’n Menger-maler-mixer in Nederland

  • 0

Riëtte Hugo en een van die vele hoofmeisies, Ria Taylor (Foto: Marieta Nel)

Hoe gooi jy 29 mense vir 10 dae in ’n Holiday Inn Express Hotel saam? Met ’n menger-maler-mixer genaamd Marieta. Hoe help jy stywelip, belangrike mense om mekaar vinnig te leer ken? Jy laat iets soos ’n oorspronklike skildery deur André Wilhelm Groenewald wegraak op Schiphol-lughawe en ’n soektog word van stapel gestuur, uitgevoer deur ’n jeugdige, entoesiastiese  jongeling, soos verteenwoordig deur Helena Ewerts, en ’n mankoliekige maar moedige Riëtte Hugo. Hoe kry jy ’n hoofmeisie en DA-parlementslid se vrou, Johanna Coetzee, om met die oudste-stoutste meisie in die groep maats te maak? Jy laat hulle ’n kamer deel – ’n  kamer sonder ’n kas, sonder ’n bad, sonder klankdigte mure. En as die hoofmeisie boonop pasgetroud en smoorverlief is, kan dit net Sports wees – met ’n hoofletter S. Maar jy sprinkel sterstof waar jy gaan en jy laat die mense lag. Hulle klim uit hulle gemaksone, hulle eet bitterballen en drink jenewer, of Heineken-bier, of aperolle met prosecco en sodawater, en hulle word geswore vriende, soos bewys uit die nabetragting wat net nie ophou nie. Selfs fietsvalle en Uber-bestuurders wat stilhou, uitjou en uitgooi is nie die ergste nie. 

Die (kiets 😉 ) van Goes (Foto: Marieta Nel)

Maar wat is die gemene deler? ’n Oergrondelike liefde vir Afrikaans.

Wat is die gom wat almal aan mekaar bind? Die soeke na verwantskappe – 10 of meer geslagte gelede is hier aan die suidpunt van Afrika ’n Hollandse hutspot begin, aan daardie gemeenskaplike gereg smul ons nog almal.

Wie het aan die roer van sake gestaan? Wie het gedink ons 29 moet vlugvoetig fladder van die graf van Elisabeth Eybers tot die groen deur waaragter Karel Schoeman hom kon uitleef? Soos gesê, Marieta Nel en haar handlangers en medeletterkundeliefhebbers: Ena Jansen, Ingrid Glorie, Solet Scheeres en Karen Tomlinson.

Riëtte omarm vir Couperus (Foto: Marieta Nel)

Hoe voel daardie 29 nou? Noudat hulle 150 km in 10 dae afgelê het? Gewals het deur Walletjiestraat, geëet het by Indonesiese rystafels en Holland Hap? Hmm ... Of in donker kamertjies saam met Anne Frank gehuil het en die Binnezee beleef het. Wat sê hulle nou? Noudat alles net ’n kleurvolle droom is? Uit een mond: Kom ons doen dit weer. Ons spaar sommer nou al!

Dit was ’n MOERSETOER. 

Lees ook:

Die Eybers-dag – Letterkundetoer 2023

Kontrasterend

O, Amsterdam

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top