Bespiegelings op sosiale media dat die Bosasa-baas Gavin Watson sy eie dood versin het en dat dit nie regtig hy is wat Maandag verongeluk het nie, is die nek ingeslaan nadat foto’s van sy verminkte lyk deur die media onder oë gekry is.
Die foto’s, wat weens die grafiese aard daarvan nie gepubliseer is nie, toon glo hoe Watson langs sy motor lê. Diegene in die media wat wel die foto’s gesien het, sê dit bevestig sonder enige twyfel dat dit wel Watson is wat in die ongeluk omgekom het.
Bronne: Pixabay.com; YouTube (Gavin Watson)
Die omstandighede wat tot die noodlottige ongeluk naby die OR Tambo-lughawe gelei het, bly egter steeds ’n raaisel.
Die onafhanklike forensiese kenner wat aangestel is om Watson se dood te ondersoek, sê hy kyk ook na die moontlikheid van moord.
Die Watson-familie het die forensiese kenner, Konrad Lotter, aangestel om die voorval onafhanklik te ondersoek. Lotter sê sy span bestudeer verskeie scenario’s. Dit sluit in dat die bestuurder van die motor dalk ’n mediese toestand gehad het wat tot die ongeluk kon gelei het.
Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.
Volgens ’n regsgeleerde met wie Voertaal gepraat het, is dit normale prosedure. “Dieselfde lêeromslag (SAPS 3M) word gebruik, maar waar die slagoffer en verdagte dieselfde persoon is, word dit as ’n geregtelike doodsondersoek geklassifiseer. Laasgenoemde word dan volledig ondersoek (in geval daar dalk tog “sabotasie” was) en al die dokumente word dan as ’n geregtelike doodsondersoek aan die landdros voorgelê om te beslis of daar prima facie-getuienis van ’n misdaad (hetsy deur opset of deur versuim) is. Ek vermoed dat die NVG (nasionale vervolgingsgesag) hier in elk geval ’n geregtelike doodsondersoek sal gelas. Wat op die dossier staan, is dus eintlik net akademies.”
Die ondersoekende joernalis Kyle Cowan van News24, wat die toneel van die ongeluk besoek het, sê daar bestaan hoegenaamd geen ooglopende getuienis dat Watson van die pad gedwing is of dat daar ’n tweede motor by die ongeluk betrokke was nie.
........
“Die Watson-familie het die forensiese kenner, Konrad Lotter, aangestel om die voorval onafhanklik te ondersoek. Lotter sê sy span bestudeer verskeie scenario’s. Dit sluit in dat die bestuurder van die motor dalk ’n mediese toestand gehad het wat tot die ongeluk kon gelei het.”
........
Diegene wat Watson geken het, meen ook dit is hoogs onwaarskynlik dat hy selfdood beplan het en doelbewus met een van sy maatskappy se vlootmotors teen die pilaar vasgejaag het. Hulle sê hy was ’n veglustige mens en sou nie selfdood oorweeg het as gevolg van die Bosasa-skandaal nie.
Wat wel bekend is, is dat Watson nie ’n veiligheidsgordel gedra het ten tye van die noodlottige ongeluk nie. Hy het volgens alle aanduidings teen ’n hoë spoed gery. Die veiligheidsgordel was agter sy rug teen die sitplek vasgegordel.
Terwyl daar gewag word op die uitslag van die nadoodse ondersoek wat Dinsdag sou plaasgevind het, het die raaisel oor wat tot die ongeluk gelei het, verder verdiep.
Een van die onbeantwoorde vrae is waarheen hy op pad was en waarom hy verkies het om ’n vlootmotor te gebruik en nie sy eie voertuig nie. Moontlik was hy nie op pad om êrens heen te vlieg nie, maar wou hy slegs iemand by die lughawe ontmoet.
Niemand wat enige afspraak met hom gehad het, het egter nog vorendag gekom om so ’n afspraak te bevestig nie
Volgens mediaberigte het werknemers by African Global Operations dit vreemd gevind toe hy een van die vlootmotors geneem het om mee te ry. Hulle sê selfs al was daar een of ander meganiese probleem met sy eie voertuig, is dit vreemd dat hy nie van ’n luukser outomatiese voertuig gebruik gemaak het soos waaraan hy gewoond was nie.
........
“Wat wel bekend is, is dat Watson nie ’n veiligheidsgordel gedra het ten tye van die noodlottige ongeluk nie. Hy het volgens alle aanduidings teen ’n hoë spoed gery.”
........
Op ’n vraag of Watson ooit vantevore ’n Toyota Corolla soos die een van die maatskappy waarin hy verongeluk het, bestuur het, het Bosasa se voormalige vlootbestuurder, Frans Vorster, volgens mediaberigte gesê Watson het dit nooit gedoen nie. Hy het glo altyd ’n soortgelyke model aan sy eie luukse BMW gehuur om mee te ry as sy voertuig gediens word.
Hy het ook geen bagasie of selfoon by hom gehad toe hy oënskynlik op pad was lughawe toe nie. Daar was slegs R70 in sy beursie gewees. Die moontlikheid kan egter nie uitgesluit word dat iemand direk na die ongeluk van sy besittings gesteel het nie.
News24, wat ook ondersoek instel na die omstandighede rondom sy dood, kon teen Dinsdag geen besprekings kry vir enige vlug van Watson vanaf die OR Tambo-lughawe nie. Niemand weet dus in dié stadium waarheen hy daardie tyd van die oggend op pad was en wie hy wou gaan sien nie.
Ander moontlikhede waaroor daar bespiegel word, is dat hy ’n hartaanval gekry het of doodgewoon beheer verloor het oor die voertuig waarin hy gery het.
Almal is dit egter eens dat sy ontydige dood ’n uiters nadelige invloed gaan hê op die uitkoms van die Bosasa-ondersoek en dat Watson talle geheime saam met hom graf toe neem.
Lees ook
Buro: MvH