Jongste naamsveranderinge: Waar is die vroue?

  • 0

Wie was die mense ná wie sommige lughawens en dorpe in Suid-Afrika vernoem is? Hierdie figure uit ons verlede van wie daar brokkies oorgebly het in mondelingse geskiedenis en dit wat opgeteken is deur ander mense wat oor hulle geskryf het?

Om reg aan dié mense te laat geskied sal jy eintlik weke lank in argiewe moet gaan snuffel, onderhoude voer met ouer mense, vertellings in die volksmond opspoor en so die legkaart voltooi. Maar ’n mens kan tog ’n blik kry deur van die vinnig-beskikbare bronne te raadpleeg.

Port Elizabeth is nou Gqeberha; Oos-Londen se lughawe is nou King Phalo; King William’s Town se nuwe naam is Qonce (“buffel”); en Uitenhage is Kariega. Die lughawe in wat eens Port Elizabeth was, is hervernoem na die Khoi-Khoi-hoofman Dawid Stuurman. Dit sal bekendstaan as Chief Dawid Stuurman International Airport.

Wie was Dawid Stuurman (1773–1830)?

Dawid Stuurman (1773-1830) was ’n Khoi-Khoi-leier.

Van 1799 tot 1803 was daar ’n lang konflik tussen die Britse magte en die inheemse mense van Suid-Afrika. Dit was die eerste keer dat die Britte slaags was met die Khoi-Khoi en die Xhosa. Daar was ook ’n gewapende stryd teen wit boere in die Oos-Kaap wat geweier het om onderdaning te wees aan die Empire, asook konflik tussen die boere en die Xhosa en teen die Khoi-Khoi.

Baie van die Khoi-Khoi is geweldig onderdruk, was sonder grond en is as bediendes gebruik deur die boere. Hulle het al hoe meer grond verloor en hulle was basies vasgevang tussen die Xhosa, boere en die Engelse owerhede.

In dié tyd was Dawid Stuurman, soos baie ander Khoi-Khoi van daardie era, ’n kneg, en wel vir ene Johannes Vermaak. Dit is bekend dat hy op ’n keer vasgemaak is aan ’n wawiel, met ’n sambok geslaan is, daar sout op die wonde gegooi is en hy vir ure in die son gelaat is. Eintlik wou Vermaak hê Stuurman moet geskiet word. Hy het hom na veldkornet Hendrik de Bruyn geneem en daarop aangedring, maar dié het geweier.

Met die dood van Vermaak het talle mense van sy plaas gevlug. Tydens die oorlog, wat drie jaar geduur het, het talle Khoi-Khoi by die Xhosa aangesluit; ander het beskerming by die Britte gesoek. Die Khoi-Khoi het ook teen die boere geveg, en in dié tyd is hoofman Klaas Stuurman en sy broer Andries dood. Dawid, die ander broer, het  oorgeneem as leier.

Ná die oorlog – wat in sy wese uiters kompleks was – het Stuurman en sy mense in Bethelsdorp gaan bly, waar die sendelinge dadelik ingemeng het en almal probeer bekeer het. Die verhoudings tussen almal in die omgewing het stuk vir stuk verbrokkel. Die landdroste het gedreig en graaf Caledon ook.

Uiteindelik is Stuurman, sy broer Bootsman, Kupido Kakkerklak en Kobus Wildschut gevange geneem omdat hulle “vreemd opgetree het en in ’n kraal bly naby aan die grens met die dorp”. Hulle wou eintlik nie van die Khoi-Khoi uitlewer wat van die boere gevlug het nie. En hy en sy mense was teen die toenemende gebruik daarvan dat Caledon hulle gelok het om as Britse soldate te werk.

Die mans is in 1809 na Kaapstad gestuur, saam met drie van Dawid Stuurman se vroue en sewe van sy kinders. Die mans is na Robbeneiland gestuur, en die vroue en kinders was in aanhouding. Tragies is vier van die kinders in aanhouding oorlede.

Later die jaar het die twee Stuurman-boers en nog gevangenes in ’n boot van die eiland ontsnap. Hulle het by die Xhosa gaan bly, gedurende nog twee grensoorloë, en is weer in Desember 1819 gevang. Van die mense saam met hom is geslaan, gebrandmerk, en ander is opgehang. Weer het hy ontsnap van Robbeleiland, in Augustus 1920, nadat ’n ander gevangene, Johan Smit, ’n wag oorrompel het.

In die gemaal het 30 mans hulle weg gevind in walvisbote, maar onderweg het een van die bote omgeslaan en het die Xhosa-profeet Makana, ook bekend as Nxele, saam met nog 13 ander verdrink. Altesame 12 is opgespoor, van wie Stuurman een was. Twee is doodgemaak en drie ander het ontsnap. Stuurman het egter die lewe gered van ene John Bryant en daar is opdrag gegee dat daar niks aan hom gedoen moet word nie.

Vir die derde keer is hy teruggestuur na die eiland, maar dié keer sou ’n erger straf wag. Hy en nog ’n Khoi-Khoi, Jantje Piet, is na Nieu-Suid-Wallis in Australië gestuur, aan boord van die Brampton. Daar is aangeteken dat hy in 1825 in Sydney in ’n openbarewerkeprogram gewerk het en aangehou is in die Hyde Park-barakke, ’n tronk. Dit is vandag ’n museum.

Die Hyde Park-barakke in Sydney waar Dawid Stuurman en baie ander mense aangehou is. Foto: Sydney Living Museum.

Opgeskryf in die rekords staan dat Stuurman swart oë gehad het en dat hy 5 voet 3 duim (1,61 m) lank was. Sy vel was ’n koperkleur. Hy het lam geword in sy een been.

Terug in die Kaap het landdros Cuyler, wat Stuurman gestraf het, ook sy grond geneem en sy kinders in armoedige knegskap aangehou. Sir Richard Bourke, waarnemende goewerneur van die Kaap tussen 1826 en 1828, het ’n artikel van Thomas Pringle gelees oor Stuurman, en versoek dat hy vrygelaat word. Intussen het die prokureur-generaal in Australië ook met ’n petisie begin om Stuurman te help.

Maar Stuurman is op 20 Februarie 1830 in die hospitaal naby die tronk dood. Sy liggaam kon nie gevind word nie.

Wie was koning Phalo (ca 1700(?)–1775) van die Xhosa?

Sy verhaal begin met dié van sy pa, Tshiwo, wie se bewind suksesvol was. Sy mense het tussen die Mthatha- en Mbhasherivier in vandag se Oos-Kaap gebly.

In sy middeljare is hy tydens ’n jagekspedisie dood. Hy is oorleef deur onder meer sy broer, Mdange, en sy Regterhandseun, Gwali. Maar Tshiwo se Grote Vrou het teen dié tyd nog nie ’n seun gehad nie en sy is teruggestuur na haar familie.

Nadat Gwali vir ’n  tyd lank regeer het, het Mdange met ’n kind na vore gekom van wie hy gesê het dat dit dié van Tshiwo was. Gwali het die aanspraak verwerp, maar Mdange het hom verslaan en hy moes vlug na die gebied wat vandag Somerset-Oos is. Maar Mdange het dit nie daar gelaat nie – hy het hom agtervolg en die stamme wat lojaal was aan Gwali – die Sukwini, Gqwashu en Nqarwane – by die Xhosa geïnkorporeer.

Toe Phalo volwassenheid bereik het, het Mdange die troon aan hom oorhandig. Uiteindelik het hy ook die gebied verlaat en die Keirivier oorgesteek. Een van die bekendste tradisies van die Xhosa word na hom teruggevoer toe hy verleë gelaat is nadat twee bruidspartye tegelyk by sy paleis opgedraag het.

Deur een bruid te kies as sy Grote Vrou, sou hy die ander een se pa beledig. Een van die wyse manne het gesê: “Wat is groter as die hoof van die hoofman? Wat is sterker as sy regterhand? Laat die een vrou die hoofvrou wees en die ander een die regterhand.” Dit was een van die verhale van hoe die tradisie ontstaan het van die Huis van die Grote (Great House) en die Huis van die Regterhand (Right Hand House).

In sy leeftyd is hy eintlik oorskadu deur sy twee seuns, Gcaleka en Rharhabe, en hulle nalatenskap resoneer tot vandag nog. Dit het gelei tot ’n skeiding tussen die amaGcaleka en die amaRharhabe, en word gesien as een van die beduidende kenmerke van interne politiek van die Xhosa in die tweede helfte van die 18de eeu.

Die twee seuns het ook die name Gcaleka van die Grote Huis en Rharhabe van die Huis van die Regterhand aangeneem.

David Livingstone Yali-Manisi  (1926–1999) was ’n Xhosa-imbongi, ’n prysdigter, wat baie in sy werk na die “Stamme van Phalo” verwys het. Daarmee het hy bedoel die Xhosa-nasie, onafhanklikheid en die nasate van Phalo.

Dié gedig deur hom is deur Ashlee Lenta in ’n tesis aangehaal:

I love Satan,
For chiefs and nobles worship him
Ministers worship him.
We thank you, settler tribes,
for you entered bearing the Bible,
and you said “Receive the tome
and cast off lore and custom.”
We took up the Bible and followed you,
minister turned into soldier,
he raised his musket and blasted his cannon.
Rharhabe’s mountains resounded,
dust arose, the land was aflame.
Standing here I’m speaking nicely,
I’m speaking sweetly to leaders,
for the ragtag men and women have gathered,
posh ladies and gents have gathered.
I certainly do admire it: I see a black, I see a white.
Their impulse to mix was hindered by difference,
for Satan’s in charge,
sparring as always with the Immanent Son of the Maker.
I’m speaking sweetly beneath the Mountain of Sins,
staring at Nojoli’s mountains,
squat mountains of Rharhabe’s land.
The day the Bible arrived it brought the lash with it,
the people of Phalo were scattered;

Die verandering van name in demokratiese Suid-Afrika duur al sedert 1994. Wat opvallend is, is dat daar steeds meer mans uit die geskiedenis hulle plek inneem. Dit krap aan my. Ek het kop gekrap, oor en oor. Wanneer ek na die groot plekke, lughawens en landmerke dink, kom net Charlotte (née Manye) Maxeke (1871–1939) by my op, na wie een van ons groot hospitale hervernoem is.

’n Jong Charlotte (née Manye) Maxeke. Foto: South African History Online [CC BY 4.0], via Wikimedia Commons

Hierdie merkwaardige vrou het daarin geslaag om in 1901 ’n BSc-graad oorsee te behaal in Amerika. Die eerste swart Suid-Afrikaanse vrou wat dit gedoen het. In haar hele wese was sy ’n onderwyser, ’n leerkrag, wat saam met haar man, Marshall, skole op die been gebring het.

’n Vrou wat geveg het vir die regte van vroue, en vir die regte van mense.

Suid-Afrika het soveel ander merkwaardige vroue gehad, soos Maxeke. Ek sal myself nie daarstel om voor te stel wie vereer moet word nie, maar daar is ’n lang lys sulke vroue se name in my kop. Indien ons die verlede se foute wil regstel, moet ons ook die patriargie en die rol wat vroue in ons geskiedenis gespeel het, regstel. Dit is nog nie gedoen nie.

Word vroue in Suid-Afrika in alle opsigte gelyk aan mans geag? Nog nie naastenby nie.

Bronne:

Lees ook:

Dawid Stuurman-lughawe ’n goeie (regstel-)vertrekpunt

Jan van Riebeeck en Krotoa se tyd: 10 verrassende feite

Sylvia Vollenhoven: "Je kunt het heden niet losmaken van het verleden"

Krotoa movie: an interview with Kaye Ann Williams

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top