Leiden-studie-uitruil: ’n onderhoud met Teneal Apollis

  • 0

Teneal is tans besig met haar MA-graad (finale jaar) by die Universiteit van Wes-Kaapland en doseer deeltyds in die Departement Afrikaans en Nederlands. Sy het in 2018 ’n studie-uitruil by Leiden Universiteit voltooi. Sy vertel vir Menán van Heerden meer oor haar ervaring. 

Wat het jy verwag van Nederland voordat jy na die lughawe toe gery het?

Ek het omtrent baie gelees en navorsing gedoen oor die geskiedenis van Nederland. Ek het selfs weekliks lesings bygewoon wat spesiaal in ons departement aangebied is deur ’n dosent, oorspronklik van Nederland, ter voorbereiding vir die Nederlandse trip. Sy het ons meer geleer oor die Nederlandse taal en geskiedenis en veral op plekke soos Den Haag en Leiden gefokus omdat ons die meeste van ons tyd daar sou bestee vir die ses maande.

Leiden

Behalwe die feit dat dit my eerste trip Nederland toe sou wees, sou dit ook my eerste keer op ’n vliegtuig wees, so imagine nou net die excitement! Ek het aanvanklik bietjie senuwees gehad oor die onbekende wat wag, maar hoe nader die vliegtuig aan Nederland gekom het, het die excitement vinnig die senuwees begin oorskry.

Bygesê, vir een wat teen daardie tydstip heelwat informed was oor Nederland, kon geen informasie of foto op die internet my voorberei vir dít wat ek ervaar het toe ek van die vliegtuig afgeklim het nie. Daar is sekere dinge wat jy maar net eerstehands moet ervaar, dinge wat geen foto of informasie op die internet justice aan kan doen nie.

Wat was jou eerste indrukke van Nederland toe jy van die vliegtuig afgeklim het?

Ek was op daardie stadium pootuit weens die lang reis, maar die moegheid was sommer gou-gou vergete namate ek alles rondom my begin inneem het. Ek dink daar’s twee woorde wat daardie presiese oomblikke die beste vasvang – sprakeloos en beslis amazed. Ek het dadelik begin foto’s neem, sodat ek vir almal terug by die huis op ’n manier kon deel maak van die ervaring.

Ek was amazed want ek’t verwag om meer Nederlanders te sien as enigiets anders, maar die kulturele diversiteit en die verskillende tale en aksente op een plek was vir my net amazing en een van die mooiste dinge om te aanskou en beleef. Ek het ook gou besef hoe vinnig en bedrywig die lewe aan daardie kant is, en vir een wat van ’n klein plattelandse dorpie afkomstig is, was dit nogal ’n experience! Maar ek het verbasend gou-gou aangepas.

Die publieke vervoersisteem is ’n droom! Waar ek so min moontlik van publieke vervoer gebruik maak in Kaapstad weens veiligheidsredes, was dit ’n heel ander geval in Nederland. Ek het byna elke naweek ’n ander dorpie besoek en dit was ook glad nie ’n kwessie van gedurig oor jou skouer kyk vir skelms wanneer jy alleen travel nie. Nie eers na sonsondergang nie! Omdat ons provinsie daardie tyd ’n waterkrisis gehad het, was die groenigheid en oorvloed van kanale oral waar jy kyk, ook nogal ’n verfrissende en very welcome sight.

’n Kanaal in Den Haag na sonsondergang

Hoe verskil ’n universiteit in Nederland van ’n Suid-Afrikaanse universiteit?

Daar is nie werklik veel verskille ten opsigte van byvoorbeeld die biblioteeksisteme of manier van lesings of tutoriaal aanbiedings nie. Een verskil is die tyd. Waar ’n lesing gewoonlik hier slegs 1 uur duur, kan ’n lesing twee tot drie ure duur by Leiden Universiteit.

Die kursusmateriaal word om hierdie rede meer in diepte behandel gedurende hul lesings. Daar word ook veel meer presentations (veral in groepsverband) gedoen as waaraan ek gewoond is, wat my gou-gou uit my dop laat kruip het. Gevolglik het ek hegte bande begin smee met veral ander buitelandse studente in hierdie opset.

Die kulturele diversiteit was ook weereens opvallend in die lesings en groepklasse. Die studente kom letterlik van oral oor (VSA, ander lande in Europa, Australië, om maar net ’n paar te noem) en watter voorreg was dit nie om deel te kon wees van só ’n diverse en multi-kulturele gemeenskap. 

Huismaats van Kanada, ekself (SA), Israel, Londen, Italië en China

Het jy enigiets nuuts oor die Nederlandse taal en kultuur geleer? Wat is die grootste verskille tussen Afrikaans en Nederlands?

Iets nuuts wat ek geleer het oor die Nederlandse taal is dat alstublieft nie noodwendig “asseblief” beteken nie maar “ja-dankie” of iets na-aan “plesier”. Ek was so confused toe ’n kassier by my gunsteling supermark (Jumbo) “alstublieft” sê nadat ek dankie gesê het. Daardie is definitief vir my een van die groot verskille tussen die twee tale.

Ook is hulle Kersfees, maar veral Nuwejaar-feesvieringe bietjie anders as ons s’n. Nuwe en Nuwe Oud-Nieuwjaar is op 31 Januarie en Nuwejaarsdag op 1 Januarie. Op “Nieuwjaarsavond” word tyd met familie en vriende bestee of mens kan na die open-air musiekfeeste gaan wat op die dorpspleine geskied. Die asemrowendste vuurwerke is ook daar te sien sodra die klok 12-uur slaan (dis waar ek myself bevind het in Den Haag op Nuwejaarsdag). Dit was vreeslik opwindend!

Daar is ’n tradisie op Nuwejaarsdag wat ’n “nieuwejaarsduik” behels. ’n Magdom mense kom die oggend bymekaar om ’n nuwejaarsduik te neem in die yskoue seewater op Scheveningenstrand, Den Haag. Mens sou dink dat niemand kans sou sien om daardie waters aan te durf nie, maar ek was verbaas om te sien hoeveel mense, jonk en oud, opgedaag het vir hierdie geleentheid. Ek was egter nie so braaf nie en het liewer die hele affêre dopgehou vanuit ’n knusse restaurantjie met die heerlikste koppie hot chocolate. Dalk volgende keer!

Wat was jou gunsteling-Nederlandse gesegde?

Die volgende het almal gunsteling uitdrukkings, asook deel van my woordeskat geword:

Als goed? (Gaan dit goed?/Is alles nog orraait?), Doei! (totsiens) en Prima! (Uitstekend)

Wat was jou gunsteling-Nederlandse gereg / dorp / stad / besienswaardighede?

Die klassieke Hollandse gebakken kibbeling (vis) met frietjes (slapchips) en mayonnaise, selfs die kibbeling-toebroodjie was altyd ’n wenner na ’n lang dag. Pannenkoekhuis se smullekker pannekoeke was ook ’n gunsteling en dan natuurlik ook die stroopwafels waarvan ek nooit genoeg kon kry nie. Ek het vir ’n maand na my tuiskoms steeds aan stroopwafels gesmul.

Die historiese en prentjiemooi dorpie Delft het my gunstelingplekkie geword in Nederland. Ek kon ’n volle dag net daar rondloop en alles inneem totdat my voete nie meer wou loop nie. My gunsteling-besienswaardighede was die “Kerstmarkte” asook die Kersfeesversierings oral waar jy gegaan het gedurende die feesseisoen in Nederland.

Delft

Hoe het jou uitruil jou MA-studie aangevul?

Ek was in daardie stadium (2018) besig met my navorsingsvoorstel en het bietjie gesukkel met die teoretiese begronding van my studie as gevolg van beperkte bronne. Die feit dat daar nie veel studies gedoen is oor my navorsingsonderwerp nie, het dit nog moeiliker gemaak.

Die oorvloed van bronne beskikbaar by biblioteke in Leiden en Den Haag, asook sekere lesings, het beslis gehelp om hierdie struikelblok te oorkom. Teen die tyd dat ek moes oppak na ses onvergeetlike maande, was my voorstel byna klaar. Ek kon dus ook veel vinniger vordering maak met my verhandeling en maak binnekort klaar daarmee.

Lees ook

Den Haag-studie-uitruil: ’n onderhoud met Tenita Kidelo

Groningen-studie-uitruil: ’n onderhoud met Shawna-Leze Meiring

Duitsland-studie-uitruil: ’n onderhoud met Giselle Botha     

Meestersgraadstudies in Frankryk: ’n onderhoud met Janet Vermaak

Meestergraadstudies in Londen: ’n onderhoud met Marina Pienaar

Leuven-studie-uitruil: ’n onderhoud met Sandri Smit

Leiden-studie-uitruil: onderhoud met Marlies Haupt

Leiden-studie-uitruil: ’n onderhoud met Carmi Britz

Kuils River law student heading to the Netherlands on prestigious Mandela Scholarship

African ties to the "hermit kingdom": an interview with Leiden University PhD student, Tycho van der Hoog

"The gift of the Nile is shared by 11 countries with various ethnicities, cultures and needs" – an interview with Leiden University PhD student, Abeer Abazeed

"Especially poor women with diabetes suffer in South-Africa": An interview with Chipo Mutyambizi, PhD student

’n Skool van ’n voorstad van Kaapstad verken Nederland

Bezoek uit Bellville

België-studie-uitruil en die Jongerenprojek: ’n onderhoud met Aletta Simpson

Jongerenprojek Netwerk 2019

Verslag Jongerenproject 2018

LitNet-argief: Vyf Suid-Afrikaners en die Taalunie Zomercursus Nederlands (TZN) 2017

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top