Die binnegevegte wat reeds maande lank in die ANC broei, word al hoe meer in en om die howe op die spits gedryf en die lang messe word behoorlik geslyp om mekaar keelaf te sny.
Oudkamerade dagvaar mekaar die een na die ander voor die hof. President Ramaphosa veg self vir sy politieke oorlewing in ’n stryd waar daar uiteindelik net een wenner kan wees.
Die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, en oudpresident Zuma kan deesdae skaars voorbly om hulle dagboeke by te hou met al die hofsake op hulle kerfstok en die einde is nog lank nie in sig nie.
Die Zondo-kommissie en verskeie ander kommissies het nog nie eens hulle bevindings gemaak nie. Intussen spring die een geraamte na die ander uit die kas soos wat die getuienis voor die howe, kommissies en in die media na vore kom.
Bo: president Cyril Ramaphosa en openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane; onder: oudpresident Jacob Zuma en minister van openbare werke, Pravin Gordhan (Foto’s: YouTube)
Mkhwebane het reeds die onderspit gedelf in sewe hofsake en dis nog lank nie die einde nie. Die parlement moet volgende maand verder besin oor haar toekoms as openbare beskermer.
Die redakteur van Vrye Weekblad, Max du Preez, skryf in die jongste uitgawe Mkhwebane het lankal enige pretensie laat vaar dat sy bloot net die werk van ’n hoofstuk 9-instelling van die Grondwet doen en speel ’n aktiewe rol in die faksiepolitiek van die ANC, met die EFF wat van die kantlyn af juig.
“Sy het laasweek daarop aangedring dat sy soos ’n regter behandel moet word, en dié week het sy in ’n radio-onderhoud gesê haar roeping is eintlik die ekonomiese emansipasie van swart Suid-Afrikaners.”
Volgens Du Preez het dit alles min te make met die aanvanklike klag wat die DA-leier, Mmusi Maimane, by die OB aanhandig gemaak het oor beweerde R500 000 wat CR17 by die Bosasa-baas Gavin Watson (wat van korrupsie beskuldig word) gekry het.
“Die vraag wat sy moes ondersoek, is of Ramaphosa daaroor vir die parlement gelieg het. (Hy het aanvanklik gesê die geld was vir werk wat sy seun vir Bosasa gedoen het, maar toe homself gekorrigeer en gesê hy het uitgevind dat dit vir sy verkiesingsveldtog was.)”
Intussen het die Valke bevestig dat hulle aanklagte van meineed en/of dwarsboming van die gereg teen Mkhwebane ontvang het en ondersoek.
Die aanklagte is deur advokaat Paul Hoffman se Accountability Now ingedien en spruit uit die uitspraak van die Konstitusionele Hof. Hoffman het Mkhwebane ook by die Regspraktykraad (Legal Practice Council) aangekla en gevra sy moet onbevoeg verklaar word om as advokaat op te tree.
Ramaphosa en Pravin Gordhan se afsonderlike aansoeke dat die hof die OB se bevindings teen hulle tersyde stel, moet binnekort op die hofrol kom. Dit lyk asof daar ’n uitstekende kans is dat albei gaan slaag, meen Du Preez.
Die parlement se portefeuljekomitee vir justisie gaan Mkhwebane se geskiktheid vir die pos vroeg volgende maand begin bespreek. Die Grondwet gee die president die reg om die OB te skors sodra so ’n ondersoek begin.
Die politieke kommentator Piet Croukamp meen egter dis onwaarskynlik dat die president dit sal doen omdat dit sal lyk of hy persoonlik van haar ontslae wil raak.
In die jongste broedertwis in die ANC dagvaar die oudminister van toerisme, Derek Hanekom, oudpresident Jacob Zuma vir laster. Netwerk24 berig dit volg op ’n twiet deur Zuma op 25 Julie wat lui:
“Ek is nie verbaas deur @Julius_S_Malema se onthullings oor @Derek_Hanekom nie. Dit is deel van die plan waarna ek verwys het by die Zondo-kommissie. @Derek_Hanekom is ’n bekende agent van die vyand.”
I’m not surprised by @Julius_S_Malema revelations regarding @Derek_Hanekom. It is part of the plan I mentioned at the Zondo Commission. @Derek_Hanekom is a known enemy agent.
— Jacob G Zuma (@PresJGZuma) July 25, 2019
Hanekom wys volgens Netwerk24 daarop dat Zuma se twiet sy reputasie “ontsaglike skade” berokken het en dat die skade sal voortduur as die uitlatings sonder teregwysing gepubliseer word.
Business Day het berig dat Zuma se regspan Maandag ’n kennisgewing by die hof ingedien het dat hulle die saak gaan teenstaan.
Du Preez skryf in Vrye Weekblad as Mkhwebane uit haar pos verwyder gaan word, sal dit ’n gevoelige simboliese slag vir die Magashule-faksie van die ANC en vir die EFF wees en sal die Ramaphosa-faksie nuwe asem kry.
Lees ook
Openbare beskermer se loopbaan in weegskaal na onbeholpe uitsprake
Buro: MvH