Kontrasterend

  • 0

Suid-Afrika was en is steeds bekend vir sy baie kontraste in kleur en klank, taal en kultuur en natuur – om maar ’n paar te noem. Maar om hierdie kontraste waar te neem, is dit meestal nodig om oor afstande te reis; hetsy tussen ’n persoon se woning en werk, tussen stede en dorpe of selfs wyer – oor provinsiegrense. As ’n gebore Suid-Afrikaner wat die afgelope vyf dekades in al nege provinsies gewoon, gewerk of gereis het, is die genoemde kontraste nie vir my onbekend nie. Inteendeel …

Groot was my verbasing dus met die opmerklike kontraste waarneembaar binne die eerste 24 uur van ’n onlangse besoek aan Nederland – alles binne slegs ’n paar kilometer radius.

Sedertdien kon ek deur die foto’s blaai wat tydens die toer van 12 dae geneem is, en selfs meer kontraste bespeur, wat nie met die eerste oogopslag juis ’n indruk gemaak het nie. Dis ook hierdie kontraste wat my altyd sal bybly en waarmee ek die letterkundetoer na Nederland sal vereenselwig.

Die ooglopendste vir my was die deurlopende kontras tussen die oue en die nuwe. Eerstens was daar die teenstellings in argitektuur en boustyl. Eeue-oue smal wonings wat tuimelend-skeef hang langs stokou gragte, in die skadu van Lego-vormige wolkekrabbers. Elkeen groter, hoër en meer imposant as die vorige. ’n Antieke kasteel wat al amper ’n millennium lank uitkyk in alle rigtings, skaars ’n klipgooi weg van ’n byderwetse vier-ster-hotel. Ou watermeulens (gehawend deur wind en weer) langs moderne hoofweë en, in die verte, hedendaagse windturbines. Honderde staal en betonbrûe oorkoepel die paar handgeboude houtbrûe wat die laaste groot oorlog kon oorleef.

Klein huisies opmekaar gestapel teenoor groot kasarms op groter stukkies grond aan die buitewyke van die dorpe en stede. Klein en groot lappe grond aangewend vir rekreasie, landbouproduksie of natuurbewaring.

En dan is daar die fietse. Miljoene fietse in alle kleure, vorms en groottes. Volgens populasiestatistieke is daar dubbel soveel fietse as mense in hierdie landjie van amper 20 miljoen inwoners. Mense wat “fietsen” tussen huis en werk, skool en kerk. Ou mense, jong mense, kinders en selfs honde. Fietse om elke hoek en draai. En die fietse watse wiele nie draai nie, staan geparkeer in ’n parkade, op ’n sypaadjie, teen ’n brug, trap of boom. Daarteenoor talle luukse elektriese motors (meestal Duits- en Sweeds-vervaardig) wat geluidloos (sagter as die klingelende fietse) in smal straatjies afseil. Behalwe nou as die klomp “Zuid-Afrikaners” aan die verkeerde kant van die pad loop en met ’n harde getoet tot inkeer geskrik word. Om nie eers te praat van die stiptelike sneltreine en trems nie, beide maklik toeganklik met die swiep van ’n kaart.

Ook opvallend, en geensins minder noemenswaardig nie, was die mense in hulle daaglikse omgaan. Alle ouderdomme, alle tale en ’n verskeidenheid van kulture. Sommige vriendelik, maar die oorgrote meerderheid kom redelik bot en onvriendelik voor. Almal saamgedrom in hierdie landjie, skaars groter as die Vrystaat.

Terug by my vierkantige huis, platgebou op Moederaarde, in Upington kyk ek met ander oë na die wêreld om my. Ek waardeer my 500m2-erf en 250m2-huis met ruim kamers en drie motorhuise gevul met diesel- en petrolaangedrewe motors. Die sonnetjie wat nou flouer skyn as in die somermaande. Die vriendelike koerantverkopers by die verkeerslig wat sing en lag vir ’n paar sente. My medeburgers wat vriendelik groet uit hulle “raserige” bakkies (meestal Japannees-vervaardig). My eie Japannese kar wat brul as jy die skakelaar druk. Die behulpsaamheid van die groenteverkoper. Kinders se gelag in die strate. Voëls wat tjirp en duiwe wat kliphard koer. My vier honde wat heel ongemanierd blaf vir enige verbyganger of katte, slange en duiwe uit die moerbeiboom bespring en hulle binnegoed voor my agterdeur kom los. Ek is vergenoeg en baie gelukkig om terug te wees.

Lees ook:

Die Eybers-dag – Letterkundetoer 2023

’n Menger-maler-mixer in Nederland

O, Amsterdam

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top