Oorlewingsapps (en -wenke) vir jou nuwe lewe in België

  • 0

Jy kan maklik ’n vakansie in België met die hulp van ’n goeie reisagent reël. Jou verblyf, vervoer en een maaltyd, dikwels ontbyt, is gedek.

Al waaroor jy jou hoef te bekommer is heerlike kos soos mattentaart, skemerkelkies en watter besienswaardighede om te sien.

Om na België te emigreer sal jy egter ’n helpende app of twee nodig hê.

Hier is my aanbevelings om jou voete te vind.

Jou nuwe huis = Immoweb 

Om te immigreer het baie beplanning nodig, en tensy jy ’n goeie vriend(in) in jou nuwe land het, moet alles maar deur navorsing, ’n mislukking of twee en tegnologie gevind word. Immoweb is ’n Belgiese eiendomsapp wat meer as 150 000 woonstelle of huise bied.

Jy kan besluit of jy wil huur of koop, en die geskikte plek op hierdie app vind. Die app word daagliks bygewerk en bied vir jou duisende moontlike tuistes.

Kan ek bespaar op my inkopies? Wat gaan ek eet? = myShopi en Deliverloo
myShopi 

Daar is baie uitgawes om na enige nuwe plek te verhuis, en jy wil bespaar waar jy kan. Op myShopi kan jy sien watter kruideniersware op promosie is by verskeie van die land se winkels. Deur dié app kry jy afslag op jou inkopies en kan jy ook kontant terug ontvang.

Deliveroo 

Met bokse oral gepak, en die gesukkel om enigiets te vind, sal jy op jou eerste paar aande geïnspireerd voel om kos te bestel. Met die Deliveroo-app kan jy van die beste kos in jou buurt bestel en dit word voor jou deur afgelewer.

Vervoer = AllBikesNow, MIVB-STIB en Cambio
AllBikesNow

In Europa is fietse ’n gewilde vervoermiddel. Indien jy België per fiets wil ontdek, kan jy ’n fiets op die AllBikesNow-app huur. Op die app kan jy sien hoeveel beskikbare fietse daar is, waar om ’n fiets te vind en hoe ver die stasie geleë is.


MIVB-STIB (STIB in Frans, MIVB in Nederlands)

Dié app help jou om plaaslike vervoerdienste soos busse, treine en trems op te spoor. Jy kan met behulp van MIVB-STIB jou reis beplan en kyk watter vervoer jou betyds by jou bestemming sal kry.

Cambio

Parkering is skaarser as die wen-lotto-nommers in België. En as jy van een land na ’n ander verhuis, pak jy nie jou motor in ’n tas nie. Om beide probleme op te los, kan jy die Cambio-app gebruik. Op hierdie app kan jy ’n motor vir ’n uur, dag of langer huur. Hou egter in gedagte: Jy kan die motor gaan aflewer slegs waar jy dit gehuur het en jy het ’n jaarsubskripsie nodig.

Hoe lyk die weer? = AccuWeather

Niks gooi jou dag omver soos om by jou woonstel uit te stap en te besef die weer is nie waarvoor jy beplan het nie. AccuWeather verskaf oombliklik nuus oor weersomstandighede, sodat jy kan gereed wees vir enigiets – wind, reën of sonskyn.

Taal = Duolingo 

In België is Vlaams, Duits en Frans van die mees gebruikte tale. Met die Duolingo-app kan jy basiese Vlaams, Duits en Frans leer om met jou nuwe vriende te kommunikeer. Jy kan ook verskeie ander tale leer.


’n Bietjie kuns en kultuur 

Hoewel jy die eerste week of wat jou voete wil vind, sal jy een of ander tyd jou nuwe land wil ontdek. Hier is ’n kort opsomming van moontlike apps wat jou aan die mooi in België kan bekendstel:

Monument Tracker

Monument Tracker is ’n goeie manier om ’n stad se geskiedkundige plekke te ontdek met behulp van ’n gids.

 

Brussels Guide & Tours

Brussel het verskeie parkies en indien jy graag in ’n mooi omgewing ’n piekniek of bottel wyn wil geniet, gebruik dié app. Die app verskaf ook inligting oor die geskiedenis van die gebied, watter geriewe beskikbaar is en wat elke park jou bied.


Wenke van dié wat weet

Die South Africans in Belgium Facebook-groep het ongeveer 1 900 lede wat daagliks oor hul nuwe lewe in die noorde gesels. Hulle deel hul ervaringe, bied raad oor moontlike struikelblokke, of gesels sommer met mekaar oor gedeelde ervarings.

Onlangs het ’n nuwe lid byvoorbeeld gevra: “Wat wens julle het julle geweet toe julle na België verhuis het?” Na gelang van die antwoorde, het ons die volgende wenke saamgestel. (Vrywaring: Hierdie wenke is saamgestel deur middel van subjektiewe menings; toets gerus en moet dit nie as wet aanvaar nie.)

  • Pak genoeg Simba-sout-en-asyn-tjips en Mrs Balls-blatjang in. 
  • Kruidvat kan jou gebruiklike Corenza en Linctagon vervang. 
  • Bring jou tee saam, jy mag dit dalk mis. 
  • Moenie dink omdat die tale so ’n noue verwantskap deel, jy slegs op Afrikaans kan staatmaak nie. Leer ’n bietjie Duits, ’n groet in Frans en vra: “Hoe gaan dit” in Vlaams. 
  • Skuif jou bankkennisgewings na jou e-posadres – jou SMS’e daag glad nie by jou op nie of word vertraag. 
  • Die Belge neem hul bier ernstig op. Moenie bier in ’n verkeerde glas bedien nie – moet byvoorbeeld nie ’n Leffe in ’n Duvel-glas bedien nie.
  • Foto’s: Pixabay.com

Bronne

Lees ook 

10 apps om jou reis na/verblyf in Nederland makliker te maak

’n Handvol apps vir lewe in SA

Vind jou voete in Nederland met die South Africans in The Netherlands Facebook-groep

Jou Europa-toer en oorsee studeer survival guide

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top