...
“Van Afrikaans se grootste verbeeldingskragtoere kom uit sy variëteite, wat velde van intense kreolisering en herskommeling behels.” (C.P. Naudé)
...
Met de schrijver, vertaler en academicus Charl-Pierre Naudé heb ik in deze gesprekkenreeks op Voertaal een uitgebreide gedachtewisseling. De neerslag wordt in drie delen aangeboden en later gebundeld in het boek Twee overzijden. Kronieken en tweespraken. Zoals alle eerder gepubliceerde en nog te verschijnen tweespraken met Zuid-Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse auteurs, op de brug tussen Zuid-Afrika en de Lage Landen en tussen Afrikaans en Nederlands, worden de vragen en antwoorden ingeleid door een bio- en bibliografische notitie (zie deel 1).
Slotdeel
Yves: Hoe zie jij de toekomst van de intercontinentale gesprekken tussen Afrikaans en Nederlands? Na jaren van toenadering tussen de literaire systemen sinds begin jaren negentig en na het einde van apartheid is vandaag wellicht sprake van toenemende verwijdering, zelfs een zekere mate van onverschilligheid. De afgelopen paar jaar wordt aanzienlijk minder vertaald uit de Nederlandstalige literatuur in het Afrikaans en behalve occasionele feesten, zoals de Week van de Afrikaanse roman en het Festival voor het Afrikaans, blijven nog maar weinig gelegenheden over voor culturele uitwisseling en bijvoorbeeld schrijversoptredens in de Lage Landen. Hoewel er subsidiëring is, zie ik de voorbije tijd ook minder schrijvers uit de Lage Landen optreden in Zuid-Afrika. In 2024 waren Nele van den Broeck en Gerda Dendooven nog te gast in de Kaap en vorig jaar traden de Vlaamse spoken word-kunstenaar Hanna Desmet (De sprekende ezels) en Lisette Ma Neza respectievelijk op bij de Tuin van Digters en op het Open Book festival in Kaapstad. In ieder geval kwamen vroeger meer geregeld Nederlandse en Vlaamse schrijvers langs.
Charl-Pierre: Ons het reeds hierbo hierdie baie belangrike saak aangesny. Ons kan verkeerd wees oor wat ons sien as toenemende verwydering of onverskilligheid, maar dis moeilik om te ontken dat dit wel so lyk. Heel onlangs nog is vertalings van gedigte van my in Duits opgeneem in die Jahrbuch der Lyrik 2021. Die vertalings is gedoen deur die vermaarde digteres en vertaler Sylvia Geist, van wie ek self ’n paar vertalings saam met Rentia Bartlett-Möhl gedoen het en wat tydskrif Literator in onlangse jare gepubliseer het. Ek het ook al Engelse vertalings van Geist in ’n Britse literêre tydskrif gepubliseer (Ambit #235). In 2015 het die vooraanstaande Duitse literêre tydskrif Schreibheft etlike bladsye aan vertalings van my werk afgestaan. My gedigte is ook op belangrike internetforums opgeneem soos Lyrikline.org, waar proesels van Antjie Krog en Breyten Breytenbach se werk ook verskyn. So far, so good. What’s the catch? Daar is op woordlose wyses op ’n stadium aan my te kenne gegee: Dit is só jammer dat jou goeie verse nie deur ’n swart mens geskryf is nie, Charl-Pierre.
Met ander woorde: ’n Baie kru vorm van bevrydingspolitiek wat in die letterkunde van Europa tans gaande is, en op verskillende maniere in ander plekke ter wêreld ook, sit deels agter die doodloop van kontak tussen my en Nederland, sowel as tussen my en Duitsland. Dit is egter nie die enigste rede nie. Ek het ander redes hierbo bygetel. (Hou ook in gedagte dat my poësie hermetiese eienskappe het, en die ongefokusde leser uit die staanspoor uitskakel.)
Ek glo nie hierdie politieke toedrag van sake is inherent nie, ek dink dit is oorheen liggend afgedruk (gesuperponeer). Ek wil ’n interessante gebeurtenis uitwys. Daar was die Duitse bloemlesing van Suid-Afrikaanse gedigte wat die ras-, taal- en tradisiespektrums van Suid-Afrika in hul keuse probeer dek het, maar in effek net uit Engels vertaal het, getitel Ankunft Eines Weiteren Tages – Zeitgenössische Lyrik aus Südafrika, deur einste Afrika Wunderhorn in 2013 uitgegee. Hierin is van my eie werk ook opgeneem. Die vertalings hierin laat my dink aan ’n “kamer vol paaldansers”, waarin alles gewys word behalwe die groot geheim: dat Suid-Afrikaanse digters oor genoemde spektrums eintlik klaaglik min met mekaar in gemeen het.
En dalk kan die samestellingsbeginsels van hierdie bloemlesing ook iets verklap oor die vermoede van ’n “verwydering” al dan nie tussen die Lae Lande, Duitsland en Afrikaans. Dis belangrik om in gedagte te hou dat die belangstelling in Afrikaans (dink selfs aan daardie Komrij-toer), fundamenteel in verband gestaan het met die stryd teen apartheid wat geëindig het en waarin sektore in Europa en Brittanje ’n groot rol gespeel het as beskermhere van die stryd.
Daardie beskerming was uiters welkom. Veral ons as Suid-Afrikaanse letterkunde kan maar hierin skatpligtig teenoor Europa voel. Die probleem ontstaan wanneer Europa onderskat wat Suid-Afrika (en Suid-Afrikaanse skrywers) in ruil kan bied om Europa se probleme op te los... Ons bevind onsself absoluut op die snypunt van ontluikende wêreldwye pluralisme, van allerlei onbenoemde dinge, en ons is in sommige opsigte Europa vooruit hierin.
Maar kom ons gesels indringender oor die newe-effekte vir die letterkunde wat voortgevloei het uit die feit dat ’n politieke dimensie die vernaamste dryfveer van belangstelling in Suid-Afrika was.
Suid-Afrika was nog altyd die baie gewillige slagoffer van gemanipuleerde en oorvereenvoudigde beskouings oor politiek, kultuur en geskiedenis. Ek het met my eie oë gesien hoe enkele Europese wit en nie-wit skrywers wat niks weet van ons land of van Afrika for that matter nie, verontwaardiging teenoor apartheid misbruik om hul eie loopbane op opportunistiese wyses te bevorder. Suid-Afrika en sy oorvereenvoudigde, simboliese betekenis word soms soos ’n eksotiese ingevoerde krui gebruik om lawwe disse mee op te kikker. Sprinkel net bietjie fyngemaalde “Suid-Afrika” op jou geknoei en dit sal pikanter proe.
Die beleid van apartheid het as ’n tragiese en haas ongeloofbare anachronisme in die laat twintigste eeu uitgestaan. Dit het gebeur teen die agtergrond van die na-oorlogse noordelike halfrond se vaste voorneme om ’n beter morele wêreldorde te skep ná twee vernietigende wêreldoorloë waarin kru Europese rassisme onderling ’n groot rol gespeel het.
Daar is egter twee Suid-Afrikas. Die een is nuttig as ’n talisman vir sommige Europese kultuurlinge om hul eie demone van rassisme en kolonialisme mee te verdryf en mee te interpreteer. Dat ons hier as Suid-Afrikaanse skrywers (komende uit kultuurgewrigte wat self intense morele ontnugtering deurstaan het), ’n bydrae kon maak moet ons verblyd laat. Ons moet bly wees dat ons bruikbaar kon wees. Dit is egter ’n nut wat nou bykans uitgespeel het.
Daar is helaas die ander Suid-Afrika. En daardie Suid-Afrika bly grotendeels ’n krioelende en veeltongige, komplekse geheim. Wie het in tye van ongekende onderlinge onsekerheid, soos wat tans in Europa heers, ’n komplekse geheim nodig wat tien duisend of meer kilometer in die rigting van Antartika geleë is, en besig is om nog verder suid te dryf? Beslis nie ’n Europa wat in onderlinge oorlewing belangstel nie.
Die aandag is dalk weliswaar nou weg van Afrikaans, en beslis weg van die “wit” letterkunde van Suid-Afrika. Maar mens moet meer probeer verstaan waarom dinge is soos hulle is.
En dit bring ons by ’n nog veel groter kwessie, wat die letterkunde oral bedreig, maar wat ’n klein letterkunde kan doodmaak. Uitgewershuise, oral ter wêreld, moet en wil geld maak. Letterkunde is onder meer ’n nywerheidsaangeleentheid.
In ’n nywerheid wil jy iets verkoop waarvoor daar ’n aanvraag is. En daar is ook niks hiermee verkeerd nie, solank dit nie die alfa en omega van die nywerheid van die letterkunde is nie. Sekere temas en kategorieë van waarneming word ongelukkig nywerheidsonthalwe op swyende wyses aan skrywers “voorgeskryf”. Uitgewershuise en rolspelers sê in effek: “Julle wat skrywers is weet hoe lyk die hoop. Dan nie? Julle weet ook hoe lyk die wanhoop. Sê tog ja? Ons het dit reeds in die Sosiologie- en Afrikastudies-departemente van die universiteite vasgestel. Klee ons gevolgtrekkings nou asseblief in met mooie verhaaltjies, en dan sal julle die wonder van publikasie belewe. Ook in vertaling, hoor. Daar is groot gehore wat wag om deur julle gerus gestel te word.”
Die versoeking om hiervoor te val, is groot vir skrywers. Maar dit is nie die belangrikste rol van die letterkunde nie. Dit is dalk een van die rolle. Ongelukkig het die Westerse letterkunde van die een-en-twintigste eeu in die algemeen die gyselaar geword van oorvereenvoudigde idees oor wat “die morele” en “die morele toekoms” behels.
Ek wil Friedrich Nietzsche se insigte byhaal oor wat ek sien as die ware band tussen kuns en die morele. Die volgende is ’n filosofiese punt wat ek breedvoerig in my boek In die rede geval behandel. Die morele is ’n estetiese aangeleentheid, lank voordat dit ’n empatiese aangeleentheid word, so harteloos soos wat dit mag klink. Bestaande moraliteitsdenke is belangrik, maar sy uitbreiding moet gerig bly op wat buite die gegewe van die heersende morele lê. Dit lê by die moontlikhede, by die rookwolke, by die wasem – van denke, van invoeling, van voorstelling – waarvoor nog nie “beruim” is nie. En “beruiming”, soos ek dit noem, is ’n estetiese aangeleentheid. Éérs kom die beruiming, dán kom die beryming. Kyk bietjie hoe het Ezra Pound se wyses van voorstelling die sentrum van die eie (die Engelstalige digkuns) omvergewerp. Ondanks sy eie redelik afskuwelike politieke idees het sy digkuns “draers” van nuwe moraliteit geword en eindelose empatiese verbeelding bevat, wat soos goedgunstige bakterieë windbestuifde studeerkamers oor die wêreld heen beset het.
...
“Suid-Afrika is ’n goudveld van die ongekaarte. En nou kan ons as skrywers dalk met een stel minder remskoene werk.” (C.P. Naudé)
...
Oor die algemeen het Afrikaanse en ander Suid-Afrikaanse skrywers baie belangrike insette te lewer in die beruimingsproses waarvan ek praat. Ons geheue aan die voormoderne is nog baie skerp, en dit terwyl ons reeds heeltemal opgesuig is in die laatmoderne. Om ’n Suid-Afrikaanse skrywer te wees is om deel van ’n séance te wees waarin die spoke net so lewend soos die ongeborenes is, en almal sit by dieselfde tafel aan. Dit is soos ’n piek van die kreatiwiteit waar water, ys en waterdamp gelyktydig bestaan en gedurig plekke ruil.
Dat die belangstelling van die internasionale in Suid-Afrika tans minder is, is eintlik ’n goeie ding. Suid-Afrika is ’n goudveld van die ongekaarte. En nou kan ons as skrywers dalk met een stel minder remskoene werk.
En natuurlik doen skrywers hul kaartwerk vanuit hul eie erfenisse. Natuurlik sluit erfenisse se onderskeie geheuens soms ander erfenisse uit. Maar as ons sou ophou om te glo dat ons as skrywers voorstellings van die werklikheid kan maak wat ons eie erfenis kan oorskrei, wat ons as ego-gedrewe individue kan verbysteek en nivelleer, is ons, en die aktiwiteit van die letterkunde, gedoem. Dít is ongelukkig nie hoe die geloof van die woke- en kanselleerkulture dit sien nie.
Yves: De Afrikaanstalige literatuur ondergaat al langer een transitie, een esthetische en morele gedaanteverwisseling, met almaar méér teksten in variëteiten van het Afrikaans. Vertaling, zelfs tussen Afrikaans en Nederlands, is fundamenteel voor gesprekken in het transnationale domein. Indien wordt ingeleverd op vertaalwerk, dreigen die gesprekken te verstommen. Hoe zie jij dat? Hoe belangrijk zijn Nederlandse vertalingen voor een Zuid-Afrikaans schrijver? Geven vertalingen auteurs de kans om ook in andere taalgebieden aanwezig te zijn – met Nederlands als een tussengebied voor toegang naar de Europese literaire ruimte (zoals het geval is voor Breytenbach en Krog)? Heeft jouw aanwezigheid op uitnodiging van DAAD destijds geleid tot Duitse vertalingen van poëzie?
Charl-Pierre: Alles goeie vrae, Yves. Sommige van hierdie vrae het ek reeds beantwoord.
Dit is baie belangrik dat Afrikaans haar heterogene ondergrond ondersoek, ontdek en hersaamstel volgens die behoeftes van ’n nuwe tyd. Maar nou is dit ook so dat stompsinnigheid in hierdie lofwaardige projek ook maar aan die orde van die dag is. Die grootste waarde van byvoorbeeld Kaaps, die gros van sy kommunikasiemoontlikhede, lê in die spanningsveld wat ontketen word tussen Kaaps en standaard-Afrikaans. Dit word nie as ’n essensie deur Kaaps in pag gehou nie. Maar dialekte, oftewel variëteite, is van kardinale belang vir die volheid van enige taalveld. Van Afrikaans se grootste verbeeldingskragtoere kom uit sy variëteite, wat velde van intense kreolisering en herskommeling behels. Hier word nuwe beruimings van die verbeelding van stapel gestuur, soos selde tevore. Maar tydsverloop moet hierin toegelaat word om sy sanerende oorsigrol te speel.
Hoe belangrik is Nederlandse vertaling vir ’n Afrikaanse skrywer? Ek sal só antwoord: In ’n sin is Afrikaans ’n mineurtaal – ten opsigte van Nederlands. En vir dieselfde redes waarom standaard-Afrikaans sy variëteite moet verreken ten einde sy verbeeldingsapparature opgeskerp te hou, vir daardie selfde redes behoort Nederlands dit ten opsigte van Afrikaans te doen. So sou ek reken. Daar is ’n ganse biblioteek van historiese geheue oor niks minder as Nederlands-in-die-breë in die Afrikaanse taalveld opgesluit.
Die belang van vertaling in Nederlands vir Afrikaanse skrywers is groot genoeg. Maar dit is nie ’n alfa of ’n omega nie. Ek as Afrikaanse skrywer vra geen gunste nie. Natuurlik sal ek deur soveel lesers as moontlik gelees wil word, maar ek vra geen gunste vanuit Nederland, België, óf Disneyland óf die republiek van die heideveld nie. As die proses van transkulturalisasie ten beste funksioneer, sal beide kante daarby baat.
Daar moet ook in gedagte gehou word dat ’n skrywer in die eerste plek daardie skrywer is, ongeag van die taal waarin hy of sy toevallig gebore is of skryf. Geen skrywer hoef eens te hou van die taal waarin hy of sy skryf nie. Wat nog te sê van daardie taal se “familielede”. Ek het die grootste respek vir ’n Afrikaanse skrywer wat verlief raak op Tahiti.
En nou wonder ek oor ’n moontlike verdere faktor in die vermeende verwydering. Het daar nie ’n kortsluiting ontstaan tussen die Lae Lande en Afrikaans nie juis weens ’n té groot vertroue van sommiges aan die Nederlandstalige kant dat Afrikaanse letterkundiges Afrikaanse letterkunde beter sal vertolk as hulle self (die Nederlandse), en terselfdertyd ’n té groot bereidwilligheid van Afrikaanse letterkundiges om daardie rol te vervul? As daar verkeerdelik gewerk word met ’n idee dat vertolking gemeenskaplik is of moet wees, dan kan beide kante vertroue sowel as belangstelling in die proses verloor. Want dit is nooit gemeenskaplik nie (soos jy ook hier onder tereg uitwys, Yves). Dit is in prinsipe moontlik dat ’n Afrikaanse skrywer veel beter deur ’n Deense kritikus verstaan sal word as deur ’n Afrikaanse of Suid-Afrikaanse een. Die ongemeenskaplikheid van die leeservaring is deel van die wonder daarvan.
Ek herinner my ’n interessante grimmigheid in die geledere van bepaalde “leidende” Afrikaanse digters rondom 2001, Johann de Lange en Joan Hambidge by name, en ook van die vermaarde literator John Kannemeyer se kant, wat vreeslik ongelukkig was dat Komrij se keuses so verskil het van bloemlesings en “kanonisering” te lande. Hulle het al aansienlike kapitaal in plaaslike kanonisering verwerf en het hulself uitgelaat gevoel in Komrij se keuse. Dat verskeie wedywerende bloemlesings, buiten Opperman se ikoniese Groot Verseboek, al te lande gepubliseer was ten tyde van Komrij se toetrede, is gerieflikheidshalwe deur die grimmiges buite rekening gelaat.
Die interessantste vertaalproses waarby ek nog betrokke was, het plaasgevind tussen my en my Duitse vertaler Sylvia Geist. Ons het met Engelse “tussentekste” (direkte vertalings deur myself gelewer) gewerk, en dan sou sy die oorspronklike Afrikaans (wat sy nie eerstehands ken nie) nadersleep en daarvan sin maak. Ek weet genoeg van haar Duits om te besef haar vertalings op hierdie werkwyse geskoei is uitstekend. Sy het ’n hele bundel vertalings van my digkuns gedoen, en is skynbaar nog baie hoopvol dat sy ’n Duitse uitgewer daarvoor sal vind, ondanks die genoemde gemanipuleerde tydsgees. Die Duitse sfeer is nie net een plek nie.
Sylvia het my werk goed gepeil. Buiten vir Louise Viljoen en Tom Gouws het sy my later gedigte die beste verstaan. Ek hoop maar my skryfsels is haar aandag waardig. Op die oomblik probeer ek al vir maande haar uitstekende vertalings van drie sonnette uit Die nomadiese oomblik vir Literator voorgelê te kry, maar die bykans liturgiese omslagtigheid van die proses om op hierdie nuwe AOSIS-forum te registreer vra vir Freudiaanse intervensie, wat my nog nie te beurt geval het nie.
Yves: Tot slot. Waaraan moet volgens jou een aanvaardbare vertaling voldoen? Het gaat beslist niet over een letterlijke omzetting van een brontaaltekst in een ontvangsttaal (of doelcultuur). Ook culturele frames, zelfs wat Anna Enquist “cultuurgebonden onvertaalbaarheden” noemt, worden in het literaire vertaalproces beschouwd, omdat de (Europese) “target culture” natuurlijk andere verwachtingen heeft dan een Zuid-Afrikaans lezer met een verschillend esthetisch referentiekader of poëticaal raamwerk. De Zuid-Afrikaanse schrijver wordt ook anders gepercipieerd in de Lage Landen dan in de brontaal. Je bent zelf actief als vertaler en met Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey als zelfvertaler. Kun je iets meer zeggen over de uitdagende bemiddelaarsrol van de (zelf)vertaler?
Charl-Pierre: Jou aanhalings en stelswyses is in die kol, Yves. Ek hoef niks by te voeg nie.
Skrywers behoort bewus te wees van hul beskoulikheidspotensiaal in verskillende kontekste. Hoe beskryf Nick Cave dit op sy Murder Ballads? “At a certain angle, in a certain light ...”?
Moenie die bydrae vergeet wat Suid-Afrikaanse instansies in die transnasionale proses gemaak het nie. Ek onthou byvoorbeeld hoe ek, Daniel Hugo, Louis Esterhuizen en Bernard Odendaal vir Miriam Van hee, K. Michel, Willem van Toorn en andere in die frisse Bloemfonteinse winter vertaal het. En andersom. So van werkswinkels gepraat. Daardie was ’n werkswinkel. Ek het my vertalings van Michel se gedigte plus ’n inleiding sedertdien in Stilet (XXVIII:I, Maart 2016) gepubliseer gekry.
Wat die vertaling van my roman uit Afrikaans betref: die Engelse vertaling is op ’n bepaalde stadium aan ’n uitmuntende Engelstalige redigeerder toevertrou, soos ek genoem het. Sy het baie terughoudend maar uiters presies te werk gegaan en verlore betekeniskakels raakgesien, plekke waar dinge ontspoor, vertroebelende woordkeuses, en dit reggemaak. Dit is beter dat “selfvertaling” nie in isolasie gebeur nie. Daarom plaas ek die woord selfvertaling oplaas hier in aanhalingstekens. Werk met ’n bestaande uitgewer of met een van die omliggende literêre dienste wat toenemend in Suid-Afrika beskikbaar word.
Ten slotte moet ek terugkom op die begrip “selfvertaling”, soos deur jou, Yves, op die voorgrond geplaas in hierdie onderhoud: As ’n skrywer sy of haar eie werk vertaal het, is dit baie moontlik, indien nie waarskynlik nie, dat die speling van betekenis, waarna ek ook vroeër verwys het, van so ’n aard is dat die “vertaalde” werk eerder as ’n onafhanklike werk gesien moet word wat in wisselwerking met die aanvanklike teks staan. Met ander woorde dit is ’n vertaling van ’n baie spesiale orde waarvan ons dan praat, waarin die betekenis van vertaling nou geproblematiseerd staan.
Yves: Veel waardering voor jouw reactie, Charl-Pierre.
Charl-Pierre: Dit was goed om met jou te praat en dankie vir die uitnodiging tot kommunikasie. Dankie vir jou aandag. Ek waardeer dit ten diepste.
*
De tweespraak wordt gebundeld in Twee overzijden. Kronieken en tweespraken (Academia Press, Gent, 2024). De reeks op Voertaal bevat dialogen met schrijvers en vertalers: Benno Barnard, Simone Atangana Bekono, Robert Dorsman, Radna Fabias, Babs Gons, Lynthia Julius, Antjie Krog, Tom Lanoye, Lisette Ma Neza, Danie Marais, Charl-Pierre Naudé, S.J. Naudé, Fanie Olivier, Jolyn Phillips, Alwyn Roux, Alfred Schaffer, Riana Scheepers, Marlies Taljard, Marc Tritsmans, Hans ten Berge, Miriam Van hee, Etienne van Heerden, Marlene van Niekerk, Eben Venter, Peter Verhelst, Gert Vlok Nel en Ingrid Winterbach.