Veelsydige Deon Meyer stel nuwe Bennie-en-Vaughn-boek in vooruitsig

  • 0

Deon Meyer (Foto: LitNet)

Die verhaal van Donkerdrif is nog vars in Afrikaanse lesers se geheue wanneer Deon Meyer aankondig hy gaan die hulp van die gerekende speurduo van Bennie Griessel en Vaughn Cupido weer inroep vir belangrike werk vir ’n nuwe boek.

Meyer het dié nuus met die Nederlandse skrywer Peter Römer gedeel in ’n onderhoud wat Römer met Meyer gevoer het vir die skrywersgespreksreeks Boeken uit het Huis wat die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam aanbied.

Die Nederlandse vertaling van Meyer se jongste speurspanningsroman, Donkerdrif, het onlangs verskyn en Martine Vosmaer, wat saam met Karina van Santen Meyer se boeke in Nederlands vertaal, het oor die vertaalwerk daaraan gesels.

Van Römer het die spanningsroman Een meesterstuk onlangs verskyn by AW Bruna, waar ook die Nederlandse Donkerdrif uitgee is. Römer was verantwoordelik vir die televisiespeurreeks Baantjer toe hy vir ’n dekade lank hoof van drama by Endemol was. Nadat die skrywer van die gewilde Baantjer-boeke, Appie Baantjer, oorlede is, het Römer die gewilde reeks boeke voortgesit.

In die Suid-Afrika van Bennie Griessel en Vaughn Cupido

Römer ag Donkerdrif ’n geweldige boek, ook vir die manier waarop die aktualiteit by die verhaal ingeweef word. Gebruik Meyer aktuele sake doelbewus?

“Wanneer ’n mens aan ’n nuwe boek begin dink, dan begin jy storie-idees versamel. So baie van die storie-idees kom uit die hede uit,” het Meyer verduidelik. Hy beskou die inweef van aktualiteit by die verhaal die gevolg van assimilasie in sy skryfproses.

“Ek is ’n baie geesdriftige koerantleser en nuusleser in die algemeen. Ek dink die belangrike ding is dat ’n mens dikwels aanskryf agter die dinge aan wat vir jou emosioneel is. En my land en die omstandighede in my land is vir my dinge waaroor ek baie emosioneel voel.

Hy vertel hy sal kyk na die gebeure van die dag en hom dan dikwels sal afvra: Wat sou Bennie Griessel en Vaughn Cupido hieroor sê? Dit is ’n vraag wat die polisie, politiek en misdaadwêreld betrek.

“Dis dááruit dat ’n mens dan storie-idees begin haal; 90% is nie sinvol nie en is nie benutbaar nie, maar die ander 10% begin ’n mens dan aan werk totdat jy iets het wat jy voel ’n boek kan maak.”

Staatskaping

Vir Römer gaan Donkerdrif oor ’n groot sakeman en oor korrupsie op owerheidsvlak, en veral hoe Meyer dit verweef. Römer wou meer weet van die rol van staatskaping.

Meyer het daarop gewys dat veral in sy vorige boek, Prooi, aandag spesifiek gewy is aan die werking en uitwerking van staatskaping.

“Ek is baie dankbaar om te sê ons is nou in ’n stadium waar ons ’n nuwe president het wat ’n baie eerlike man is wat besig is om die hele staatskaping te ontbloot en te beveg. Daar is die Zondo-kommissie in Suid-Afrika wat op die oomblik ondersoek instel.”

Maar aan die gevolge van staatskaping dra Suid-Afrika nog baie swaar en dit vind dus in Meyer se verhale neerslag. “Ek dink in al die staatsinstellings en veral ook in die polisie is dit (staatskaping) nog iets wat elke dag aandag geniet.”

Kry Meyer ooit met probleme te kampe omdat hy gegewens in sy romans so helder en duidelik opstel?

“Ek dink nie die staatskapers is groot lesers nie, so hulle het nog nie enigsins vir my moeilikheid gegee nie. Ek dink mense wat in die algemeen lesers is, is in die algemeen ongelukkig oor die staatskaping. In dié opsig het ek nog net deernis en dank gekry.”

Grendeltyd

Meyer het gesê dat hy deur die jare goeie vriende geraak het met speurders wat vir die Valke werk. “Ek het ook met Donkerdrif, wat in Stellenbosch afspeel, die voorreg gehad om met die Stellenbosse speurders heelwat tyd deur te bring.”

Die grootste deel van Donkerdrif is geskryf in die Suid-Afrikaanse grendeltyd wat weens die koronavirus ingestel is. “Ek was bevoorreg om in kwarantyn nog steeds met die speurders te kon kommunikeer per e-pos en selfoongesprekke om seker te maak dat ek al die feite min of meer reg het.

“Bennie Griessel en Vaughn Cupido kom van die Valke af, die elite-eenheid. Hier moet hulle nou (in Donkerdrif) vir ’n gewone polisiestasie se speurspan werk en dinge werk so ’n bietjie anders. Veral Vaughn se waardigheid word erg daardeur aangetas. Daar is baie lekker materiaal om mee te werk om die tekstuur van die boek meer eg en realisties te maak.”

Maniere van vertel

Römer is, benewens skrywer en akteur, ook regisseur en skrywer vir radio, televisie en toneel. Benewens sy werk by Endemol en met Baantjer het hy al verskeie romans en saam met sy vrou, Annet Hock, reeds twee spanningsverhale geskryf.

Meyer is, benewens veelvertaalde en bekroonde skrywer, ook rolprentmaker en draaiboekskrywer vir sowel televisie- as filmwerk. Onlangs is wyd berig oor die ridderskap wat hy van die Franse regering ontvang het vir sy skryfwerk.

En deesdae kan hy homself boonop as suksesvolle sanger ag (saam met Lize Beekman is hy te hoor op die duet “Oase” op haar album Hier en nou). Hy het hom ook reeds as bekwame fotograaf bewys.

Dít teen die agtergrond van die onlangse opvoering van Karoo suites, ’n inry-teaterervaring waarvoor hy vertellings en sy fotografie met die talente van die bekende Suid-Afrikaanse sanger Coenie de Villiers saamgesnoer het.

Ontwikkelende beelde

Römer het Meyer in 2017 ontmoet op Schiphol toe Meyer die biblioteek daar met ’n tentoonstelling van sy landskapfoto’s geopen het.

Römer het hom gepols oor die ruwe skoonheid van die landskappe op die foto’s teenoor die harde sosiale realisme in sy spanningsromans.

Uit die aard van wat misdaadfiksie is, maak dit ’n venster oop op ’n sekere deel van enige samelewing wat misdadig is, oftewel die donkerder deel van enige samelewing, het Meyer gesê. “Dis iets wat ek dikwels oor nadink, want as ’n Nederlander my boeke lees, gaan hulle dink dit ís hoe Suid-Afrika is. Maar dit is nie die volle prentjie nie,” het hy benadruk. “Daarom probeer ek as ek op ’n buitelandse boektoer is, baie hard om vir mense die ander deel van Suid-Afrika, die pragtige land, die wonderlike mense, die gasvryheid, die natuurlewe, die landskappe ook te illustreer. Die fotografie is vir my baie nader aan bloot nog ’n manier van storie vertel.”

Vir Meyer gaan sy skrywerskap daaroor dat ’n mens ’n storie het waaroor jy opgewonde is en wat jy wil deel. “Hoe meer mense die storie kan geniet, hoe lekkerder is dit vir jou. En met my fotografie is dit presies dieselfde.”

In Meyer se boeke kom ’n mens karakters teen wat in en buite die boeke lewe, soos die sangeres Lize Beekman. Sit daar dan ’n bietjie Deon Meyer in Bennie Griessel? wou Römer weet.

In alle karakters wat ’n mens skep, veral in protagoniste, is iets van die skrywer en iets anders in elkeen van die karakters, het Meyer gesê.

Hoewel Meyer en Bennie Griessel ’n liefde vir die baskitaar deel, is Bennie ’n baie beter baskitaarspeler as sy skrywer, het Meyer gekorswel.

“Ek het so ’n bietjie baskitaar gespeel in my jong dae. Ek was glad nie goed gewees nie.

“Ek dink ek het my musieksmaak vir Bennie gegee. Ek hou baie van die blues, veral die ou blues, die oorspronklike blues.”

Hy vertel Bennie “is ’n bietjie jonger” as hy, maar “deel dieselfde liefde vir musiek en veral goeie baskitaarspelers”. “Ek deel ook Bennie se bewondering vir iemand soos Beekman, nie net as sangeres nie, maar ook as mens. En dan vir iemand soos (die gerekende baskitaarspeler) Schalk Joubert.”

Bennie Griessel oorwin die cliché

Was Bennie Griessel van meet af aan bestem om ’n hooffiguur vir ’n reeks romans van Meyer te wees? wou Römer weet.

Bennie het die eerste keer in Meyer se Feniks ’n verskyning gemaak toe die skrywer ’n karakter nodig gehad het om iets te laat gebeur wat ’n storiewending sou bewerkstellig. “Ek het toe vir ’n spesifieke toneel ’n dronk polisieman nodig gehad om die protagonis se lewe so ’n bietjie te bemoeilik.”

Hy het dié karakter geskoei op ’n speurder wat hy destyds by die Moord-en-roof-eenheid in die Kaap ontmoet het en het hom vernoem na Bennie Griessel, die seun van sy gunstelingonderwyser op skool. En toe Meyer die toneel klaar geskryf het, was dit vir hom of die karakter gesê het maar hy wil nóg ’n rol in die boek speel.

Dit was vir Meyer die soort karakter wat iets op die bladsy laat gebeur, wat vir hom meer kreatiewe keuses gee, wat die opwinding van die storie aanhelp, en daarom het sy rol toe ’n bietjie groter geword in die boek.

Toe dit wel gebeur dat Bennie Griessel prominensie kry twee boeke later, het Meyer besef dat die kameekarakter in die cliché van die speurder-alkoholis vasval. Hy het heelwat tyd daaraan moes afstaan om te dink hoe hy die karakter meer realisties en mensliker kan maak ten einde die cliché te bowe te kom.

Vir Römer gaan dit veral om teenstellings in Bennie Griessel se karakterisering: Hy is ingewikkeld vir homself, ’n gevierde polisieman wat elke dag rusie met sy meerderes het en terselfdertyd ’n swak selfbeeld.

Bennie Griessel, verduidelik Meyer, is nie ’n uitsondering nie. Inteendeel. “Bennie het twee kinders wat hy moet onderhou. Hy het ’n eksvrou aan wie hy onderhoud betaal het. En hy het groot finansiële skade met die egskeiding gely. So hy sukkel nog om finansieel op sy voete te kom. En ek dink dis nie ver van die waarheid af nie. Daar is baie polisiemense wat maar sukkel om deur te kom.

“Ek verwys in sommige van die boeke na die Bennie voordat hy begin drink het, en hy wens hy kan weer daardie Bennie wees. Die jong Bennie was ’n gevatte jong man gewees vol selfvertroue, met ’n goeie sin vir humor, ’n sterspeurder. Toe kom sy groot val toe hy ’n dronkaard geword het en amper sy werk verloor het. En ek dink hy was so teleurgesteld in homself gewees dat hy steeds sukkel om daardie selfvertroue te herwin.”

Duo vermeerder verhaal se moontlikhede

In Donkerdrif werk Bennie Griessel en Vaughn Cupido opnuut saam. Römer wys daarop dat by hierdie soort duo's, waarvan die grootste cliché Sherlock Holmes is, die medekarakter en helper alleen maar daar is om die hoofkarakter groter te laat vertoon. Maar in die geval van Bennie Griessel en Vaughn Cupido gaan dit om totaal verskillende tipes en vul hulle karakters mekaar enorm aan.

“In die eerste boek waarin Cupido verskyn het, was daar groot wrywing tussen hom en Bennie gewees, want hulle was twee heeltemal verskillende persoonlikhede. Konflik is die moeder van spanning. Hoe meer konflik die karakter het met homself en met die mense om hom en met sy wêreld, met die owerhede of wat ook al, hoe hoër kan jy die spanning bou.

“So, Cupido was aanvanklik bloot net ’n instrument om spanning te skep deur wrywing met Bennie, maar dan begin hulle wedersydse respek ontwikkel en dan begin ’n mens agterkom as skrywer dat dit wat tussen die twee karakters gebeur, vir jou ’n klompie opsies bied.

“Een van die nadele om ’n enkelvoudige karakter soos Bennie alleen te laat werk, is dat die leser dan alles ervaar nét uit Bennie se dikwels bietjie donker siening, terwyl Vaughn ’n ander dimensie bring – hy maak ’n ander venster oop op die gebeure.”

Omdat Griessel uitgebeeld word as iemand wat al vir jare ’n polisieman is en ’n sekere siniese houding het van die polisie, die wêreld en die land, het Meyer ’n karakter nodig gehad wat ’n teenpool kan bied, om positiewer te wees oor die Valke, die polisie en oor die land. “Die twee het heeltemal verskillende probleme. Dit was net iets wat op papier vir my gewerk het.”

Navorsing en kreatiewe besluite

Vir die vertel van ’n storie gaan dit oor kreatiewe besluite wat ’n skrywer moet neem, het Meyer gesê. “Wat Vaughn dan na so ’n boek toe bring, wat die twee sáámdoen, is hulle vermenigvuldig mens se kreatiewe keuses in terme van wat jy met die storie kan doen.”

Het Meyer die verhaal dan reeds klaar wanneer hy begin skryf? Is dit uitskryf of ontwikkel hy ’n verhaal tydens die skryf daarvan?

Dit is iets van albei, het Meyer te kenne gegee. “Wanneer ek begin, het ek een moontlike einde in sig, een wat ek in gedagte het wat ek dink: Dít kan werk.” Maar wat tussen die begin en die einde gebeur, is iets wat hy in die skryfproses moet verken.

“Dis ’n ontdekkingsreis wat ek saam met met die karakters deurgaan en dis iets wat elke dag gebeur,” het Meyer verduidelik.

Navorsing gee ’n mens die meeste kreatiewe keuses, meen Meyer. Sodoende kan dit gebeur dat terwyl hy skryf, hy ’n nuwe einde kry omdat daar nuwe inligting is waarmee hy kan werk en wat na sy gevoel opwindender, interessanter en spannender is.

Nuwe karakters verg tyd

Sien Meyer ’n toekoms vir Bennie en Vaughn?

“Ek dink nie ek kan meer vir Bennie en Vaughn skei nie,” antwoord Meyer. “Ek dink nie meer aan ’n Bennie Griessel-boek nie, ek dink aan ’n Bennie-en-Vaughn-boek.

“Hulle is al vir my soos ’n getroude paartjie – hulle hoort bymekaar. Ek dink nie hulle kan regtig sonder mekaar nie, en die vreugde wat hulle vir my gee in die skryfproses sal alles verlore wees as ek die een of die ander moet verloor. So as Bennie eendag aftree, sal Vaughn ook moet aftree.”

Dit val Römer op dat Meyer persoonlike besonderhede invoeg vir die karakterisering van die twee karakters.

Meyer meen ook sy lesers geniet die persoonlike-lewe-deel van karakters, nie net hul beroepsy nie.

Römer stel eweneens belang in die Donkerdrif-karakter Sandra Steenberg, wat hy beskryf as ’n “jong, moderne, hardwerkende vrou wat diep in die shit sit en daar met niemand oor kan praat nie”. Is sy moeiliker om te skryf as byvoorbeeld Bennie?

Nuwe karakters is vir Meyer baie dieselfde as om nuwe mense te leer ken. Dit verg tyd. “Toe ek vir Sandra geskep het, het ek die idee gehad van wat ek met haar wil doen. Ek het haar geskiedenis redelik in my kop gehad, maar dan is dit nog steeds ’n proses en jy moet tyd deurbring saam met haar, jy moet probeer om in haar gedagtewêreld te kom. Jy moet jouself in haar skoene plaas en indink hoe dit moet wees.

“Ek was vir baie lank in my lewe baie armoedig gewees, so ek het geweet hoe dit is om maar bang te wees vir die bankbestuurder. Maar dan is die tweede deel natuurlik om karakters te skryf wat ’n ander geslag as jy is of ’n ander etnisiteit as jy het, dan raak dit nog méér gekompliseerd en moet jy meer navorsing doen, meer dinkwerk doen. En meer herskryf. Dis maar net baie harde werk.”

Vertaalkeuses

Vosmaer en Van Santen ken mekaar sedert hul studies aan die Instituut vir Vertaalkunde in Amsterdam en werk sedert 1983 saam. Onder skrywers van wie hulle werk in Nederlands vertaal het, tel Samuel Beckett, Salman Rushdie, Richard Ford, Simon Schama, Karen Armstrong en Ali Smith (vir Lente van Smith het hulle in 2020 die Europese literatuurprys ontvang). Uit Afrikaans het hulle onder andere Etienne van Heerden se romans Dertig nagte in Amsterdam en Klimtol vertaal en van SJ Naudé Alfabet van die voëls, benewens verskeie boeke van Meyer.

As hulle ’n boek vertaal, lees hulle dit oor die algemeen vir eers nié, het Vosmaer gesê. In die geval van Meyer gebeur dit dat hulle wel al agter die gang van die verhaal aan bly vertaal.

In die eerste weergawe maak hulle talle aantekeninge, ook van dinge wat byvoorbeeld nie vertaal word nie en waarvoor hulle dan later ’n oplossing gaan bedink. Vosmaer wys daarop dat daar baie dialoog in werke van Meyer is en dat veral dít telkens moeilik is om te vertaal, want aan die een kant wil hulle die inligting in die boek goed oordra, maar terselfdertyd moet dit ook heel natuurlik klink en vloei. En sekerlik met ’n taal wat so verwant is as Afrikaans aan Nederlands moet ’n vertaler oppas dat jy nie die Afrikaanse vloekwoorde behou nie, want dan val dit in die Nederlands heeltemal vreemd op, het Vosmaer gesê.

Bennie Griessel besig Standaardafrikaans en sy kollega Cupido Kaapse Afrikaans “wat heel veel moderne taalgebruik bevat en wat heelwat Engels daarin het”. Wat doen die vertaler in só ’n geval? En hoeveel van die Engels laat jy staan?

’n Verskil tussen die Nederlandse en die Afrikaanse lesersmark is dat laasgenoemde etlike bladsye Engels sal lees, maar dit is nie so voor die hand liggend vir ’n Nederlandse leser nie, het Vosmaer benadruk. In die meeste gevalle kies Vosmaer en Van Santen om dan die Engels in Nederlands te vertaal, want hulle wil nie bladsye Engels aan die Nederlandse leser voorlê nie. Wat hulle wel doen, is om van tyd tot tyd Afrikaanse woorde te gebruik.

Draaiboeke en verwerkings

Römer wys daarop dat die skryf van ’n boek ’n heeltemal ander energie en gebeurtenis bevat as die skryf van ’n scenario. Ervaar Meyer dit ook so?

“Absoluut, dis ’n ander wêreld. Vir my is dit ’n heerlike ánder manier van storie vertel wat ek in die skryfproses baie anders ervaar as boek skryf.”

’n Lokprent van Jagveld, ’n rolprent waarvoor Meyer die oorspronklike draaiboek geskryf het, is by die onderhoud ingesluit. “Ek het al aan verskeie boeke se verwerking vir televisie en een vir film gewerk. En dis óók anders. Om ’n boek te verwerk en aan te pas vir ’n draaiboek, of dit vir ’n televisiereeks of ’n film is, is baie anders as om ’n oorspronklike draaiboek te skryf,” het Meyer gesê.

Römer meen as dit om die verfilming van ’n boek gaan, bly die beste raad “Take the money and run”, want rolprentlui gaan die boek se verhaal bes moontlik verniel.

Meyer het jare gelede saam met die skrywer Michael Connelly in Amerika ’n boektoer gedoen en hy het met Connelly dieselfde kwessie bespreek; dit was toe daar toenemend belangstelling ontstaan het in Meyer se boeke vir televisie en rolprente. Connelly het vir Meyer dieselfde raad gegee, het hy gesê. Connelly het wel onlangs sy eie Harry Bosch-televisiereekse gemaak. “En ek dink dis een van die twee keuses wat jy het: Óf jy moet maar die geld vat en die asem ophou en wegkyk óf jy moet betrokke wees. Met Cape Town was ek nie betrokke nie en ek was baie teleurgesteld in die reeks gewees. Ek het nie gedink dis ’n baie goeie televisiereeks nie en ek het dáár besluit dat as ek kan betrokke wees, as dit moontlik is, dan sal ek graag wil.”

Meyer het saam met twee vennote ’n filmmaatskappy. Hulle het Trackers verfilm (die Nederlandse en Afrikaanse titel van die boek is Spoor). “Ons het dit saam verwerk in ’n televisiereeks waarby ek betrokke was en ek is baie meer gemaklik daarmee hoewel ons dikwels van die boek afgewyk het. Dit is wat die reeks gevra het. Ek is tevrede en trots op die eindproduk.”

Meyer is tans aan die werk aan drie nuwe projekte “in ’n tyd van ’n baie honger stromingsmedia waar die aanvraag vir nuwe inhoud baie groot is”. Hulle hoop om binne die volgende maand of twee aankondigings daaroor te doen.

“Dit hou my ongelukkig ’n bietjie weg van boek skryf af op die oomblik, maar ek hoop om ook daarmee te begin binne ’n maand of twee.”

  • Meyer se Donkerdrif en Römer se Een meesterstuk verskyn by AW Bruna.
  • Op Donderdag 27 Mei gesels Ama van Dantzig met die digters Ronelda S Kamfer en Alfred Schaffer, PC Hooft-pryswenner en vertaler van Kamfer se digbundels, waaronder Chinatown.
Lees ook:

Persbericht ‒ Boeken uit het Huis (4): Ronelda Kamfer en Alfred Schaffer

Donkerdrif: ’n onderhoud met Deon Meyer

Donkerdrif deur Deon Meyer: ’n boekresensie

Suidoosterfees 2021: ’n onderhoud met Deon Meyer

Deon Meyer is ''met groot warmte en gasvryheid regoor Nederland ontvang''

Waardering vir skrywer Harry Kalmer kring uit in Nederlands

Zuid-Afrikahuis se gespreksreeks oor Afrikaanse skrywers en boeke begin met Jolyn Phillips se Bientang

Persbericht: Boeken uit het Huis (3): Deon Meyer en Peter Römer

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top