Wes-Kaap wen veld teen COVID-19

  • 0

…………

“‘’n Werk is nie sommer net iets lekker om te hê nie. Dit is die verskil tussen kos op die tafel en hongersnood, het Winde gesê.”

…………

Die Wes-Kaap, wat tot onlangs die episentrum van die koronavirus in Suid-Afrika was, is besig om goeie vordering te toon in die stryd teen COVID-19. Die provinsie wil nou die tweede pandemie takel, naamlik werkloosheid.

“Alles dui daarop dat die COVID-19-pandermie in die Wes-Kaap besig is om te stabiliseer en begin afplat in sekere gebiede. Inwoners moet egter steeds waaksaam wees,” het die provinsie se premier, Alan Winde, Woensdag gesê.

Winde het tydens ’n digitale nuuskonferensie gesê die provinsie se gesondheidsdienste het dag en nag gewerk om te verseker dat die gesondheidstelsel voorbereid is om die nodige diens te lewer aan elke enkele persoon in die provinsie wat dit gedurende dié tyd nodig mag hê.

Winde het in ’n mediaverklaring na die tyd gesê die provinsie het van meet af besef streng inperking was in die begin van die pandemie noodsaaklik om tyd te koop om die gesondheidsdienste gereed te kry. Hy sê sy regering het nie hierdie verantwoordelikheid as vanselfsprekend aanvaar nie. Hy sê hy is dankbaar vir elke persoon in die Wes-Kaap wat met vasberadenheid gewerk het om toe te sien dat die beste moontlike diens aan die inwoners van die Wes-Kaap gelewer word.

Die premier sê hoewel dit goeie nuus is dat die pandemie se kurwe in die Wes-Kaap tekens toon om af te plat, beteken dit nie die provinsie kan nou op sy louere rus nie. “Inteendeel, dit beteken ons moet selfs meer waaksaam wees. Ons moet seker maak dat die kurwe in al die gebiede in die regte rigting beweeg, naamlik afwaarts. As ons nou die voet van die pedaal haal en nie voortgaan om ons gedrag te verander nie, loop ons die risiko van ’n nuwe vlaag positiewe gevalle en ’n groter toename van koronavirusgevalle in die toekoms. Ons kan nie bekostig dat dit gebeur nie,” het Winde gesê.

Foto: Canva.com

Volgens Winde berei die Wes-Kaap hom nou voor om die tweede en ewe ernstige pandemie, naamlik werkloosheid, in die provinsie te takel. Winde sê die Wes-Kaap se provinsiale regering is daartoe verbind om ook hierdie pandemie wat in die provinsie wortel geskied het, met alle mag te beveg.

Winde sê die realiteit is dat die Wes-Kaap ’n ernstige humanitêre krisis in die gesig staar. Tienduisende mense het hulle werk en inkomste verloor. “’n Werk is nie sommer net iets lekker om te hê nie. Dit is die verskil tussen kos op die tafel en hongersnood,” het Winde gesê.

Die ekonomie moet volgens die premier op ’n verantwoordelike wyse weer aan die gang kom. Hy sê die provinsie sal met die private sektor en besighede saamwerk om hulle daarmee te help. Hy sê hy het reeds ’n brief aan die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, en die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, geskryf om ’n vergadering te belê om die impak van die noodregulasies op die Wes-Kaap se ekonomie, veral op die mees kwesbare gemeenskappe, te bespreek. 

Volgens Winde kan die sukses wat die Wes-Kaap tot dusver het om COVID-19 te beveg, toegeskryf word aan ’n getuienisgebaseerde, datagebaseerde benadering in hierdie ongekende gesondheidstoestand. Deur ’n wetenskaplike benadering te volg en vir die ergste te beplan en voor te berei kon die Wes-Kaap die situasie volgens Winde goed bestuur.

Hy sê deel van die proses is ’n voortgesette assessering van die data om seker te maak die provinsie bly op die regte koers en dat hulle oor al die nodige nulpbronne beskik wat nodig is om die pandemie te bestuur.

Wes-Kaap se minister van maatskaplike ontwikkeling, Sharna Fernandez, het tydens Woensdag se virtuele nuuskonferensie gesê die getal mense in die provinsie wat in ouetehuise van COVID-19 herstel moet ook verwelkom word.

Winde sê sy boodskap aan mense in die Wes-Kaap is om:

  • maskers in die openbaar te dra
  • gereeld hande te was met seep en water of handreiniger te gebruik
  • sosiale afstand van minstens 1,5 m te handhaaf
  • oppervlakke by die huis en werk skoon te hou
  • nie aan jou gesig te raak met ongewaste hande nie
  • by die huis te bly as jy siek is en die noodnommer (012 928 4102) te skakel vir advies (diegene met asemhalingsprobleme en diabete moet onmiddellik mediese hulp soek).

Lees ook 

Moedverlore restaurante vaar strate in

Krisis in drankbedryf weens COVID-19 op spits gedryf

Ramaphosa wil ekonomie aan die gang kry

COVID-19 laat baie onbeantwoorde vrae

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top