’n Politieke "antie" wil Suid-Afrika se goeie mense byeenbring

  • 0

Suid-Afrika wag op die verwagte aankondiging van die naam van sy nuutste politieke party – ’n inisiatief van die voormalige burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, noudat haar paaie met die Demokratiese Alliansie (DA) geskei het.

Dit is algemene praktyk wanneer verkiesingstyd in Suid-Afrika nader kom, soos nou in die aanloop tot die 2019 nasionale en provinsiale stemdag, dat daar gewoonlik ’n hele aantal nuwe partye opspring, asof sampioene in die veld, waarvan net enkeles werklik ernstig opgeneem kan word.

Maar terwyl weinig noemenswaardige verkiesingsteun wen, is daar tog dié wat dit regkry om setels in die Nasionale Vergadering of in provinsiale wetgewers te verower. Dit was die geval met die United Democratic Movement (UDM), wat gestig is deur Bantu Holomisa toe hy uit die regerende ANC geskop is; so ook met Mosiuoa Lekota se Congress of the People (Cope), wat ontstaan het ná die ANC se 2007-konferensie waar van oudpresident Thabo Mbeki ontslae geraak is.

Die Onafhanklike Demokrate (OD), wat in 2010 deel geword het van die DA, is in 2003 deur De Lille gestig nadat sy vroeër uit die Pan Africanist Congress (PAC) padgegee het. En met die verkiesing in 2014 het die Economic Freedom Fighters (EFF) van Julius Malema tot stand gekom ná sy skorsing uit die ANC.

In die onlangse verlede het drie ander vroueleiers ook hul eie partye gestig, maar nie een daarvan kon hond haaraf maak nie en geen van die leiers is nog by die partye betrokke nie: Zanele kaMagwaza-Msibi, voorheen van die Inkatha Vryheidsparty (IVP), het die Nasionale Vryheidsparty (NFP) begin; Mamphela Ramphele het Agang in die lewe geroep kort nadat sy onttrek het as die DA se 2014-verkiesingskandidaat; en die varsste in die geheue is hoedat ’n ANC-parlementslid en -fluitjieblaser teen korrupsie, Makhosi Khoza, se eie politieke ambisie in die hek geduik het met haar mislukte African Democratic Change (ADeC) wat as teregwysing vir haar voormalige party moes gedien het.

’n Goue draad loop deur al hierdie partye se ontstaansgeskiedenis: dit het in alle gevalle begin te danke aan (of te wyte aan?) die onmin wat tussen die leier en sy of haar vorige politieke tuiste tot uitbarsting gekom het. Dit is dus ’n groep gegriefdes wat so bymekaar kom, en meestal ly dit ernstig gebrek aan ’n weldeurdagte politieke strategie. Jy kan immers nie woede of haat vir jou vorige party se leiers aan jou potensiële steunbasis verkoop nie – kiesers wil weet wat jy vir húlle en hul behoeftes kan doen.

In hierdie opsig probeer De Lille (hierdie keer) ’n ander aanslag: ’n week gelede het sy bekend gemaak dat sy ’n nuwe burgerlike beweging wil begin wat uiteindelik in ’n politieke party omskep gaan word om in die 2019-verkiesing mee te ding.

Maande lank was sy en die DA hof in en hof uit terwyl daar vanuit partygeledere probeer is om van haar ontslae te raak – ook by wyse van verskeie interne dissiplinêre aanklagte, waarvan geen die gewenste dividende vir die party voortgebring het nie.

Einde Oktober het De Lille toe wel uitvoering gegee aan die ooreenkoms wat sy vroeër met die DA-leier, Mmusi Maimane, aangegaan het dat sy sou bedank in ruil daarvoor dat die party die dissiplinêre klagte teen haar laat vaar.

Bespiegeling vooraf was of sy haar by óf die ANC óf die EFF sou aansluit; albei partye, en ook ander het, só vertel sy, haar met aanbiedinge genader. Maar daar is ook gewonder of sy dalk daaraan gaan meewerk om die OD te laat herleef en of sy uit die staanspoor ’n nuwe party van stapel sou stuur.

Die onsekerheid oor wat haar volgende stap sou wees, is nou tot ’n einde gebring. For Good is ’n beweging waardeur De Lille – alombekend as “auntie Pat”, oftewel almal se tannie – “goeie mense wat vir goeie mense veg” byeen wil bring.

Maar toe sy dié aankondiging maak, het sy ook die land ingelig dat sy wél aan volgende jaar se verkiesing gaan deelneem (in al nege provinsies). Die party sal ’n verlengstuk wees van die visie en missie van die For Good-narratief: ’n aksie teen korrupsie, teen onreg, teen mishandeling, eintlik teen alles wat sleg is in die samelewing.

Sommige politieke waarnemers is bereid om haar die voordeel van die twyfel te gee; ander wys op presies hoeveel geld en moeite in terme van organisatoriese ontwikkeling dit verg om ’n nuwe party so kort voor ’n verkiesing op die been te bring.

Hier moet in ag geneem word dat die land se Onafhanklike Verkiesingskommissie pas ’n tweede ronde vir kieserregistrasie vir Januarie aangekondig het met die verwagting dat die verkiesing in Mei sal plaasvind.

Wat in De Lille se guns tel, en haar seker ook hoop gee, is eerstens dat die EFF wondere kon verrig binne die bestek van ses maande (deur 25 setels in die Nasionale Vergadering te wen) en tweedens dat sy geen politieke of parlementêre groentjie is nie. Nie baie ander politici speel al sedert 1994, met die aanvang van Suid-Afrika se demokratiese Nelson Mandela-bestel, so ’n prominente rol soos sy nie – en dit was die einste Mandela wat oor haar gesê het dat ongeag tot watter party sy behoort, jy nie anders kan as om van haar te hou nie.

Of die kiesers genoeg van haar nuwe politieke plan gaan hou, moet gesien word. Gewis is almal verlig dat die korrupte era van Jacob Zuma deur Cyril Ramaphosa se hoopskeppende, teenkorrupsie-“nuwe dagbreek” vervang is. Dit beteken ook dat mense wat dalk opgehou het om vir die ANC te stem, dit miskien nou weer sal doen, terwyl ander wat dit nie voorheen sou oorweeg het nie (bepaald wit Afrikaanse kiesers en bruin kiesers in die Wes-Kaap), dit as ’n versekeringspolis teen die oorblywende Zuma-invloed in die ANC kan beskou.

Van die land se bekendste politieke kommentators, Peter Bruce, Piet Croucamp en Max du Preez, deel die sentiment dat dit goed vir die land sal wees indien Ramaphosa die ANC na ’n goeie oorwinning in die 2019-verkiesing kan lei. Dié gedagtegang maan dat indien dit nie gebeur nie, Ramaphosa binne die ANC verswak sal word (en die Zuma-faksie versterk sal word) en dat dít kan uitloop op ’n koalisie met die EFF, wat sonder ontsag vir enige soort gesag optree op maniere wat deur sommiges as rassisties, radikaal en gewelddadig beskryf word.

Hoe raak hierdie scenario De Lille se planne? Die voorspelling is dat sy, ten minste in haar DA-regeerde tuisprovinsie, die Wes-Kaap, as koningmaker kan ontpop. Dit is ook nie ondenkbaar dat sy met haar profiel nasionaal ’n impak kan maak nie. Waarop dit kan uitloop, is dat dit sy, eerder as die EFF, uiteindelik in ’n vennootskap met Ramaphosa se ANC kan beland as die ANC wel ná die verkiesing koalisievennote gaan benodig.

Die naam en handelsmerk van die individu Patricia de Lille, oftewel auntie Pat, dra aansienlike gewig – binne en buite die politiek. Dit weet almal. Maar die nog onbekende naam van haar nuwe party gaan help bepaal tot watter mate sy in 2019 partypolitieke gewig sal dra.

Heindrich Wyngaard het pas die Afrikaanse Taalraad (ATR) se 2018-Kokertoekenning vir die Bevordering van Afrikaans ontvang.

Lees ook

De Lille wil DA by stembus pak gee

Suid-Afrikaners vroeg in 2019 na die stembus

Ramaphosa wil korrupsie binne maande takel

Zuma het die kabinet mislei

Nuwe era vir Suid-Afrika met Ramaphosa

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top