Groot liefde vir Afrikaans in Nederland

  • 0

In weerwil van die doemprofete se voorspelling dat Afrikaans se dae getel is, glo verskeie mense, onder wie vooraanstaande akademici en letterkundiges, nog dat die taal wel ’n toekoms het.

Een van hulle is Yves T’Sjoen, hoogleraar in literatuurwetenskap aan die Universiteit van Gent in België, en verbonde aan die Gentse Sentrum vir Afrikaans.

T’Sjoen glo daar is nog baie om te ondersoek wat betref die band tussen die Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse letterkundes.

In teenstelling met wat mense soms in Suid-Afrika beweer, glo hy Afrikaans hét ’n toekoms.

“Ek kry soms die indruk dat, op akademiese vlak, die studie en liefde vir Afrikaans groter is in Europa as in Suid-Afrika,” het hy in ’n onderhoud met die joernalis Marlene Malan in Die Burger gesê.

T’Sjoen het Suid-Afrika in September besoek, onder meer vir lesings by die Universiteit Stellenbosch (US) en ’n optrede by die Tuin van Digters op Wellington.

Yves T’Sjoen

Die Burger berig dat hy aan Malan gesê het Afrikaans is ’n medium wat mense bymekaarbring. “Dit mag nie onderskat word dat dit ’n taal is met sewe miljoen moedertaalsprekers en nog vyf miljoen mense wat die taal in hul daaglikse omgang gebruik nie.

“Daarby is Afrikaans ’n belangrike lingua franca in Namibië. Afrikaans word gedoseer in die Lae Lande, in Pole en in Tsjeggië. Afrikaans word internasionaal gewaardeer en Afrikaanse skrywers word in Engels, Nederlands en ander tale vertaal.”

“Suid-Afrikaanse munisipaliteite met ’n meerderheid van Afrikaanstaliges in 2011. Daar is ook groot Afrikaanse gemeenskappe in die ander provinsies.” (Bron: Wikimedia Commons)

T’Sjoen is ook lid van die adviesraad van wetenskaplike tydskrifte hier, adviseur van die Nasionale Navorsingstigting van Suid-Afrika, en bestuurslid van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Nederlandistiek. Hy publiseer gereeld in geakkrediteerde tydskrifte oor raakvlakke tussen Afrikaanse en Nederlandse literatuur en bied lesings hieroor aan – soos onlangs voor die Afrikaanse Letterkundevereniging in Stellenbosch.

Hy het aan Malan gesê hy sal graag nog méér Nederlandstalige digters in Suid-Afrika wil sien optree. Hy is ’n bekende in die lesingsale van Afrikaans-departemente aan Suid-Afrikaanse universiteite, en ook op ons literêre feeste. Sy ideaal is om die vloei van Afrikaanse letterkundiges en skrywers tussen Suid-Afrika en die Lae Lande te versterk, berig Malan in Die Burger.

Terwyl hy onlangs hier was, het hy ook die huis van die digterbroers NP Van Wyk Louw en WEG Louw op Sutherland besoek. Hy sê dit was een van die indrukke wat hom die diepste geraak het tydens sy besoek aan die land. (Bron: Die Burger)

Lees ook

T’Sjoen oor taalkwessies en noodsaak van "krachten bundelen, banden smeden, de bestaande expertise delen"

Vierde Festival voor het Afrikaans een overweldigend succes

Afrikaans in die buiteland: ’n onderhoud met Jerzy Koch en Karen Kuhn van die Adam Mickiewicz-universiteit in Poznań

Afrikaans in die buiteland: ’n onderhoud met Rina Loader van die Universiteit Wenen, Oostenryk

Afrikaans in die buiteland: ’n onderhoud met Annelies Verdoolaege van die Universiteit Gent

Afrikaans is ’n reënboogtaal

Afrikaans: 10 kitsfeite

Lekker Afrikaanse woordeskat: kanalla, poenankies, nxa!

Afrikaans: the language of dissent

Buro: MvH
  • 0
Top