
Vieringe van Koningsdag op 15 November 2024 by die Belgiese residensie (foto: Michael Hardenberg)
Die heel eerste Belgian Barrels-fees is onlangs by die Belgiese residensie in Nuweland gehou en het die huidige Konsul-Generaal van België in Kaapstad, Nicolas Fierens Gevaert, as gasheer en -spreker gehad.
Die middag het afgeskop met ’n geleentheid aan wynmakers en mediagaste om die beste Belgiese aanbiedinge te geniet, voor die publiek vroegaand kon kom kuier.
Die dag is in oorleg met die Belgiese Kamer van Koophandel in Suid-Afrika aangebied. Die deelnemers was Ameera Handcrafted Wines, Almenkerk Wine Estate, Eerste Hoop, Redamancy Vineyards, Tempel Wines, Spioenkop, Wolvenhoek Vineyards, Karoo Prick – Prickly Pear Gin, The Drunken Horse Gin, Sikelela Liquor, Duvel en Riedel – The Wine Glass Company. Laasgenoemde se Tarryn Vincent het ’n kultivarspesifieke proe aangebied om te wys hoe elke kultivar anders reageer in glas en hoe die regte kultivarspesifieke glas die beste in daardie spesifieke wyn na vore bring.

Die Konsul-Generaal van België in Kaapstad, Nicolas Fierens Gevaert, en Marc Machtelinckx, eienaar van Ameera Handcrafted Wines en ook lid van die Belgiese Kamer van Koophandel in Suid-Afrika. (Foto: Clifford Roberts)
Gaste kon by elke tafel met die Belgiese eienaars, wynmakers, distilleerders of brouers gesels en hul produkte proe. Dit was ’n gesellige geleentheid waar die kulturele bande tussen Suid-Afrika en België beslis versterk is!
Nicolas is in sy eerste jaar van ’n vier jaar termyn as konsul en het in sy verwelkomingstoespraak gesê dat België baie bekend is vir sy bier, maar met die middag se vertoonstuk “bewys ons hoe veelsydig die land is en hoeveel Belge in Suid-Afrika wyn, bier en spiritus maak”.

Die huidige Konsul-Generaal van België in Kaapstad, Nicolas Fierens Gevaert, verwelkom almal. (Foto: Clifford Roberts)
Hy het gesê België het 15 residensies regoor die wêreld in stede soos New York, Los Angeles, Sjanghai, Istanbul en Sao Paulo en het ook hierdie een in Kaapstad, omdat hier soveel Belge in Suid-Afrika woon.
Nicolas was voor sy pos as Konsul-Generaal in Kaapstad die segsman van die Ministerie van Buitelandse Sake van België in Brussel, en voor dit betrokke by die Verenigde Nasies.

Tyler Nyasulu en Jelle Jacobs van The Drunken Horse Gin wys hul slag met mengeldrankies en hoe skeef hul produk se bottel nou eintlik is! (Foto: Clifford Roberts)
Hy vertel later dat hulle met geleenthede soos hierdie een voortaan meer kontak tussen Suid-Afrikaners en beleggers in België wil bewerkstellig en wedersydse verhoudings tussen die twee lande wil bou.
“Ons wil ook uiteindelik die België-handelsmerk soveel moontlik uitbou en van die mense wat vandag hier is, vorm deel van daardie beeldbouprojek.”
Ons vra uit oor die Belgiese residensie en hoor dis in 1957 deur die Belgiese staat gekoop, maar vermoedelik reeds in 1945 gebou. Dit was die Kaapse ampswoning van die Belgiese ambassadeur tot die vroeë 2000’s. Sedertdien woon die ambassadeur in Pretoria en die pragtige huis is ’n gewilde venue vir amptelike en sosiale geleenthede wat deur en met die ondersteuning van die Ambassade van België in Pretoria en die Konsulaat-Generaal van België in Kaapstad georganiseer word. Formele geleenthede, soos Koningsdag-vieringe in November, word bygewoon deur plaaslike en buitelandse hoogwaardigheidsbekleërs, ampsdraers en nywerheidskapteins.

Vieringe van Koningsdag op 15 November 2024 by die Belgiese residensie (foto: Michael Hardenberg)
Vir openbare geleenthede, soos die markstyl A Taste of Belgium in November en die Francophonie Food & Culture Festival in Maart, word die eiendom se hekke vir die publiek oopgegooi om te ontdek en te geniet wat België bied.
Marc Machtelinckx, direkteur van die Kamer en lid van die bestuurskomitee, vertel: “Die hoofdoel van die geleentheid is om ons lede van die Kamer beter blootstelling te gee, onder die leuse: ‘Sterker saam’. Die geleentheid is georganiseer vir al ons lede wat aktief is in die drankbedryf.

Marc Machtelinckx, eienaar van Ameera Handcrafted Wines en ook lid van die Belgiese Kamer van Koophandel in Suid-Afrika, gooi proesels van sy Envie-rooiversnit. (Foto: Clifford Roberts)
“Hierdie eerste Belgian Barrels-fees is baie goed ontvang deur die besoekers en die deelnemers. Ons het meer as 50 handelsbesoekers in die middagsessies en byna 100 openbare besoekers in die aandsessie gehad. Baie van hierdie mense was verbaas oor die hoeveelheid Belgiese wyn-/gin-/bierprodusente wat daar in Suid-Afrika is en die hoë gehalte wat hulle lewer. Dit sal heel waarskynlik ’n jaarlikse geleentheid in Kaapstad en moontlik in Johannesburg word,” vertel hy.

Van die Belgiese biere wat met kaas geproe kon word. (Foto: Clifford Roberts)
Twee van die wynplase wie se wyne by die Belgian Barrels te proe aangebied is, Almenkerk en Eerste Hoop, het by die onlangse SA Terroir-toekennings uitgeblink: Almenkerk is as nasionale wenner aangewys vir Petit Verdot met sy 2021-Almenkerk Petit Verdot en vir Merlot met sy 2022-Almenkerk Merlot. Eerste Hoop is aangewys as nasionale wenner vir Pinot Noir met sy 2023-Eerste Hoop Pinot Noir.

Eerste Hoop het ’n Chardonnay, Shiraz, Blushing Bride Pinot Noir Rosé, Lemahieu Family Range Lodewijk en Lady Brigitte te proe aangebied. (Foto: Clifford Roberts)
Joris van Almenkerk vertel: “Dié vatefees was so ’n plesier vir ons. Noudat ons al ’n geruime tyd hier in Suid-Afrika is, het dit spesiaal gevoel om ons wyne langs mede-Belge te skink, wat nou self ’n paar werklik goeie produkte maak. Wat dit egter regtig besonders gemaak het, was die mense – ons het soveel wonderlike gesprekke gehad en nuwe kontakte gesmee, danksy die Kamer van Koophandel en die Konsulaat-Generaal wat almal bymekaargebring het. ’n Geleentheid wat die moeite werd is om te herhaal!”

Van die wyne van Wolvenhoek Vineyards. (Foto: Clifford Roberts)
Gaste kon ook deur Maya Strobbe se boek, Baie lekker wyne: Belgische wijnbouwers in Zuid-Afrika, blaai wat by die Wolvenhoek-tafel uitgestal is. Altesaam 18 wynplase is in dié boek vervat. Verskeie van die wynplase wat deel van die Barrels-fees was, is in dié boek opgeneem.
Maya en haar eggenoot, Yves Lameire, besit die wynplaas, MY Liefste, in Franschhoek. Die MY kom van die voorletters van hul name.

Maya Strobbe se boek, Baie lekker wyne: Belgische wijnbouwers in Zuid-Afrika, is by die Wolvenhoek-tafel uitgestal. Verskeie van die wynplase wat deel van die Belgian Barrels-fees was, is in dié boek opgeneem.
Maya is betrokke in die wynbedryf by Winetime in Nieuwpoort, skryf rubrieke vir Libelle Lekker, Primo, Must Visits en het nog ’n boek, Vrouwen maken de wijn (Lannoo, 2015), op haar kerfstok. Sy is ook betrokke by die restaurant, Tabl’o, in Nieuwpoort, “waar die kombinasie van wyn en kos my speelterrein” is.
MY Liefste se wyne is sedert laat-2023 in België verkrygbaar. Haar boek kan hier gekoop word.

Tom Heeremans, eienaar en wynmaker van Tempel Wines, met sy spogreeks wyne met Afrikaanse etikette. (Foto: Clifford Roberts)
Gepraat van mooi Afrikaans, Tempel Wines se pragtige Afrikaanse wynetikette was ook ’n lekker geselspunt, omdat Afrikaans vanjaar 100 jaar as amptelike landstaal vier. Hulle maak onder meer die Blydskap (rooiversnit), Sorgvry (Cinsaut), Skemerdans (Grenache), Tydsaam (Tempranillo), Kattemaai (Chenin Blanc/Sémillon) en Oogwink (Shiraz). vertel hul naam kom van die ou Kaap-Hollandse styl woning wat in 1784 gebou is en oorspronklik bekend was as die “Joodse tempel”.
........
Tom Heeremans, eienaar en wynmaker, sê die Afrikaanse taal val só mooi op die oor, hy kon nie anders as om sy wyne Afrikaanse name te gee nie.
........
Hy sê die Afrikaanse taal val só mooi op die oor, hy kon nie anders as om sy wyne Afrikaanse name te gee nie.
Valerie Simons van Spioenkop Wines sê: “Dit was ’n plesier om deel te wees van die Belgian Barrels Festival, aangesien mense nie bewus is dat daar heelwat Belge aktief in wyn in die Kaap is nie, en as ’n mens verenig, het hulle altyd ’n groter stem as elkeen op sy eie.

Spioenkop se 1900-reeks is ook te proe aangebied en hul Pinot Noir is in die Riedel-proe gebruik. (Foto: Clifford Roberts)
“Spioenkop is nie ’n onbekende naam in die bedryf nie, maar vir ons was dit ’n uitstekende geleentheid om ook ander belanghebbendes en die groter publiek te bereik. Ek dink elke wynkelder kan ’n paar oorwinnings uit hierdie geleentheid put. En boonop was dit ook ’n uitstekende geleentheid vir ons wynkelderpersoneel om mekaar te ontmoet, aangesien ons almal só besig is om ons besighede te bedryf. Bly om aan die volgende uitgawe deel te neem!”

Valérie Simons, Faith Zondiwa en Quintin Matsien van Spioenkop was deel van die dag se verrigtinge. (Foto: Clifford Roberts)
Ons staan later op die grasperk met ons borde met kouevleis, artisjokke, verouderde kase en taai brood met krakerige korsies en verbeel ons dis België, maar Tafelberg loer deur die bome en bring ons terug aarde (hemel) toe!

Sabine Fiorine van Eerste Hoop klink glasies met Joris en Natalie van Almenkerk van Almenkerk Wine Estate. (Foto: Clifford Roberts)

The Flemish Masters-reeks van Almenkerk bring hulde aan Joris en Natalie se geboorteland se kunswerke uit die 15de–17de eeue. Hierdie kunswerk, The adoration of the mystic lamb, is ’n werk deur Van Eyck van 1432 en kan in die St Bavo’s Katedraal in Gent gesien word. Dit pryk op die Almenkerk The Flemish Masters 2020, ’n rooiversnit. Die druifkultivars wat in die wyn gebruik word, is ’n geheim. (Foto: Clifford Roberts)
In die Riedel-proe laatmiddag kry ons die kans om die Lemahieu Family Range se gehoute witversnit, Chardonnay en Viognier, te proe en daarna die Almenkerk Chardonnay, Ameera Envie (Sauvignon Blanc), Redamancy Cabernet Sauvignon, Spioenkop Pinot Noir en Tempel Wines Oogwink Shiraz. Eers in ’n gewone proeglas en toe in die regte kultivarspesifieke glas. Die verskil slaan meeste se asems weg.
........
“Kultivarspesifieke wynglase is belangrik, omdat hul presiese vorms ontwerp is om ’n spesifieke wyn se eienskappe te verbeter, deur die aroma en hoe die wyn die verhemelte tref te beheer.” – Tarryn Vincent, The Wine Glass Company
........

By die Riedel-proe het nuwe wêrelde vir deelnemers oopgegaan toe hulle spesifieke kultivars in kultivarspesifieke glase kon proe. (Foto: Clifford Roberts)
Tarryn verduidelik: “Kultivarspesifieke wynglase is belangrik, omdat hul presiese vorms ontwerp is om ’n spesifieke wyn se eienskappe te verbeter, deur die aroma en hoe die wyn die verhemelte tref te beheer. ’n Glas se ontwerp konsentreer vlugtige aromatiese verbindings, kanaliseer hulle na jou neus en bepaal die hoeveelheid belugting, wat jou toelaat om die wyn se komplekse geure en teksture meer volledig te ervaar en ’n meer gebalanseerde en verhewe proe-ervaring te skep.”

Redamancy Cabernet Sauvignon was deel van die kultivarspesifieke proe deur Riedel. (Foto: Clifford Roberts)
Gaste kon ná proe nie net van die wyne van die dag teen afslagpryse bekom nie, maar ook hul glasvoorraad aanvul met Riedel- kultivarspesifieke glase.
Lees ook:
Nuwe baadjie vir Spier Hotel, maar dieselfde goeie beginsels
Vier vanjaar Internasionale Chenin-dag met ’n besondere vrou in gedagte
