Louise Viljoen vertel van jonger geslag digters wat waag in Afrikaans

  • 0
......

“Op die oomblik is ek veral gefassineer deur die nuwe geslag van Afrikaanse skrywers wat so vanaf die middel van die eerste dekade van die 21ste eeu hulle werk begin publiseer het, dié wat dit waag om in Afrikaans te skryf en deur die kwaliteit van hulle werk vir ’n mens aanhou oortuig dat Afrikaans onontbeerlik is vir hierdie land.”

......

Die gerekende literator Louise Viljoen het aan Willem de Vries vertel van haar ervaring van die leerstoel Zuid-Afrika: talen, literaturen, cultuur en maatschappij in Gent wat sy onlangs beklee het, gee haar indrukke van die sesde Afrikaans-kollokwium, bekyk die gang van bande tussen Afrikaans en Nederlands, vertel van die werk van ’n jonger geslag Afrikaanse digters en kyk terug op meer as 40 jaar in die tuig as dosent.

Louise Viljoen

Van September tot Desember 2019 het jy die leerstoel Zuid-Afrika: talen, literaturen, cultuur en maatschappij in Gent beklee. Wat bring die leerstoel in België na die (universitêre) interaksie tussen Afrikaans en Nederlands? Vertel asseblief van jou indrukke en die program daar.

Ek was inderdaad bevoorreg genoeg om hierdie leerstoel te beklee. Ek dink die leerstoel bied ’n wonderlike geleentheid aan die studente wat Nederlandse taal- en letterkunde bestudeer om op ’n gestruktureerde manier kennis te maak met die Afrikaanse letterkunde en taalkunde binne die groter Suid-Afrikaanse konteks. Studente kan op die derdejaar- en magistervlak kies om die keusevak Afrikaans te volg binne die module Nederlands. Wanneer die leerstoelbekleër ’n letterkundige is, word al die lesings oor die Afrikaanse letterkunde deur hom of haar aangebied, terwyl die lesings oor die Afrikaanse taalkunde deur ’n Gentse personeellid gedoseer word; die omgekeerde geld wanneer die leerstoel deur ’n taalkundige beklee word. Die leerstoel bied dus aan die Gentse studente ’n geleentheid om onderrig te ontvang van iemand wat spesialiseer in die Afrikaanse taal- of letterkunde en ook dié twee studievelde binne die groter Suid-Afrikaanse konteks kan plaas waar dit naas ander tale en letterkundes bestaan. My indruk was dat dit ’n deeglik-gestruktureerde deel is van die studente se opleiding wat hulle die geleentheid bied om ’n wyer perspektief te kry binne hul studie van Nederlands en ook diepte te ervaar deur die feit dat dit ’n semester lange program is.

Die leerstoel bied ’n akademikus die geleentheid om studente omvattender te onderrig oor verskeie fasette van die letterkunde. Vertel asseblief van jou ervaring van die studente, asook watter terugvoering daar was van kollegas in Gent en ander stede in die Lae Lande oor aspekte van (Suid-) Afrikaanse letterkunde, die soort tematiek waarin hulle belang stel, en hoe dit miskien verskil van of verrassend ooreenstem met Suid-Afrikaanse besprekings.

Soos reeds hier bo aangedui, gee die program die dosent kans om binne die semesterraamwerk verskillende fasette van die Afrikaanse letterkunde binne die groter Suid-Afrikaanse raamwerk aan te bied. In die derdejaarslesings het ek gefokus op ’n oorsig van die Afrikaanse letterkunde binne die teoretiese raamwerk van klein letterkundes, met verwysing na die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde en die groter sosiopolitieke konteks waarbinne dit bestaan, omdat dit eintlik die studente se eerste kennismaking met die Afrikaanse letterkunde is. By die magisterstudente het die fokus geval op die bespreking van spesifieke tekste omdat hulle reeds die derdejaarsopleiding agter die rug het. Die Vlaamse studente is byna ouwêrelds hoflik en gereserveerd, maar dit blyk uit hulle werk dat hulle ’n baie deeglike skool- en universitêre opleiding kry wat hulle in staat stel om die nuwe inhoude uitstekend te verwerk. Ek dink hulle was nogal verras deur die intensiteit, by tye ook die felheid, van die Afrikaanse letterkunde wat dikwels omgaan met die moeilike vraagstukke en pynlike kwessies waarmee Suid-Afrika worstel. Uit hul terugvoer het dit ook geblyk dat hulle geprikkel was deur die unieke tekstuur van die Suid-Afrikaanse landskap, samelewing, kulture, tale en mense. Uit die aard van die saak moet ’n mens in jou lesings heelwat kontekstuele inligting verskaf: Jy moet nie net die groot lyne van die Suid-Afrikaanse geskiedenis en politiek aan hulle uitlê nie, maar ook verduidelik wat ’n lukwart, ’n strandjutwolf, ’n perlemoen, ’n kalbas en ’n turksvy is.

......

“In my intreerede het ek gefokus op jong Afrikaanse skrywers om te probeer nagaan hoedat hulle hulleself tegelykertyd in ’n klein letterkunde én in ’n geglobaliseerde wêreld posisioneer.”

......

Die leerstoel se program het verskeie lesings en besprekings in verskeie stede behels. Waaroor het jou eie lesings en ander bydraes in hierdie verband gehandel?

Ek is ook deur Margriet van der Waal genooi om ’n lesing te gee by die Universiteit van Groningen, waar ek met die studente gesels het oor die verskynsel van transkulturalisme aan die hand van Pieter Odendaal se bundel Asof geen berge ooit hier gewoon het nie, veral ten opsigte van die gesprek wat hy voer met Koleka Putuma se bundel Collective amnesia.

Tesame met die leerstoel se bedrywighede het die sesde Afrikaans-kollokwium in Gent plaasgevind, waar die fokus van die letterkundekomponent was op Breyten Breytenbach, wat die Nobelprys vir Letterkunde waardig is en van wie se werk jy internasionaal ’n voorste kenner is. ’n Ruk voordat hy die Mandela-lesing in Gent gelewer het, het hy gesê dat hy miskien ’n toespraak sou lewer wat die mense nie sou verwag nie. Wat was jou ervaring daarvan, gelees saam met sy essays oor Mandela?

Die letterkundegedeelte van die kollokwium was inderdaad gerig op die werk van Breytenbach, wat in 2019 80 jaar oud geword het. Die Mandela-lesing het plaasgevind die aand voor die kollokwium en wat my betref, was dit wel die soort toespraak wat ons geleer het om van Breytenbach te verwag. Hy het in gesprek getree met Mandela as persoon in die vorm van ’n brief wat hy aan hom gerig het en ook deur te verwys na die land wat hy nagelaat het. Daar was mooi persoonlike anekdotes oor sy ontmoetings met Mandela, maar ook ’n fel ontleding van die huidige omstandighede in Suid-Afrika – dit is nie toevallig dat ek Die mond vol vuur as titel gekies het vir die boek wat ek oor Breytenbach se werk gepubliseer het nie. Breytenbach het nog nooit geskroom om brandende woorde (“verpletterend”, het iemand dit ook genoem) te uiter oor dit wat hy sien as misstande en wanoptredes in die Suid-Afrikaanse samelewing nie – of dit nou dié van BJ Vorster of Jacob Zuma is. ’n Ander tema in sy toespraak en die daaropvolgende onderhoud met Margriet van der Waal was die posisie van Afrikaans. Hy het – soos nog altyd in die verlede – klem gelê op die hibriede, gekreoliseerde aard van die taal en sy oortuiging herhaal dat dit ’n taal is wat vanweë daardie eienskap eintlik die potensiaal het om ’n “andersmaak” in die land te bewerkstellig. Dit was egter ook duidelik dat hy diep bekommerd is oor wat met die taal kan gebeur.

Daar is ’n hele aantal boeiende referate by die kollokwium aangebied en ook ’n bespreking oor die vertaling van Breytenbach se werk waarby Yves T’Sjoen en Désirée Schyns van Gent vrae gerig het aan ’n paneel bestaande uit Breytenbach self, sy vertaler na Frans, Georges Lory, en sy vertaler na Pools, Jerzy Koch. Ek was ook op die paneel (iets van ’n buitestander tussen die kreatiewe mense!), omdat ek ’n artikel geskryf het oor die manier waarop Breytenbach homself vertaal in Engels en daarna weer terugvertaal in Afrikaans in die bundel, geskryf ná die dood van sy digtersvriend die Palestyn Magmoed Darwiesj met die titel Oorblyfsel / Voice Over. Behalwe om deel te neem aan hierdie paneel het Breytenbach ook al die referate by die kollokwium bygewoon, vrae gevra en gesprekke aan die gang gesit. Ek het die indruk gekry dat hy die verskillende akademiese response op sy werk stimulerend gevind het; hy het ook die grasie gehad het om dankie te sê vir almal wat aan hierdie akademiese huldiging deelgeneem het.

Vertel asseblief van jou intreerede oor Afrikaans, die idee van ’n klein letterkunde en hoe beskouings daarvan ’n jonger geslag digters in Afrikaans beïnvloed.

My intreerede het die Mandela-lesing voorafgegaan, en soos wat die bedoeling met intreeredes is, moes dit iets sê oor die navorsing waarmee ek my op die oomblik besig hou. Ek is al geruime tyd besig om navorsing te doen oor die verskynsel van “klein letterkundes” teen die agtergrond van daardie vreemde dier wat die “wêreldletterkunde” of die “wêreldrepubliek van die lettere” genoem word (laasgenoemde term is van Pascale Casanova).

......

“Daar is talle belangriker rolspelers as ek in hierdie wisselwerking tussen Afrikaans en Nederlands ... Daar is dus ’n stewige onderbou vir die samewerking wat op die oomblik plaasvind.”

......

Die Afrikaanse letterkunde word geskryf in ’n klein taal in ’n betreklik klein land binne die groter wêreldkonteks. Ek het begin ondersoek doen na wat die eienskappe van klein letterkundes is en hoe die werk van sommige skrywers uit so ’n klein letterkunde oor taal- en nasionale grense migreer na ander gebiede en hoe dit daar ontvang word.

Die vroeë Afrikaanse letterkunde was in ’n sekere sin ’n handboekvoorbeeld van klein letterkundes wat – volgens die navorsing daaroor – die volgende eienskappe het: die belangrikheid van taal, ’n sterk politieke dimensie, die interafhanklikheid van (en dikwels ook ongelyke verhoudings met) die ander tale en letterkundes waarmee dit saambestaan en die assimilasie van elemente uit ander tale en kulture, maar ook die differensiasie daarvan. In my intreerede het ek gefokus op jong Afrikaanse skrywers om te probeer nagaan hoedat hulle hulleself tegelykertyd in ’n klein letterkunde én in ’n geglobaliseerde wêreld posisioneer. Ek het verwys na voorbeelde uit die werk van Ronelda Kamfer, Jolyn Phillips, Nathan Trantraal, Loftus Marais, Bibi Slippers en Pieter Odendaal.

Ronelda Kamfer (Foto: Tamara Gerwel), Pieter Odendaal (Foto: Retha Ferguson), Jolyn Phillips (Foto: Brenda Veldtman)

Loftus Marais (Foto: Liné Loff), Bibi Slippers , Nathan Trantraal

Dit het geblyk dat hul werk inderdaad dié eienskappe toon wat in navorsing uitgewys word as tipies van klein letterkundes, maar dat daar ook elemente van beskeidenheid, vloeibaarheid en waagmoedigheid is. Laasgenoemde is moeilik om te teoretiseer, maar dit is wel teenwoordig en ek sal voortgaan om dit verder te ondersoek en omskryf.

Die transnasionale gesprek tussen Afrikaans in Suid-Afrika en Nederlands in die Lae Lande sluit universitêre netwerke in. Wat beteken hierdie benadering vir die letterkunde tans en wat kan dit inhou vir letterkundestudies vorentoe? Wat beteken die toenemende aantal literêre vertalings uit Nederlands in Afrikaans in hierdie verband?

Die transnasionale gesprek tussen Afrikaans in Suid-Afrika en Nederlands in die Lae Lande gebeur veral deur uitwisseling op die vlak van die letterkunde. Die vertaling van tekste uit Afrikaans in Nederlands en omgekeerd, skrywersbesoeke en skrywersoptredes in Suid-Afrika en die Lae Lande, beriggewing en rugbaarmaking in die pers en sosiale media vind plaas deur die toetrede van ’n spektrum van bemiddelaars (vertalers, uitgewers, befondsers, joernaliste en verskillende kulturele “agente” wat byvoorbeeld verantwoordelik is vir die bekendstelling van Afrikaanse skrywers by geleenthede soos Week van de Afrikaanse Roman in die Lae Lande en die blootstelling van Nederlandse skrywers aan (Suid-) Afrikaanse lesers op sommige van die literêre feeste in ons land). Daarnaas bied die akademiese netwerke wat daar bestaan, akademici die geleentheid om in mekaar se omgewings te werk en te leer; ook hier is daar ’n aantal instansies en rolspelers wat oor die jare ’n belangrike rol gespeel het om die interaksie moontlik te maak (dié soort interaksie gebeur nie vanself nie en verg dikwels groot inspanning en toewyding van die betrokkenes). Dit gebeur op die vlak van die taalkunde sowel as die letterkunde. As ek vanuit die letterkundige hoek kan praat: Die bestaan van hierdie netwerke bied vir navorsers die geleentheid om op sowel praktiese as teoretiese vlak veral die kwessies van komparatisme, transnasionalisme, transkulturalisme en kulturele oordrag te ondersoek.

Dié uitwisseling het ’n lang geskiedenis waarin daar al sprake was van verskillende oplewings en insinkings (hieroor het Hennie van Coller en Bernard Odendaal in 2005 ’n oorsig gegee in ’n artikel in Stilet). Die uitwisseling kry miskien ’n ander aksent binne ons huidige konteks, waar die grense tussen lande, tale en kulture al hoe meer poreus raak en die interaksies al hoe meer uitdagend en stimulerend. Ek hoop van harte dat die vertalings van Nederlandse tekste in Afrikaans (Suid-) Afrikaanse lesers sal prikkel tot ’n groter nuuskierigheid oor die Nederlandstalige letterkunde. Dit het alreeds heelwat gedoen om Afrikaanse lesers bewus te maak van skrywers uit ander letterkundes wat nie noodwendig in die hoofstroom van die wêreldletterkunde staan nie. Hierdie geleenthede moet aangegryp word om die teoretisering oor literêre transnasionalisme skerper en meer gesofistikeerd te maak.

Jy is al dekades lank werksaam in die wisselwerking tussen Afrikaans en Nederlands, en daarby ingesluit in voormalige Nederlandse kolonies. Hoe beskou jy die onderlinge samewerking, studies en dinamieke die laaste paar jaar? Hoe waai die kulturele en akademiese passaatwinde vandag vir verspreide Nederlandse kultuurstreke (iets wat ook ’n uitwerking op Afrikaans het of kan hê)?

Daar is talle belangriker rolspelers as ek in hierdie wisselwerking tussen Afrikaans en Nederlands. Talle van my vakgenote het die geleentheid gehad om in die 1970’s en 1980’s in Nederland te studeer voordat die kultuurboikot dit bykans onhoudbaar gemaak het. Ná die demokratisering van Suid-Afrika in 1994 was daar verskillende persone, binne én buite die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN), wat hulle ingespan het om die wisselwerking tussen Afrikaans en Nederlands uit te bou. Daar is dus ’n stewige onderbou vir die samewerking wat op die oomblik plaasvind: Lesings oor Afrikaans word in verskillende universiteite in die Lae Lande aangebied en lesings oor Nederlands in Suid-Afrikaanse universiteite; nagraadse studente word uitgeruil; navorsingsooreenkomste word gesluit tussen Suid-Afrikaanse en Nederlandse akademici wat navorsing doen oor die letterkunde en taalkunde van beide Afrikaans en Nederlands; daar was onlangs die publikasie van Hennie van Coller se Afrikaanstalige oorsig van die geskiedenis van Nederlandse letterkunde vanuit Afrikaanse perspektief getitel Verbintenis en venster; vergelykende studies oor die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde staan relatief sterk, en daar is ook belangstelling in die transnasionale beweging tussen die twee taalgebiede en letterkundes.

......

“Ek dink die leerstoel bied ’n wonderlike geleentheid aan die studente wat Nederlandse taal- en letterkunde bestudeer om op ’n gestruktureerde manier kennis te maak met die Afrikaanse letterkunde en taalkunde binne die groter Suid-Afrikaanse konteks.”

......

Dit is veelseggend dat Afrikaans ook bestudeer word aan universiteite buite die Lae Lande wat Nederlands as ’n vak aanbied: In hierdie gevalle bied Nederlands die kader waarbinne Afrikaans nog verder in sekere gebiede versprei. Alhoewel ek dit nie self kon bywoon nie, is daar aan die einde van November 2019 ook ’n baie suksesvolle Neerlandistiek-kongres in Paramaribo in Suriname aangebied deur die Caribische Associatie voor Neerlandistiek (CARAN); dit lyk dus asof die passaatwinde daar wel deeglik hulle werk doen. Ook in hierdie omgewing sou Afrikaans moontlik van die draagkrag van Nederlands gebruik kon maak. Wat wel anders mag wees as twintig, vyf-en-twintig jaar gelede is die blootstelling wat ’n hele spektrum van Afrikaanse skrywers op die oomblik in Nederland geniet. Afrikaanse skrywers soos Elisabeth Eybers, André Brink en Breyten Breytenbach was vanaf die 1960’s tot die 1980’s in Nederland bekend, maar ek kry die indruk dat daar ná 1994, en veral in die laaste aantal jare, nuwe bekendstellingsgeleenthede vir Afrikaanse skrywers aan Nederlandstalige gehore was, en ook dat meer Afrikaanse skrywers vertaal word en sukses behaal by Nederlandse lesers. Dit is ook so dat daar deur die bemiddeling van Nederlandse befondsing meer Nederlandse tekste in Afrikaans vertaal word as vantevore. Dit is egter nog nie duidelik in hoe ’n mate hierdie vertalings tot die Afrikaanse leserspubliek deurdring en in watter mate dit ’n bron van inspirasie vir die Afrikaanse letterkunde is nie. Die impak van Nederland as kultuurruimte en Nederlands as taal manifesteer wel in die werk van hoogs suksesvolle Afrikaanse skrywers soos Marlene van Niekerk en Etienne van Heerden, iets wat moontlik as gevolg van hulle voorbeeld verder sou kon deursuur.

Sekere leesstrategieë word sterker geassosieer met bepaalde skrywers se werke in sekere eras as daarna. Is dit betreklik weinig dat ’n skrywer se oeuvre in verskillende eras opnuut baat by die lens van ’n daaropvolgende era? Word vandag meer eise gestel aan die bestudering van skrywers se werke vir ’n sinchroniese of diachroniese bespreking in enige sin? En wat is in breë trekke kenmerke ’n moderne klassieke werk in Afrikaans vandag?

Dit is nogal ’n stel ingewikkelde vrae wat jy hier saambundel! Die assosiasie van bepaalde leesstrategieë met sekere skrywers se werk het dalk meer te doen met die literêr-historiese gesitueerdheid van die (akademiese) lesers as die skrywers (alhoewel ’n mens nie kan ontken dat die skrywers eweseer literêr-histories geplaas is nie). Indien ’n mens gaan kyk na die geskiedenis van die (Afrikaanse) literatuurstudie, sal jy sien dat die akademiese lesers oor die loop van tyd gebruik gemaak het van ’n hele spektrum van leesstrategieë, wat verband gehou het met ontwikkelinge in die literêre teorie, iets wat kennelik bepaal is deur die intellektuele diskoerse van die tyd. Daarom was daar byvoorbeeld in die Afrikaanse literatuurstudie – indien ’n mens net verwys na die periode sedert die 1980’s – al sprake van Marxistiese, poststrukturalistiese, feministiese, postmodernistiese, psigoanalitiese, literatuur-sosiologiese, sisteem-teoretiese, genderbewuste, queer-georiënteerde, ekokritiese en dierestudiesgerigte benaderings tot tekste (om maar net enkele benaderings te noem). Wat my ook in die loop van die jare opgeval het, was dat die lesings deur hierdie verskeidenheid lense meestal gegrond was op deeglike analises van die betrokke tekste, ’n behoorlike ingeligtheid oor genreteorie en ’n goeie kennis van die Afrikaanse literatuurgeskiedenis.

......

“Lesings oor Afrikaans word in verskillende universiteite in die Lae Lande aangebied en lesings oor Nederlands in Suid-Afrikaanse universiteite; nagraadse studente word uitgeruil; navorsingsooreenkomste word gesluit tussen Suid-Afrikaanse en Nederlandse akademici wat navorsing doen oor die letterkunde en taalkunde van beide Afrikaans en Nederlands ... vergelykende studies oor die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde staan relatief sterk, en daar is ook belangstelling in die transnasionale beweging tussen die twee taalgebiede en letterkundes.”

......

Ek dink verder dit gebeur heel dikwels dat ’n skrywer se werk in verskillende eras op verrassend nuwe maniere deur nuwe leesbenaderings ontsluit kan word en dus – soos wat jy dit in jou vraag stel – “baat by die lens van ’n daaropvolgende era”. Aan die een kant voel ek dat dit veral die komplekse literêre tekste – vormlik ingewikkeld, inhoudelik gelaai met verskillende betekenismoontlikhede, gelaagd met verskillende verwysings, uitgebreid in die omvang wat in die teks geïntegreer word – is wat binne verskillende eras met vrug deur verskillende lense bekyk kan word. Aan die ander kant is dit egter so dat tekste wat op die oog af nié kompleks voorkom nie en helder in hulle eenvoud lyk, óók in die loop van tyd en onder die invloed van die nuwe ontwikkelinge met nuwe oë gelees word. Ek dink hier aan die manier waarop ou Afrikaanse tekste as ’t ware opnuut ontdek word deur die wyse waarop daar nou gekyk word na die uitbeelding van diere daarin.

Die vraag na die kenmerke van ’n “moderne klassieke werk in Afrikaans” is seker die moeilikste een van almal wat jy kan vra. As ek ’n antwoord móét waag, dink ek ’n klassieke teks is een van daardie wat deur óf die kompleksiteit óf die byna deursigtige eenvoud daarvan herhaaldelik en in agtereenvolgende eras nuwe lesings ontlok. Dit is die soort teks wat resoneer in verskillende eras en by verskillende gehore. Dit is ook ’n teks waarvan jy by elke nuwe lesing dink: Dít is presies hoe elke woord in die geheel geplaas moet wees.

Jy het einde laasjaar by die Universiteit Stellenbosch uitgetree ná meer as 40 jaar in die tuig. Watter skrywers en aspekte van die werk het op jou as akademikus die grootste invloed uitgeoefen en hoe? Watter skrywers van welke geslag en ouderdom dan ook spreek vandag tot jou as mens en hoekom?

Ja, ek kan skaars glo dat soveel jare verby is sedert ek voor my eerste klasse gestaan het. Wanneer ’n mens die Afrikaanse letterkunde onderrig, is dit deel van jou opdrag om aan die studente ’n blik op die Afrikaanse letterkunde te gee, hulle bewus te maak van die geskiedenis van die letterkunde, om hulle toe te rus met die analitiese vaardighede wat hulle in staat sal stel om enige literêre teks te lees en ook om hulle in te lig oor verskillende teoretiese benaderings wat gebruik kan word in die bestudering van die letterkunde. ’n Mens word dus gedwing om buite die knus ruimte van jou eie gunstelinge te beweeg en studente te laat kennis maak met so ’n groot spektrum van Afrikaanse skrywers as moontlik. Gelukkig het ek wat genoem word ’n “katolieke smaak” en ’n hotel van ’n literêre hart: Daar is ’n magdom Afrikaanse (én ander) skrywers wat my interesseer en daar ’n blyplek het. Dit gee my groot plesier dat ek ná my aftrede nog kan voortgaan met my navorsing en die studieleiding van nagraadse studente.

......

“Ek dink hulle was nogal verras deur die intensiteit, by tye ook die felheid, van die Afrikaanse letterkunde wat dikwels omgaan met die moeilike vraagstukke en pynlike kwessies waarmee Suid-Afrika worstel. Uit hul terugvoer het dit ook geblyk dat hulle geprikkel was deur die unieke tekstuur van die Suid-Afrikaanse landskap, samelewing, kulture, tale en mense.”

......

Wat die vraag oor die skrywers wat my beïnvloed het, betref: My publikasielys wys watter skrywers en onderwerpe my tot akademiese ondersoek geïnspireer het. Ek gaan net vier skrywers noem wat my in die beginstadiums van my loopbaan aangevuur het, anders word die lys te lank: C Louis Leipoldt, wat nooit ingehok kon word in die ou definisies van ’n Afrikaner nie; Etienne Leroux, wat my as jong student laat kennis maak het met nuwe kennisvelde en verwysingsraamwerke wat my asem weggeslaan het; Breyten Breytenbach, wie se poësie my gedwing het om totaal anders te lees as wat ek tot in daardie stadium gewoond was; Antjie Krog, wie se intense omgang met woorde soveel vasgevang het van die vreemde, verskeurende ervaring van wat dit is om in Suid-Afrika te leef. Daarna was daar talle uitmuntende skrywers wie se werk my herhaaldelik tot akademiese ondersoek geïnspireer het. Op die oomblik is ek veral gefassineer deur die nuwe geslag van Afrikaanse skrywers wat so vanaf die middel van die eerste dekade van die 21ste eeu hulle werk begin publiseer het, dié wat dit waag om in Afrikaans te skryf en deur die kwaliteit van hulle werk vir ’n mens aanhou oortuig dat Afrikaans onontbeerlik is vir hierdie land.

Lees ook

Gentse intreerede Louise Viljoen in het teken van "waagmoed"

Suid-Afrikaanse letterkundes en transnasionale bande: in gesprek met Louise Viljoen

Breyten Breytenbach luidt noodklok voor Afrikaans in Nelson Mandela-lezing in Gent

Breytenbach-colloquium: een verslag

Afrikaans in die buiteland: ’n onderhoud met Annelies Verdoolaege van die Universiteit Gent

Afrikaans in die buiteland: ’n onderhoud met Jacques Van Keymeulen van die Universiteit Gent

Nederlands in Suid-Amerika

In Afrikaanse letterkunde word ons globale verbondenheid steeds meer sigbaar, sê Margriet van der Waal

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top