Talle vrae oor Watson se dood

  • 0

Die dood van die voormalige Bosasa se grootbaas Gavin Watson Maandag in ’n motorongeluk naby die OR Tambo-lughawe het die hele land aan die gons.

Die 73-jarige Watson se ontydige dood kan ’n groot invloed hê op die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping. Watson was ’n sleutelfiguur in die Bosasa-skandaal en neem baie geheime saam met hom graf toe.

Foto van Gavin Watson: YouTube

Die skrywer van The Bosasa billions, James-Brent Styan, sê die implikasies van Watson se dood vir die Bosasa-ondersoek is geweldig. Styan het Watson se dood as ’n groot terugslag vir die ondersoek bestempel. “Hy was ’n sentrale figuur in die soeke na waarheid rondom die bewerings oor Bosasa. Nou is hy nie meer daar om sy kant van die storie te vertel nie.”

Die ondersoekende joernalis Adriaan Basson, wat ook besig is met ’n boek oor Bosasa, het op Twitter geskryf sy eerste gedagte na Watson se dood was dat dooie mense nie kan nie praat nie en Gavin Watson het baie geweet.

“Net soos die oorlede mynbaas Brett Kebble neem Watson baie geheime saam met hom graf toe,” het Basson op News24 geskryf. Basson sê hy het nog verlede Donderdag vir Watson ’n teksboodskap gestuur om ’n onderhoud aan te vra met die oog op sy nuwe boek wat oor Bosasa handel.

Die DA het in ’n verklaring gesê Watson se dood kan moontlik ’n impak hê op die Zondo-kommissie se werk. Daarom is dit noodsaaklik dat enige sweem van ongerymdheid wat sy dood moontlik kon veroorsaak het, uit die weg geruim moet word deur middel van ’n deeglike en deursigtige ondersoek deur die polisie.

Die DA sê dit is nodig om te verseker dat ander persone wat nog voor die Zondo-kommissie moet getuig, nie geïntimideer moet word deur dié gebeurtenis nie en om die kommissie in staat te stel om sy werk te doen sonder enige vrees vir moontlike ongerymdhede.

Die DA het ’n beroep op die polisie gedoen om die publiek in hulle vertroue te neem met die verloop van die ondersoek na die ongeluk.

Op sosiale media was die tonge behoorlik los soos wat die publiek hot en haar bespiegel het oor die oorsaak van die ongeluk. Samesweringsteorieë was aan die orde van die dag. Sommige mense het selfs aangevoer sy “beweerde” dood is ’n rookskerm en dat hy gevlug het.

Nog iemand het bespiegel dat Watson eintlik vermoor is en het selfs geskimp dat daar moontlik ’n afstandbeheerde bom onder die voertuig geplant was. “Waar is die voorste suspensie en wiele?” wou die persoon weet. “Met ’n botsing teen ’n pilaar sou alles opgefrommel gewees het.”

Baie mense wou ook aanvanklik weet waarom hy nie in sy eie voertuig gery het nie, maar in een van die maatskappy se voertuie terwyl sy eie duurder luukse voertuig beskikbaar was.

Waar was hy, wie het hy gesien en waarheen was hy op pad? is algemene vrae wat op almal se lippe was.

Nog iemand het gemeen hy is waarskynlik “ge-Epstein” om ontslae te raak van inkriminerende bewyse teen magtige mense. Of dat die hele ongeluk ’n versinsel was sodat hy kon verdwyn en sy miljarde in Dubai kon gaan geniet.

“Daar is baie sekuriteitskameras in die lughawe-area so dit behoort baie vinnig antwoorde te kan gee. Maar ek neem aan hulle het heel ‘toevallig nie gewerk nie’,” was die mening van nog ’n deelnemer aan die gesprek op sosiale media.

Hoe dit ook mag wees, die meeste mense stem saam sy dood is sleg vir reg en geregtigheid en dat mense moontlik die tronk gaan vryspring in die proses. Die net het die afgelope maande al hoe nouer begin span om Gavin Watson, die oudste van die Watson-broers wat landwyd bekendheid verwerf het met hulle teenstand teen die uitsluiting van gekleurde mense in rugbyspanne gedurende die apartheidsjare.

Die broer wat Maandag verongeluk het, het egter die publiek na hulle asems laat snak toe sy voormalige regterhand by Bosasa, Angelo Agrizzi, voor die Zondo-kommissie getuig het oor die korrupte verbintenis tussen Watson en invoedryke politici soos oudpresident Jacob Zuma en ander invloedryke mense in die regering se diens.

Watson sou ook later dié week moes getuig het in ’n ondersoek na sy belastingsake na aanleiding van sy getuienis voor die Zondo-kommissie.

Verlede Sondag, die dag voor sy dood, het die omstrede Watson glo ’n gebedsbyeenkoms gehou met die direkteure van sy maatskappy, African Global Operations, om vir leiding te bid oor die Bosasa-aangeleentheid.

..........

Lees ook 

Bosasa was soos ’n sekte, onthul nuwe boek

Bosasa se kaartehuis tuimel vinnig inmekaar

Bosasa gee glo miljoene vir Zuma se stigting

’n Video wys sakke en sakke vol omkoopgeld

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top