Op ’n koue wintersaand in die Kaap het die Belgiese ambassadeur, Didier Vanderhasselt, die titel Offisier in die Orde van die Kroon (België) aan die Suid-Afrikaanse skrywer, Antjie Krog toegeken.
Bekende gesigte het hierdie gesellige geleentheid (vir ’n verandering sonder maskers!) by die Centre for the Book te Kaapstad op 7 Julie 2022 bygewoon.
In haar ontvangstoespraak het Krog haar eerbetoon aan België se digters, kunstenaars, literêre geleenthede, teaters, argiewe, boeke, biblioteke en unieke stede opgedra.
Sy het die rol van Belgiese skrywers, wie haar trajek as digter grootliks beïnvloed het, ook uitgelig.
Volgens Krog herinner die aand se viering van kuns en vryheid van denke, en saamwees, ons aan gemeenskappe en lande se onverdeelbaarheid; ten spyte van, en veral as gevolg van, ons verlede.
Wat het Krog van België geleer?
Vreesloosheid, en “’n plig om betrokke by die politiek van ’n mens se land se bly”.
Gepraat van politiek: Krog het lig op België se koloniale geskiedenis gewerp.
Die vermoorde Kongolese onafhanklikheidsvegter en die Kongo se eerste eerste minister, Patrice Lumumba, se tand is in Junie vanjaar aan sy familie tydens ’n seremonie in Brussel terugbesorg.1
Krog het op hierdie noot na Hugo Claus se gedig, “Lumumba's gebit”, verwys en die koloniale verlede van België vergelyk met Suid-Afrika se apartheidsverlede.
Sy het die verskil tussen die openbare apologieë van Koning Philippe van België en apartheid se laaste president, FW de Klerk, bespreek.
Gepraat van apartheid: wit bevoorregte Suid-Afrikaners trek steeds voordeel uit die lewens van die uitgebuites en benadeeldes, sê Krog.
Anders as in België, ’n voormalige koloniale land nes Suid-Afrika, bly bevoordeelde Suid-Afrikaners in dieselfde geografiese ruimtes as Suid-Afrikaners wat steeds in armoede verkeer.
Weens, onder meer, korrupsie, vernietiging, donkerte en sosio-ekonomiese ongelykhede, het almal se drome oor ’n nuwe Suid-Afrika ineengestort, eggo Krog baie (alle?) Suid-Afrikaners se gevoel.
Vir Krog is ’n Suid-Afrikaanse menslike samelewing afwesig, terwyl almal saam worstel vir ’n toekoms.
“Why are we not yet at one another’s throats, I sometimes wonder. Why?” vra Krog.
“We are learning to be a community, somehow containing the many open axe wounds of the past, creating openness towards each other.”
Die solidariteit van goedheid, wyle aartsbiskop Desmond Tutu se frase, kan seëvier, het sy bygevoeg. En gevra: Hoe?
Die antwoord: Miljoene Suid-Afrikaners betoon elke dag klein gebare van welwillendheid; miljoene sagte gebare van gemeenskaplike omgee is ons redding van ’n “brutale onbevoegde regering”: Suid-Afrikaners “het tot die dood wedersyds afhanklik geword.”
- Foto’s en teks: Menán van Heerden
Eindnota:
1 Lumumba se enigste oorblywende liggaamsdeel gaan begrawe word in Kinshasa, Demokratiese Republiek van die Kongo. Gerard Soete, ’n voormalige Belgiese polisiekommissaris, het sy tand as “aandenking” gesteel (nadat Soete toesighouer was oor die verwoesting en ontlae raak van Lumumba se liggaam in die 1960’s).
Lees meer op Voertaal en LitNet oor Antjie Krog as die eerste literêre gasskrywer aan die Universiteit van Gent in België:
Gent-Universiteit hang solank die vlae uit vir Antjie se koms
Lees ook op LitNet Akademies:
Antjie Krog as kulturele bemiddelaar: aspekte van haar skrywerspostuur in die Lae Lande
Lees ook op Voertaal:
Buro: MvHAntjie Krog: "We moeten ons afvragen waarom mensen boos zijn"