Wyfie
Deur: Homebrew Films
Reeksregisseur: Johan Cronje
Hoofskrywer: Marcel Spaumer
Ouderdomsperk: R18
Gestroom op Showmax
Met:
Beáta Bena Green as Shay
Celeste Loots as Amanda
Kristen Raath as Kyla
Mienke Ehlers as Mia
Waarom plak ons ouderdomsbeperkings van 18 op reekse wat jong mense moet voorberei op die lewe? Ja, daar is seks en mooi lywe in die stuk, maar juis...
As Wyfie ’n boek was, sou ons dit ’n bildungsroman genoem het. In Engels sou dit ’n young adult novel gewees het. Die twee terme beteken nie heeltemal dieselfde nie, maar beide word hier gebruik om te toon dat ons in Afrikaans juis nie woorde het vir boeke, of sepies, wat kyk na jong volwassenes se lewe nie. Meer nog: Afrikaans het ’n enorme nood aan hierdie soort storie.
Nou is daar Wyfie en Wyfie is Afrikaans. Dit is beslis die kyk werd. Waarom dan die ouderdomsbeperking? In Nederlands is daar byvoorbeeld die Anne-reeks met Hanna van Vliet (as Anne) wat heerlik die lakens deurmekaarkrap terwyl sy op universiteit is. Die Nederlandse reeks is ligte vermaak en beslis niks anders as ’n stomende sepie nie, maar dit was gewild.
Wyfie het veel meer om die lyf as daardie reeks, net soos die film Anne+ veel beter was as die reeks.
Die storielyn vorm om hierdie karakters
Daar is vier karakters op wie hierdie verhaal fokus. Hulle woon in ’n keldergedeelte van ’n “dameskoshuis” verbonde aan ’n universiteit genaamd Die Eike. Die koshuis is in ’n dorp wat nogal bewustelik op Stellenbosch geskoei is.
Shay (Beáta Bena Green) is ’n intelligente meisie wat dink oor die lewe. Sy en Amanda (Celeste Loots) is al baie jare lank vriende.
Amanda is ’n vrygees. Beslis intelligent, maar ook so onseker van haarself dat sy verkies om sorgeloos voor te kom. Sy is ’n baie sterk karakter.
Saam met hulle in die kelder is Kyla (Kristen Raath). Kyla kom uit ’n bitter arm gesin en studeer om vir haarself ’n toekoms te bou. Sy kom uit ’n streng Christelike tradisie. Die meisie wat ’n kamer met haar deel, is Mia (Mienke Ehlers).
Dit is moeilik om twee groter teenoorgesteldes as Mia en Kyla in een kamer te hê. Mia sleep feitlik elke aand ten minste een nuwe man bed toe. Sy het geld. Sy vloek soos ’n matroos.
Dit is die vier karakters en nou het julle sommer ook ’n opsomming van die storie, want hoe op aarde navigeer hierdie vier jong mense hul lewens?
Kyla wil en moet studeer en het nooit genoeg geld nie.
Mia en Amanda is skynbaar besig om elke druppel van die eerstejaarsnektar op te suig.
Shay wil graag haar eie mens wees, maar Amanda oordonder haar.
Kyla wil diep binne haar eintlik ook soos Mia, haar kamermaat, wees. Om die waarheid te sê, sy kan nie wag om saam met Mia in die bed te beland nie, maar hoe op aarde kan sy met ander oor hierdie fantasie praat? In haar kerk word nie oor seks gepraat nie en gay seks is so sondig dat jy glad nie eers daaroor mag droom nie.
“Word groot,” sê die storie vir die karakters.
“Hoe?” vra die karakters.
“Kom ons vind uit,” sê die storie.
Hulle wat het en nie het nie
Ek het self my eerste paar studiejare op ’n bitter klein begroting oorleef. Dit was soms moeilik om te glo dat ander soveel meer geld het om te blaas. Maar al was ek aan die arm kant van die spektrum, was ek ook alte bewus van diegene wat nog minder het.
Juis sonder om sedeprekies af te steek, maak Wyfie ook daardie punt. In episode vier hardloop die studente weg sonder om te betaal ná hulle by ’n restaurant geëet het. Jy sien dan hoe die kelner huis toe gaan met enkele sente in sy hand – hy moes inbetaal omdat die wat meer het, hom bevark het.
Die kontras tussen Kyla en Mia lig ook hierdie kwessie uit.
Shay, wat poog om haar stem te vind, is die een wat graag ander se oë wil oopmaak, maar haar stem is te sag en sy kan of wil nie opstaan teen haar portuurgroep nie. Wanneer sy ook deelneem aan die groepsdruk om die restaurant te verlaat sonder om te betaal, verloën sy haarself maar net nog ’n keer.
Wyfie is ligte vermaak, maar nie vlak nie.
Studentelewe op “Afrikaanse kampusse”
Jan Glazewski, die skrywer van Blood and silver, vertel sy pa wou hom na Stellenbosch stuur, maar hy het geweier. Die ontgroeningspraktyke het hom afgesit en hy is na die Universiteit Kaapstad. Dit sou teen die middel van die jare sewentig wees dat hy die besluit moes neem.
Die uwe is deur presies daardie argument met my pa. My pa wou ten alle koste dat ek ’n Matie word en ek het soos ’n steeks bok geweier. Daardie koshuislewe was alles wat ek met mening gehaat het. Toe is ek na die destydse Natal-Universiteit. Ek het daardie besluit aan die einde van die tagtigs gemaak en is steeds dankbaar daaroor.
Die skrywer PP Fourie plaas op 25 Januarie 2024 die volgende op sy Facebook-blad: “Ek is spyt oor baie dinge in my lewe, maar dat ek nié op Stellenbosch koshuis toe is nie, is nie een van hulle nie.”
Hy verduidelik dit op 26 Januarie 2024, ook op Facebook: “Men’s residences: Where trauma-bonding = ‘culture’ & esprit de corps.”
Fourie is steeds verbonde aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het wel weggebly van die koshuiskultuur.
Wyfie is klaar geskiet en klaar verpak lank vóór die Wilgenhof-skandaal bekend geword het in die media. Tog speel hierdie verhaal sonder twyfel in op die gekke-idees van Afrikaanse kampusse, veral dan dit wat op Stellenbosch gebeur het.
In episode 1 word daar kamers uitgedeel volgens ’n puntestelsel. Diegene wat die meeste aan “koshuisaktiwiteite” deelgeneem het, kry die hoogste punte. Hoe hoër die punte, hoe beter is die kans op ’n goeie kamer.
Gemelde “koshuisaktiwiteite” is, wel... Kyk maar self.
Die term wyfie waarna die reeks vernoem is, kom dan ook van die gebruik om die eerstejaarstudente in hierdie bepaalde koshuis te ontgroen. Hulle is “wyfies” tot hulle toegelaat word om mense te word – wanneer die seniors sê hulle mag.
Die punt van hierdie hele “geesvangding” is natuurlik om almal mooi soos skapies te laat saamloop in ’n trop.
Wyfie gaan oor vier skapies wat elkeen op hul eie manier nie heeltemal seker is oor die trop nie – hoewel veral Amanda baie sterk voel ’n mens moet maar saamloop; dit is net vir drie jaar van jou lewe.
Studentelewe op “Engelse kampusse”
Ek het skaamteloos gekies om in Engels te studeer omdat ek botweg geweier het om ’n skaap te wees. Dit was ’n goeie keuse.
Die verwelkoming van studente het bestaan uit helse partytjies en deelname was vrywillig. Jy is as ’n individu aanvaar en jou keuse is om deel te hê aan aktiwiteite, of nie.
Op kampusse soos Rhodes en die Pietermaritzburg-kampus van die toenmalige Natal-Universiteit is enkelkamers verskaf, waar moontlik. Nog eens is die individu se menswees in ag geneem.
“Afrikaanse kampusse” word “Engels”
Neville Alexander het voorgestel dat daar ten minste twee Afrikaanse universiteite moet wees in die nuwe Suid-Afrika. Stellenbosch sou een wees.
Die ander universiteite, soos die Universiteit Pretoria, het baie gou verengels en het nog vinniger gewerk na die afskaf van sotlike praktyke. Nie al die pogings om ontgroening af te skaf was dadelik ewe suksesvol nie, maar Tuks was inderdaad ’n leier in die vermensliking van hulle kampusse – soms met ernstige teenkanting van links én regs. Ek kan nie nou daardie hele debat hier probeer voer nie, maar dis belangrik dat a) Tuks se bestuur moeite gedoen het om talle van die gekketradisies ongedaan te maak en b) die universiteit baie daarvoor gekritiseer is, uit alle oorde.
Stellenbosch. Ag nou ja. Die bestuur het Afrikaans uitgewerk, maar die grootbase was nog altyd te bang om die werklike probleem onder hulle neuse te hanteer, lees maar die koerante.
Wyfie speel met hierdie gegewens.
Vir ernstige studente was daar nogal altyd ruimte by Maties. In ’n onderhoud wat deur Showmax vrygestel is, sê Beáta Bena Green (wat Shay speel):
Maar my ervaring op Stellenbosch was baie anders as Shay s’n. Meestal omdat ek soos een van die ander karakters in die reeks was, Kyla: ’n pliggie. Iemand wat heeltemal toegewy aan hul studies is. Ek was super gefokus, en ek het dít geniet.
Sy is nie wit nie, sy was ’n akademiese student en sy het Stellenbosch geniet.
Dit is belangrik om dit ook te sê, want om slegs die negatiewe op te rakel, is ook vals.
Enkelkamers vs dubbelkamers
Ek wil, baie tong in die kies, nie rêrig erken dat ek van hierdie sepie hou nie, maar glo my, dis moeilik om op te hou kyk. ’n Deel van Wyfie se lekker lê juis daarin dat dit lig is, dit ís lekker vermaak. So, oukei, ek geniet dit.
Dan is daar ook die loerbroereffek. Dis amper soos Big Brother, jy beloer die meisies se navigasie van die lewe. Lekker.
Maar...
Dis wanneer ’n mens begin krap, wanneer ’n mens begin vrae vra oor die spanning tussen “kultuur” en “bevoorregting” en die regte van die individu vs die groep, dan raak Wyfie interessant. Hoeveel studente moes nie al, soos Kyla, met hul hande in hulle hare sit weens ’n kamermaat nie? As jy kla, is jy gesê jy moet grootword.
Aan die begin van 2024 het ’n baie goeie vriendin wat op Maties gestudeer het, haar dogter by Rhodes afgelaai en het ’n paar dae by ons oorgebly.
Sy het destyds haar tyd op Stellenbosch geniet – is selfs baie eerlik dat sy gereeld in Wilgenhof gaan oorbly het weens die feit dat ’n vriend van haar se kamermaat siek was. Sy het dus ’n bed in Wilgenhof gehad vir wanneer sy wou. Sy het veilig gevoel in Wilgenhof.
Ander vriendinne het ander ervaringe van manskoshuise gehad, maar hierdie superintelligente vrou is positief oor haar jare in Stellenbosch se koshuise, selfs oor Wilgenhof.
En tog: Vir haar dogter was sy ontsettend bly oor die enkelkamers in Rhodes se koshuise.
Ons twee het baie gepraat oor enkelkamers en dubbelkamers. Ek het haar toe gevra om ook Wyfie te kyk, want ek wou graag haar siening hoor.
Teen daardie tyd het ek reeds die eerste drie episodes gekyk.
Ná die eerste episode het sy laat weet dat sy nie genoeg sepies kyk om die reeks te beoordeel nie, maar dat dit of “baie dom” of “baie slim” gaan wees. Toe voeg sy erg filosofies by: “Dalk is dit albei. In die samelewing is ons, like, daar is baie dom goed en baie slim goed en die twee kom nie rêrig bymekaar uit nie.”
Vier dae later kry ek die volgende boodskap oor episodes 2 en 3:
Hi, het na die ander twee gekyk. Ek was totaal absorbeer. Dit was soos universiteit vir my gevoel het. Almal eksperimenteer... En baie in SA universiteite kom uit “gekloosterde” kinderdae. Die reeks is definitief ’n “sepie”, en ek voel dit vertel ’n relevante storie ... so ver!
Bildungsverhale en die vermiste young adult-stories
In Afrikaans het ons kinderverhale en jeugverhale. Dan skielik is alles net vir volwassenes.
Jonger kinders lees graag oor ouer kinders, dit is hoe ons vir die lewe leer voorberei.
Goeie lesers van ouderdomme 8 tot 11 lees dus verhale oor kinders van ongeveer 12 tot 16. Sulke verhale moet versigtig geskryf word, want jy kan nie iemand van 8 blootstel aan kru seks nie. Dus? Die 16-jariges wat karakters is in hierdie soort verhaal, se harte mag darem begin klop as ’n beduidende spesie van die teenoorgestelde geslag, of die dieselfde geslag, hul opwagting maak. Soms, ná groot fanfare, sou ’n ligte piksoentjie toelaatbaar wees.
Punt.
Dit is ons jeugverhale.
Hierdie jeugverhale word dikwels nog deur kinders gekoop (of ma word gevra om hulle te koop). Verder doen hulle baie goed in die klaskamer. Ons skoolstelsel kom natuurlik nog uit Brittanje se Victoriaanse era, so geen vuil woorde nie, so min moontlik Engelse woorde in Afrikaanse boeke en, ja, geen hormone nie.
Wat gebeur egter as die jong lesers self hul hormone begin beleef? Dan lees hulle graag oor mense van 18 tot 25. Hierdie lesers wil meer weet oor goed wat nooit in Suid-Afrikaanse klaskamers toegelaat sal word nie. Dus, ons Afrikaanse lesers skakel oor na Engelse young adult-boeke, of hulle kyk Engelse reekse op stromingsplatforms.
Die idee van jongvolwassefiksie werk gewoon nie in Afrikaanse skole nie.
In Afrikaans was daar al goeie “jeugverhale” wat die grense toets – dink maar aan Fanie Viljoen se Pleisters vir die dooies of sy sonderlinge Offers vir die vlieë. Gemelde boeke is baie goed, maar gaan beslis nooit in gemiddelde Afrikaanse klaskamers aanbeveel word nie.
Ons vind dus dat jongvolwassefiksie soos Halley se komeet deur Hannes Barnard of selfs werk deur die sprankelende Joha van Dyk deur volwassenes gelees word, nie deur diegene vir wie dit eintlik geskryf is nie.
Die Duitse term bildungsroman ondervang in ’n sin hierdie ongemaklike hiaat in die letterkunde. In Afrikaans sal ’n bildungsroman tradisioneel deur volwassenes gelees word, al gaan dit oor die grootwordervaringe van ’n jonger persoon. Maar juis omdat dit vir die volwasse leser bemark word, sal ’n handjievol jonger lesers dit ook lees en geniet.
Nou, wat het dit met Wyfie te doen?
Alles.
Wyfie is ’n grootwordsepie.
Enige jong mens wat op pad is na die universiteit, moet dit ervaar, maar die ouderdomsbeperking is 18. Ja. Sug. Ons woon in Suid-Afrika.
Die werklikheid vs fiksie
Meer as een van my vriende se kinders is hierdie jaar eerstejaars. Ek het self al twee telge deur naskoolse opleiding betaal. Ek geniet dit om te hoor hoe die jong klomp die universiteite ervaar en aanpas by hulle omgewing. Ek is nuuskierig oor hul ervaringe en dankbaar as hulle bereid is om dit met my te deel.
Ek moet erken dat ek Wyfie met dieselfde nuuskierige oë volg. Ek weet dit is fiksie, maar ek bly wonder wat die karakters volgende gaan aanvang.
Terloops: die klankbaan kook. Dis Angie oeh se nalatenskap hierdie.
Oe, dis lekker!
Ek vermoed mense jonger as 18 sal Wyfie interessant vind, al dink die sensuurraad hulle mag nie. Dalk is dit ’n goeie ding dat ons dit van jong mense probeer weghou, nou sal oud én jonk dit hopelik skelm kyk!
- Foto’s verskaf
Sien ook:
Trompoppie, pret wat alte na aan die ontgroeningswaarheid is