Jakes Gerwel Stigting-persverklaring: residensieprogram vir skrywers van die Lae Lande en Suid-Afrika – aansoeke verwelkom

  • 0

Die Jakes Gerwel Stigting nooi graag alle skrywers (opkomend of gevestig) van alle genres uit om aansoek te doen vir ’n residensie wat vanaf 27 Februarie tot 13 Maart 2023 by Paulet Huis op Somerset-Oos aangebied word. Hierdie program word in samewerking met die Passa Porta internasionale skrywershuis in Brussel aangebied en het ten doel om skrywers van verskillende kontinente byeen te bring.

Suksesvolle plaaslike aansoekers sal die Jakes Gerwel Stigting se skrywershuis op Somerset-Oos deel met die Belgiese skrywers, Tom Naegels en Neske Beks.

Die Jakes Gerwel Stigting dek die kostes van die suksesvolle aansoekers, insluitende reiskostes, verblyf en etes tydens die verblyf. As jy wil deel wees van hierdie opwindende projek, stuur asseblief jou voorlegging aan die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, Theo Kemp, by theo@jgf.org.za teen 16 Januarie 2023. Die aansoek moet vergesel word van ’n motiveringsbrief, projekuiteensetting en ’n kort bio.

Meer inligting oor die Vlaamse skrywers

Neske Beks (1972) is ’n skrywer en kunstenaar wat met vaardigheid verskeie kunsvorme kombineer. Haar debuutfilm Eigen Volk (2011) weef elemente van teater, gesproke woordkuns, sang, fiksie en niefiksie saam in ’n geslaagde en treffende geheel. In 2014 debuteer sy met die roman De Kleenex Kronieken, ’n humoristiese kroniek van die gebeure binne ’n familie en ook binne ’n dorp. Sedertdien het sy tekste in verskeie bundels, onder meer Zwart (2018), gepubliseer. By die uitgewer Querido het haar kinderboek Sala en Monk – Ons Samen in 2020 verskyn, asook die bundel essays genaamd Echo in 2021. Sy dien op verskeie literêre, film- en teaterpanele en het reeds internasionaal pryse verower vir haar teater- en filmwerk. Sy is ook stigter en direkteur van Alphabet Street, ’n gilde vir swart skrywers, asook van Tank, ’n redaksie- en dinktenk van kleur. In 2022 word sy ingehuldig as lewenslange lid van die Nederlandse Akademie van Kuns. Sy werk tans aan verskeie projekte waar sy haar kunstenaarskap met heling kombineer. Tydens haar residensie in Paulet Huis sal sy werk aan haar nuutste roman en ’n multidissiplinêre projek oor kulturele toe-eiening.

Tom Naegels (1975) is ’n skrywer en joernalis waarvan die joernalistieke bydraes, rubrieke en meningstukke gereeld in De Standaard verskyn. Hy was tussen 2011 en 2016 ook die nuus-ombudsman. In 1997 word hy vir die eerste keer op literêre gebied opgemerk met die verskyning van sy kortverhaalbundel Het heelal in! Vijf stukjes van de kosmos. In 2005 verskyn sy eerste roman Los wat tegelykertyd ’n liefdesverhaal en ’n skets van die stad Antwerpen se maatskaplike probleme is. Die roman is met die Seghers Literatuurprys bekroon en was in 2006 op die langlys van die Libris Literatuurprys. Die boek is in 2008 deur Jan Verheyen vir film verwerk. Nadat hy vir ses jaar navorsing gedoen het, het hy in 2021 Nieuw België, een migratiegeschiedenis oor die Belgiese migrasiebeleid na die Tweede Wêreldoorlog gepubliseer. Hiervoor het hy in 2022 die heel eerste Belangrikste Boek van die Jaar-prys vir niefiksie in België verower. Tydens sy residensie in Paulet Huis sal hy aan sy volgende historiese boek werk.

We are looking forward to welcoming the Belgian writers, Tom Naegels and Neske Beks, to Paulet House early next year. All South African writers are invited to apply to join us for this exciting residency programme. Closing date is Monday, 16 January 2023. Email Theo Kemp for more information – theo@jgf.org.za

Lees ook:

Fleur Pierets – voorvechter van LHBTI-rechten wereldwijd

PEN Nederland Jakes Gerwel-inwoonskrywer: ’n onderhoud met Emma Crebolder

Identiteit en versweë geskiedenisse: ’n onderhoud met Vlaamse skrywer Rachida Lamrabet

Jakes Gerwel Stigting-skrywersresidensie: ’n onderhoud met Vlaamse skrywer Miriam Van hee

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top