Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is op die rand van ʼn afgrond. So sê die wynbedryfliggaam Vinpro nadat president Cyril Ramaphosa die verbod op die verkoop van alkohol Sondagaand met nog twee weke verleng het.
Die besluit om die inperkingsmaatreëls op vlak 4 te verleng is volgens Ramaphosa weens die voortgesette verspreiding van COVID-19 wat steeds nie onder beheer is nie.
Volgens die drankbedryf kan duisende mense in die bedryf hulle werk verloor as gevolg van die voortgesette verbod.
Vinpro se bestuurshoof, Rico Basson, sê op Twitter die voortgesette verbod sny die bedryf se lewenslyn af sonder enige inagneming van diegene wat hulle werk as gevolg daarvan verloor en armoede in die gesig staar.
No mr President, you are shutting us down! Unfortunately government persistence with blunt alcohol bans is breaking down the SA Wine industry and the 265,000 employees and their families. #liquidations #nobalance #joblosses @Vinpro_za https://t.co/1T7IpDmpUN
— Rico Basson (@RicoBasson) July 11, 2021
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is volgens Vinpro by ʼn kantelpunt, met baie wynondernemings, veral kleiner besighede en dié onder swart eienaarskap, wat in die volgende 12 maande waarskynlik hul deure sal moet sluit vanweë die herhaalde en nou vyfde beperking op plaaslike drankverkope. Dit blyk uit ʼn opname wat verlede week deur die organisasie gedoen is.
Wyntoerisme skep 36 406 werksgeleenthede en dra direk R2,4 miljard tot Suid-Afrika se BBP by.
“COVID-19 bedreig Suid-Afrikaners se lewens en lewensbestaan. Dit is beslis nie haalbaar om ʼn hele bedryf se inkomstestroom te sluit elke keer as daar ʼn toename in infeksies is nie, deels vanweë landsburgers se ongedissiplineerdheid en vertragings met die uitrol van die inentingsprogram. Die regering moet dringend ingryp deur onder andere behoorlike polisiëring te verseker en die inentingsproses te versnel,” sê Basson.
Vinpro sê in ʼn verklaring die drankverbod gaan nie net daaroor of mense hul gunstelingdrankie geniet of nie. Dit gaan ook daaroor dat besighede aan die gang moet bly om kos op die tafel sit vir duisende gesinne. “Solank as wat die regering voortgaan om hierdie ondernemings hul inkomste te weier, terwyl hulle geen verligting bied nie, sal ons al hoe meer mense sien wat nie net weens COVID-19 ly nie, maar ook weens armoede.
“Die feit dat die nasionale regering kies om nie ʼn gedifferensieerde benadering te volg in sy besluitneming rondom die bestuur van COVID-19 nie, beteken dat die huidige verbod vir ʼn verdere vier tot vyf weke verleng kan word nadat die huidige verbod op 11 Julie 2021 eindig. Heelwat wynondernemings sal ondergaan of personeel moet afdank omdat hulle nie genoeg kontantvloei het om hul betaalstaat te finansier nie,” sê Basson.
Volgens Vinpro se opname oor die impak van inperkings op die wynwaardeketting vroeg in Julie 2021 onder wyndruifprodusente, wynkelders en ander wynverwante besighede sal 58% van die 549 respondente gedurende die volgende jaar drastiese veranderinge moet aanbring om die huidige Covid-verwante uitdagings te oorkom, en 22% sal waarskynlik glad nie oorleef nie. Nog meer kommerwekkend is die feit dat 46% van swart handelsmerk- en plaaseienaars meen hul ondernemings sal nie die volgende jaar oorleef nie.
“Dit is veral die klein en mikro-ondernemings wat nie voldoende oorbruggingsfinansiering het om hulle deur die huidige en voortgesette beperkings te dra nie,” sê Basson.
Ongeveer twee derdes van alle deelnemers genereer hul inkomste uit plaaslike wynverkope, wat die belangrikheid van plaaslike handel vir die voortbestaan van die bedryf benadruk. Die plaaslike mark is veral onontbeerlik vir kleiner wynkelders en handelsmerke in swart besit, wat baie afhanklik is van inkomstestrome deur hul proelokale, gasvryheidsgeriewe en e-handel.
“Heelwat wynondernemings staan op die rand van ʼn afgrond en duisende werknemers se lewensbestaan word in die proses bedreig. Suid-Afrika is die enigste land waarin ʼn totale verbod op drankverkope ingestel is sonder enige finansiële hulp van nasionale regering, ondanks herhaalde versoeke deur die wynbedryf. Hierteenoor kies die regering egter om ons bedryf te sluit sonder om hul besluite met empiriese bewyse te steun en blyk apaties te wees teenoor sy landsburgers se noodkreet om oorlewing,” sê Basson.
Lees ook:
Jongste, unieke wynroete neem jou tot die suidpunt van Afrika