Tweespraak met Danie Marais #3: "Ek het ook begrip vir die woede waaruit hierdie standpunt kom."

  • 0

...
“My indruk is dat sommige begaafde jong bruin skrywers ook wonder of hulle deel is van die Afrikaanse letterkunde wat bruin stemme so lank nie na waarde geskat het nie.”
...
Deel 3

Lees deel 1 hier. | Lees deel 2 hier.

Yves: De literatuur van het Afrikaans is etnisch-cultureel divers en dus meerstemmig. In tal van variëteiten wordt geschreven, de talen van gemeenschappen worden aanvaard als volwaardig literair idiolect (regio- en sociolect). Ten opzichte van vroegere dagen in de Afrikaanse letteren worden almaar meer literaire teksten uitgegeven in een taaleigen dat niet tot de norm van het Standaardafrikaans wordt gerekend. Vele schrijvers voelden zich vanwege die opgelegde vereisten of verwachtingen lang buitengesloten, zoals de in het Kaaps schrijvende Nathan Trantraal (SBA-toekenning 2024) onlangs nog stelde. Hoe kijk jij naar dergelijke ontwikkelingen? Over de Afrikaanse literaire canon publiceerde ik in het werkschrift Breyvier. Over taal, burgerschap en Breytenbach (2023), meer bepaald over hoezeer die klassieken onder druk staan en hoe een jongere generatie van schrijvers (vooral schrijvers van kleur, werkend in tal van variëteiten van Afrikaans) zich verhoudt tegenover én kritisch staat ten opzichte van een witte en overwegend mannelijke canon. Nagenoeg honderd jaar was het Standaardafrikaans in het literaire bedrijf de bepalende norm. Getuigt het van een toenemende openheid van denken, aandacht voor taaldynamiek en een inclusievere cultuur dat thans in variëteiten van het Afrikaans zonder meer kan worden gepubliceerd? Komen met die toenemende inclusiviteit ook onderwerpen en thema’s, eigen aan diverse gemeenschappen die lange tijd onder de mediaradar en dus ook buiten het officiële literaire circuit werden gehouden, aan bod, dat wil zeggen: zienswijzen over ras, klasse, gender, religie of seksualiteit die voorheen in canonieke teksten veel minder aan bod kwamen?

Hein Willemse

Danie: In 1985 het Hein Willemse ’n toespraak by die Afrikaanse Skrywersgilde in Gordonsbaai gelewer. By hierdie geleentheid het hy gesê: “Ek skryf in Afrikaans. Ek stry in Afrikaans. Maar het ek deel aan die Afrikaanse letterkunde? Wat is my verhouding tot ’n letterkunde wat in essensie so diametraal tot my staan? Miskien sou my vraagstelling eerliker wees as ek vra: Skep ons aan dieselfde letterkunde?”

My indruk is dat sommige begaafde jong bruin skrywers ook wonder of hulle deel is van, en soms ook of hulle wíl deel wees van, die wit Afrikaanse letterkunde wat bruin stemme so lank nie na waarde geskat het nie of in die doofpot gestop het nie.

Dis bitter jammer, want daar is soveel jonger bruin skrywers wat nuwe leefwêrelde oopskryf en die letterkunde verruim vir almal wat Afrikaans lees en die land beter probeer verstaan. Maar ek het ook begrip vir die woede waaruit hierdie standpunt kom. Wat binne die Afrikaanse taalgemeenskap gebeur het in die afgelope honderd jaar, is so bitter dat dit naïef is om te dink daardie gif is al uit die kollektiewe liggaam. Toe Valda Jansen in 2017 die Jan Rabie Rapport-prys gewen het vir haar debuutroman, Hy kom met die skoenlappers (2016), het sy in haar aanvaardingtoespraak gesê: “Apartheid is my Boereoorlog.”

Daardie sentiment verstaan ek.

Ek kan heeltemal insien dat ’n jong geslag bruin lesers voel skrywers soos Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Jolyn Phillips, Ryan Pedro, Ashwin Arendse, Lynthia Julius, Veronique Jephtas, Brian Fredericks en Audrey Jantjies skryf vanuit ’n situasie waarmee hulle worstel en waaraan hulle onderwerp is, en nie soos wit skrywers oor daardie situasie nie – dat daar, met ander woorde, op ’n paar uitsonderings na, die eerste keer regtig iets vir hulle in die Afrikaanse letterkunde is. En dit werp dan weer Hein Willemse se vraag op: “Skep ons aan dieselfde letterkunde?”

Die tragiese ironie is dat ons tegelyk sit met ’n situasie waar mense in onderskeie groepe hul afvra: Is swart, bruin of wit dan al wat ek ooit sal wees?

Lynthia Julius

In ‘I Gepubliseerdiërs 13’ – die treffende openingsgedig van haar jongste bundel, Kinderlê (2024) – skryf Lynthia Julius in die twee slotstrofes:

Al deel ek my hartseer,
maar skryf in my wêreld se Afrikaans,
is ek nog steeds net ’n bruin digter.

Al gee ek gestalte aan my Dasein,
maar ek skryf nie soos hulle nie,
is ek ’n bruin teef wat blaf.

In my bundel, Ek en jy bestaan nie (2024), stoei ek in die gedig ‘Tussen my en jou, Tony, en eeue van sneeuwit’ daarmee dat ek in baie opsigte maar ’n wit skrywer is en derhalwe ’n perspektief na die tafel bring wat nou irrelevant voel.

Al genade is om hierdie dinge uit te skryf en uit te praat, maar dis ook goed om te weet die Afrikaanse taal- en kultuurtoneel is baie minder bleekwit as wat dit 20 jaar gelede was. My hoop is dat daar al meer in verskillende variëteite van Afrikaans gepubliseer sal word en dat hierdie variëteite en ook die letterkunde wat daarin geskep word vinnig die weg na klaskamers sal vind. Jy kan nie liefde vir ’n taal kweek by leerders wat in voorgeskrewe boeke gekonfronteer word met leefwêrelde, beeldende taal en karakters wat totaal verwyderd is van dit wat hulle ken nie.

Die oorwegend wit, manlike kanon van die verlede en die leerplanne wat daarmee gepaard gegaan het, sal noodwendig hersien en verruim moet word. Hierdie uitbreiding is gelukkig reeds besig om te gebeur, maar ons is nog baie ver van waar ons behoort te wees.

...
“In Ek en jy bestaan nie gaan dit tot ’n veel mindere mate oor intieme, interpersoonlike verhoudings. Wat dié keer sentraal staan, is die verhouding van ’n middeljarige, voorstedelike, bevoorregte wit man en sy gesin met die wanfunksionele stelsel waaruit hy en sy gesin voordeel trek. Ek het oor hierdie sosio-politiek probeer dig asof ek tegelyk binne die situasie staan waaruit ek skryf en myself onder kil kruisverhoor neem.” (Danie Marais)
...

Yves: Een decennium na jouw vorige dichtbundel is Ek en jy bestaan nie verschenen, intussen de vierde poëzie-uitgave. Over vroeger werk is wel eens opgemerkt dat het zwaarmoedig is, zelfs nostalgisch, doorspekt met tal van muzikale referenties. Danie Marais is tien jaar later een ander mens, ook een dichter die mogelijk anders tegen de dingen aankijkt. Volgens de promotietekst van NB Uitgewers is het witte dorp Stellenbosch de scène en worden “in candid , intimate conversations” moeilijke kwesties zoals ras (zoals het complexe gegeven “whiteness”) en sociale klasse aangesneden. In de aankondiging is voorts sprake van “the middle-class condition and the unbearable whiteness of being, poems that dare to talk about things people would rather leave unsaid in the suburbs of Stellenbosch where a cold civil war is quietly being waged in the leafy streets”.

Danie: Die swaarmoedigheid waarna jy in my vorige werk verwys, was in die eerste plek melankolie wat spruit uit ’n gevoel van magteloosheid, maar dikwels in my gedigte getemper word deur ironie en selfspot.

Ek stem steeds grootliks saam met wat Alain de Botton oor melankolie skryf in The School of Life – An Emotional Education (2012):

Melancholy is not rage or bitterness; it is a noble species of sadness that arises when we are properly open to the idea that suffering and disappointment are at the heart of human experience. It is not a disorder that needs to be cured; it is a tender-hearted, calm, dispassionate acknowledgement of how much agony we will inevitably have to travel through.

En as daar elemente van nostalgie met die melankolie en ironie in my vorige werk verstrengel was, was dit wat Svetlana Boym in The Future of Nostalgia (2001) beskryf het as “reflective nostalgia”, wat sy plaas in kontras teenoor “restorative nostalgia”.

Boym onderskei die twee van mekaar as volg:

Restorative nostalgia stresses nóstos (home) and attempts a transhistorical reconstruction of the lost home. Reflective nostalgia thrives in álgos, the longing itself, and delays the homecoming—wistfully, ironically, desperately.

Maar ek het ook in die afgelope dekade ernstige bedenkinge oor melankolie, ironie en “reflective nostalgia” ontwikkel. Dit is op ’n persoonlike vlak sekerlik van die minder skadelike coping mechanisms, maar binne in ’n brandende land soos Suid-Afrika en in die lig van die sosio-politiek van die afgelope dekade het dit vir my dikwels na ’n luukse of cop-out begin voel.

Dis vir my interessant dat juis hierdie spanning ook ’n gesprekstema was in die Duitse letterkunde van die Weimar-tyd. In ’n vernietigende 1931-essay oor Erich Kästner se gewilde digkuns, getiteld ‘Linke Melancholie: Zu Erich Kästners neuem Gedichtbuch’ [Linkse melankolie: Oor ’n nuwe bloemlesing van Erich Kästner se gedigte, dm], beskuldig die sosialistiese kultuurkritikus en filosoof Walter Benjamin vir Kästner daarvan dat sy swaarmoedigheid blote roetine is en dus uiteindelik neerkom op ’n soort fatalisme. (Hier is ’n Duitse weergawe van die essay: https://www.glanzundelend.de/Artikel/abc/b/benjamin_melancholie.htm. En hier is ’n Engelse vertaling: https://thecharnelhouse.org/tag/left-wing-melancholy/).

Kästner dryf die spot met die kleinburgery en steek na die bankiers, maar uiteindelik speel hy, meen Benjamin, maar in die hand van die heersersklas. Die ironie in Kästner se werk is ewe geroetineerd as die swaarmoedigheid, en volgens hom is hierdie ironie soos bakpoeier wat slegs die deeg van privaat opinie laat rys.

Linkse intelligentsia, soos Kästner en Kurt Tucholsky, reken Benjamin se funksie is, polities gesproke, nie om partye te laat ontstaan nie, maar klieks; literêr gesproke, nie denkskole nie, maar modes; ekonomies gesproke, nie produsente nie, maar agente.

Ek dink nie Benjamin is heeltemal regverdig teenoor Kästner nie – sy boeke is immers ook deur die Nazi’s verbrand. En dis moeilik om te sê hoeveel meer politieke impak Benjamin en Brecht se werk, wat meer op ’n klasse-revolusie ingestel was, gemaak het.

Maar Benjamin maak ook geldige punte oor die tekortkominge van melankolie en ironie. Met die werk aan my jongste bundel wou ek daarom, onder meer, die melankolie en ironie problematiseer wat in my vorige werk so deel was van gedigte oor gefnuikte verhoudings of besinnings oor ouerskap en beklemmende Suid-Afrikaanse werklikhede.

...

“Die bundel gaan deels oor die voorstede van Stellenbosch, nie as ’n plek van vrede en verveling nie, maar as die omsingelde hart van bevoorregting; ’n konstante psigiese ongemaksone waar ’n koue burgeroorlog stilletjies in die boomryke strate woed, soos elke benoude WhatsApp-buurtgroepie getuig.” (Danie Marais)
...

In Ek en jy bestaan nie gaan dit tot ’n veel mindere mate oor intieme, interpersoonlike verhoudings. Wat dié keer sentraal staan, is die verhouding van ’n middeljarige, voorstedelike, bevoorregte wit man en sy gesin met die wanfunksionele stelsel waaruit hy en sy gesin voordeel trek. Ek het oor hierdie sosio-politiek probeer dig asof ek tegelyk binne die situasie staan waaruit ek skryf en myself onder kil kruisverhoor neem.

Die bundel gaan deels oor die voorstede van Stellenbosch, nie as ’n plek van vrede en verveling nie, maar as die omsingelde hart van bevoorregting; ’n konstante psigiese ongemaksone waar ’n koue burgeroorlog stilletjies in die boomryke strate woed, soos elke benoude WhatsApp-buurtgroepie getuig; die voorstede as ’n grensgebied wat deur setlaars beset is wat die Oosgrens en hulle vervaarde setlaarskap oral saam met hulle sleep; mense wat nooit seker is of hulle welkom is of ooit tuis gaan wees nie; mense wat klaarblyklik ná meer as drie eeue in Suid-Afrika steeds grensboere, “frontier people”, is en nou sin moet maak van die maniere waarop hul voorouers gemaak en gebreek en geplunder het in die geloof dat hulle ligdraers van die “Westerse beskawing” was, soos daardie lantern langs die senotaaf binne die Voortrekkermonument te kenne gee.

Ek wou eerlik oor ras en klas skryf, en dit het noodwending minder melankolie en ironie beteken, want beide is ook vorme van empatie met die self.

Ek het hierdie stuk uit Tony Hoagland se essay ‘Negative Capability’ ter harte probeer neem:

Why hasn’t racial anxiety, shame and hatred – such a large presence in American life – been more a theme in poetry by Caucasian-Americans? The answer might be that Empathy is profoundly inadequate as a strategy to some subjects. To really get at the subject of race, chances are, is going to require some unattractive, tricky self-expression, something adequate to the paradoxical complexities of privilege, shame and resentment. To speak in a voice equal to reality in this case will mean the loss of observer-immunity-status, will mean admitting that one is not on the sidelines of our racial realities, but actually in the tangled middle of them, in very personal ways. Nobody is going to look good.

’n Mens sou Kästner in vandag se terme ’n hipster kon noem wat hom links en moreel superieur tot die samelewing wil posisioneer, maar uiteindelik ’n selfbedrieër en treurige meeloper van ’n neoliberale stelsel is. In die 90’s was ek ’n slacker, wat maar ’n soort proto-hipster was.

Die lang gedig ‘Goeienag, Matt Berninger’ is ’n afrekening met daardie hipster van my jeug, waarvan daar tans so baie in Kaapstad is. Want uiteindelik is die verhouding van die hipster tot die voorstede van sy herkoms nie eerlik nie. 

Ek het uiteraard nie antwoorde op al die vrae en clusterfucks waarom die bundel draai nie, maar ek wou ’n bydrae maak tot ’n gesprek wat skynbaar al moeiliker word om te voer. En daardie hele gesprek wou ek ondersoek binne die arena van ou, steeds invloedryke idees oor goed en kwaad, heldedom, chaos en beskawing, die vraaglike onderskeid tussen mens en dier.

Yves: Veel dank voor het gesprek, Danie.

***

De tweespraak wordt gebundeld in Twee overzijden. Kronieken en tweespraken (Academia Press, Gent, 2025). De reeks op Voertaal bevat dialogen met schrijvers en vertalers: Benno Barnard, Simone Atangana Bekono, Dominique Botha, Wannie Carstens, Robert Dorsman, Babs Gons, Lynthia Julius, Antjie Krog, Danie Marais, Charl-Pierre Naudé, S.J. Naudé, Fanie Olivier, Jolyn Phillips, Alfred Schaffer, Riana Scheepers, Francois Smith, Nicol Stassen, Marlies Taljard, Miriam Van hee, Marlene van Niekerk, Eben Venter, Peter Verhelst, Gert Vlok Nel en Ingrid Winterbach.

  • Foto’s van Danie Marais deur Brenda Veldtman, Hein Willemse en Lynthia Julius deur Izak de Vries
Lees ook:

Huldigingsrede | Alfred Schaffer (Tuin van Digters-feesdigter 2021)

Ek en jy bestaan nie deur Danie Marais: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Tweespraak met Danie Marais #1: "As jy Afrikaans grootgeword het, is Nederland en haar letterkunde ’n parallelle universum"

Tweespraak met Danie Marais #2: "Die idee is dus om ’n ewewigtige, kaleidoskopiese beeld oor die taalgeskiedenis te gee"

 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top