreld vandag as in die oorspronklike, spesifiek Suid-Afrikaanse, oomblik in 1995. Algemene opgewondenheid het begin groei en het ’n groot hupstoot gekry toe die digitaal-herbemeesterde video van al die Kentridge-animasie voltooi is. Nou helder en duidelik en briljant.
MR: Hoe verskil hierdie opvoering van die toneelstuk wat 30 jaar gelede opgevoer is in jou ervaring?
AK: William Kentridge is altyd besig met baie projekte, maar kon die eerste week van repetisies saam met die nuwe rolverdeling in Kaapstad deurbring om die idees en redes agter hierdie weergawe van die storie te verduidelik. Toe het Lara Foot die regie oorgeneem, met myself en Basil Jones as poppespelregisseurs. Die uitdaging wat sy vir haarself gestel het, was om die verhewe teks makliker te laat vloei, minder “klassiek” te laat klink en seker te maak dat almal alles verstaan. Terwyl hy tonele geblokkeer het, is elke oomblik noukeurig vir sy betekenis ontleed. William het aan die einde teruggekeer, toe voorskoue begin het, vir ’n bietjie persoonlike polering, maar was verheug oor die diepte van die werk wat Lara gedoen het en het gesê: “Dis beter as ooit tevore.”
MR: Hoe betrokke was julle by die opleiding van die akteurs om met die poppe te werk en hoe moeilik is dit om hulle maklik te laat werk?
AK: Omdat ons senior poppespeler-medewerkers steeds in Michael K optree en dus nie vir hierdie rolverdeling beskikbaar was nie, het ons met ’n splinternuwe rolverdeling begin.
Van die drie senior akteurs, Atandwa Kani wat Faustus speel, Wessel Pretorius wat Mephisto speel en Jennifer Steyn wat Helena van Troje en die hiëna speel, het geeneen voorheen met poppe gewerk nie.
Omdat die meeste van die poppe twee manipuleerders benodig, het ons elkeen van die akteurs met ’n poppespeler saamgespan wat die hoofmanipulasie sou doen, met die akteurs wat die stem en geringe manipulasie sou verskaf.
Die opleiding van elk van hierdie “spanne” het die ontwikkeling van vertroue en gedetailleerde waarneming van elke asemteug en die afwagting van ’n waarskynlike beweging behels.
MR: Wat is die grootste verandering wat jy oor die 44 jaar van die ontwerp en maak van poppe ervaar het?
AK: Die grootste verandering was in die gehoor. In die begin het dit gevoel asof ons in ’n soort poppespel-ghetto bestaan het. Nou is teatergehore nie meer verbaas wanneer ’n teaterstuk met poppe op ’n volwasse gehoor gemik is nie. Baie jong kunstenaars sluit nou poppespelopleiding in hul ontwikkeling as akteurs in. Baie hoofstroomproduksies het nou poppe in.
MR: Wat dink jy bring die gebruik van poppe na ’n toneelstuk?
AK: Die voorstelling van lewe deur ’n lewelose figuur kan die verbeelding van die gehoor op ’n meer metafisiese manier prikkel. Helena van Troje is op een of ander manier opgewek en voor jou as ’n pop/beeldhouwerk geplaas. Sy is daar in die vertrek. Hoe goed ’n akteur haar ook al speel, sy is ook Helen Mirren of Judi Dench.
MR: Waarom is jy opgewonde dat julle die toneelstuk oorsee kan neem en veral die lande wat jy besoek het en steeds sal besoek?
AK: Toere is ’n ekonomiese noodsaaklikheid. Ons het nog altyd ons produksies hier by die huis opgevoer, maar om ’n produksie van skaal te maak verg hulpbronne wat terugverdien moet word deur oorsee te toer, na die netwerk van feeste wat daar bestaan. Maar bowenal is dit pret. Jy het nie baie tyd om elke plek wat jy besoek te verken nie, want jy is daar om te werk, maar daar is altyd ’n bietjie tyd om rond te kyk. Boonop kry jy die kans om ander kunstenaars te ontmoet, te sien wat hulle doen. Swem in die Ryn, klim die Eiffeltoring ...

Op die stel van Faustus in Africa! (foto: Fiona MacPherson)
Faustus in Africa!
Met: Eben Genis, Atandwa Kani, Mongi Mthombeni, Wessel Pretorius, Asanda Rilityana, Jennifer Steyn en Buhle Thembisile
Regie: William Kentridge
Mede-regisseur: Lara Foot
Musiek: James Phillips, Warrick Sony
Ontwerp: Adrian Kohler, William Kentridge
Popperegisseurs: Adrian Kohler en Basil Jones (Handspring Puppet Company)
Mede-popperegisseur: Enrico Dau Yang Wey
Animasie: William Kentridge
Poppekonstruksie: Adrian Kohler, Tau Qwelane
Kostuums: Hazel Maree, Hiltrud von Seidlitz, Phyllis Midlane
Spesiale effekte: Simon Dunckley
Stelontwerp: Adrian Kohler
Stelkonstruksie: Dean Pitman (Ukululama Projects)
Vertaling: Robert David MacDonald
Addisionele teks: Lesego Rampolokeng
Beligtingsontwerp en produksiebestuur: Wesley France
Lees ook:
Breytenbach notitie #10: Will of a Rebel (1979), een toneeltekst over Breyten Breytenbach
Meevoerend elegant en melancholies: William Kentridge se kortprente
Invitation: Postcolonial opera, William Kentridge and the unbounded work of art
Irma: ’n interkulturele en multidissiplinêre gesprek oor identiteit in kuns

