Filmresensie: Dalva by die Europese Filmfees

  • 0

Titel: Dalva
Engelse titel op die fees: Love according to Dalva
2022
Regisseur: Emmanuelle Nicot
Met: Zelda Samson, Alexis Manenti, Fanta Guirassy
Geskryf deur: Jacques Akchoti, Bulle Decarpentries en Emmanuelle Nicot
Taal: Frans

Dalva, België se inskrywing, is een van die films wat nie uitverkoop het op die Europese Filmfees nie. Ek vermoed dit het te doen met die onderwerp. Wat te verstane is. Tog is die film minder uitmergelend as wat dit klink.

Eintlik is dit ’n lieflike film oor ’n meisie se herstel, nie een oor die gruwels van misbruik nie.

Die film maak wel ongemaklike punte

Voor ek by die herstelproses kom, want dit is waaroor hierdie besondere film gaan, moet ek eers die ongemak aanspreek.

Dalva (12) woon alleen saam met haar pa. Een aand storm die polisie by hul huis in. Haar pa word weggeneem en sy beland in ’n plek vir veiligheid.

Sy weet nie hoekom nie.

Sy verstaan nie.

Kort daarna daag ’n advokaat op wat haar sal verdedig. “Verdedig waarteen?” wil Dalva weet. “Wat het ek verkeerd gedoen?”

Dalva het ’n hele ruk lank reeds ’n seksuele verhouding gehad met haar pa. Sy sien niks verkeerd daarmee nie en sê ook so.

By geleentheid vra iemand vir haar of sy dink daar is ’n verskil tussen liefde en liefde maak? “Nee,” sê Dalva.

Die film praat nie minderjarige seks goed nie

Dalva is baie beslis dat sy niks verkeerd gedoen het nie, haar pa ook nie.

Sy ontken glad nie dat hulle seks gehad het nie, maar die grootmense se verontwaardiging is vir haar onbegryplik.

Haar pa het haar laat spesiaal voel. Hy het haar absoluut soos ’n prinses behandel. Die pa word dus nie as ’n gevoellose buffel uitgekryt nie. Maar dat hy sy dogter ’n ontsettende onreg aangedoen het, word glad nie ontken nie.

Die werklikheid van seks onder minderjariges

Van julle mag weet dat ek vir baie jare betrokke was by instansies waar kinders heen verwys is deur die hof ná hulle van ouers weggeneem is.

Ongelukkig was seksuele redes baie dikwels die oorsaak waarom kinders daar beland het.

Dalva se denke oor seks is nie onbekend aan kinderwerkers nie.

Ook is dit glad nie onbekend dat kinders hul ouers ten alle koste sal aanhou verdedig nie, dit maak nie saak wat die ouers aan hulle gedoen het nie.

Dalva toon die pad na herstel 

Wanneer ons Dalva ontmoet, trek sy aan soos ’n Franse dame. Haar klere is keurig, sy dra haar hare in ’n gesofistikeerde styl en haar grimering is perfek. Sy lyk baie ouer as wat sy is.

Aanvanklik sien sy neer op die tieners wat saam met haar in die plek van veiligheid is.

Soos sy egter gewoond raak aan haar nuwe roetine, kom haar weerloosheid ook na vore.

Dalva, baie geloofwaardig gespeel deur Zelda Samson, is eers verward, dan hardkoppig, dan woedend. Uiteindelik begin sy insig kry.

Dit is veral Samia, haar kamermaat in die plek van veiligheid, wat haar bystaan en haar help, hoewel dié twee se verhouding nie sonder probleme is nie. Samia, meesterlik vertolk deur Fanta Guirassy, is ’n bedonnerde, vuilbekkige tiener. Onder die keiharde uiterlike is daar egter ’n sagte hartjie.

Dalva se kinderwerker, Jayden (baie goed gespeel deur Alexis Manenti), doen ook baie om haar toe te laat om weer haarself te word.

Dus? 

Dalva is Emmanuelle Nicot se debuut. Ek beveel dit baie beslis aan.

Ander ook: Die film het twee pryse in Cannes gewen en sewe by België se nasionale Magritte-toekennings van 2024, waaronder beste film en beste regisseur.

Dalva sal jou uitdaag, maar nie terneergedruk laat nie. Kyk dit, sou jy ooit die kans kry.

Lees ook:

Filmresensie: Blackbird blackbird blackberry by die Europese Filmfees en op Mubi

Filmresensie: Citizen Saint by die Europese Filmfees en op Mubi

Filmresensie: Io Capitano by die Europese Filmfees

Filmresensie: The quiet girl by die Europese Filmfees

Sweet dreams at the European Film Festival: a film review

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top