Oor versoening, Völkermord en ’n dag van afrekening

  • 0

Links: Nelson Mandela in 1937 (Foto: Wikimedia Commons); regs: Madiba stem in 1994 (Foto: Paul Weinberg [CC BY-SA 3.0], via Wikimedia Commons)

Indien die uitdaging aan Suid-Afrikaners gestel sou word om ’n gunsteling-vakansiedag, of dag van nasionale viering, te moet kies, sou myne Versoeningsdag* wees – die dag waarop gestalte gegee moet word aan die nasiebou en samesyn wat op die verontmensliking en verdeeldheid van apartheid moes volg.

Die woordkeuse is doelbewus: “waarop gestalte gegee moet word” eerder as “waarop gestalte gegee word”; en “wat moes volg” eerder as “wat gevolg het”. Met ander woorde, versoening is ’n onafgehandelde taak.

Niemand wat selfs net ligweg met die land se geskiedenis vertroud is, kan egter die noodsaaklikheid van volhoubare versoening ontken of ignoreer nie.

Antjie Krog stel die voorbeeld. Behalwe dat sy voorheen as radiojoernalis oor die werksaamhede van die Waarheid-en-versoeningskommissie berig het, het sy sedertdien in haar poësie deurlopend gewerk met die tema “historical experience in the South Africa of her lifetime” (JM Coetzee se beskrywing in sy opstel “On Antjie Krog” in sy boek Diary of a bad year).

Ongelukkig is dit so dat talle Suid-Afrikaners, ongeag hul ras, geslag, generasie of geloof, ’n openbare vakansiedag gewoon beskou as ’n dag van niks doen nie; as bloot ’n dag om van die werk (of opvoedkundige instellings) af weg te bly sonder om vir verlof hoef aansoek te doen (pasella, mahala); ’n dag om ’n bietjie in die tuin of in die motorhuis te woeker of om “oppie jaart” (in die agterplaas) saam met vriende en familie braaivleis te hou.

Dié mense het geen erg aan die “historiese [óf hedendaagse] ervaring in die Suid-Afrika van hul leeftyd” nie, maar selfs dán sal dit hulle nie laat afsien van die geleentheid vir tuisbly of bykomende vergoeding vir diegene wat noodgedwonge op dié vakansiedag moet gaan werk nie. Sou iemand hulle pols oor die oorspring van die dag, die geskiedkundige of simboliese betekenis of waarde daarvan vir nasiebou, maak hulle dit dikwels af – en draai nie doekies om daaroor dat hulle nie ’n duit daaroor omgee nie.

.....................................................

Niemand wat selfs net ligweg met die land se geskiedenis vertroud is, kan egter die noodsaaklikheid van volhoubare versoening ontken of ignoreer nie.

.....................................................

Jy hoor dikwels van diesulkes dat die regerende party (die ANC) nasionale dae gekaap het as partypolitieke geleenthede. Dit is ’n argument wat meriete het: naas die President, is die sprekers by die geleenthede gewoonlik ministers en premiers en burgemeesters, wat in die meeste gevalle ook maar verteenwoordigers van die ANC is.

En dan is daar die kleure van die vlae en die T-hemde en die kwessie van of alle bevolkingsgroepe hulself verteenwoordig sien in die samestelling van die program van kultuuraktiwiteite wat met sodanige vierings gepaardgaan. Nie in die reël nie, sal spesifiek wit en bruin Suid-Afrikaners antwoord, maar meermale as die uitsondering. Die program hel meestal oor na die dominerende groepe se kulture wat sang- en dansitems betref, en waarom sal jy dit wil bywoon as jy jouself nie gereflekteer sien in wat daar op die verhoog gebeur nie?

Die gesprek is daarmee afgehandel. “Hou julle maar fees,” hoor mens. “Ek bly by die huis.”

Maar soos die titel van een van Jeanne Goosen se beste werke dit stel: “Ons is nie almal so nie.”

Meer as genoeg landsburgers beskik nog oor voldoende nasietrots om die nasionale dae, hetsy Menseregtedag (21 Maart), Vryheidsdag (27 April), Jeugdag (16 Junie), Erfenisdag (24 September) of Versoeningsdag (16 Desember) met die nodige eerbetoon te beskou en te vier.

Hierdie artikel handel oor laasgenoemde vakansiedag. Dié dag was in Suid-Afrika se voordemokrasie-era as Geloftedag bekend, ’n geleentheid om ’n honderdtal Afrikaners se oorwinning op 16 Desember 1838 teen duisende Zoeloes by Bloedrivier in KwaZulu-Natal te gedenk. Dié dag vereis nou, 180 jaar later, dat Suid-Afrikaners in die land se demokratiese tydvak die verdeeldheid van die verlede moet onthou en moet help om gestalte te gee aan die Mandela-gedrewe nierassige eenheids- en versoeningsprojek wat in 1994 begin het.

Dit sou seker ook Mandeladag genoem kon word na die vader van versoening, wat in 2013 op 95 jaar gesterf het, maar hy geniet selfs groter eer: Internasionale Mandela-dag word op sy verjaardag (18 Julie) deur die Verenigde Nasies en sy lidlande gevier.

Uit ’n koerantartikel deur JM Coetzee, Suid-Afrika se Nobelprys vir Letterkunde-wenner in 2014: “Mandela held a turbulent country together during the dangerous years between 1990 and 1994, exercising his great personal charm to persuade whites that they had a place in the new democratic republic while step by step emasculating the separatist white right wing.”

Coetzee glo ook: “He was, and by the time of his death was universally held to be, a great man; he may well be the last of the great men, as the concept of greatness retires into the historical shadows.”

En dit is hoekom mense onvermydelik veral ook op Versoeningsdag aan hom dink – hy verpersoonlik Suid-Afrika se Groot Historiese Ommekeer en hy was daarvan oortuig dat om “great” te wees, ’n omgee-mens, ’n doen-mens, alles in die belang van jou medemens, binne ons almal se vermoë is.

Dit vereis egter dat jy bereid moet wees om allereers verby kunsmatige verskille soos velkleur te kan kyk, en dat jy ander mense net as mense moet aanvaar. So lank as wat jy jouself egter oortuig dat iemand anders as jy is, nie jou “eie” nie, en jy die persoon daarom anders behandel, waarmee ek bedoel as minderwaardig (minder as), sal dit ’n struikelblok bly op die weg na volgehoue versoening.

Openbare figure, sogenaamde gemeenskapsleiers, is dikwels die groot aanhitsers van verdeeldheid – selfs rassekonflik, hetsy dit verteenwoordigers van “wit belange” is of segspersone vir “gatvol (bruin) Kapenaars” of opstokers van “swart nasionalisme” teen sogenaamde “witmonopoliekapitaal”.

Witmonopoliekapitaal: Hierdie begrip dui die vyandigheid aan van die (swart) voorheen benadeeldes teen die (wit) voorheen bevoordeeldes. Dit is ’n manier van uiting gee aan die (swart) frustrasie oor die ongelykheid in terme van inkomstevlakke en toegang tot hulpbronne en selfs staatsdienste. Maar in die proses word nie genoeg erkenning gegee aan wat reeds gedoen is om die apartheidsagterstand uit te wis wat betref behuisingsvoorsiening, skoon drinkwater en toegang tot elektrisiteit nie, om enkeles te noem, waarvan die grootste sekerlik die sowat 17 miljoen begunstigdes van maatskaplike staatstoelae is.

Nogtans vind jy dat dit dikwels veral wit Suid-Afrikaners is wat die meeste kla oor die geringste ding, en weinig begrip toon vir waarom regstelling nog nodig is as dit kom by byvoorbeeld indiensneming of die samestelling van nasionale sportspanne of die herverdeling van grond.

’n Mens kan nie anders as om te dink, as jy in die post-Madiba-era na sowel wit as swart luister, dat dit voorkom asof ons nog nie kan glo dat die oorgang oorwegend bloedloos verloop het ’n kwarteeu gelede sonder die Völkermord (volksmoord) waaroor vooraf voorspellings gemaak is nie.

Dis asof ons nog hunker – God behoed! – na ’n dag van afrekening.

* In Suid-Afrika word Versoeningsdag jaarliks op 16 Desember gevier. Hierdie dag herdenk die beëindiging van apartheid in 1994 en poog om nasionale eenheid te bevorder. (Bron: publicholidays.net.za) (MvH ‒ Voertaal) 

Lees ook

"En Suid-Afrika het ’n plek vir almal": die viering van Mandela se 100ste jaar

Ná ’n kwarteeu se vryheid, steeds ’n Berlynse muur van wantroue

Menseregtedag: mét en sónder regte

Madiba at 100, South Africa at 24

Zelda la Grange in Gent: "Wat wordt onze nalatenschap?"

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top