Filmresensie: Blackbird blackbird blackberry by die Europese Filmfees en op Mubi

  • 0

Titel: Blackbird blackbird blackberry
Oorspronklike titel: შაშვი შაშვი მაყვალი
Regie: Elene Naveriani
Switserland se inskrywing vir die Europese Filmfees
1 uur 41 minute
2023
Taal: Georgies met Engelse onderskrifte

Blackbird blackbird blackberry is beeldskoon, maar nie borrelgom nie. Hierdie film het baie gou “uitverkoop” op die gratis Europese Filmfees. Gelukkig is dit steeds op Mubi beskikbaar. Mubi is ’n wonderlike en relatief goedkoop platform waar kunsfilms voorkeur geniet.

Die storie

Etero is 48 jaar oud. Sy het nog nooit seks gehad nie. Sy wil ook nie ’n man hê nie. Haar pa en broer was kru, hardhandige en manipulerende mense. Sy was een maal in haar tienerjare verlief, maar dit moet die kyker maar self aanhoor.

Etero is ’n alleenloper en taamlik asosiaal – selfs teenoor haar goeie vriendinne is sy dikwels afwysend.

Een oggend gaan pluk sy swartbessies naby die rivier; sy maak ’n besonder geurige konfyt hiervan. Terwyl sy besig is om die bessies te pluk, sien sy ’n swart lyster, die “blackbird” van die titel. Haar aandag word afgetrek en ... Nee, kyk maar self.

Van belang vir die film is dat sy weer by haar winkel uitkom en dan passievol raak met ’n man wat produkte kom aflewer.

Op 48 verloor sy haar maagdelikheid.

Die twee begin ’n liefdesverhouding.

Hy is getroud. Sy is ’n oujongnooi wat nie baie graag haar ruimte deel nie. En tog is hulle goed vir mekaar.

Blackbird blackbird blackberry is ’n besonder mooi en teer storie oor twee ouer mense wat liefde vind.

Etero vind vir die heel eerste keer iemand wat teer genoeg is om haarself aan hom te kan blootstel. Die lover boy is getroud, en vind nou, ná baie jare, weer iemand wat hóm raaksien.

Nie een van die hoofkarakters gaan skoonheidspryse wen nie. Albei is effens oorgewig en het plooie. Dit is besonder aangenaam om sulke doodgewone mense in hoofrolle te sien. Moenie Hollywood en spookasem verwag nie.

Armoede

Georgië is ’n arm land wat deel was van die voormalige Sowjet-Unie. In 1991 het hulle weggebreek en onafhanklik geword, maar steeds is dit ’n arm land.

Etero se geliefde kan byvoorbeeld as lorriebestuurder in Turkye per dag verdien wat hy in Georgië vir ’n maand se werk verdien. Hy noem ook dat Etero as ’n bediende sou kon gaan werk in Turkye en so goeie geld verdien in vergeleke met haar inkomste in Georgië.

Die dorpies en die winkels in die film het my baie herinner aan die Venda-streek in Suid-Afrika se Noordelike Provinsie. Venda was eens ’n sogenaamde onafhanklike republiek onder apartheid-Suid-Afrika. Soos die ander sogenaamde onafhanklike streke het Venda ook weer soomloos deel van Suid-Afrika geword ná FW de Klerk die ou orde afgetakel het. Ek en my geliefde het in Venda gewoon.

Venda is steeds arm. Georgië skynbaar ook. Die dorpie waarin Etero woon en die winkel waarin sy werk, sou baie maklik in Venda kon staan.

Dit is makliker om films oor mooi, blinkryk mense te verkoop as oor diegene wat nie baie het nie. In boeke is dit ook so. Tog, let maar op watter boeke en films ’n mens lank bybly. Dink egter aan die besondere karakters in Etienne van Heerden se Gebeente, of Charlie Oeng en sy vriende, ook uit Van Heerden se pen. Ben Viljoen se onderskatte roman ’n Ballade vir Nkunzi sou ook in hierdie kategorie val. Io Capitano, Italië se inskrywing op die Europese Filmfees, klop aan dieselfde deur. Arm mense se verhale moet ook gehoor word.

Blackbird blackbird blackberry handel egter juis nie oor armoede nie. Dit is ’n film oor die liefde. Die karakters is bloot arm.

Arm mense kan ook liefhê.

Georgië as filmbestemming

Dit het my opgeval dat twee besonder goeie en totaal uiteenlopende films op vanjaar se Europese Filmfees in Georgië geskiet is.

Blackbird blackbird blackberry is Switserland se inskrywing, maar die hele film speel af in Georgië. Citizen Saint is Georgië se inskrywing, maar die film het goeie fondse ontvang uit Frankryk.

Canal+, wat deel was van hierdie films, stort reeds geld in Suid-Afrika. Dink byvoorbeeld aan die reeks Spinners wat hier te lande geskiet is.

Films wat daar in die arm dele van Georgië geskiet word, moet goeie geld verdien vir daardie dorpies. Dalk moet ons vir minister Gayton McKenzie vra om nog meer te doen om buitelandse filmspanne te kry om in Suid-Afrika te kom skiet.

Ander mense sal dit geniet om meer van ons klein dorpies te leer. Dit is vir my heerlik om blootgestel te word aan kulture wat ek niks van weet nie. Ná ek Blackbird blackbird blackberry gekyk het, het ek summier meer gaan lees oor die vreemde skrif wat hulle gebruik – dit is anders as Russiese skrif. In beide Blackbird blackbird blackberry en in Citizen Saint word die eindkrediete in Georgië se ronde krulletters én in Westerse skrif weergegee. Dink net as ons nog meer films kan maak waar Afrikaans, Venda, Zoeloe of Xhosa dieselfde blootstelling kan kry?

Dus?

As jy hou van kunsfilms, kry Mubi. As jy wil sien hoe twee ou mense se liefde op die skerm lyk, kyk Blackbird blackbird blackberry. Moenie ’n Hollywood-einde verwag nie.

Lees ook:

Filmresensie: Citizen Saint by die Europese Filmfees en op Mubi

Filmresensie: Io Capitano by die Europese Filmfees

Filmresensie: The quiet girl by die Europese Filmfees

Sweet dreams at the European Film Festival: a film review

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top