The North, ’n film oor vriendskap by die Europese Filmfees

  • 0

The North
Draaiboek en regie: Bart Schrijver

Chris: Bart Harder
Lluis: Carles Pulido

Die Europese Filmfees het in uitgesoekte teaters afgeskop. Vir diegene wat nie in die hoofsentra woon nie, is daar ’n gratis aanlyn komponent. Ek het die Nederlandse inskrywing The North aanlyn gekyk vanuit die Baai.

Chris (gespeel deur Bart Harder) is ’n Nederlander. Hy werk geweldig hard, het ’n goeie werk, ’n huis en ’n meisie met wie hy beplan om ’n kind te maak.

Lluis (gespeel deur Carles Pulido) is ’n Spanjaard wat goed geld gemaak het uit die neem van trouvideo’s, maar drie jaar tevore besluit het om daarmee op te hou. Die kyker, en die ander karakter, is nie seker wat hy nou met sy lewe doen nie.

Engels is vir beide karakters ’n tweede taal, maar hulle praat dit goed en dit is hoe hulle kommunikeer, dus is die film meestal in Engels, met net enkele stukke in Nederlands en ’n bietjie Spaans – in sulke gevalle is die onderskrifte in Engels.

Die film handel oor twee mans wat mekaar in tien jaar nie gesien het nie en dan besluit om saam ’n staptog van 600 km in Skotland te doen. Om vir byna ’n maand lank oor 600 km in mekaar se geselskap te wees, en boonop ’n tent te deel, vra nogal baie. Een van die ander stappers sê by geleentheid: “You must be close, or you must really hate each other.”

Vriendskap of haat?

Ek staan dikwels in verwondering oor vriende. Hoekom sou hulle vir my moeite doen? Dit is deels wat hierdie film ook vra.

Ons sien die eerste keer waar hulle die staptog begin. Dan volg ons hulle terwyl hulle dae lank stap. Sal hulle kan klaarmaak? Sal hul vriendskap dit hou?

Kyk maar self.

Die film gee geen aanduiding hoe die twee vriende geword het nie. Ons weet wel dat die twee se ouers mekaar ken. Dis al agtergrondinligting wat ons het. Ons, as die kykers, stap gewoon saam met hulle. Ons sien die kameraderie én die konflik wat ontstaan.

Wat gebeur, sal ek nie sê nie. The North is wel die moeite en tyd werd.

Om gedrewe te wees, of die natuur te geniet?

Dit is nie die eerste keer dat die skrywer en regisseur, Bart Schrijver, hierdie tema aanpak nie. In 2022 was hy ook die skrywer en die regisseur van Human nature, ’n film waarin Sophie (gespeel deur Jamie Bouwmeester) ’n staptog van 500 km in die Arktiese streek aanpak.

In The North speel Schrijver bewustelik met twee teenoorgesteldes in die mens se natuurlike staat. Chris is ’n gedrewe karakter. Lluis het skynbaar besluit het om meer in die nou te leef en minder te fokus op wat ander van hom verwag. Die twee vriende ontmoet ander stappers wat weer hul eie idees het oor vryheid en verpligtinge. Een oubaas, wat op 69 al met die Skotse kuslyn langs stap, sê byvoorbeeld dat mense hom vra waarom hy stap. Tog, sê hy, toe hy vir 55 jaar lank elke dag gaan werk het, was daar niemand wat hom gevra het waarom hy dit doen nie.

Chris se baas bel die hele tyd en verwag van hom om syfers na te gaan, al is hy met verlof. Hy doen dit.

Lluis hou sy foon af, so ver as moontlik.

Lluis besluit ook om kaarte te koop sodat hulle sonder fone die tog kan aanpak. Chris sê dis makliker om ’n toepassing te volg, want jy weet altyd dat jy op die regte pad is. Lluis sê dat mense so min as twintig jaar tevore nie selfone gehad het nie – hulle het die einste roete met kaarte aangepak. Chris sê twintig jaar gelede kon hulle kaarte lees, iets wat nóg Lluis nóg Chris kan doen.

So speel die twee se teenstrydige geaardhede teen mekaar af.

Daar is al baie ander films gemaak en boeke geskryf oor mense wat moet kies tussen werk en betreklike vryheid, tussen finansiële sekuriteit en sorgeloosheid. The North probeer nie oplossing vind of bied nie. Dit laat gewoon die talle vrae wat geopper word, onbeantwoord.

Lieflike natuurtonele en baie mooi fotografie

Mense wat Skotland ken, sal sê dat dit onmoontlik mooi is. Hierdie film bevestig dit. Aangesien die twee stappers hulle op ’n staptog van 600 km bevind, is daar baie tyd om die natuur te bewonder, ook vir die kyker.

Twan Peters was in beheer van die fotografie. Hy verdien ’n pluimpie. Ek sien deesdae gereeld films waar die kamera beweeg asof die kameraspan op ’n skip is. Ongelukkig het moderne tegnologie en beeldstabiliseerders dit alte maklik gemaak om uit die hand te skiet. Te veel mense doen dit. Die bewegende beeld maak my vies.

Hoe Peters sekere tonele geskiet het, weet ek nie. Ek vermoed hy het gereeld van hommeltuie gebruik gemaak. Daar is lang skote waar die klimmers op nou rotspaadjies loop en die kamera hulle volg. As dit nie met hommeltuie gedoen is nie, weet ek werklik nie wat hulle geheim is nie.

Daar was net een geleentheid waar Chris vir ’n baie lang skoot op ’n strand loop. Daar het ek wel die idee gekry die kamera word deur ’n mens gedra. Dit is erg subtiel en dit was bloot omdat ek ernstig begin oplet het na die tegniese aspekte dat ek dit raakgesien het. In die meeste ander skote is bitter min kamerabeweging te sien. Ek vermoed die “kuns” van driepootgebruik vs “grab a gimble and shoot” het hier geseëvier, ’n bietjie anachronisties, dalk, volgens moderne standaarde, maar dit word o so waardeer deur dié van ons wat hierna oplet.

Uiteindelik was die natuur ’n wenner. Selfs ek sou graag eendag daardie roetes wou beleef.

Stadig, maar lekker

Die film is lank – meer as twee ure. Dit is stadig. Party tonele duur minute lank en al wat jy sien, is mense wat in die pragtige natuur stap.

Ouens wat aksiefilms soek, moet maar verbyhou. Maar as jy hou van stap, of as jy van lieflike natuurtonele hou, dan mag jy maar The North kyk.

Die ontwikkelings in Chris en Lluis se vriendskap, ook hulle interaksie met ander stappers, word uiteindelik ’n terloopse, maar natuurlik belangrike, subteks in hierdie mooi film oor die mens se interaksie met ’n ongelooflik mooi omgewing.

Lees ook:

Invitation to join the European Film Festival South Africa

Filmresensie: Grey bees by die Europese Filmfees

Filmresensie: Blackbird blackbird blackberry by die Europese Filmfees en op Mubi

Filmresensie: Citizen Saint by die Europese Filmfees en op Mubi

Filmresensie: Io Capitano by die Europese Filmfees

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top