Onmoontlik om sosiale-afstand-reël oral te handhaaf

  • 0

Pensioenarisse in Suid-Afrika het Maandag op verskeie plekke in die land in lang toue saamgedrom om hulle Sassa-toelae te ontvang ondanks die vereiste sosiale afstand van ’n meter tussen persone.

Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, het haar kommer uitgespreek oor ’n gebrek aan polisiesigbaarheid by sommige betaalpunte.

Sy het in Alexandra, noord van Johannesburg, gepraat, waar mense in lang toue by Sassa-betaalpunte gestaan het. Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid het besluit om die uitbetaaldatum vir bejaarde en gestremde persone te vervroeg in die lig van die staat van inperking.

RSG berig dat Zulu Maandag ’n dringende vergadering met die Minister van Polisie versoek het om haar kommer te bespreek.

Intussen het die Gautengse premier, David Makhura, gesê sy administrasie se grootste uitdaging is om maniere te vind om die lang toue by kruidenierswinkels te beperk. Gauteng is die provinsie met die hoogste aantal bevestigde gevalle (teen Maandag-oggend), naamlik 584. Landwyd was daar teen Maandag-oggend reeds 1 280 gevalle en twee sterftes bevestig. Makhura het gesê dit is nie moontlik om die vereiste sosiale afstand van ’n meter tussen mense te handhaaf nie, weens die groot getalle mense wat op maandeinde opdaag om kos te koop. By sommige winkels het mense wel gepoog om die sosiale afstand in die rye tussen hulle te handhaaf deur te sorg dat die winkeltrollies hulle skei selfs voordat hulle by ’n winkel kon ingaan.

Ouer persone en diegene met gestremdhede is toegelaat om hulle sosiale toelaes en pensioene Maandag en Dinsdag te gaan haal, terwyl die res wat daarop aanspraak kan maak, hulle toelaes van 1 April kan opeis.

By baie betaalpunte was amptenare op hul pos om die hande te ontsmet van diegene wat in toue staan en wag om hul toelae te ontvang.

In sy weeklikse nuusbrief het president Cyril Ramaphosa die 114 Suid-Afrikaners wat uit Wuhan in China na Suid-Afrika teruggekeer het, terugverwelkom. Hy het hulle die afgelope naweek in Polokwane ontmoet nadat hulle hul verpligte kwarantyntydperk voltooi het. Al 114 Suid-Afrikaners het negatief getoets vir die koronavirus en kon uiteindelik weer met hulle families herenig word.

Hulle moes vir maande in afsondering leef as gevolg van die virus. In Wuhan is hulle vir 51 dae in afsondering gehou en met hul terugkeer in Suid-Afrika moes hulle vir ’n verdere 14 dae in kwarantyn bly voordat hulle met hul geliefdes herenig kon word.

Ramaphosa sê in sy weeklikse brief die ervaring van die Suid-Afrikaanse studente wat uit Wuhan in China gerepatrieer is, bevestig die doeltreffendheid en noodsaaklikheid van ’n inperking om die verspreiding van die virus te bekamp. Ramaphosa sê dit bewys dat as almal die inperking gehoorsaam, sal ons die pandemie te bowe kan kom.

Die President se volledige brief kan hier gelees word.

Die SABC berig die Werkloosheidsversekeringsfonds het werkgewers gevra om nie hulle personeel te verplig om jaarlikse verlof te neem gedurende die 21 dae afsonderingstydperk nie. Hoewel wetgewing daarvoor voorsiening maak, is werkgewers aangeraai om eerder gebruik te maak van die COVID-19 Tydelike Werkgewer-Werknemer-hulpskema. Dit maak geldelik voorsiening vir diegene wat nie ingevolge regulasies tydens die inperkingsperiode kan werk nie. ’n Woordvoerder van die Werkloosheidsversekeringsfonds, Lungelo Mkamba, sê werkgewers kan by die Fonds aansoek doen vir die COVID-hulpskema. Werkgewers sal steeds gehelp word, al sou die 21-dae-tydperk verleng word.

Intussen is Suid-Afrika se buurland Zimbabwe sedert Maandag ook in ’n staat van inperking. Zimbabwe het te midde van die 21-dae-inperking in dié land die verbod op die gebruik van buitelandse valuta vir plaaslike transaksies opgehef. Die owerhede sê die gebruik van buitelandse valuta sal help om die uitwerking van die pandemie die hoof te bied. ’n Zimbabwiese ekonoom, Godfrey Kanyendze, sê egter die gebruik van buitelandse valuta was onvermydelik en die regering wend die koronaviruspandemie as ’n verskoning aan om die gebruik daarvan in te stel.

Lees ook

Inperking is nie drie weke vakansie nie

Koronavirus slaan die wynbedryf hard

Min gepla oor korona? En wat gebeur as die virus in ons gesig ontplof?

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top