Waardering vir skrywer Harry Kalmer kring uit in Nederlands

  • 0

In ’n land sonder voëls, die laaste roman van die bekende Suid-Afrikaanse skrywer Harry Kalmer (1956–2019), het vroeër vanjaar in die Nederlandse vertaling van Rob van der Veer onder die titel In een land zonder vogels by die uitgewery Aldo Manuzio verskyn.

Dit is onlangs bespreek op Boeken uit het huis, ’n program aanlyn waarin die Zuid-Afrikahuis in samewerking met die Taalunie werke van Afrikaanse skrywers aan ’n internasionale gehoor bekendstel.

Angelie Sens, direkteur van die Zuid-Afrikahuis, het die program ingelei en die sprekers bekendgestel. Hans Pienaar, digter, skrywer, joernalis en gereelde bydraer tot Voertaal en LitNet, het oor Kalmer se oeuvre en gunstelingwerke gesels en van hul dekades lange vriendskap vertel. Die uitgewer, Pieter Rouwendal, het vertel van sy leeservaring van In ’n land sonder voëls en sy besluit om dit te laat vertaal. Van der Veer het sy benadering en werk aan die vertaling toegelig.

Prolifieke skrywerskap

Kalmer het bykans ’n dosyn romans en ander fiksiewerke geskryf, ook bykans twee dosyn toneelstukke, en hy was as advertensieskrywer werksaam, het Pienaar gesê. Hy het Kalmer veral vir sy sin vir humor uitgesonder. Dit blyk uit sy verhale sowel as sy werk aan die skerpsinnige Nando’s-reklameveldtogte wat politici telkens die hoenders in gemaak het, juis vanweë die priemende humor daarvan. (Op LitNet word Kalmer se lewe en werk ook in ’n ATKV-Skrywersalbum bespreek.)

Wêreldburger met ’n Johannesburgse hart

Omtrent al Kalmer se werke speel af in Johannesburg of verwys daarna, het Pienaar gesê. “Hy het homself egter ook as ’n wêreldburger beskou. Vandat ons as Suid-Afrikaners in die jare tagtig vryer kon begin beweeg, het hy ’n hele paar keer oorsee gereis na die VSA en na Europa en ook na Sri Lanka. Hy en sy gesin het deur die hele Suid-Afrika gereis met vakansies, van die Kalahari tot in die Transkei.”

Pienaar ag Kalmer se stadsroman ’n Duisend stories oor Johannesburg sy magnum opus. Dit gaan oor Zweig van Niekerk, ’n argitek wat oorsee gaan woon en wat dan terugkeer na Suid-Afrika om ’n lesing te kom lewer. Stories van die vestiging van Johannesburg as stad tot 2008 se xenofobiese aanvalle vorm deel van die boek.

Johannesburg het hom altyd gefassineer, het Kalmer self in ’n uittreksel van ’n video-opname vertel. Die boek het vir hom gegaan oor die gevoel van om te behoort en om nie te behoort nie, en die digotomie tussen daardie twee dinge – dat dit gaan om ’n immigrantestad op vele vlakke en met die talle gemeenskappe wat al vir lank daar woon. Die omslagkuns is geskep deur Joey HiFi en in die omslagontwerp is temas in die boek belig: argitektuur, modernisme, geweld en die geskiedenis. Die storielyn, het Kalmer vertel, het hy doelbewus baie stadig na vore laat kom, soos ’n foto wat ontwikkel word.

Die waarheid en ander stories

Temas en eienskappe van Kalmer se werk blyk by terugskoue al sedert sy eerste bundel kortverhale, Die waarheid en ander stories, teenwoordig te wees. Dit het by Taurus verskyn en Pienaar het as die uitgewer opgetree. Aanvanklik het hy gemeen die titel werk nie en het Foto’s van ’n ou grasperk voorgestel, die titel van een van die verhale, terwyl Harry gesê het: “Nee, dit moet Die waarheid wees.” Waarop Pienaar toe gesê het: “Maar die waarheid verkoop nie.” Kalmer antwoord: “Maar dit is nie daardie soort waarheid nie.” ’n Vriend van albei, Neil Goedhals, het vanuit die woonstel langsaan kom kyk wat aangaan. Sy raad? Die titel moet wees Die waarheid en ander stories. Volgens Pienaar is dit dan ook inderdaad “een van die dinge wat regdeur Kalmer se oeuvre een van sy sterkste eienskappe is, hierdie klem op stories”. Die titel verwys na die titelverhaal, wat gaan oor ’n besoek van Harry aan Lesotho, waar hy mense besoek het wat gevlug het vir die staat, onder wie wit mense wat teen apartheid was en daar in ’n kamp gewoon het. Op ’n stadium het die Suid-Afrikaanse Weermag hierdie kamp aangeval en mense het gesterf. Kalmer se verhaal gaan oor een van hierdie mense. Dit was die jare tagtig en hulle was albei heftig teen apartheid en hulle wou iets daaromtrent doen in navolging van mense soos Breyten Breytenbach en André P Brink.

“Ons het ’n groepie gestig wat hom beywer het vir die afskaffing van diensplig en ’n bundel kortverhale saamgestel genaamd Forces favourites, en een van Harry se verhale is daarin opgeneem.” Later sou hulle hoor dat die weermag optrede teen hulle beplan het, maar Magnus Malan is omgepraat om hulle te los omdat hulle dan net gratis publisiteit sou kry. “Dit was maar met gemengde gevoelens dat ek dit gehoor het,” het Pienaar gesê. Hy en Kalmer het hulle vir eers by die United Democratic Front (UDF) geskaar, ’n organisasie wat in die tagtigerjare ontstaan het uit verskeie organisasies op voetsoolvlak en wat teen apartheid was en teen die staat opgetree het. “Maar ons is gou gekonfronteer met ’n soortgelyke etos van sensuur en voorskriftelikheid as die staat s’n. ’n Paar van ons is gevra om te dink aan die oprig van ’n kultuurafdeling en dit het mense ingesluit wat later baie bekend sou word, soos die kunstenaar William Kentridge. Ons het ons die een ná die ander uitgespreek teen die idee dat ons opdragte van ’n kultuurkantoor moes uitvoer of werk deur hulle moes laat keur of net propaganda moes versprei. Dit was geweldig bevrydend vir Harry sowel as vir my om op ons onafhanklikheid aan te dring. En later, toe daardie afdeling nou wel in die lewe geroep is, is dit eenvoudig geïgnoreer en het dit nooit veel invloed gehad nie.”

Harry Kalmer (1956–2019) (Foto: LitNet)

Op die planke

Onder die teaterwerke uit Kalmer se pen sonder Pienaar onder meer Die Bram Fischer Wals uit. “Nadat Fischer Mandela verdedig het tydens die Rivoniaverhoor, een van die draaipunte in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, is Fischer in hegtenis geneem en aangekla daarvan dat hy ’n revolusie probeer bevorder het, wat natuurlik so was as synde ’n lid van die Kommunistiese Party,” het Pienaar gesê. In videomateriaal is Kalmer self aan die woord oor die toneelstuk: Hy wou die verhaal vertel op ’n manier wat net in die teater vertel kon word en sonder dat dit ’n geskiedenisles of hagiografie was, ook omdat die herdenking van Fischer se geboorte 100 jaar tevore feitlik ongemerk verbygegaan het in 2008.

Nog ’n werk, en een waarvoor Kalmer baie bekend en geliefd was, is Die man met die dertien kinders, wat verskyn het net nadat die ANC aan bewind gekom het nadat die nagmerrie van apartheid verby was. Pienaar vertel dat dit vir verskeie verhoë aangepas is; dit was op die radio en op kunstefeesverhoë veral gewild. Hy som dit op as die verhaal van ’n man wat ’n krisis in sy lewe beleef en dan vind dat hy deur vir die 13 kinders in sy lewe te sorg, weer sin in die lewe kan kry. Die manier waarop Kalmer dit regkry dat die kwessie van verskillende rasse onder hierdie kinders geensins saak maak nie – dit is in 1998 gepubliseer – was iets wat baie mense ontroer het, het Pienaar gesê. “Veral mense wat ná die apartheidera iets wou vind waarmee hulle kon identifiseer wat hulle die ding mee kon regmaak. Hierdie man met sy 13 kinders van alle rasse het ’n snaar aangeroer.”

Van kunsterade na kunstefeeste

Toe die ANC aan bewind gekom het, het die toneelwêreld drasties verander. Die kunsterade is afgeskaf en Afrikaanse kunstenaars en vervaardigers het begin om Afrikaanse kunstefeeste te hou op dorpies in skoolsale en kerksale, waar ook al daar ’n verhoog was. Kalmer was een van die werklike staatmakers van hierdie kunstefeeste met werke uit sy pen gereeld op die planke, en hy is gereeld gevra om iets te doen, het Pienaar vertel. “Hy het omtrent 23 toneelstukke geskryf. Hieronder tel Frida Kahlo's eyes, die verhaal van ’n vroueprogramaanbieder wat ’n konneksie maak met (die skilder) Frida Kahlo in ’n tyd toe Kahlo baie gewild geraak het, internasionaal, ook in Nederland. Harry was werklikwaar ’n feminis. Ek dink vroue het veral aanklank gevind by sy werk omdat hy vroue so goed verstaan het.

“Teen hierdie agtergrond kan ’n mens dan toneelstukke beskou soos Die dinge van ’n kind, Kalmer se verwerking van die boek van Marita van der Vyver wat handel oor ’n groepie jong vrouens, jong meisies wat worstel met hulle ontluikende seksualiteit en die verdrukkende Calvinistiese gemeenskap waarin hulle grootgeword het. Maar ook teen die agtergrond van hul kêrels en boyfriends wat na die grens toe gestuur word vir ’n oorlog wat hulle nie verstaan nie. Dit was ’n situasie baie soos dié in Viëtnam toe mense net gedwing is om te gaan.

“En dan was daar The Bitterbek Blues of Ben (die breker) Bartman, oor ’n rofstoeier wat aan die slaap raak net voor die einde van apartheid en 14 jaar later wakker word.”

“Hy kon omtrent enige soort boek skryf”

Pienaar wys daarop dat Kalmer van een genre na ’n ander kon oorgaan, oënskynlik sonder enige moeite. Briewe aan ’n rooi dak het begin as ’n toneelstuk en dit is saam met Ben die Breker opgevoer as ’n tweeluik. Briewe is die verhaal van ’n bejaarde vrou wat vermoed dat iemand besig is om haar huis dop te hou en haar skade wil aandoen. Sy is eensaam en sy het geen familie meer nie. Sy het niemand om na toe te gaan of om haar na te wend nie. Dit is in die tyd ná apartheid waar veral die polisiedienste in Suid-Afrika erg in duie gestort het. Dit was die situasie van vele bejaarde mense wat in vrees geleef het, het Pienaar gesê.

“Wat Harry ook gedoen het, later, was om die briewe self te skryf en in koeverte te sit en die koeverte in ’n boek saam te stel en dit is dan so verkoop. Dit is vandag ’n baie gesogte item onder versamelaars.”

Briewe aan ’n rooi dak en ook ’n ander toneelstuk met die titel Wolke het Harry uiteindelik versamel in Die lekkerste deel van dood wees, wat ook ’n baie gewilde boek was. En dan is daar ’n volgende bundel kortverhale, Groceries, wat ook ’n baie besonderse boek is. Dit bestaan uit Harry se tipiese kort stories, maar by elkeen van hulle het die uitgewer ’n kunstenaar gevra om ’n kunswerk te skep.”

Pienaar het benadruk dat Kalmer “omtrent enige soort boek kon skryf”.

“Jy sou sekere mense uit die jare sewentigs en tagtigs oor X-Ray Visagie en die Vingers van God kon uitvra en hulle sal sê nie net hét hulle sy boek nie maar dat dit voos gelees is soos wat hulle dit rondgestuur het onder mekaar. Natuurlik ook omdat dit lynreg teen die establishment ingegaan het. Dit is ook ’n boek wat die hoofstroomuitgewers aanvanklik nie wou uitgee nie en selfs Taurus nie voor kans gesien het nie. Dit is later deur Tafelberg uitgegee.

“Dit is die storie van X-Ray Visagie, ’n vasvrakampioen, wat ontvoer word deur ’n groep wat hulleself die Vingers van God genoem het en wat geglo het aan ‘die regte demokrasie’. Dit is ’n strokiesprentagtige vertelling waarin Harry se minimalistiese stories nog korter geword het. As die Vingers van God uiteindelik gevang word, dan ontstaan daar maar net ’n nuwe organisasie met die naam van die Vriende van die Vingers van God. Daarin sien ’n mens blyke van Harry se wonderlike sin vir humor.”

Benewens romans en kortverhale was Kalmer die skrywer van die gereelde Vlieger-rubriek in Rapport.

“Harry se Vlieger was ’n seun uit die sewentigs en tagtigs soos Harry self en wat met die meer ongure kant van die lewe te doen het, maar ook op ’n baie vermaaklike en humoristiese manier van sy lewe vertel. Vlieger het sy naam gekry nadat hy deur die Blou Trein gestamp is terwyl hy op die treinspoor gespeel het; hy het egter niks oorgekom nie. Ek dink daar was herstrukturering by die koerant en dit het ’n einde aan die gereelde Vlieger-rubriek beteken. Harry het vir Vlieger gelaat op die grens waar hy pas in ’n aanval beseer is.” So baie mense het egter toe geskryf en gevra wat van Vlieger geword het dat die rubriek daarna nog ’n paar aflewerings beleef het. Harry het daarna voortgegaan en nog stories geskryf wat later in die boek Vlieger gebundel is.

Benewens pryse en benoemings vir sy literêre werke was Kalmer ’n bekroonde reklameskrywer. “Harry het in die negentigs rond by die agentskap Hunt Lascaris aangesluit toe daar ’n opbloei was in die plaaslike advertensiebedryf en Harry het baie goeie vriende geword met John Hunt, een van die stigters. Later was hy deel van die span wat advertensies gemaak het vir Nando's. Hierdie advertensies het baie bekend geword omdat hulle dikwels politieke sake van die dag vir komiese effek betrek het.”

’n Kompas in roerige tye

Pienaar sê hy sal Harry onthou vir hul kameraadskap wat in die tagtigs ontwikkel het terwyl hulle probeer bepaal het waar die kunstenaar staan in verhouding tot dinge wat reggestel moet word in die gemeenskap onder drukkende stelsels soos apartheid.

“Ek het hom altyd as ’n lodestar gesien. Hy het nooit sy politieke beginsels prysgegee nie en het aangetoon hoe ’n mens werklik moet maak om jou integriteit te behou. Harry was ’n geweldige performer wanneer hy saam met sy vriende gekuier het of saam met sy gesin was.”

“Dit moet vertaal word”

Jare gelede het Rouwendal Karel Schoeman se Hierdie lewe (in Nederlands Dit leven) gelees en het hom daarna verplig gevoel om daardie boek uit te gee. Hy was sodanig onder die indruk van die literêre kwaliteit daarvan dat hy van mening was dit móét in Nederlands vertaal word.

Vir Rouwendal was Kalmer se werk ’n leeservaring op ’n wyse wat hy laas met Hierdie lewe ervaar het. “Daar het ek opnuut verplig gevoel – die boek moet in Nederlands verskyn.”

Hy kon sien dat Kalmer ook vir die toneel geskryf het, want die skrywer van In ’n land sonder voëls laat gewoon sien wat gebeur en stel karakters aan die woord.

En wat Rouwendal veral knap vind aan die boek, is dat die skrywer halfpad deur die verhaal jou beeld van die hoofpersoon totaal laat verander. “En as jy dit teruglees, klop dit. Dit is nie so dat die persoon verander is nie. Maar deur die inligting kom jy meer te weet. En daarby ontwikkel die karakter in die loop van die verhaal.”

Die boek speel af in die nabye toekoms waarin ingrypende klimaatsverandering plaasgevind het. Mense het na Suid-Afrika gevlug en het daar ’n heel goeie lewe, maar onder ’n merkwaardige regime, dié van die ekonokrasie, ’n bedryf wat oor die hele land heers, oënskynlik met ’n sagte hand, maar in werklikheid met ’n ystere greep. Alles wat daarteen ingaan, word uitgeskakel. So ’n opset vind Rouwendal beklemmend, want jy dink: So iets sou kon gebeur; ons ken dit natuurlik van die kommunisme en sien dit nog in totalitêre regimes wat alles van die mense wil beheer, selfs hul gedagtes en herinneringe. Herinnering speel dan ook ’n heel belangrike rol in hierdie boek en by die hoofpersoon Adam Burger wat besluit om in verset te kom teen die regime.

Die verhaal sit ontsettend goed inmekaar en die verrassende wendinge pas heeltemal daarby in as jy dit weer lees, het Rouwendal gesê. Vir hom is die feit dat Kalmer spanning so goed kan doseer, ’n toonbeeld van die gehalte van sy skrywerskap.

Entoesiastiese ontvangs

Die vertaler deel Rouwendal se entoesiasme oor die boek. Van der Veer is sowel literêre vertaler as vertaaldosent aan die Vertalersvakschool in Amsterdam. Aanvanklik het hy werke uit Engels vertaal, maar vertaal reeds geruime tyd ook uit Afrikaans in Nederlands en lei gereeld besprekings van Afrikaanse werke in die Zuid-Afrikahuis, wat hy gereeld besoek en waar hy ’n dryfkrag vir die gereelde leeskring daar is.

As vertaler van onder andere werke van André P Brink in Nederlands het hy hom, deur middel van Brink se skryfwerk, toegespits op die bestudering van Afrikaans, iets waarvoor hy gereeld die Zuid-Afrikahuis kon besoek. 

In ’n land sonder voëls het hy van begin tot einde deurgelees omdat Kalmer weet hoe om ’n leser van meet af aan by ’n verhaal in te trek, het Van der Veer gesê. In ’n gewone spanningsverhaal kan jy taamlik aflei hoe dit gaan verloop, maar in Kalmer se hantering van spanning in ’n verhaal word die leser verras.

“Die hoofstukke eindig telkens met ’n spanningsverhogende mededeling. En dit is die krag van Harry Kalmer se verhale – dit is ‘en toe? en toe?’-verhale. Jy wil weet wat daar verder gaan gebeur.”

Kalmer gebruik die truuk om as jy in die eerste hoofstuk ’n geweer aan die muur gehang het, moet jy sorg dat dit in die derde bedryf afgevuur word. En as die hiëna in die donker blaf, moet jy sorg dat dit weer terugkom, het Van der Veer gesê.

“Ek het die einde van die boek gelees en ek het gedink: Wát? Dít is nie hoe ek verwag het dit sou eindig nie. Kalmer het my onkant gevang. Ek moes dit eintlik opnuut gaan lees ten einde te verstaan hoe alles inmekaar sit. Dit is dan die literêre meerwaarde wat Kalmer in sy verhaal tot stand gebring het. Daarna het ek onmiddellik alles van hom gaan lees. Ek het inderdaad weer op die fiets gespring en na Zuid-Afrikahuis gegaan. En met ses boeke tuisgekom. En dit het ek almal in ’n anderhalf week gelees. En dit is ook die krag van Kalmer se romans. Jy kan hulle agtermekaar lees omdat hulle elke keer anders is.”

Vertaalkeuses

Van der Veer begin gewoonlik met ’n kursories ontleding van die teks wat hy gaan vertaal. “Dit hoef geen langdurige proses te wees nie. Meestal sien jy op die eerste paar bladsye hoe die vurk in die hef steek. By Karel Schoeman sien jy al meteens dat hy van lang sinne hou. Dat hy die tyd neem om ’n sfeer te skep. En by Harry Kalmer val dit onmiddellik op dat hy aan sy verhaal vaart gee en dat hy spanning wil opbou. Ook in hierdie boek skryf hy kort hoofstukke, soms heel korte sinne. En soms heel korte paragrawe.”

Vertaalkeuses het hy toegelig aan die hand van uittreksels uit die oorspronklike teks en sy vertaling.

“Hy kies vir die kortheid opsetlik net soos wat Karel Schoeman soms kies vir ’n heel lang sin. Schoeman was nie daarmee gediend dat jy sy sinne opknip nie. Jy word dus gedwing om dit heel langsaam te lees. Dit het ek in die vertaling ook weergegee.”

Eweneens meen hy Kalmer sou nie die kort sinne wou sien aan mekaar gelas word nie.

“Verder het hy sinne wat opgebou is op verskillende maniere, soos om kommas te gebruik waarin die sinne opsommend funksioneer. Op ander plekke doen hy dit met die woord ‘en’. Ook dít is ’n bewuste keuse. As jy oral die verbindende kommas weglaat en dit vervang met ‘en’, dan ontstaan ’n eenvormige, saaier teks as wat die skrywer wou hê. Dit is dinge wat jy as vertaler moet respekteer. Dan, ook heel belangrik, is die ritme. Hy orden sy gegewens op so ’n manier dat die spanning opgebou word.

Oor die algemeen is Afrikaans ’n taal wat heel veel op Nederlands lyk, maar dit is ’n taal uit eie reg, het Van der Veer gesê.

Vir die Nederlands het hy die lydende vorm benut omdat dit sodoende “makliker was om die inligting op te bou en tegelykertyd spanning te skep. Daar word gesê dat die lydende vorm alleen maar gebruik kan word in amptenaretaal. Maar dit is nie so nie. Die lydende vorm is ’n heel spesifieke Nederlandse instrument om ’n sin heel helder op te bou.”

Van der Veer is vol lof vir die Suid-Afrikaanse literatuur. “Daar word boeke in Afrikaans geskryf wat nie in Nederlands geskryf word nie, boeke wat alleen maar geskryf kan word in ’n bepaalde omgewing. En ek dink dat daar in die toekoms veel meer sulke soort boeke geskryf sal word.”

Lees en kyk ook op Voertaal en LitNet:

Persbericht: Boeken uit het Huis (2) ‒ Harry Kalmer

Harry Kalmer se In ’n land sonder voëls nou in Nederlands

In ’n land sonder voëls deur Harry Kalmer: ’n resensie

Om te steier onder die sterftes rondom jou

Harry Kalmer en die troos van telefoontekste

Zuid-Afrikahuis se gespreksreeks oor Afrikaanse skrywers en boeke begin met Jolyn Phillips se Bientang

Persbericht: Boeken uit het Huis (1) ‒ Jolyn Phillips en Yves T’Sjoen

Aldo Manuzio se Pieter Rouwendal: "Ik geef graag die boeken uit, die ik zelf niet meer weg kan leggen"

Angelie Sens, nieuwe directeur Zuid-Afrikahuis: "Onze collecties weerspiegelen een gedeeld koloniaal verleden."

Samewerkingsooreenkoms met die Afrikaanse Taalraad: ’n onderhoud met Kris Van de Poel (Nederlandse Taalunie)

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top