Stap terug na ’n diep verbintenis met jou geskiedenis by Soetmelksvlei

  • 0

Die pragtige plaaswerf

Net anderkant Babylonstoren in Simondium se boorde, lei ’n kort rit op ’n oop-wildkykvoertuig jou na veel meer as ’n ander plaas: Dit ry terug na 1897 – na ’n tyd toe plaaslewe om vakmanskap, vindingrykheid en ’n diep verbintenis met die land gedraai het.

Die ervaring is meesleurend van die oomblik dat jy op die voertuig klim en die oorfone oor jou kop skuif om bietjie agtergrond te kry. Die pad kronkel deur Babylonstoren se boorde, veld, damme en wingerde, voor ’n Kaaps-Hollandse plaaswerf regs van die voertuig opdoem. Rook dryf uit die smid se smee, die ritmiese geluid van hamer op aambeeld weergalm oor die werf. Eende waggel deur die stof, terwyl die geur van houtrook en brood in die lug hang.

Dis eers wanneer die wiele begin sing op die klippies van die grondpad, dat jy besef jy is op pad na êrens besonders. Soetmelksvlei is ’n plek wat stil-stil aanhou leef, terwyl die wêreld daarbuite jaag na wat ook al volgende is.

Soetmelksvlei eer die erfenis van die Franschhoekvallei en bied besoekers die kans om ’n plaas te ervaar soos dit kon gewees het voordat industrialisasie die ritme van die landelike lewe verander het.

Met ons aankoms vertel Adele Johnson, hoof van Soetmelksvlei: “Die verhaal van Soetmelksvlei begin in 1694 toe twee Hugenote die regte tot wat destyds Bergen Henegouwen genoem is, verkry het. Dit het deur die eeue van eienaar én doel verander en uiteindelik onder die Koch-familie in 1896 Donkerhoek geword.

Die plaashuis is ingerig asof daar regtig ’n familie woon.

“Toe Babylonstoren se eienaars dit in 2019 gekoop het, het hulle meer as net ’n restourasie in gedagte gehad – hulle wou die gees van ’n era herskep toe alles met die hand gemaak is.

“Die 142 hektaar eiendom sluit nou boorde, weivelde en die hart van die ervaring in: ’n noukeurig herskepte 19de-eeuse plaaswerf. Elke gebou vertel ’n storie. Die Plaashuis is gerestoureer en opgeknap om ’n outentieke Bolandse huis van die laat 1800’s te verteenwoordig. Dit vertel die fiktiewe verhaal van die Bosman-gesin.

By die watermeul word meel gemaal wat jy kan koop om huis toe te neem.

“Die Ou Kelder huisves kuriositeite en versamelings wat die era se fassinasie met natuurgeskiedenis openbaar. Nie vêr daarvandaan nie, draai die watermeul en maal koring tot meel net soos dit meer as ’n eeu gelede gedoen het.”

Ons stap uit die klein vertrekkie waar ons ’n kort video gekyk het en oor die plaaswerf hoor jy van die werkswinkel die klanke van die smid, skrynwerkers en leerwerkers se tradisionele handwerk. Jy kan vir ure daar staan en kyk, gesels en leer, of ’n werkswinkel bespreek en saamwerk!

Ek glip gou by die badkamer in voor ons ontdekkingstog begin. Oorkant die werf wink die Plaashuis se pragtige gewel wat uit 1851 dateer.

Prettige varksnoete in die badkamer

In die badkamer is daar plaasgeluide wat oor die luidsprekers speel; teëls met varksnoete steek uit die mure uit. Pure plaas, maar met ’n moderne dekor-kinkel wat sê dat hier met sorg en teerheid omgegaan is.

Jy kan sien hoe melk en room geskei word.

Diere bly ’n integrale deel van die plaas se lewe en elke liewe een het ’n naam.

Ayrshire- en Chianina-beeste is deel van die plaasgevoel.

Die Kraal is die tuiste van koeie, donkies, skape en die indrukwekkende Chianina-osse wat die plaas se wa trek.

Die kaalnekke pik op die werf rond.

Rondom die erf krap kaalnekhoenders in die stof, en die diep geroep van kalkoene weergalm deur die lug. Op sekere tye kan jy sien hoe die koeie gemelk word en eiers uitgehaal word. Onder die bome neffens die kombuis word melk en room geskei en jy kan jou klein blikbekertjie onder die tuit hou en louwarm heerlikheid geniet.

As jy by die kombuisvenster uitloer, kan jy jou verbeel dis 1896.

Ons het gehoor die argitektoniese restourasie was ’n proses van historiese navorsing en vakmanskap. Die Plaashuis, Ou Kelder en stalle is in hul oorspronklike vorm herstel, terwyl nuwe geboue in harmonie met die Kaaps-Hollandse tradisie gebou is. Argitekte het saam met argeoloë, erfeniskonsultante en historici gewerk om te verseker dat elke muur, vloer en venster getrou bly aan die tydperk.

Jy kan ontdek soos jy wil, op jou eie tyd met ’n gedrukte kaart of oudiogids.

Louise Johannes in die plaaskombuis waar sy koffiebone rooster, brood en beskuit bak en as jy gelukkig is, ook melktert!

Jy kan langer vertoef by die diere; iewers onder ’n boom gaan sit en die geure en klanke inadem, of in die kombuis met moerkoffie en tuisgebakte beskuit oorgee aan jou nostalgie van jou kinderdae. Vandat jy oor die ou drumpel getrap het, voel dit of tyd stadiger verloop.

Die hoofslaapkamer in die plaashuis

Die Plaashuis is volledig gemeubileer met antieke meubels en handgemaakte herskeppings, danksy die kundigheid van die ontwerper Sylvia van Heerden en haar span ambagslui. Elke kamer vertel ’n storie – geborduurde kussings geïnspireer deur 19de-eeuse vuurskerms; gehekelde komberse en muurpapierpatrone wat in die 19de eeu deur die beroemde William Morris ontwerp is.

Ou odes aan die verlede.

Die kombuis is ’n skatkis van ou gereedskap: gietysterskillers, houtbottervorms en koffiemeulens.  Louise Johannes, die sjef, knie brood om in die koolstoof in die reuse-vuurherd te bak.

Die kantoor van die plaaseienaar, waar daar soggens voor sonop gewoel is.

Selfs die gewere teen die muur – twee antieke Lee Enfields en ’n ou voorlaaier – spreek van die plaas se interessante geskiedenis.

Die ystersmid, Dan Devonshire, doenig in die werkswinkel.

Vir diegene wat ’n dieper verbintenis wil hê, bied Soetmelksvlei praktiese werkswinkels – van timmerwerk en bak tot tradisionele handwerk – wat gaste nooi om te maak, te skep en die ou maniere te leer.

In die Jonkershuis-plaaswinkel is rakke vol handgemaakte skatte – kwilte, leergoedere, ystergereedskap, houtspeelgoed en flesse konfyt en beskuit gemaak deur plaaslike ambagslui. Die winkel vang die gees van ’n vervloë algemene winkel vas, waar elke item ’n storie en ’n maker daaragter het. Ek druk die boerseep teen my neus: Ek verlang skielik na kleintyd, na ouma se hande wat knie en roer en bak en inlê. Haar gees is hier tussen die witgekalkte geboue.

Die ossewa

Daar is baie ander goed om te ontdek: die Ou Kelder, wat eens vir wynberging gebruik is, is nou ’n kabinet van kuriositeite. In een afdeling staan ​​’n ossewa gelaai met voorrade vir ’n gesin se trek na die kus, omring deur rakke met boeke van onder andere voor 1900. ’n Ander vleuel vertoon opgestopte diere en miniatuurmodelle wat 19de-eeuse innovasie vier – van stoomskepe tot vroeë verkoeling. By die distilleerdery groei die seldsame Kristal-druif, wat eens vir wyn en brandewyn gebruik is, weer eens, terwyl die watermeul meel maal, wat jy kan koop om huis toe te neem.

Medwin Dombas tussen die plaasdiere

Die dag gly stadig verby, soos die windjie deur lang gras. Ek het lank op die stoep gestaan en gekyk hoe die lig oor die berge in die verte hang. Daar was nie ’n klank van motors of mense nie – net ’n trekker wat iewers in die verte brom en die sagte geloei van beeste in die veld.

Geniet ’n middagmaal soos dit toeka se dae berei is.

Soetmelksvlei is nie ’n museum nie: Dit is ’n huldeblyk aan die kunstigheid en veerkragtigheid van die landelike lewe. Dit nooi uit tot besinning oor hoeveel ons deur vooruitgang verkry het; hoeveel ons vergeet het, maar ook hoeveel van die onthou in ons weefsel vervleg is.

Soetmelksvlei herinner jou daaraan dat tyd anders kan beweeg – dat die lewe eens nie aan spoed gemeet is nie, maar aan vaardigheid, geduld en gemeenskap.

Soetmelksvlei het my nie verander nie; dit het my net herinner wie ek was voor die geraas.

Kitsfeite:

  • Soetmelksvlei is slegs toeganklik per wildkykvoertuig van Babylonstoren. Ontmoet by die Babylonstoren-kaartjiekantoor op jou afgespreekte tyd. Pendeldienste vertrek elke 15 minute van 08:00–14:00 en keer elke 30 minute terug tot 16:00 in die somer en terugritte van 11:00 elke 15 minute. Die ervaring is Woensdag tot Sondag beskikbaar en daagliks oop tydens vakansiedae en openbare vakansiedae.
  • Kaartjies: R350 vir volwassenes (sluit jaarlikse Babylonstoren-lidmaatskap van R150 in); R200 vir bestaande lede; R100 vir kinders 4–17; gratis vir onder 3 jaar. Kaartjies beskikbaar aanlyn of by Babylonstoren.
  • Old Stables Restaurant: Daagliks oop, 08:30–11:00 vir ontbyt en 12:00–16:00 vir middagete. Geen besprekings nodig nie. Bedien plaasstylmaaltye, tuisgemaakte koeke en Babylonstoren-wyne.

Foto’s: Clifford Roberts en verskaf

Lees ook:

Nuwe baadjie vir Spier Hotel, maar dieselfde goeie beginsels

Erfenis en die toekoms leef hier in harmonie

Geskiedenis by La Motte met moderne flair gehuldig

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top