Reisende, reuse-houtpop skep bewussyn oor xenofobie

  • 0

Foto: Clifford Roberts

Naguib Mahfouz het gesê: “Huis is nie waar jy gebore is nie, huis is waar al jou pogings om te ontsnap eindig.” Om voor Nana, ’n 4,5 meter hoë houtpop van ’n 10-jaar-oue Zimbabwiese vlugtelingdogtertjie te staan wat huisloos en verlore is, dryf daardie idee waarlik tuis.

Nana is die verpersoonliking van miljoene kinders regoor die wêreld wat sonder hul ouers moet grootword, omdat hongersnood en armoede hul noodsaak om te verhuis. Sy is ook die middelpunt van die #SameCampaign en simboliseer die weerloosheid én ongekende moed van iemand wat sy huis en gesin moet agterlaat om werk en ’n beter lewe elders te gaan soek.

Nana en die #SameCampaign poog om kollektiewe aksie aan te moedig om ’n samelewing te kweek wat op respek, gelykheid en veiligheid vir almal geskoei is.

Roger Titley (Foto: Hans van der Veen)

Nana is in Roger Titley se werkswinkel in die kusdorpie Wildernis op die Tuinroete gebore. Roger het meer as 35 jaar ervaring as meesterpoppemaker en sy werk is wêreldbekend.

Een mens hanteer haar driewiel en drie mense moet haar by elke nuwe bestemming aanmekaar sit. Sy reis in ’n kombi en ’n spesiaal-aangepaste sleepwa wanneer sy groot afstande tussen bestemmings moet aflê.

Nana het vir ses maande op haar driewiel deur Suid-Afrika “gery” op soek na haar ma wat sonder haar moes vertrek toe sy oor die landsgrense na ’n beter heenkome gaan soek het. Nana is gretig om mense te ontmoet en die bewussyn oor die regte en stories van vlugtelinge en migrante te verskerp. Haar reis het in September by die Brixton Ligfees in Johannesburg begin en in April by die Suidoosterfees ten einde geloop. Sy het ook op Oudtshoorn aangedoen.

Ek voel klein toe ek daar voor haar staan voor die Kunstekaap-gebou in Kaapstad tydens dié fees, waar sy deel was van die nuwe Kinder- en Jeugfees wat deur Suidoosterfees aangebied is.

Foto: Gys Loubser

Nana het meer as 9000 kinders “ontmoet” op haar reis. Een van die kinders by die Suidoosterfees wou haar tjippies met Nana deel, maar ’n ander kind het gou ingegryp en gesê: “Nee, sy kort groente en ander gesonde kos as sy so vêr moet ry.” Kinders is regtig meegevoer deur haar.

Die projek word in Suid-Afrika ondersteun deur Stad Kaapstad, die Departement van Sport, Kuns en Kultuur, BASA, die Kantoor van die Verenigde Nasies se Hoëkommissaris vir Menseregte, die Raith Stigting en die Helen Suzman Stigting. Die poppemeester by die Suidoosterfees was Fried Wilsenach en Sophia Welz het die werkswinkels met kinders gedoen.

Daar is ’n hartseer teenwoordigheid aan Nana; sy is soveel meer as hout en verf. Sy versinnebeeld elke klein kindjie wat wees gelaat word wanneer die honger wolf by die deur grom en hul ouers die pad moet vat.

In die feesprogram het ek gelees: “Kom gesels met haar, want as jy Nana lief kan hê, het jy die mensdom lief en kan jy enigiemand verwelkom in jou Moederstad, vir soveel ander ’n baken van menslikheid en hoop. Met haar sterk boodskap teen diskriminasie en xenofobie, gaan Nana oud en jonk nuut laat dink oor dinge wat ons as Suid-Afrikaners raak.” Dit eindig met #Standup4migrants – ’n projek van die Verenigde Nasies se Menseregteprogram.

Een aand toe ons huiswaarts keer van ’n laataand lagsessie by die Suidoosterfees, stap ek na die parkering toe. My hart is lig, ons Suid-Afrikaners het vêr gekom in 30 jaar van demokrasie. Ons lag vir mekaar se geite en ons lag vir onsself.

Ek gaan om die draai. Klein Nana staan eenkant agter die gebou in die donker, neffens ’n lemmetjiesdraad-heining, met ’n sekuriteitswag wat in ’n houthuisie ’n parkeerversperring beman.

Dié ervaring ontstel my. Sy is tog veilig teen vandale, die wind en die reën. Maar om haar daar in die donker te sien lyk kompleet asof sy wegkruip, maar naby genoeg aan ’n wag net ingeval iemand haar wil skade berokken.

En dit is meer as wat miljoene weerlose kinders kan sê. Daar is nie veilige skuilplekke en wagte vir elke kind nie. Ook nie verantwoordelike volwassenes wat hulle môre sal kom haal en dan sal alles reg wees nie.

En net daar skryf ek my steun toe aan #Standup4migrants. Jy kan ook. Of dra finansieel by, by BackaBuddy.

Ek is nuuskierig oor haar en wat die #SameCampaign en #Standup4migrants behels en gesels vandeesweek met Sophia Welz, die projekkoördineerder. Ek wonder oor die idee agter Nana en die keuse van haar naam.

“In Suider Afrika is ‘nana’ ’n bynaam vir ’n baba of kleuter. Dit is maklik om te sê en om te onthou. En die inspirasie vir Nana kom van ‘Klein Amal’. Sy is deur die Suid-Afrikaanse Handspring Puppet Company gemaak,” vertel Sophia.

Klein Amal is ’n 3,5 meter pop en die middelpunt van die The Walk-projek. Klein Amal verteenwoordig ’n negejarige Siriese vlugtelingmeisie wat alleen deur Europa reis om haar ma te vind.

Om menslike migrasie en kulturele diversiteit te vier, het Amal aanvanklik vir vyf maande van die Sirië-Turkye-grens via Europa na die Verenigde Koninkryk gereis, en langs die pad gestop en aan plaaslik gereëlde geleenthede in 65 dorpe en stede deelgeneem. Klein Amal is by sommige plekke begroet deur plaaslike hooggeplaastes, soos Pous Francis, die Aartsbiskop van Westminster, Vincent Nichols en burgemeesters. Tans reis Amal deur die Verenigde State van Amerika.

Die projek is geskep deur die Britse produksiemaatskappye The Walk Productions en Good Chance, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Handspring Puppet Company.

Die Klein Amal-persona het ontstaan ​​as ’n karakter in The Jungle, ’n toneelstuk wat in die voormalige Calais-oerwoudkamp in 2015 geskep is. Die naam Amal beteken “hoop” in Arabies.

Terug by Nana en Suid-Afrika. Sophia sê verskeie besprekings met anti-xenofobie-donateurs en ander belanghebbendes het gedui dat van die grootste leemtes in die stryd teen xenofobie ’n positiewe boodskap en voorspraak was.

“Navorsing wat onder meer deur die VN onderneem is, het bewys dat dit werk. Ons wou dus ’n sagter manier kry om die probleem aan te spreek. Die storie is gesamentlik geskryf en Nana se storie is maklik aanpasbaar vir verskillende gehore,” vertel sy.

“In Pretoria kan sy byvoorbeeld van Mosambiek kom, omdat dit ’n algemene verskynsel is. Sy het dalk oor die grens gekom vir ’n beter opvoeding. Vir kleiner kinders pas ons die storie aan deur te sê sy en haar ma het mekaar by die grens verloor en hulle weet nie hoe om mekaar weer te vind nie,” sê Sophia.

Vir tieners gebruik hulle ’n baie universele storie. Nana is in Zimbabwe gebore. Haar pa is Suid-Afrikaans en haar ma Zimbabwies. Haar ma het in 2008 na Suid-Afrika gevlug om aan die verkiesingsgeweld in haar geboorteland te ontkom.

Nana se ma is kort ná haar geboorte dood en omdat haar ouers nie getroud was en Nana se ma nie self wettig in die land was nie, kon sy nie Nana se geboorte registreer nie. Haar pa se pogings om haar te registreer het ook gefaal en hy is dood voor hy dié stryd kon wen.

Nana het by bure gewoon, maar toe hulle wegtrek is sy huisloos gelaat.

Sy sê voorts hierdie storie is waar vir soveel kinders, wat so goed saamgevat word in hierdie video.

“Xenofobie en die anti-migrante-sentiment in Suid-Afrika neem drasties toe en bied beduidende uitdagings vir sosiale samehorigheid en die welstand van migrerende gemeenskappe. Om dit aan te spreek en positiewe ingryping te bring, poog die #SameCampaign om ’n kultuur van eenheid, respek en insluiting te bevorder en ook om individue te bemagtig om op te staan ​​teen xenofobie.”

Dit wil ook die publiek se kennis verbreed oor die bestaande wetlike en maatskaplike ondersteuningsdienste vir migrante.

Dit wil basies ons kollektiewe stem oor hierdie aangeleentheid sterker – maar positief – maak, dat mense ook die veerkragtigheid en waarde van migrante wat suksesvol by die lewe in Suid-Afrika aangepas het, kan erken. Ons moet dus saamstaan teen xenofobie en soos ons almal weet, is dit een plek waar Suid-Afrikaners jammerlik faal.

“Deur boeiende storievertelling en aktiewe betrokkenheid poog die veldtog om positiewe verandering te dryf en ’n meer deernisvolle Suid-Afrika te bou. Waar sou jy graag wou woon? Hoe lyk daardie samelewing? Is dit vreedsaam?” vertel sy.

Op die YouTube-video van kinders van die Mimosa Skool en die Brixton Ligfees vertel Primrose Modisane, ’n migrant, dat mense anders na jou kyk as jy van buite die landsgrense kom.

“Nana sal mense leer om anders te dink, dat ons almal mense is of jy nou van Zimbabwe of elders kom, dit maak nie saak nie. Ons is almal dieselfde.”

Foto: Hans van der Veen

Nana kon nie onbepaald in Suid-Afrika bly nie en reis tans in Europa.

Maar, vertel Sophia, dit beteken nie dis die einde van haar storie nie. Daar is hoop van ’n boek oor Nana, sodat haar storie vlerke kan kry en meer kinders kan bereik.

Kitsfeite:

Lees ook:

Close, ’n beeldskone film uit België | European Film Festival 2023

Eo: ’n vreemde, fantastiese Poolse film | European Film Festival 2023

Diamante of as op 9 Mei?

’n Besinning oor Mijn beste vriendin, Anne Frank

Boeke en films oor die lewe onder die Taliban

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top