Louise Viljoen en Yves T’Sjoen, albei gerekende literatore wat aansluitend werk in transnasionale verband oor aspekte van Afrikaanse en Nederlandse letterkunde, het op 27 Januarie 2024 in die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) in Pinelands, ’n voorstad van Kaapstad, gesels, berig Willem de Vries.

Yves T’Sjoen (foto: Gerrit Rautenbach) en Louise Viljoen (foto: verskaf)
Onder die vaandel van “Bruggenhoofden” het T’Sjoen met die gesprek met Viljoen ’n nuwe reeks ingelei wat hy in die komende maande verder voer met rolspelers waar dit ook gaan oor brûe tussen taalsisteme en literature, asook taal- en kultuurgebiede.
As literator wat ten nouste betrokke is by die Gentse Sentrum vir Afrikaans en die Studie van Suid-Afrika en as buitengewone professor in Suid-Afrika verbonde aan die Universiteit Stellenbosch bekyk T’Sjoen ook die Afrikaanse literêre sisteem mede vir hoe dit maatskaplik, ideologies en kultureel anders ingebed is as dié kulture in die Lae Lande.
Ingrid Jonker
Viljoen, ’n letterkundige van Stellenbosch en ’n voorste navorser oor transnasionalisme vanuit die Afrikaanse letterkunde, het vir eers vertel van die onlangs verskene bundel Die papie roer en ek word digter. Dit is die mees onlangse uitgawe van versamelde werke van Ingrid Jonker wat in Afrikaans verskyn. Protea Boekhuis is die uitgewer. Viljoen het die inleiding daarvoor geskryf en bied daarin ’n kritiese herwaardering van Jonker wat op haar digterskap fokus. Die bundel bestaan uit Ontvlugting, Rook en oker en die postume bundel, Kantelson. Viljoen is ook die skrywer van Ingrid Jonker – A Jacana pocket biography (wat in 2012 by Jacana Media verskyn het).
“Dit was ’n tragiese, aangrypende lewe. ’n Mens kan nie anders as om meegevoer te word deur die idee van hierdie jong vrou wat so vroeg sterf en miskien nie haar volle potensiaal as skrywer kon verwesenlik nie,” het Viljoen gesê. Toe Protea se redakteur Joan-Mari Barendse vir haar gevra het om die inleiding te skryf, het Viljoen op spesifiek Jonker se vakmanskap gefokus omdat sy reeds aangevoel het dit is nodig toe sy nog aan haar Jonker-biografie gewerk het.
Mense vergeet partymaal sy was ook ’n digter en vakman, iemand wat bewustelik omgegaan het met haar werk; sy was ook meer van ’n politieke persoonlikheid as waarvoor sy erkenning gegee word, het sy gesê. Veral laasgenoemde het prominensie verkry nadat pres Nelson Mandela haar gedig “Die kind” in die Engelse vertaling voorgelees het tydens die parlementsopening in 1994.
Verskeie Silwerskerm- en ander verwerkings is deur die jare van Jonker se lewe en werk gemaak.
Viljoen het vertel sy was “nogal onthuts deur daai film Black butterflies waarin daar so die suggestie is dat sy ’n histeriese vrou was wie se gedigte op los papiertjies gekrabbel was”.
“Daar’s ’n toneel waar Jack Cope haar in Valkenburg besoek waar sy haarself ingeboek het. Ek dink sy was ook heel bewus van haar geestestoestand en dat sy sielkundige hulp nodig gehad het. Hy vind haar daar dan, kry haar handsak en daarin is die los papiertjies met gedigte, en hy en Uys Krige pak dit uit op die grond en sê: ‘O, wonderlik.’”
Die rolprent strook geensins met die ware toedrag van sake nie, het Viljoen benadruk.
“Daardie bundel, Rook en oker, het sy in daardie stadium al voorgelê vir publikasie. Daardie boek was vir publikasie afgekeur. Sy het weer gewerk daaraan, onder andere met die hulp van Krige. Nadat dit ’n tweede keer afgewys is, onder andere deur Opperman, het sy dit gepubliseer en was dit suksesvol.”
Die bepaalde mitevorming wat oor Jonker ontstaan het, vertroebel die blik op haar oeuvre, het T’Sjoen gesê. (Lees ook sy artikel in hierdie verband.)
Viljoen se lees van haar lewe en werk is dat sy ’n denkende vrou, ’n digter en vakman was en “emosioneel volatiel”, maar dit “neem nie weg van die ander goed ook nie”.
Literêre kwaliteite
T’Sjoen noem dat Viljoen die biografiese lesing aanvul met meer ’n teksgerigte lesing van Jonker as selfbewuste digter wat ook polities bewus was en wat allermins strook met die beeld van haar as ’n soort kinderlike digter wat daar van haar bestaan.
Hy wou by Viljoen weet oor ander voorbeelde waar die biografiese invalshoek die werk van ’n skrywer tot ’n soort persoonlike getuienis reduseer.
Hoewel Jonker stellig die mees dramatiese, eksplisiete voorbeeld daarvan is, meen Viljoen dat Eugène Marais ’n soortgelyke behandeling ontvang. Sy werk word ook in ’n sekere sin teen die agtergrond van ’n tragiese lewensverloop geplaas.
Ook werk van Antjie Krog en Breyten Breytenbach het telkens met ’n bepaald biografiese, buiteliterêre lesing te kampe.
In laasgenoemde twee gevalle het albei egter uitvoerige oeuvres opgebou “en deur die omvang van die oeuvre, deur die krag van die poësie en die voortreflikheid van die vakmanskap is dit of hulle daardie krag van die biografie kan teëgaan,” het Viljoen opgemerk.
Jonker is volgens Viljoen te vroeg oorlede en dus sonder dat ’n mens daardie selfde soort lang span het waaroor ’n digter daardie biografiese lesing van sy eie of haar eie werk op ’n manier kan ondermyn.
“Poësie word dikwels outobiografies gelees. Ek dink dit is onvermydelik. Dit is miskien selfs deel van die genre, maar wat ek dink ’n mens altyd moet onthou, is dat daar mag ’n werklike ervaring wees, maar daarvan word ’n kunsobjek, ’n gedig dan gemaak met behulp van ’n verskeidenheid literêre tegnieke, met die kundigheid oor tradisie. Ek dink ’n mens moet daardie goed in balans hou.
“Wanneer die balans skeefgetrek word, is dit vir my as iemand wat met die letterkunde besig is partymaal nie goed om te sien dat die werk so oppervlakkig gelees word nie. Dat jy eintlik erkenning moet gee aan die kundigheid en vakmanskap. Ek dink ’n mens moet daardie kwessies in balans hou en ek dink ’n mens moet ook veral aandag gee aan die literêre kwaliteite van ’n teks en dit het ek hier probeer doen.”
Blik van ’n biograaf
Oor die beeld van Jonker in die Lae Lande het T’Sjoen verwys na die digter, vertaler, skrywer en bloemleser Gerrit Komrij se vertaling van ’n keur van Jonker se gedigte, Ik herhaal je, en die skrywer Henk van Woerden se bydrae oor haar werk in hierdie verband. Die beeld van Jonker is daar ook ingekleur deur die genoemde film, sowel as ’n dokumentêr, Korreltjie niks is my dood, deur Saskia van Schaik. Viljoen het die indruk gekry dat in die Lae Lande Jonker ook gelees word eintlik as ’n “soort manifes van ’n bepaalde persoonlikheid”.
Die manier waarop sy biografieë lees, het baie verander, het Viljoen te kenne gegee. “In die sin dat jy weet daar is sekere gegewens en niemand weet presies wat die werklikheid was nie. Jy maak ’n afleiding. Jy maak ’n interpretasie. Ek lees deesdae biografieë op daardie manier.
“En die interessante ding is natuurlik as ’n mens Van Woerden se monografie, my biografie en Petrovna Metelerkamp s’n met mekaar vergelyk, dan sien jy watter groot rol speel die biograaf; die instelling is [elke keer] baie duidelik. Ek dink Van Woerden identifiseer homself baie sterk met sekere menslike aspekte van Jonker. Ek is ’n bietjie meer literêr afstandelik en Petrovna meer gefokus op die persoon en eintlik die bymekaarbring van ’n baie groot verskeidenheid tekste. So dit was vir my nogal interessant om dit waar te neem. Dit laat ’n mens eintlik dink oor die genre van die biografie en hoeveel die biograaf daarmee te doen het.”
T’Sjoen het daarby aangesluit. “Wetende dat ’n biografie ook weer ’n konstruksie in taal is van ’n skrywer se lewe, want dit is natuurlik ook ’n interpretasie van feitelike materiaal, briewe en ander dokumente. Die manier waarop ’n narratief tot stand kom, is ook weer interpretatief.”
Oor kortpaaie en konstruksies
T’Sjoen het ook wat betref die Lae Lande, gewys op maniere waarop werke van byvoorbeeld Breytenbach en Krog gelees word en dat die biografiese aspekte daar tog ook ’n belangrike rol speel; by Krog ook as politieke kommentator en wat betref haar kritiese standpunte oor gebeure in Suid-Afrika.
“Breytenbach se gevangenisjare hang nog steeds in die Lae Lande as ’n soort skadu oor daardie oeuvre, hy is nog steeds die dissident wat die apartheidsregime gekontesteer en poësie geproduseer het wat heeltemal in daardie frame dan sou bly lees moet word,” het T’Sjoen gesê. Merk Viljoen dat hierdie beklemtonings by Krog en Breytenbach soms nog veel meer in die Nederlande gelê word as wat dit die geval is in die Afrikaanse literêre kritiek?
Viljoen meen dat biografiese gegewens miskien nog wel ’n rol speel veral omdat by skrywers uit ander lande, uit ’n ander taal, daar tog altyd die behoefte is om hul te kontekstualiseer, dat biografie en konteks ’n manier bied om die teks te ontsluit.
“Ek dink dit is miskien in die konteks waar daardie digters baie intiem geken word dat daar uiteindelik miskien minder van ’n neiging is om ’n abstraherende soort biografiese beeld te gebruik by die lees van die teks. Ek het nogal simpatie daarvoor as mens in ’n ander taal [’n werk] in vertaling lees en jy die konteks nie so goed ken nie, dat jy eintlik gryp na besonderhede wat dan soms karig is, waaruit jy ’n beeld konstrueer.”
T’Sjoen het dieselfde opgelet toe hy die resepsietekste lees van Breytenbach se werk in die Lae Lande en het gesê ook Jaap Goedegebuure het dit al opgemerk dat van ’n resensie van ’n nuwe vertaling van Breytenbach in die 1990’s, begin 2000’s, driekwart biografies is en heel aan die einde is daar dan ’n opmerking oor die estetiese belang van ’n digter soos Breytenbach, maar oor die vertaling self word geen woord gerep nie. Dit is iets wat hy gereeld in die literatuurkritiek aantref en seker wat betref buitelandse literatuur. Daar word te min aandag aan die rol van die vertaler in die kultuurbemiddelende spel tussen literatuursisteme gegee; in resepsietekste kry die rol van die vertaler te weinig aandag al is dit so dat die vertaler interpretatief optree, het T’Sjoen benadruk.
Groter aandag aan vertalers
Gegewe ’n toenemende fokus op opleiding vir vertalers word gaandeweg meer aandag gegee aan die vertalers van tekste, het Viljoen gesê, maar gegewe die beperkte bestek van byvoorbeeld ’n koerantresensie is daar die neiging om die rol van die vertaler in besprekings te onderspeel.
Sy het verwys na die internasionale Booker-prys wat toegeken word aan die skrywer én die vertaler van daardie werk.
“So húlle [skrywer én vertaler], lyk dit my, word in gelyke mate bekroon wat vir my ’n baie interessante wending is. Vroeër jare, 30, 50 jaar gelede, was die vertaler eintlik glad nie sigbaar nie en ook nie veronderstel om sigbaar te wees nie, maar daar word nou baie meer aandag gegee daaraan. En ek dink dit is iets wat ’n mens nou wel in akademiese studies sien, eintlik onder die invloed van vertalersopleiding, dat daar baie meer aandag aan die vertaalpraktyk is. Jy kry meer akademiese werk daaroor.”
Stand van sisteme
Op die brug tussen Afrikaans en Nederlands is nie net vertalers belangrike akteurs nie, maar ook verbindingsfigure en bemiddelaars, asook ander rolspelers, waaronder akademici, uitgewers of departemente Afrikaans en Nederlands, het T’Sjoen opgemerk. Hy het Viljoen gevra na die huidige situasie waar ’n mens met al hoe korter rieme moet roei (te wete minder subsidies, personeelinkrimpings en aftredende professore wat nie vervang word nie).
Sy ag dit moeilik om ’n greep te kry op hierdie verskynsels omdat sommige daarvan afspeel in ’n kleiner omgewing soos in ’n departement. Ander faktore wat daardie gegewe beïnvloed, is op ’n fakulteitsvlak, ’n universiteitsvak en dan ’n sisteem, ’n Suid-Afrikaanse sisteem en ’n wêreldsisteem waarin die geesteswetenskappe onder druk staan. Oor laasgenoemde hoor ’n mens van navorsingsgenote hetsy hulle van Engeland, Amerika, Australië of Roemenië is, het sy gesê.
“Ek dink daar is ’n groot konteks waarin die vanselfsprekendheid waarmee ’n mens aanvaar het dat die geesteswetenskappe aan universiteite gesubsidieer en ondersteun en gekruissubsidieer sal word [...] dit eintlik moeiliker maak. Maar ek dink tog dat die (akademici se) insette (maak ’n verskil), wel in die konteks waar ek gewerk het – ons het nog ’n departement Afrikaans én Nederlands, baie van die universiteite het in die [departementele] naam die Nederlands laat val. Maar dit is wel so dat by verskillende universiteite, eintlik die meeste wat nog departemente Afrikaans het, heel hartstogtelik gewerk word in Nederlands.”
Viljoen het daarop gewys dat dit eintlik moeilik is om in ’n driejaaropleiding aandag te gee aan taalkunde én die letterkunde in Afrikaans en in Nederlands. En hoewel sy interuniversitêre samewerking as gefragmenteerd waarneem, is haar indruk dat veral die akademici probeer om daardie bande in stand te hou. Sy het verwys na vertalers, soos onder andere Daniel Hugo, Ena Jansen en Zandra Bezuidenhout, wat danksy onder meer die Nederlandse Letterenfonds Nederlandse (en Vlaamse) werk in Afrikaans kan vertaal. “So, ek sien daar is pogings om dit in stand te hou.”
Die Nederlandse literêre toneel beskryf sy as bruisend en dat studente aangegryp word deur wat daar gebeur en deur die skrywers van wie werk nou gepubliseer word.
T’Sjoen het besorgdheid uitgespreek oor wat hy beskou as ’n teenproduktiewe effek van verskillende departemente vir ondersoeke met te weinig brûe om tot ’n uitwisseling van kundigheid te kom.
Viljoen meen ook dat dit inderdaad so is, ook dat dit ’n komplekse gegewe is, maar dat ’n mens heel veel op persoonlike vlak kan regkry as mense bereid is om met mekaar in gesprek te tree oor daardie grense heen.
“Om die institusionele modelle te verander, sal baie werk neem. Dit is miskien nodig dat dit uiteindelik gedoen word maar ek dink totdat ’n mens so iets kan verwesenlik moet mense bereid wees om met mekaar te gesels. En daar is natuurlik allerhande magsgeledinge. Sommige departemente is baie sterk want hulle het duisende studente, veral die ou koloniale oorheerserstale. En ander is klein. Hoe bewerkstellig jy die gesprekke? Ek dink as daar ’n soort goeie wil is tussen mense sou jy ook daardie magsdinamika teëwerk.”
T’Sjoen meen dit is nodig dat hierdie soort gesprekke aangegaan word mede vanweë druk van omstandighede betreffende studentetalle en minder befondsing vir ondersoeke in die geesteswetenskappe, eerder as dat mense in departemente en bepaalde omgewings alleen maar beperkte ondersoek verrig of hul in hul studeerkamers terugtrek.
“Die wêreld daag ons uit om die grense te oorskry en tot ’n interdissiplinêre dialoog te kom met ons kollegas van ander departemente, soos geskiedenis byvoorbeeld, of die vertaalwetenskaplikes of filosowe, die taalkundiges, die letterkundiges, teater- en musiekwetenskappers, ons het mekaar soveel te vertel. Maar akademiese strukture nooi jou nie altyd uit om, om dit eufemisties te stel, hierdie gesprekke te voer nie.”
Ook Viljoen meen akademiese strukture staan dikwels in die weg daarvan, bepaalde persoonlikhede miskien ook. “Maar ek dink ’n mens kan vanuit die institusie selfs probeer om die kans te skep vir daardie interaksie. Dis ’n bietjie idealisties, maar ek dink dit is iets wat uiteindelik gedoen moet word. As jy ’n letterkundige is, moet jy wyd lees, jy kan nie net in jou eie taal lees nie, om kennis te neem wat in die breër wêreld van die letterkunde aangaan.” Vir haar gaan dit om die kweek van openheid en ’n verwelkoming van ander invloede na jou eie domein.
Die Neerlandistiekkongres Cross Over bied ’n poging om kenners buite Europa te betrek, tot op hede deur kongresse in Poznan, op Aruba en in Paramaribo en Praag. Vir Januarie 2025 is dit vir Kaapstad bestem, het T’Sjoen opgemerk.
Veeltaligheid in letterkundes
T’Sjoen sien eweneens die meriete in vir groter en daadwerklike samewerkinge wat insluit die bevordering van groter aandag vir spesifiek intertalige dialoë oor literatuur en aandag aan die literêre gesprek. Hedendaagse literatuur is meertalig en intertalig; verskillende tale maak ’n deel uit van een en dieselfde literêre werk, het hy gesê.
In hierdie verband het hy verwys na die Nederlands-Uruguaanse skrywer Maxime Garcia Diaz wie se C Buddingh’-prys-bekroonde debuutwerk Het is warm in de hivemind vir die helfte uit Engels bestaan. Is dit dan nog Nederlandse literatuur? Is dit by ’n departement Engels te bestudeer? Hoe relevant ís die vraag om dit óf daar óf op ’n ander plek te bestudeer? Dit gaan oor taalvermenging, oor ’n multilinguale of translinguale poëtika, het T’Sjoen gesê.
Viljoen het genoem dat veral ná 1994 daar pogings in die Suid-Afrikaanse literêre gemeenskap was om byvoorbeeld die konsep van ’n Suid-Afrikaanse letterkunde te laat posvat en om ’n Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenis te skryf. Michael Chapman het een geskryf in die negentigerjare en dit in die jare 2000 bygewerk, het sy gesê. Sy meen sy Southern African literatures was die sterkste in dié aanbod. Debatte het tóé na vore gekom soos “wie is Chapman wat eintlik uit ’n Engelstalige agtergrond kom, om te skryf oor Afrikaans en Zoeloe?” het sy gesê.
Sy het ook verwys na die universitêre stelsel waarvolgens vakgebiede soos literatuurstudie in suile aangebied word wat institusioneel gesproke die gemaklikste vorm is om dit te doen.
“Dit spruit ook natuurlik uit ’n ouer, amper negentiende-eeuse opvatting van letterkunde as nasionaal gerig, dat ’n taal pas op ’n grondgebied: Frankryk is Frans, Engeland is Engels en Duitsland is Duits. Dit is daardie soort van passing wat nou nie meer werklik geld nie en eintlik in Suid-Afrika nooit gegeld het nie, ons idee was nog altyd dié van ’n veeltalige gemeenskap.”
Viljoen meen selfs al het jy daardie versuiling, dink sy mense begin beweeg in die rigting van ’n soort intertalige interaksie in letterkunde, wat vir haar geweldig produktief en kreatief is.
Die Afrikaanse skrywer Klara du Plessis wat saam met die gebore Iraniër Khashayar Mohammadi geskryf het aan die boek G, met Engels as bindtaal vir hul gedigte oor Afrikaans en Persies (die g-klank kom in sowel Persies as in Afrikaans voor), is vir haar een onlangse voorbeeld hiervan en sy het ook verwys na die interaksie en gesprek tussen Breytenbach en die werk van die Palestynse digter Magmoed Darwiesj in die bundel oorblyfsel/voice-over.
Letterkundes bring kulturele rykdomme tale binne
“As ek nou begin terugdink aan die modernistiese tydperk, die [ander] Sestigers, het hulle ook ander literature van die wêreld in die [Afrikaanse] letterkunde binnegebring. Ek dink die letterkunde is baie ruim, wat baie dinge kan akkommodeer en dinamies is met al die raakpunte met ander tale, ander ervaringe. Ek dink in Suid-Afrika kan dit uitsonderlik vrugbaar wees.”
Viljoen het daarop gewys dat as jy in ’n omgewing soos Suid-Afrika woon waarin jy die hele tyd in interaksie is met ander tale en ook variasies van jou eie taal, Kaaps of ander maniere van Afrikaans praat, “dan is dit net ongelooflik bevrugtend om daarvan gebruik te maak”.
Wat Nederlands betref, het T’Sjoen genoem die toenemende aandag vir Nederlandstalige literatuur buite Europa, soos die Surinaamse of Antiliaanse literatuur wat sorg vir ’n andersoortige Nederlandse literatuur as dié van die Lae Lande.
Viljoen het aangesluit by T’Sjoen, dat ’n mens miskien eerder die kleurvolheid, verskeidenheid en diversiteit van ’n omgewing waarin jy leef moet omarm as wat jy dit angsvallend probeer weghou.
“Dit beteken nie dat mense nie in Afrikaans gaan skryf of doodgewoon nie daaraan deelneem nie, maar as daar mense is wat dit wil doen en daardie geleenthede wil gebruik, moet ’n mens dit verwelkom.”
Poësie op reis
Terme soos transnasionaal en translinguaal word nogal gedebatteer, met mense wat argumenteer vir die nasionaal al is dit ’n problematiese begrip om te gebruik, het sy opgemerk. “Nasionaal wil altyd eintlik terugverwys na grondgebied; nie alle tale is gekoppel aan grondgebiede nie. So translinguaal… My belangstelling daarin kom eintlik uit die Afrikaanse letterkunde, dat ’n mens skrywers het wat daardie grense oorskry en daardie grense is eintlik al van die begin van die Afrikaanse letterkunde op ’n implisiete wyse beskryf deur die invloede wat opgeneem is deur die tradisies wat daarin verwerk is.”
Verwysend na Jahan Ramazami, skrywer van onder meer A transnational poetics, het sy gesê dat poësie eintlik een van die genres is wat die beste reis. Sy stel ook belang in watter skrywers in Afrikaans ’n profiel in Nederland kry en waarom.
T’Sjoen wou weet of sy meen dat teen die agtergrond van ’n meertalige wêreld wat inter- en multikultureel is, ’n té reduksionistiese seleksie uit die Nederlandse literatuur in Afrikaans tans beskikbaar is. Ena Jansen het Die tienduisend dinge deur Maria Dermoût vertaal en sy is besig met Max Havelaar van Multatuli, maar daar is soveel interessante, hedendaagse, meerkleurige, meerstemmige Nederlandse tekste wat in Afrikaans nie vertaal word nie; hoewel, vanuit die postkoloniale konteks van Suriname en die koloniale geskiedenis van Suid-Afrika, vir hedendaagse studente sou dit relevant wees om byvoorbeeld Raoul de Jong in Afrikaans beskikbaar te kry. “Is die vertaling van Nederlandstalige literatuur in Afrikaans miskien iets te wit, Eurosentries en te manlik?” wou hy weet.
Viljoen het daarop gewys dat dit baie te doen het met die befondsing en persone wat beskikbaar is om dit te doen. “Ek dink dat dit wenslik sou wees dat [daar meer] van die meer resente Nederlandse bundels [is], want my ervaring is dat die jonger mense veral aangespreek [voel] deur die kontemporêre Nederlandse digkuns. As ’n mens kyk na die resepsie wat die skrywers wat hierheen kom, kry, [word hulle] absoluut entoesiasties ontvang deur die jong mense. Ek dink daar is ’n geleentheid vir iemand wat daardie soort vertaling wou aanpak in Afrikaans. Dit is natuurlik ’n kwessie van befondsing kry, tyd hê om dit te doen, ensovoorts. Dis nie ’n eenvoudige saak nie maar ek dink daar sou beslis aandag gegee kan word daaraan, aan hierdie jonger Nederlanders wat ook getuig van die koloniale geskiedenis en koloniale verhouding met Nederland.”
Vertaalprojekte
T’Sjoen het verwys na projekte waarby Krog en ander kollegas aan die Universiteit van Wes-Kaapland betrokke is, waarin byvoorbeeld Habitus van Radna Fabias, Babs Gons (Nederland se Dichter des Vaderlands) en Simone Atangana Bekono se gedigte in Kaaps vertaal word. En ook die vertaling van Ronelda Kamfer, Jolyn Phillips en Lynthia Julius in Nederlands. “Dit is ’n mooi uitwisselings- en vertaalprojek. Moet mens meer vanuit hierdie rigting uitgaan?”
Viljoen is dit eens met T’Sjoen. Die vertaling van Max Havelaar en Maria Dermoût is miskien ook wel nodig as ’n mens daardie historiese agtergrond in gedagte wil hou, veral omdat Max Havelaar in die koloniale raamwerk so ’n belangrike teks is, het sy gesê. “Ek dink daar is plek vir beide [klassieke én moderne werk in vertaling]. En beslis moet daar vernuwing kom, van die kontemporêre Nederlands vir ’n gehoor wat al hoe jonger word. Daar is beslis ruimte daarvoor.”
In vraetyd het die Kaapstadse letterkundige Joan Hambidge opgemerk dat die silo’s tussen taaldepartemente nodig is omdat studente eers die grammatika van ’n taal onder die knie moet kry en dat mens dan daarna, op nagraadse vlak, die uitruilprogramme kan begin.
’n Ander projek wat in Suid-Afrika meer aandag moet geniet ten opsigte van die uitruiling van die prosesse wat tussen digters plaasvind, is die AVBOB-poësieprogram waar Johann de Lange die hoofindoena is, het sy benadruk. Sy ag dit ’n “merkwaardige projek”, met Douglas Reid Skinner wat die Engelse vertalings uit ander inheemse tale versorg.
Viljoen ag dit eweneens merkwaardig “as jy sien hoeveel blootstelling dit eintlik gee aan digters uit die inheemse tale”. “En ’n soort gevoel van die waardigheid van die tradisies wat daarmee saamgaan. Ek dink dit is ’n wonderlike projek wat daar aan die gang gesit is. ’n Mens kan miskien soortgelykes probeer. Ek dink dit is baie belangrik.”
Rondom vertaling en die beskikbaarheid van werke het Jan Mutton, voorsitter van die raad van SASNEV, genoem hulle werk tans aan ’n versameling van vertalings uit Nederlands in die Suid-Afrikaanse tale en beskik tans oor sowat 350 vertalings en 50 akademiese bronne oor Nederlands en Afrikaans. Mutton noem dat daar na verwagting sowat 500 boeke behoort te wees. Daarbenewens beoog SASNEV ook twee seminare oor vertaling in Augustus.
- Op 23 Maart om 09:30 vir 10:00 gesels T’Sjoen met die digter, vertaler en akademikus Alfred Schaffer in SASNEV, Sentraalplein 4 in Pinelands. Die daaropvolgende Bruggenhoofden-gesprekke is soos volg: Op 20 April gesels T’Sjoen met die letterkundige, skrywer en joernalis Anastasia de Vries; op 25 Mei met die literator Andries Visagie en op 1 Junie met die romansier Ingrid Winterbach.
Lees, luister en kyk ook:
Suid-Afrikaanse letterkundes en transnasionale bande: in gesprek met Louise Viljoen
Louise Viljoen vertel van jonger geslag digters wat waag in Afrikaans
SteedsDink met LitNet Akademies: Louise Viljoen (deel 2 van 3)
’n Transnasionale poëtika in Afrikaans: ’n onderhoud met Louise Viljoen
Buro: MvHAntjie Krog as kulturele bemiddelaar: aspekte van haar skrywerspostuur in die Lae Lande