Japan is dekor- en ontwerphemel

  • 0

Die moltreinstasies se mure is oud en nuut en antiek en modern en regtig iets om te sien.

  • Foto’s: Clifford Roberts

My oorlede moedertjie het geglo as dit van Japan kom, is dit kwaliteit en so onbewustelik word jy met daardie wete groot. Nooit in jou wildste drome dink jy dat jy self eendag in die land in dekorwinkels sal staan en self kan voel, kyk en ruik aan dié wêreldbekende ontwerpe nie.

Japannese ontwerp is wêreldwyd bekend vir sy estetiese eenvoud, funksionele elegansie en diep kulturele betekenis. Met wortels wat terugstrek na antieke tradisies, het Japannese ontwerp ontwikkel en wêreldwye tendense beïnvloed, terwyl dit ’n sterk verbintenis met sy historiese en kulturele erfenis behou.

Die geskiedenis van Japannese ontwerp kan teruggevoer word na antieke tye, waar dit gevorm is deur verskeie invloede van China, Korea en inheemse Japannese tradisies. Vroeë Japannese ontwerp is sterk beïnvloed deur godsdienstige en filosofiese idees, veral Boeddhisme, wat konsepte van minimalisme, rustigheid en die skoonheid van die natuur bekend gestel het. Hierdie beginsels sou later sentraal staan ​​in Japannese ontwerpestetika.

.......
Vroeë Japannese ontwerp is sterk beïnvloed deur godsdienstige en filosofiese idees, veral Boeddhisme, wat konsepte van minimalisme, rustigheid en die skoonheid van die natuur bekend gestel het. Hierdie beginsels sou later sentraal staan ​​in Japannese ontwerpestetika.
.......

Volgens ’n verslag deur die Japan Design Foundation wat in 2021 gepubliseer is, het die ontwerpbedryf in Japan daardie jaar $70 miljard tot die land se ekonomie bygedra. Dit sluit produkontwerp, argitektuur en ander kreatiewe bedrywe in. Ek is nie verbaas nie, want heelwat Japannese ontwerpe pronk in ons huis – soos miljoene ander huise regoor die wêreld.

In die Silk-restaurant aan boord is die spyskaart met die Japannese meisie vir my só mooi, ek wil dit sommer huis toe neem en raam!

Ons is vir 11 dae aan boord die Norwegian Cruise Line (NCL) Spirit-skip van Suid-Korea na Tokio onderweg. Agt dae hiervan is tussen die Japannese eilande.

In die Silk-restaurant aan boord is die spyskaart met die Japannese meisie vir my só mooi, ek wil dit sommer huis toe neem en raam!

Ek sien uit na die dag dat ons vir Tokio in die program ingewerk het, om na dekorwinkeltjies, ontwerpmuseums en mooi geboue te gaan kyk.

Die pragtige ingang na ’n ondergrondse wynwinkel in Tokio.

Ek het nie besef dat die dekorreis reeds in die piepklein Ishigaki sou begin nie. In ’n deurloop van ’n baie onindrukwekkende grys gebou, nogal die Euglena Mall genoem, is ’n hele paar winkeltjies en restaurantjies. Ek stap by Hamauta in – bloot omdat die geure uit die winkel my neus verlei het.

Die winkel het die mooiste handgemaakte tafeldoeke, klere, servette en afdroogdoeke van die eiland se Mieya Minsa-tekstielhuis, maar dis die pottebakkerswerk van die Ishigaki-yaki Pottery Studio wat uitstaan. Daar is eenvoudige bakkies met ronde rantjies in verskeie helder kleure, maar dis die inlegwerk met skulp, goud, silwer en blink lak wat my sal bybly.

Ek het nie besef dat die dekorreis reeds in die piepklein Ishigaki sou begin nie. In ’n deurloop van ’n baie onindrukwekkende grys gebou, nogal die Euglena Mall genoem, wag Hamauta.

Kintsugi (of kintsukuroi), die eeue-oue kuns waar gebreekte pottebakkerswerk met goud- of silwerkleurige lak weer aanmekaargelas word, lê amper die klem op die gebreektheid en deur dit weer heel te maak, fokus dit meer op die skoonheid en waarde daarvan.

“Kintsugi is ’n metafoor om die onvolmaakthede en foute wat simboliseer dat breke en herstelwerk deel is van ’n voorwerp se geskiedenis, nie iets om weg te steek nie, te omhels,” vertel die winkelassistent toe sy sien waarna my oë telkemale terugkeer.

Ek koop twee klein kobaltblou en groen bordjies met goue krakies as soewenier.

Klein kykies na ou Japan.

Ek het ’n jaar of wat gelede eerstehands met Kintsugi te make gehad op die stel van die realiteitsprogram, In die sop, waarvan ek die inhoudsvervaardiger was.

Ons het baie min tyd gehad om alles af te rond voor die kamerawerk vir die nuut-opgeknapte restaurant gedoen moes word. Die oulike wasbakkie uit Johannesburg was laat en toe dit uiteindelik per koerier arriveer, is die opwasgedeelte lelik gebreek. Misi Overturf, die reeks se dekorghoeroe, het onmiddellik Kintsugi voorgestel en hoe treffend is die buite-wasbakkie nie in Joon in Muizenberg nie!

Die wasbakkie by Joon waarvan Misi die binnekant met Kintsugi reggemaak het.

In Naha is Mimuri die plek om te gaan as jy vir mooi sakke of klere soek, maar die winkeltjie is toe met ons besoek. Ek loer deur die vensters en is spyt dat een van dié veelkleurige vrolikhede met ruwe getekende blomme, groente en vrugte nie saamgaan huis toe nie.

Osaka Kasteel is een van die land se bekendste bakens.

Ons staan vir twee dae in Osaka oor, maar daar is soveel te sien en te doen dat ons nie kans kry om dekor of ontwerp na te jaag nie. Ek is wel verstom oor hoe mooi die wenteltrappe in Osaka Kasteel is. Die huidige gebou is in 1628 voltooi en het verskeie aanvalle en bomme en oorloë oorleef en is vandag ’n moderne museum, waarvan die opknapwerk in 1997 voltooi is. Oud en nuut dans hier foutloos saam.

In Osaka is ek verstom oor hoe mooi die wenteltrappe in Osaka Kasteel is. Oud en nuut dans hier foutloos saam.

In Okinawa kry ons die mooiste selfoonhouers en stuur vinnig WhatsApp-boodskappe huis toe om te hoor wie het watter iPhone en Samsung, om die regte houer vir die regte foon te koop. Op pad terug na die skip toe, sien ons ’n indrukwekkende gebou met ronde balkonne wat met plante omring is. Voor die gebou is ’n betonstruktuur waarop die stad se treine loop. Die mooi lê in die kontras.

Nie ver daarvandaan nie, steek ’n draak se kop uit die sypaadjie – net hoog genoeg dat jy op sy lang snoet kan rus voor jy die straat oorsteek. Dit lyk asof hy onder die oppervlak swem en net opgekom het vir lug.

’n Draak steek kop uit op ’n sypaadjie – net hoog genoeg dat jy op sy lang snoet kan rus voor jy die straat oorsteek. Dit lyk asof hy onder die oppervlak swem en net opgekom het vir lug.

In die Ujuna-hawe in Hirosjima staan ’n blink spiraalvormige monument, die Tower of Paradise. As jy van die boonste dek van die skip afkyk, sien jy daar is ’n blou ster wat onder die monument pryk. Die monument is futuristies en blink en vreemd, in vergeleke met die somber geskiedenis van die dorp.

In die Ujuna-hawe in Hirosjima staan ’n blink spiraalvormige monument, die Tower of Paradise.

Ons is uitgemergel na die dag se toer na die atoombommuseum en dankbaar om die skip in die hawe te sien. Maar ek stap gou na die oorkant van die parkeergebied om ’n foto te neem, toe ek sien mense kom met wegneemkoffie uit ’n fabrieksgebou agter my.

Bo en onder: Die eeue-oue tempels is pragtige voorbeelde van eenvoud en funksionaliteit, maar estetika staan nie terug nie.

Nuuskierige agie gaan stel ondersoek in en vind die ACTUS Hirosjima-winkel, ’n wonderlike vertoonstuk van Japannese ontwerp. Daar is meubels, klere en dekorstukke met eenvoudige lyne, in natuurlike materiaal soos klei en klip en bamboes, hout en linne en kerse, wierook en gegeurde vuurhoutjies wat alte mooi verpak is.

In Okinawa sien ons ’n indrukwekkende gebou met ronde balkonne wat met plante omring is. Voor die gebou is ’n betonstruktuur waarop die stad se treine loop. Die mooi lê in die kontras.

Die een geurreeks het name soos Forgiveness, New Beginnings, Hope, en hoe treffend is dit nie na die dag se ervaringe nie.

Langsaan hoor jy hoe die koffiemasjien bone maal by Soholm Cafe en in Arinco Bakery koop jy geurige soetkoekies in die vorm van vissies. Dit word Taiyaki genoem en stel die vorm van ’n rooi seebrasem voor.

In restaurante is daar mooi saké-houers of sojasous- of teepotte. Daar is die mooiste handgeskilderde papierwaaiers teen die mure en selfs die geverfde lappe voor restaurantdeure basuin uit dat iemand oor ontwerp en funksionaliteit gedink het met hul ontwerpe. Dié lappe word noren-gordyne genoem en het ’n spleet in die middel waardeur jy na binne stap. Dit wys die restaurant is oop én bied ook beskerming teen son, wind en stof. Dis funksioneel en dekoratief en tipies Japannees.

Bo en onder: Selfs die dreindeksels in Japan is mooi!

Ons sit op die boonste dek van die skip en kyk hoe Tokio naderkom. Ek lees vir my geliefde wat Japandi en wabi-sabi – wat my vriendin wasabi-dekor noem – beteken.

“Dat ek ook darem kan saampraat as ons in dié mooi dekorwinkels kom,” was sy aanmerking vroeër.

Ek lees op: “Wabi-sabi is ’n Japannese ontwerpfilosofie wat skoonheid vind in onvolmaaktheid, verganklikheid en eenvoud. In interieurs verkies dit kalmerende, minimalistiese ruimtes met natuurlike materiale, aardse kleure en verouderde, handgemaakte items wat egtheid en tyd weerspieël.

“Japandi meng Japannese minimalisme met Skandinawiese knusheid (hygge) en kombineer wabi-sabi se waardering vir onvolmaaktheid met funksionele warmte. Dit bevat neutrale palette, skoon meubels, natuurlike teksture soos hout en rottang en ’n fokus op lig, groenigheid en ’n doelbewuste leefstyl.”

Dan arriveer ons in Tokio met sy 37,4 miljoen inwoners. Niks kan jou waarlik voorberei vir die strome mense nie. Toerismefoto’s wys dikwels ou Japannese bruggies by houtdakkies en gemanikuurde bome. Maar daar is min sulke plekke.

Bo en onder: Die interessante geboue wat bekende handelsmerke soos Boss, Louis Vuitton en Rolex huisves.

By die Shibuya-kruising stap daar dikwels 4 000 mense oor die voetoorgang elke keer as die robot rooi vir verkeer en groen vir voetgangers is. Mens dink nie jy sal hier vrede vind nie, tot jou oog die L’Occitane-winkel op die oorkantse hoek sien.

Dié Provensaalse lyfprodukte-onderneming het selfs ’n eie kersiebloeisel-verpakking en -geur vir Tokio ontwerp. Ek gaan ruik dié handeroom en parfuum en stap op by die trappe na die restaurant bo, om daar in vrede te sit met koffie.

Die mooie kafee van L’Occitane in die besige Tokio.

By die Le Creuset-afdeling in die Isetan-winkelsentrum is daar selfs Japannese eetstokkies en rusblokkies vir jou stokkies, in dié handelsmerk se kenmerkende glans-, helder kleure.

Ek volg Google Maps na HAY en Cibone in Zingumae, Shibuya-ku.

Bo en onder: In HAY en Cibone is die ontwerpe bont, maar eenvoudig en funksioneel.

HAY en Cibone bied ’n opwindende verskeidenheid Japannese en Westerse dekorgoedere vir die “altyd ontwerp-honger” Tokio-inwoners. Of jy nou op soek is na groter meubelstukke of kleiner geskenke en ontwerpbykomstighede, hierdie kelderverdieping is jou eenstopwinkel vir alles wat met interieurontwerp te doen het.

By HAY is die kerse weer Unkempt geisha met orgidee, pienkpeper, vetiver en malva, en Being little met tuberoos, malvalekker en neroli gedoop.

Marie Talalaeff se spierwit ram-dekoritem uit papier, in Hay, laat my sommer huis toe verlang.

Ek is verbaas toe ’n jong man na my toe stap, diep buig en vra of hy kan help. Ek sê nee, ek verlustig my net in die mooie ontwerpe. Hy glimlag soos iemand wat weet wat ek bedoel.

Hy stap stadig saam met my en vertel vinnig hoe Japannese ontwerp oor die eeue ontwikkel het: “In die Heian-periode (794–1185) het Japannese ontwerp aristokratiese smaak weerspieël met ingewikkelde tekstiele, pottebakkery en argitektuur, maar het ook eenvoud en onderbeklemtoonde skoonheid begin omarm. In die Edo-periode (1603–1868) het ontwerp floreer deur Ukiyo-e-afdrukke, keramiek en interieurs. Die wabi-sabi-estetika – wat onvolmaaktheid en verganklikheid waardeer – het ontstaan ​​en bly vandag nog invloedryk.

Die beknoptheid van Japan het sy eie mooi.

“In moderne Japan (20ste eeu) het Westerse invloede saamgesmelt met tradisionele ontwerp, wat gelei het tot innovasies van handelsmerke soos Panasonic en Sony, wat eenvoud met funksionaliteit vermeng.

“’n Definiërende Japannese tendens – minimalisme – beklemtoon eenvoud en noodsaaklikhede. Handelsmerke soos MUJI weerspieël hierdie skoon, funksionele benadering. Met groeiende omgewingsbewustheid, inkorporeer Japannese ontwerp toenemend natuurlike materiale en omgewingsvriendelike prosesse. Jy sal dit oral in ons winkel in die ontwerpe sien en in die stad in argitektuur ook bespeur.”

By Tamitu kan jy in stilte verpoos vir tee of koffie of warm melk met een van hul kruieheunings. Ons het roosheuning met ment in ons koffie geniet.

Hy wys na ’n stapel dekorboeke en sê as dekorliefhebber sal ek elkeen waardeer. Ek gaan sit op een van die stoele by die aangrensende Tamitu Laboratory & Café en blaai die boeke deur.

By Tamitu kan jy in stilte verpoos vir tee of koffie of warm melk met een van hul kruieheunings. Jy kan kies uit roosheuning met ment; manuka-heuning met vlierblom; laventelheuning met kamille en hinoki; longan-en-lietsjieheuning met St John’s Wort; of manuka-heuning met bloekom en gemmer. Die pragtige glas- en houtbotteltjies wat in linnesakkies verpak word, laat jou amper kop verloor.

En soos die jong man voorspel het, is dit nie net dekor en ontwerp wat jou opval nie, die argitektuur deur die bekende Osaka-argitek Tadao Ando is ook noemenswaardig en as jy tyd het, gaan soek sy ontwerpe in die nou straatjies van Japannese dorpies. Sy woorde: “I don’t believe architecture has to speak too much. It should remain silent and let nature in the guise of sunlight and wind speak” is sekerlik die mooiste manier om sy visie oor argitektuur te verwoord.

Loer ook na Oki Sato, die argitek en ontwerper agter die bekende Nendo-handelsmerk en bekend vir sy slim, funksionele en dikwels speelse ontwerpe. Ek het hul Cuckoo Watch in die Wallpaper-tydskrif raakgesien. Die spierwit koekoekhorlosie se gesig met sy pienkgoud syfers kan soos ’n armhorlosie gedra word. My niggie het een van hul Nendo w132-hanglampe en dis prettig én elegant!

Tokujin Yoshioka is nog een van my gunstelingontwerpers.

MUJI se vlagskipwinkel in Ginza, waar sewe verdiepings met dekorware, skryfbehoeftes, skoonheidsmiddels, boeke, ’n kosvloer, twee restaurante en selfs ’n hotel jou hart vinniger sal laat klop.

En natuurlik moet ons toe na sy praatjie vir Muji gaan opsoek. Hulle het nie verniet die gesogte internasionale Red Dot Design-toekenning ontvang nie. Twee ander Japannese maatskappye, Sony en Panasonic, het ook al hierdie toekenning vir digitale en tegnologiese ontwerp ontvang. Daar is drie takke in Tokio: die vlagskip in Ginza, die Muji Hotel Ginza en die Ariake-winkel.

Een van die kleiner MUJI-takke in Tokio.

Die winkels het hele vertrekke waar jy lekker dekor- en uitlegidees vir jou eie woonplek kan kry en hulle verkry volhoubare produkte van regoor die wêreld. Die kleure is aards en neutraal en stem jou sommer rustiger. En die aanbieding verander elke paar maande.

Die natuur dien as groot inspirasie vir dekor, ontwerp en selfs hierdie oulike uithangborde.

My ander gunstelinge is SuRyo in Kuramae wat in ’n opgeknapte ou fabriek deur die kreatiewe direkteur en binnenshuise stilis Masuko Unayama ontwerp is.

Artek Japan se pragtige ontwerpe word met groen plante omsoom en met interessante maniere om natuurlike lig oor die dekoritems te laat val, word jy weggevoer na ’n droomwêreld. Mens moet jou hande tuishou om nie die pragtige klei-tee- of sojasouspotjies te koop nie, want tuis gaan dit heel moontlik in die kas gebêre word.

Ek kom wel huis toe met gegeurde vuurhoutjies wat in wierook verander, mooi bedlinne van MUJI en ’n kers van HAY. Unkempt geisha se orgidee-, pienkpeper-, vetiver- en malvageure vul saans ons huis.

Lees ook:

Simposium poog om dialoog op Afrika-kontinent te bewerk

Unieke uitstalling in Midde-Ooste fokus op Afrika-kuns

Openbare ruimtes word met kuns versier

Ongewone ontwerpsentrum ook tuiste van ongewone installasies

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top