Filmresensie: Grey bees by die Europese Filmfees

  • 0

...
Die twee ou, grommige ooms kruip nogal in ’n mens se hart in.
...

Grey bees
Regisseur: Dmytro Moiseiev
Akteurs: Viktor Zhdanov, Volodymyr Yamnenko
Genre: Drama
Oekraïens met Engelse onderskrifte
2024
100 minute

Grey bees was Oekraïne se inskrywing op die Europese Filmfees. Hierdie stadige film met bloedmin karakters handel oor vriendskap. Dit is baie mooi, al speel dit af in die grys wêreld van ’n verdeelde samelewing.

Grey bees is verbasend ontdaan aan propaganda.

Ek het, terloops, gesoek na die film se oorspronklike titel, maar ek kon dit nie kry nie.

Waarom is alles grys?

Oorlog is ’n grys gebied. Selfs diegene wat hulself sterk teen Poetin se magspeletjies uitspreek, weet dat als nie bloot swart en wit is nie. Oorlog daag ons persepsies op onsself en ons medemens uit.

Die draaiboek van Grey bees is geskep deur Dmytro Moiseiev, maar sy teks is gebaseer op ’n roman, met dieselfde titel, wat geskryf is deur Andrei Kurkov.

Die tyd waarin die film afspeel is anders as die roman s’n.

Die film en die roman speel beide af in ’n niemandsland, ’n sogenaamde grys gebied, in Donbas.

Wanneer die film begin, is daar slegs twee mense oor: Serhiich, die byeboer (gespeel deur Viktor Zhdanov), en Pashka (gespeel deur Vladimir Yamnenko).

’n Kort oorsig oor Donbas

 Donbas is ’n oostelike deel van Oekraïne. Dit is reeds sedert 2014 gedeeltelik onder Russiese beheer, lank dus voor die huidige oorlog.

Dit het als begin toe die mense van Oekraïne hulle pro-Russiese regering in Kijif omver gewerp het. Poetin het wraak geneem deur pro-Russiese separatiste in Oekraïne te steun en te bewapen. So is ’n deel van Donbas en die Krim effektief onder Russiese beheer geplaas.

Oral in Oekraïne woon sprekers van Russies en Oekraïens deurmekaar. In Donbas is daar wel sommige Russe wat ’n formele Russiese oorname sou steun, maar daar is ook talle ander wat weet hoe sleg hulle lewe onder Poetin sal wees (en is). Hulle baklei dus teen die separatiste.

Talle inwoners het glad nie kans gesien vir die gewapende konflik nie. Vlug was al opsie. Vele gesinne het besluit om hul eiendom te versaak en weswaarts te keer, weg van Rusland se vergrype.

Dit is die agtergrond waarteen Grey bees afspeel.

’n Grys gebied kort voor die oorlog

 Die grys in die titel verwys na ’n streek in Donbas wat nóg deur Rusland, nóg deur Oekraïne beheer word. Dit is eintlik ’n niemandsland.

In daardie gebied waar die bomme gereeld ontplof, lê Klein Starhorodivka, ’n piepklein myndorpie, of dan, dit wat oor is van die myndorpie. Teen die tyd dat ons die karakters ontmoet, is die meeste huise beskadig deur bomme of hulle is geplunder. Daar is nie meer lopende water of elektrisiteit nie.

In hierdie verlate plekkie bly die twee ou mans. Die res van die mense het gevlug. Hulle is feitlik altyd alleen.

Die “dorpie” word wel om die beurt besoek deur lede van die Oekraïnse weermag en separatiste wat lojaal is aan Poetin.

Twee ou mans teen ’n oormag

Die twee ou mans wil nie trek nie. Hulle bly aan. Hulle vriendskap het reeds op skool begin en hulle het saam in die myn gewerk wat nou toegemaak het.

Die film, in 2024 gemaak, speel af in Januarie 2022, baie kort voor Poetin se volskaalse inval in Oekraïne, maar die boek waarop dit gebaseer is, is reeds in 2018 geskryf.

Die dreigende inval is belangrik vir die film, want dit maak die bestaande gevaar nog meer aktueel. Die gebeure in die film is egter steeds getrou aan die roman, so dit voel nooit na ’n propagandafilm nie.

In die film is die naderende inval voelbaar, maar, soos in die roman, is dit eintlik die laegraadse oorlog tussen lojaliste en separatiste wat die onmiddellike spanning veroorsaak.

Wanneer ’n Russiese skerpskutter homself inrig in een van die leë huise en ’n Oekraïnse soldaat skiet, is daar ’n verhoogde spanning. Iets gaan gebeur, want die twee oorblywende inwoners van die dorpie, en hulle gewapende besoekers, besef dat ’n nuwe fase van geweld moontlik hieruit kan spruit.

’n Film oor vriendskap

Ek was, soos reeds vermeld, verras oor hoe min propaganda daar in die film is. Die film is Oekraïens en teen die einde is daar sonder twyfel ’n (heel verstaanbare) stellinginname deur een van die karakters, maar die kamera fokus gewoon op twee bedonnerde ou mans wat mekaar dekades lank ken en nou nog op mekaar aangewese is.

Dit is mooi.

Stadig en grys

Die film is stadig. Daar is baie langdurige skote waar die kamera bloot waarneem. Heelwat skote is uit die hand geskiet, ander gelukkig met behulp van ’n driepoot of ’n hommeltuig geneem.

Daar is min kleur in die film. Die landskap is grys, en nie niet polities so nie. Talle skote speel ook in die halfdonker af.

Die kamera neem waar en kyk stadig na die twee ou ooms wat ook nie meer enige iets vinnig kan doen nie. Hulle grom vir mekaar, maar is bekommerd oor mekaar se veiligheid en is ook soms afgunstig as die een iets van “hulle” militêre vriende kry. Want dit gebeur. Serhiich kry soms gunsies van die Oekraïense leer, Pashka word weer ondersteun deur die Russe. Uiteindelik deel die twee grommige ooms wel wat hulle het.

Dus?

Grey bees was dalk nie die opspraakwekkendste inskrywing op die Europese Filmfees nie, maar ek is deksels bly ek het dit gesien. Ek sou enige liefhebber van kunsfilms aanraai om dit ook te sien. Die twee ou, grommige ooms kruip nogal in ’n mens se hart in.

Lees ook:

Filmresensie: Dalva by die Europese Filmfees

Filmresensie: Blackbird blackbird blackberry by die Europese Filmfees en op Mubi

Filmresensie: Citizen Saint by die Europese Filmfees en op Mubi

Filmresensie: Io Capitano by die Europese Filmfees

Filmresensie: The quiet girl by die Europese Filmfees

Sweet dreams at the European Film Festival: a film review

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top