Repliek op die debat oor moedertaalonderrig binne die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel

  • 0

Theo du Plessis

In ’n onlangse artikel op Knack het Yves T'Sjoen en Wannie Carstens geskryf oor die vryheid om in jou moedertaal onderrig te word, asook die situasie ten opsigte van universiteitsonderrigtale in Suid-Afrika.

Lees die artikel hier, asook ’n gesprek wat hieruit voortspruit.

Theo du Plessis gee hieronder sy mening: 


 

Repliek op die debat oor moedertaalonderrig binne die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel

Met verwysing na die debat wat ontstaan het na aanleiding van Yves T’Sjoen en Wannie Carstens se meningstuk “De vrijheid om onderwijs te genieten in de eigen moedertaal, wordt in Zuid-Afrika met de voeten getreden” (Knack, 10 Februarie 2019), spesifiek die ietwat met-die-witbrood-onder-die-arm-reaksie hierop deur vier Nederlandstalige dosente aan die pas Engels geworde Universiteit van Pretoria (UP), Philippe van Haute, Leonard Praeg, Emma Ruttkamp-Bloem en Ulrike Kistner (Knack, 16 Februarie 2019).

Sonder om in onnodige besonderhede te verval betoog T’Sjoen en Carstens dat die vryheid van onderrig in jou moedertaal (volgens hulle ’n basiese mensereg) binne die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel vertrap word. Vir hulle gaan dit spesifiek oor die beweerde miskenning van sodanige taalreg aan Suid-Afrikaanse universiteite, met verwysing na die onlangse aankondiging deur die UP om slegs Engels as onderrigtaal aan te wend.

Interessant genoeg word hierdie besluit vervat in die taalbeleid wat die UP reeds in Junie 2016 met die oog op implementering vanaf November 2017 geneem het (sien Language Policy, University of Pretoria by https://www.up.ac.za/media/shared/409/ZP_Files/r31_16-language-policy.zp138060.pdf).

Volgens die twee kollegas volg die UP-besluit op soortgelyke besluite aan die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van die Vrystaat (UV). Beide universiteite se taalbeleide (US s’n aanvaar op 22 Junie 2016 en geïmplementeer vanaf Januarie 2017 – sien Language Policy of Stellenbosch University by https://www.sun.ac.za/english/about-us/language – en die UV s’n aanvaar op 11 Maart 2016 en ingefaseer vanaf 1 Januarie 2017 – sien https://www.ufs.ac.za/docs/default-source/policy-institutional-documents/language-policy.pdf?sfvrsn=ea4dc321_0) is in die openbaar beskikbaar.

Onse Nederlandstalige kollegas reageer op T’Sjoen en Carstens se verwyt met ’n ongekwalifiseerde “Nee”: Suid-Afrikaanse universiteite skend nié menseregte deur hulle taalbeleide nie. Hulle waarsku dat ’n mens nie te gou moet praat van die vertrapping van taalregte in die Suid-Afrikaanse onderwys nie. In die proses kom hulle dan met die verwytende ou deuntjie wat ons so dikwels in sekere Nederlandse kringe te hore kry: Maar hoekom nie oor almal se taalregte praat nie?

Dan volg hulle met die ekonomiese en pragmatiese retoriek omtrent die bekostigbaarheid van Afrikaanse onderrig: Kan die geld nie beter aangewend word nie? En dan moet hulle natuurlik, soos ons ook al gewoond geraak het van onse noorder-spraakmaters, tog maar die ou moraliserende stekie inkry: Onthou tog wat julle aangevang het!

Onvermydelik bring dit ons dan uit by (nog) ’n geykte konklusie omtrent die “bevoorregting” van Afrikaans, ’n frase wat ook kwistig rondgestrooi word deur wroegende Afrikaanssprekendes wat nie hulle verlede verwerk kry nie. Ek is nie seker hoe hierdie meestal moraliserende soort gedagtegang tot ’n konstruktiewe debat bydra nie.

Afgesien van hierdie gekarring kom onse buitelandse Pretoriase kollegas dan tog, moet ek sleepvoetend toegee, met ’n kernvraag na vore: Is dit so dat moedertaalonderrig binne die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel (universiteite inbegrepe) ’n basiese mensereg is? Gelukkig, of ongelukkig, vertroebel hulle dan onmiddellik hierdie goue oomblik deur nogeens bekostigbaarheid en praktiese haalbaarheid by te wil sleep.

Ja, natuurlik geld hierdie oorwegings by besluite oor enkelmedium-onderwysinstellings soos wat artikel 29 van die Suid-Afrikaanse Grondwet inderdaad reël. Maar om jou werklikwaar nou te wil suggereer dat taalkeuses ten gunste van die koloniale-erfenistaal op basis van “goeie redes” geneem word (dis nou in Afrika), behoort selfs die heethoofdige, pro-Engelse Panyaza Lesufi te laat regop sit.

Maar kom ons keer terug na die kernvraagstuk omtrent onderwystaalregte in Suid-Afrika.

Eerstens moet ons in gedagte hou dat die Suid-Afrikaanse Grondwet nie die reg op moedertaalonderrig ongekwalifiseerd waarborg nie. Leerders het ingevolge artikel 29 die reg op onderrig in hulle amptelike taal (of tale) van keuse, maar die reg op enkelmedium-onderwysinstellings slegs onder bepaalde omstandighede. (Behalwe natuurlik as dit gaan oor enkelmedium Engelstalige skole en universiteite. Tog raar dat Engelse onderrig nie as eentalig beskou word nie. Seker omdat daar soveel vorme van “Engels” gepraat word?)

Verskeie hofuitsprake sedert 1994 omtrent enkelmedium-instellings bevestig dat hierdie reg nie absoluut is nie en ondergeskik is aan die reg op toegang tot onderwys (wat strook met die mensereg omtrent die reg op onderwys). In hierdie opsig moet ek dus ongelukkig saamstem met onse Pretoriase kollegas dat ’n mens nie in Suid-Afrika (weliswaar ongekwalifiseerd) kan aandring op moedertaalonderwys aan staatsgefinansierde universiteite nie.

Hier moet ons die destydse rektore van die voormalige Afrikaanse universiteite bedank vir die feit dat hulle die Gerwel-voorstel oor twee gekoesterde Afrikaanstalige universiteite teengestaan het, wat gelei het tot ’n ministeriële besluit dat daar sedert 2002 geen sodanige universiteite meer bestaan nie. Sonder ’n noemenswaardige vorm van taalverdigting (wat ons nog in ’n mate aan die US en in Potchefstroom kry) raak dit bykans onmoontlik om individuele moedertaalregte op te eis. Daarvoor is die Afrikaanse studentegemeenskap demografies eenvoudig te verspreid.

Tweedens moet ons in gedagte hou dat die 2002-weergawe van die Language Policy for Higher Education tot en met die hersiene weergawe van 2017 groot klem op die kwessie van toegang tot universiteitsonderrig lê. ’n Mens moet dus aansprake op moedertaalonderrig aan universiteite opweeg teen die aandrang op toegang deur die meerderheid. Ja, sekerlik stel dit taalminderhede bloot aan die tirannie van die meerderheid, maar voorlopig is dit die gegewe waarmee ons in Suid-Afrika vrede moet maak en waar ons situasie redelik drasties verskil van dié in Nederland en Vlaandere. (Van daar my vroeëre opmerking oor witbrood-onder-arm-kommentaar vanuit dié oord.)

Nogtans maak die betrokke beleidsraamwerk voorsiening vir die aanwending van twee “universiteitstale” in Suid-Afrika, te wete Engels en Afrikaans; ’n besluit wat kennelik op instrumentele gronde geneem is en nie op basis van moedertaaloorwegings nie. Maar omdat dit meestal Afrikaanstaliges is wat op Afrikaanse onderrig aandring, het die misverstand begin ontstaan dat dit gaan oor ’n pleidooi vir moedertaalonderrig. (Dis hier waar taalstryders die pot vreeslik mis sit.) Weliswaar het hierdie bepaling uit die 2017-weergawe verdwyn en word nou van universiteite verwag om naas Engels ook ’n ander taal (verkieslik ’n Sintoetaal) aan te wend, ofskoon dit ietwat versluier word.

Die kwessie van moedertaalonderrig aan universiteite kom egter steeds nie ter sprake nie. In hierdie opsig word ons nou ’n meer tipiese Afrikaland waar ons die koloniale-erfenistaal, met “goeie redes” soos onse kollegas redeneer, as aangewese onderrigtaal aanwend. Of dit werklik op ’n sinvolle besluit neerkom, verg beslis ’n debat, aansluitend by die een wat tans in Nederland op gang is.

Die vraag is nou dus of Tukkies se nogal sensasioneel gereklameerde besluit (seker maar ter wille van politieke gunsies) oor Engels as primêre onderrigtaal (let wel, volgens hulle taalbeleid nie die enigste nie) enigiemand se moedertaalregte vertrap. Dieselfde vraag geld vir die US en die UV. Hier moet ek ongelukkig weer saamstem met onse respondente dat dit waarskynlik ’n ietwat oordrewe en selfs sensasionele uitspraak is om te maak dat taalregte vertrap word.

Solank daar nog Afrikaanstalige skole in die land bestaan (en boonop sulke goeies), kan ’n mens beslis nie so ’n bewering maak nie. Ook nie wanneer daar nog universiteite soos die Noordwes-Universiteit (NWU) bestaan waar ’n substansiële en demografies verdedigbare Afrikaanstalige klasaanbod bestaan nie.

En die feit dat nie een van die drie universiteite eintlik die aanwending van Afrikaans (en vermeldenswaardig die Sintoetale) by onderrig uitsluit nie, weerspreek eintlik T’Sjoen en Carstens se aanspraak. Weliswaar boet Afrikaans aan die UP en UV in aan status as hoofonderwystaal, en word hierdie status dalk sistematies afgetakel aan die US, maar van die vertrapping van taalregte is hier nou werklik nie sprake nie.

Sekerlik sou ’n mens wel so kon begin praat wanneer hierdie universiteite dalk op ’n Somerset- of Milneragtige wyse met ’n dekreet kom wat die gebruik van Afrikaans op kampusse verbied. Hopelik bereik ons nie hierdie punt nie!

Die eintlike vraag wat ons omtrent Tukkies (en hulle maters) behoort te stel, is eerder of dit ’n wyse besluit is om die taalbaba met die badwater uit te gooi. ’n Mens verwag tog van akademiese leierskap meer oorwoë besluitneming. Die demografie aan Tukkies is sekerlik nog van so ’n aard dat Afrikaans onder bepaalde omstandighede as alternatiewe hoofonderrigtaal aangewend kán word. Wat my betref, dui die besluit op ’n onvermoë en selfs onwilligheid onder die leierskap om die meertalige bul by die horings te pak.

Noudat hulle skynbaar nie oor voldoende taalbestuurskundigheid beskik nie (siestog), wil ek graag sien hoe hulle met die nogal drastiese nuwe taalvereistes van die hersiene Language Policy for Higher Education gaan omgaan.

Met die behoud van Afrikaans as alternatiewe hoofonderrigtaal kon hulle ten minste nog aan sekere van hierdie vereistes voldoen het. Ek stem dus volhartig saam met minister Tito Mboweni se twiet van 24 Januarie 2019 dat Tukkies hier ’n besluit geneem het waaroor spyt later gaan kom – oor 30 jaar, meen hy (sien https://voertaal.nu/die-tameletjie-van-veeltalige-universiteite).

Soos die opskrif van Jean Oosthuizen se betrokke meningstuk suggereer, is die bestuur van veeltaligheid aan Suid-Afrikaanse universiteite inderdaad ’n tameletjie. Maar die NWU wys vir ons dit kan gedoen word, mits ’n mens nie kortpaaie probeer kies wat uiteindelik omweë blyk te wees omdat jy die taalwerklikheid in al sy fasette negeer nie. Die Universiteit van KwaZulu-Natal probeer ook met Zoeloe doen wat NWU met Afrikaans en onder meer Tswana regkry.

Met ’n moedige leierskap wat oor die vermoë beskik om met populistiese aansprake oor taalregte (na links en na regs) om te kan gaan, en bereid is om kundigheid oor taalbestuur te benut, kan ons saam vorentoe beur. Anders moet ons maar gewoon toegee dat die middernagbesluit teen die einde van 1993 oor amptelike elftaligheid uiteindelik intiem verweefd met die ideaal van ’n vreedsame, meertalige Suid-Afrika, ’n enorme fout was en dat ons maar moet opgee (en oorgee). Dit sal jammer wees indien onse Pretoriase kollegas so iets in gedagte het.

  • Theodorus du Plessis, Departement Suid-Afrikaanse Gebaretaal en Dowe Studies, Universiteit van die Vrystaat, Suid-Afrika

Lees ook op LitNet en Voertaal:

"Keuze voor Afrikaans is keuze voor meertaligheid"

Universiteit van Pretoria: Marionette of realiste op die pad na eentaligheid?

Afrikaans as onderrigtaal: ’n spesiale "vergunning"?

Die tameletjie van veeltalige universiteite

Engels nou amptelik UP se enigste taal van onderrig

Afrikaans is a major African asset – Dele Olojede The more we eliminate this diversity, the lesser we become, says Africa’s first Pulitzer Prize winner

Die US draai sy rug op Afrikaans as doseertaal

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top