’n Ruiker somerblomme steek by my fietstas uit as ek op Sondagoggend 25 Junie 2023 van die Prinsengracht na Zorgvlied-begraafplaas, so tien kilometer buite Amsterdam, ry. Dis windstil en al vroeg warm. By Zorgvlied se hekke ontmoet ek ’n groep Suid-Afrikaners wat die vorige middag by hulle Holiday Express hotel aan die Motorkade in Amsterdam-Noord opgedaag het. Hulle is uitgelate oor die boot-trippie met stuurman Kaspar wat hulle langs die hawegebied na Zorgvlied, geleë aan die wesoewer van die Amstelrivier, gebring het.
Dis dag een van die tiendaagse Letterkundetoer deur Marieta Nel en Karin Tomlinson georganiseer. Elisabeth Eybers (1915–2007) is die vanselfsprekende eerste fokuspunt. Die meeste van die toerlede het Immigrant by hulle; die bloemlesing met ongeveer 130 gedigte wat ek in 2022 vir Human & Rousseau saamgestel het. Marieta-hulle het my gevra om hulle Eybers-gids te wees en ek sal ter plekke verduidelik watter rol Amsterdamse argitektuur, die Vondelpark, begraafplase en die dood in haar poësie gespeel het. Dié merkwaardige digter het presies die helfte van haar lang lewe in Amsterdam gewoon en is ewe beroemd by sowel Nederlandse as Suid-Afrikaanse lesers.
Eybers se verhuising na Nederland in 1961 het haar tema van buitestanderskap verruim en verryk; dit sowel persoonliker as algemener gemaak. Totdat sy 90 jaar oud was, het sy in Afrikaans bly skryf en bykans 900 gedigte nagelaat. Die formele vervreemdingseffekte wat tipies van poësie is (rym, metafore, ensovoorts) is uitgebrei deur wisselende aspekte van vervreemding wat telkens anders is vir die een of die ander stel van haar lesers. Wié moet ekstra nadink daaroor dat sy met Februarie nie die somer nie, maar die winter bedoel? Wáár is die “hier” of die “daar” waarna sy verwys? Talle Nederlandse verwysings duik in haar werk op: dyke, vriesweer, voëls soos die merel en ekster. Tot aan die einde van haar lewe sal woorde soos gramadoelas en bossiesveld, bekend aan haar Suid-Afrikaanse lesers, voorkom. In Afstand en verbintenis, ’n boek gebaseer op my proefskrif, verduidelik ek meer. (Sien meer hier.)
Elisabeth Eybers is ná ’n kort siekbed op 1 Desember 2007 oorlede. Dis nie die eerste keer dat ek by Zorgvlied is nie. Op 6 Desember 2007 het ek saam met tientalle mense onder swart sambrele rondom haar oop graf gestaan. Haar drie dogters, kleinkinders, Nederlandse vriende, ’n paar Suid-Afrikaners. Die familie het my gevra om in die aula oor haar as digter te praat. Sedertdien was ek byna jaarliks op haar verjaardag by haar graf, soms alleen, meestal saam met Annemarie Balkema wat ook ’n jarelange vriendin van Elisabeth was. Op 26 Februarie, as dit nog baie koud is maar die eerste krokusse is al uit, fiets ons langs die Amstel-rivier Zorgvlied toe. Meestal met ’n bossie tulpe. ’n Enkele keer gaan ander vriende saam.
Elisabeth Eybers is begrawe onder hoë bome op Zorgvlied. Die begraafplaas dateer uit die ekspansiewe einde van die 19de eeu en is aangelê deur Jan David Zocher en sy seun Louis Paul. Die toerlede stap verwonderd onder die hoë bome deur die begraafplaas wat ’n skaduryke doolhof met 19de-eeuse grafmonumente en moderne grafstene is.
Eybers se graf is ver aan een van die linkersirkels geleë. Twee heraldiese leeus staan by die ingang van die paadjie vanwaar ’n mens reeds haar swart granietgrafsteen kan sien. Ek tap water in ’n emmertjie en rangskik die blomme teen die steen.
Ons staan in ’n halwe kring om die graf. Janke van Schalkwyk, die jongste lid van die groep, wil graag Eybers se eerste gedig, “Maria”, voorlees.
Dis vir my belangrik om aan die toerlede te vertel wat ek meer as 15 jaar gelede gesê het. (Sien ook die skakel.)
’n Begrafnis is één van die talle grenssituaties wat Eybers op haar ironiese, soms selfs makabere wyse onder oë durf sien het. Een van haar beroemdste Suid-Afrikaanse gedigte heet “Wespark”. Die gedig begin só: “Geagte leser, dié geleentheid / bied hom slegs een keer in ’n leeftyd: / geen waglys en geen woningnood / al is die aanvraag nog so groot.” Vir Eybers het die geleentheid van ’n leeftyd, haar eie begrafnis, op 6 Desember 2007 aangebreek. Hoe skerp en ironies het sy nie al 50 jaar vantevore in Johannesburg besef hoe onafwendbaar die dood is nie. Ook Eybers het nou ’n “versierde gewel” waarop haar “van en volle doopnaam pryk”. Hier voel die “eensames nooit alleen / in die wit broederskap van been, / hier kan die digter sonder skroom / hom blywend toespin in sy droom”.
Wat ek in 2007 nie kon weet nie, is dat ’n ander strofe uit “Wespark” besonder relevant sou wees. Sy skryf daar immers: “onder die koelteboom lê klaas / soos waffer skofbaas uitgestrek”. Haar “buurman” Klaas Schill, oorlede ’n paar jaar voor haar, se grafsteen het later bygekom.
In 1994 het sy, nadat sy toe al meer as 30 jaar lank in Amsterdam gewoon het en byna 80 jaar oud was, wéér ’n begrafnisgedig geskryf – “Vreemd”: “Hoeveel kere het ek nie met jou, / mede-toeskouer, dit bygewoon: / die stoïsynse vertoon / van georganiseerde rou. // En telkens het ek dan daarná / chauvinisties en plegtig verklaar: / wel, in my geboorteland doen / ons dit beter en onverbloem / dis daar nooit so ’n stywe gedoe / en teen trane bestaan geen taboe.” Elisabeth Eybers was op 6 Desember nie meer ’n medetoeskouer van ’n vertoon van rou nie, maar die sentrale figuur, dié een gedagvaar om te verdwyn. Troos bied was nooit een van haar sterk eienskappe nie; daarvoor soek sy te meedoënloos na die kern, hou sy geen illusie in stand nie en sien sy elke stekelrigheid en mankement skerp onder oë. Van die mees troostende reëls in haar oeuvre is wel in die slot van “Vreemd” te vind: “Laat ons loof wat ons nie kan verstaan.”
Dis tyd om verder te gaan en my fiets word ook op die boot gelaai. Eers vaar Kaspar nog ’n hele ent in die rigting van Oudekerk voordat ons terugdraai stad toe. Dis baie warm en orals vier vrolike Hollanders dit in en op die water. Die boot se lisensie maak net voorsiening daarvoor om 12 passasiers in die gragtegordel te kan vervoer en Kaspar vaar met die gelukkige dosyn tot by die Rijksmuseum se aanmeer-steier terwyl die ander van ons by Carré afklim, oor die Magere Brug en langs die Prinsengracht tot by die Vondelpark stap. Nes Zorgvlied is die Vondelpark deur die Zorchers in ’n Engelse landskapstyl ontwerp: sonder strak geometriese vorme, maar met slingerende paadjies en verspreide boomgroepe.
Almal snak na bier en broodjies. Ons hou piekniek en gesels op die gras naby die 17de-eeuse digter Joost van den Vondel se standbeeld. Hier naby het Eybers haar beroemdste Amsterdamse gedig geskryf, “Twee kleuters in die Vondelpark”. Almal ken die gedig; vandag kry dit nuwe betekenis. Ons gewaar nie ’n swaan “oor sy dubbelbeeld gekeer” met webbe wat “onderwater roer” nie, maar daar is baie kleuters, “druk slagvaardige” mevroue en “doktrinêre Hollandse” menere, ons hoor “verby die bome (hoe) druis die straatrumoer”. Ek vertel ook van die gedigte “Einde van die seisoen” en “Kritiek” wat verband hou met die Vondelpark.
Dan loop ons by een van die park se hekke uit na Jacob Obrechtstraat. Ek wil vir hulle Eybers se huis in Van Breestraat gaan wys; nommer 44 waar sy in die 1970’s en 1980’s gewoon het. Ek het haar daar in Januarie 1975 ontmoet kort voor haar 60ste verjaardag toe ek 23 jaar oud en ’n student in Utrecht was. Vir my is dit nie net interessant dát sy hier gewoon het nie. Ek verduidelik hoe die argitektuur neerslag vind in gedigte uit daardie tyd. Byvoorbeeld in “Huis te koop” kan jy jou presies verbeel dat die erker ’n klein verhogie is. Dís waar Eybers en ’n nuwe geliefde “in hul janklasespel agter die raam” ’n nuwe lewe saam wou begin, soos Punch en Judy. Hy is egter oorlede voor sy daar ingetrek het. “’n Nougesette gewel, ’n skraal boom / verdoesel die lighoofdige geheim / van ’n malagietgroen tuin / wat bibberend op die agterdrumpel staan.”
Die gewel is inderdaad “nougeset”, ingepas tussen buurhuise. Die balkonne van huise is inderdaad “smal”, daar waar die buurvrou “’n paar deure verder” “al haar bont tapyte om die beurt / soggens om tienuur” “met ’n soort rietraket” ge-“looi” het. Dit gee destyds aanleiding tot die so geestige gedig met die titel “Roeping”, waarin die buurvrou se geesdrif beskryf word as “die volkome geskandeerde suiwer / koelbloedige geïnspireerde ywer” – soortgelyk aan Eybers se eie pogings om ’n gedig te skryf!
Ek vertel van die gedig “Orkaan” en wys na Eybers se “smal dakkamer” wat “soos ’n ark (ge-)kraak” het “in die donker voordag van dertien November” – toe die dooie boom agter in haar bure se tuin wonderbaarlik bly staan het. Die slotreëls van die gedig is: “Orent-bly word gewoonte, selfs die las / van saploosheid lyk ligter hierdie jaar.” Ek vertel dat Karel Schoeman ’n klompie maande lank die grondverdieping gehuur het.
Dis uiteindelik burerumoer wat Eybers noop om uit die oënskynlik rustige straat te “vlug”. In “Somers” skryf sy hoe “swel en knel alles, smal huise / beur teen mekaar nog benouder”. In “Terugkeer van Klaas-Hannes” is die 16-jarige buurseun en sy Suzuki-maats voortdurend op die sypaadjie besig om hul motors te “por en rem, laat brul of gier”. Hulle “martel (die buurt) met rumoer”. Dat die bure se stoof vyf treë van haar kombuis is, is duidelik voorstelbaar soos ons in die straat staan en na die huise kyk. Die gedig ná “Terugkeer van Klaas-Hannes” is “Verhuising”. Eybers vlug na die Stadionkade nommer 17 waar sy ’n ruim woonstel koop en “met nog steeds onberedderde puin” haarself “kortasem maar tog in (haar) woordwêreld” terug vind.
Ons het nie tyd om soontoe te loop nie, maar ek wys die groep op onder meer die onvolprese “Uitsig op die kade” wat daar geskryf is. Ook op talle van die pragtige gedigte waarin sy die kanaal vanuit haar “tweekamer speelruim” betrag. Daar is nog net genoeg tyd om ’n bietjie asem te skep en op eie tempo in te loer by die Stedelijk Museum, om ’n Aperol spritz te drink, op die Museumplein se gras te gaan lê. Om halfvyf staan ons in die ry vir ons tydgleuf om die lieflike tentoonstelling van die skilderye wat Vincent van Gogh tydens die laaste twee maande van sy lewe in Auvers geskilder het te gaan bekyk.
Moeg maar gelukkig is almal terug hotel toe ná dag een van die Letterkundetoer 2023.
- Alle foto’s is verskaf.
Lees ook:
Eybers-keur wys veral haar Amsterdamse gedigte het blywende seggingskrag
Immigrant: ’n Keuse uit die gedigte van Elisabeth Eybers, saamgestel deur Ena Jansen – ’n resensie
Elisabeth Eybers se “soetste kettery”: Die woord en die Woord in haar poësie