Bruggenhoofden: Yves T’Sjoen en Andries Visagie verken die verruimende bande van letterkundes

  • 0

Yves T’Sjoen en Andries Visagie by die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) in Pinelands, ’n voorstad van Kaapstad (Foto: Juliana M Pistorius)

In die voorlaaste sessie van die Kaapstadse gespreksreeks Bruggenhoofden het die Gentse literator Yves T’Sjoen met die Stellenbosse literator Andries Visagie gesels oor die verruimende perspektiewe tussen die Afrikaanse en Nederlandse letterkundes, berig Willem de Vries.

Visagie is as letterkundige reeds geruime tyd nou betrokke by die vergelykende studie van Afrikaanse en Nederlandse letterkundes. In die negentigerjare het hierdie vergelykende blik vir hom aan reikwydte en nuansering gewen toe hy in Nederland gewoon en studeer het.

In daardie tyd het hy navorsing gedoen vir sy MA-studie met die titel “Visies op die geskiedenis in die postmodernistiese literatuur, met verwysing na Etienne van Heerden se Casspirs en Campari’s en Louis Ferron se Turkenvespers”, aanvanklik op Stellenbosch en later in Utrecht.

T’Sjoen wou graag hoor wat vir Visagie bygebly het ná sy kennismaking met dié stad en die Nederland van tóé. Visagie was een van die eerste Eikestadse studente wat, danksy die politieke oorgang van die negentigerjare, toegelaat is om in Utrecht te studeer. Hy het sy studie daar onder leiding van Redbad Fokkema, ’n digter en dosent in moderne Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Utrecht, gevolg.

Die politieke oorgang wat in Suid-Afrika aan die gang was, het Visagie in sy Utrechtse tyd ervaar as “’n soort soekende en tastende herstel van verbande, want daar was heelwat vooroordele aan beide kante. Ek moes my dus behoorlik bewys as ’n regdenkende Suid-Afrikaner. Ek is goed dopgehou vir moontlike ‘foutiewe’ politieke standpunte. Maar dit was ’n besonder verrykende tyd, nie net om onder Wiljan van den Akker, Ben Peperkamp en Redbad Fokkema te studeer nie, maar ook om die jare negentig in Nederland te beleef. Dit was ’n tyd van welvaart, ’n tyd van groot openheid; ek dink veel meer as nou.”

Groter tuiskoms 

Die kulturele lewe in Nederland het hy aanvanklik as minder bekend ervaar as wat hy vermoed het hy sou, iets wat tot op daardie stadium grotendeels op sy lees van letterkunde geskoei was. Op ’n vraag van Karin Benjamin, ’n dosent in Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad, het Visagie gesê die beeld wat hy in die letterkunde van Nederland gekry het, was dié van ’n gidsland, ’n land waar alles moontlik is en waar openheid heers. Tydens sy verblyf en ondersoek daar het hy gesien dat dit nie deurentyd en oral die geval was nie.

“Ek het baie gou agtergekom dat daar in dié tyd al sterk weerstand teen migrante was. Dit was iets nuuts. Ek was nog jonk, in my twintigs, en moes ook nog baie leer. Namate ek langer in Nederland vertoef het, het ek die Nederlandse bevolking op ’n gewoon menslike manier leer ken. Ek het ook ’n beter greep en waardering gekry vir die diversiteit binne die Nederlandse samelewing, wat my uiteindelik baie meer verryk het. Dit het my ook gehelp toe ek teruggekom het in Suid-Afrika om hier met diversiteit om te gaan en buite my eie belange en bekende terrein te tree. Dit was een van die belangrikste lewenslesse wat ek in Europa geleer het: om op ’n ander manier met my eie omgewing om te gaan.”

Benaderings van postmodernisme 

T’Sjoen het hom gevra hoe bepalend sy Utrechtse ervaring vir sy akademiese loopbaan was en watter sake bepalend was vir sy ontwikkeling as akademikus, ook al was die konteks en terrein tóé ook anders.

Vir Visagie was die opkoms van die postmodernisme in daardie tyd prominent, en hy het gou agtergekom dat hierdie veld op verskillende maniere in Suid-Afrika en Nederland benader word.

“Die Nederlandse literatuurwetenskap het die postmodernisme meer struktureel benader, as ’n spel tussen tekste, terwyl dit in Afrikaans duidelik was dat daar meer en sterker aandag aan die geskiedenis en die politieke omstandighede van die tyd gegee is. Dit was immers ’n roerige tyd in Suid-Afrika.

“Eers later, met die werk van Thomas Vaessens byvoorbeeld, het die Nederlandse akademici ook begin kyk na die laat-postmodernisme, wat ’n meer betrokke benadering tot die letterkunde gehad het.” In Afrikaans het daardie moment van betrokkenheid vroeër aangebreek as in Nederland en dit was nogal ’n interessante spanning tussen die twee benaderings, het Visagie gesê.

T’Sjoen het by sy siening aangesluit en verwys na die tussenspel van kulturele kontekste en die invloed daarvan op strominge en hoe dit neerslag vind in verskillende literêre beskouings en toepassings daarvan. Dit het gevolglik tot verskillende benaderings van leesstrategieë aanleiding gegee. T’Sjoen het benadruk dat daar in die algemeen gepraat word van postmoderne literatuur, maar dat daar verskeie postmoderne literature en postmodernismes is. Ook die laat-postmodernisme en laat-modernisme is iets wat Vaessens in sy publikasies behandel, het hy gesê.

Vergelykende literatuurstudie 

Is Visagie in sy ondersoek vandag steeds wel skatpligtig aan die paradigma van die Laelandse neerlandistiek?

Die skatpligtigheid sal waarskynlik nie ophou nie, het Visagie geantwoord en gesê dit is te ryk, ook die insigte wat gedeel word vanuit die Lae Lande. Hy sonder in hierdie verband T’Sjoen se bydraes uit en verwys ook na die talle ander akademici wat “boeiend skryf oor die deurgang van modernisme na postmodernisme en metamodernisme”. Hy het verwys na teorie wat op ’n “interessante en boeiende manier” in die Lae Lande gekonsipieer is, wat verskil van die Engelstalige literatuurwetenskap en wat in sy eie navorsing sterk tot hom spreek.

’n Verkenning van oeuvres

T’Sjoen sien dat die komparatistiek baie aandag kry in Visagie se navorsing, insluitend vergelykende werk oor Jan Rabie en Harry Mulisch. By die Nederlandse digter Benno Barnard en die Afrikaanse digter Breyten Breytenbach vergestalt fasette van hul poëtikas in byvoorbeeld voëlgedigte. Visagie vind vergelykende literatuurstudie “eintlik onmisbaar omdat dit jou dwing om nie net binne jou eie silo en bekende gebied met ’n heel beperkte verwysingsraamwerk te kyk nie. Jy daag jouself uit om ander perspektiewe uit ander tale te betrek en om te sien wat die konsekwente elemente in albei tale is, maar ook wat die verskille en ander aksente is wat in soortgelyke strominge of onderwerpe in verskillende skrywers se oeuvres verken word”.

In sy navorsing oor Barnard en Breytenbach is dit vir hom interessant om te sien “hoe hulle met die taal van die liriek omgaan, hoe hulle die tipiese simbole en metafore gebruik wat in die poësie en spesifiek liriese poësie voorkom”. Barnard sluit aan by die nagtegaal, die Europese sangvoël wat dikwels instaan vir die digter of die liriese poësie, en hy gaan diep in op die Europese geskiedenis, die Italiaanse literatuur en die kuns wanneer hy skryf oor die nagtegaal wat hy in Italië teëkom. Visagie beskou Barnard se werk wat gewortel is in ’n Europese konteks van diep verworwe tradisie, as iets waarvan Barnard dan deel is.

“Dit is fantasties om te sien hoe hy dit herbewerk en daarop reageer, terwyl Breytenbach kyk na bloukuifloeries en ander Suid-Afrikaanse voëls, ook sangvoëls, en op ’n ander manier probeer kyk, byna dekoloniserend, of dit moontlik is om die (gedagte aan) die vreemde nagtegaalvoël eerder in die Suid-Afrikaanse konteks te bekyk met voëls van Afrika, wat ook ’n tradisie in die inheemse poësie het. Die bloukuifloerie in die Zoeloekultuur word geassosieer met die digter, en op dié manier kyk hy op ’n ander manier na taalgebruik, simbole en konsepte oor die liriese poësie wat nie net Europees gesentreerd is nie.”

Ooreenkomste in ’n komparatistiese ondersoek is soms so sterk dat dit Visagie noop om dit verder te bekyk. Hoe het dit gekom dat byvoorbeeld Jan Rabie en Harry Mulisch in die jare vyftig geskryf het op ’n surrealistiese manier met verwysing na die postkoloniale konteks? Sy navorsing in dié geval was oor Rabie se verhaal “Die man met die swaar been” uit Een-en-twintig (1956) en Harry Mulisch se verhaal “Wat gebeurde er met sergeant Massuro?” uit De versierde mens (1957).

“Ek wou kyk, het die skrywers van mekaar geweet? Wat was in die lug in dié tyd dat hulle albei oor dieselfde onderwerpe geskryf het? Dit het my eintlik gedwing om te kyk na die Franse (eksistensialistiese) letterkunde wat eintlik die bemiddelde invloed gehad het, met werk van Albert Camus (waaronder ’n teks wat Rabie van Camus in Afrikaans vertaal het as “Die klip wat groei”). Visagie se gevolgtrekking is dat dít die weg was wat albei gevolg het, hoewel onafhanklik van mekaar.

Vir Rabie in die bundel Een-en-twintig was die Frans-Belgiese skrywer Henri Michaux ’n belangrike voorganger. Hieroor is meer te lees in Visagie se artikel “Surrealisties teen die kolonialisme: ‘Die man met die swaar been’ van Jan Rabie en ‘Wat gebeurde er met sergeant Massuro?’ van Harry Mulisch” in die Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans.

Tom Lanoye en Afrikaans 

T’Sjoen het gevra na hedendaagse skrywers wat tot Visagie spreek.

Visagie het Tom Lanoye uitgesonder as iemand wie se werk en lewe ’n lang verbintenis met Suid-Afrika het. “Hy skryf ook oor Suid-Afrika byvoorbeeld in sy roman Gelukkige Slawe wat Daniel Hugo in Afrikaans vertaal het en dit gaan ook (onder meer) oor renosterstropery wat internasionaal uitwaaier. Dit raak opnuut interessant as ’n mens kyk na Eben Venter se jongste roman, Decima, waarin renosterstropery ook betrek word en vanuit my perspektief van mens-dier-verhoudings is dit nogal ’n boeiende onderwerp om verder te verken.”

T’Sjoen het genoem dat Lanoye gereeld in die Lae Lande optree saam met Antjie Krog en dat hy onlangs die Nederlandse Prijs der Letteren ontvang het, een van die mees prestigeryke prys in die Lae Lande vir ’n literêre outeur. “En ek het my laat vertel dat wanneer hy die prys in ontvangs sal neem, dat hy ook heel veel aandag sal bestee aan Afrikaans. En dat hy dit belangrik vind om ook in die Lae Lande ’n lans te breek vir Afrikaans.”

T’Sjoen het genoem dat heelparty fiksietekste van Lanoye in Afrikaans beskikbaar is en wat deur Hugo vertaal is. Watter werke sou Visagie van Lanoye ook in Afrikaans wou hê moet uitgereik word?

Visagie beskou Lanoye se Monster-trilogie (bestaande uit Het goddelijke monster, Zwarte tranen en Boze tongen) as een van die hoogtepunte in sy prosawerk wat hom “’n besonderse greep gee op die Vlaamse, Belgiese kultuur en samelewingsproblematiek rondom 2000”. Visagie beskou dit as ’n belangrike leerskool ook om die Belgiese samelewing beter te verstaan. Hy sou graag wou sien dat iemand soos Hugo dit vertaal.

Navorsing en invalshoeke 

Visagie doseer tans werke uit die ouer Afrikaanse letterkunde en begin voor 1960 deur ’n sterk aanloop te neem vanuit die Nederlandstalige literatuur wat in Suid-Afrika in die koloniale tyd gepubliseer is en het vertel van ondersoeke wat van sy nagraadse studente onderneem.

Hieronder tel navorsing oor Benigna van Groenekloof of Mamre (1873) wat deur bes moontlik Hermann Benno Marx, ’n Morawiese sendeling, geskryf en gebaseer is op die lewe van ’n Khoivrou.

“Sommige (vroeëre tekste) is nogal moeilik om te verteer, want daar word dikwels op ’n baie minagtende manier geskryf oor die inheemse bevolking van Suid-Afrika. Maar ek dink dit is tog belangrik dat ’n mens presies weet wat wel gesê is in dié tyd en waar sekere stereotipe-verwagtinge vandaan kom wat tot vandag toe nog voortleef. En om daarmee op ’n kritiese maar ook gekontekstualiseerde manier om te gaan.”

In navorsing oor meer resente werk, vertel Visagie van werk saam met ’n PhD-student oor die ontwikkeling van ’n reeks aksieromans wat verskyn het en vir jeugdiges geskryf is in die 1940’s tot en met die 1960’s deur FA Venter (onder die skuilnaam Meiring Fouché) en ook deur die minder bekende Braam le Roux wat ’n miskende, maar baie produktiewe skrywer was van die Swart Luiperd-reeks, met vir die tyd gewaagde omslae maar heel onskuldige verhale.

Hy ag die Swart Luiperd-verhale “goed geskryf as aksieverhale” wat veel inspirasie geput het uit ’n Amerikaanse invloed soos Tarzan.

Midde-in hierdie navorsing het ’n interessante Nederlandse invalshoek ontstaan. “Ek kyk op die oomblik met groot belangstelling na ’n jonger Nederlandse skrywer van Surinaamse afkoms, Raoul de Jong, wat ’n boek geskryf het, Jaguarman, ’n fantastiese boek wat ’n soort terugkeer of ’n soeke is na die Surinaamse assosiasie met ’n jaguar waarin jy jou as swart mens in Suriname kon omskep.

“In die kader van mens-dier-studies bied dit interessante vergelykings met luiperds en ander groot katte vanuit die antieke tyd tot nou. Daar is interessante deurlopendhede in die literatuur, wêreldwyd.”

Leeslyste en die kwessie van balans 

Waar dit gaan om Nederlandse leeslyste vir Suid-Afrikaanse universiteite sal T’Sjoen graag ’n paar titels wou voorstel vir insluiting by die gevestigde klassieke boeke aan universiteite, sodat dit sou insluit dié boek van De Jong, soos ook Ena Jansen se vertaling van Maria Dermoût se roman, Die tienduisend dinge, en haar komende vertaling van Multatuli se Max Havelaar. Vir T’Sjoen is dit dan ook belangrik dat die beeld van die Nederlandse literatuur vir ’n hedendaagse studentepubliek met belangstelling vir Afrikaans en Nederlands neerslag vind in leeslyste op universiteit en waarby byvoorbeeld Jaguarman goed integreer.

“Dit is ’n kwessie van balans, maar met ’n eiesoortige beklemtoning, dink ek, wat vir ons konteks belangrik is,” het Visagie gesê. “Daar is baie om te doen, ’n mens kan ook eintlik maar net hier en daar iets aanraak. En ons moet daardie sensitiewe balans behou tussen wat onmiddellik interessant is vir studente en dit wat hulle mettertyd ook interessant mag vind met groter rypheid wat kom met die jare.”

Visagie en kollegas in sy departement fokus vandag sterk op die behoeftes van Wes-Kaapse studente. “In die departement Afrikaans en Nederlands is in die verlede ’n baie sterk wit kanon gevolg en ons het dit doelbewus gaan hersien en besef dat ons nie net vir ’n krimpende wit Stellenbosse studentepubliek voorsiening moet maak nie. Ons moet die deure oopgooi.”

Vandag word studente dus bekend gestel aan werke van jong skrywers aan die orde van Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer en Lynthia Julius.

“Ek kyk altyd met bewondering wat my kollega Alfred Schaffer doen met sy studente en hy is baie meer as ek betrokke by onderrig van Nederlands in my departement. Hy lê baie sterk klem op skrywers met ’n postkoloniale agtergrond en hy nooi hulle ook uit hierheen,” het Visagie gesê. “[Die digter] Radna Fabias het byvoorbeeld ’n baie suksesvolle besoek gehad. Ons het onlangs vir [die digter] Alara Adilow ook hier op hierdie verhoog [in die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere] gehad en dit skep vir die studente ’n baie meer toeganklike toegang tot Nederlands, om te sien daar is ook in Nederland en in België aandag vir skrywers wat ’n soortgelyke agtergrond met die koloniale verlede soos hier in Suid-Afrika het.”

Visagie beklemtoon dat ’n mens natuurlik ’n balans moet hou om nie ’n vertekende of eensydige beeld van die Nederlandstalige literature aan die studente voor te hou nie. “Maar as jy hulle aandag wil gryp en hulle wil inspireer, is dit ’n baie goeie plek om hulle te ontmoet. Dit is ook belangrik dat hulle weet wie was Vondel. Wat was die Van den Vos Reynaerde? Hoe het dit byvoorbeeld ook in die Suid-Afrikaanse letterkunde ’n plek gekry? Ons het ook ’n heel interessante funksie [in SASNEV] daaroor gehad met die bekendstelling van Henning Pieterse se Afrikaanse vertaling Reinaard die Vos.”

Visagie se belangstelling in mens-dier-studies het hom bewus gemaak van die soms reduksionistiese manier waarop diere ingesluit word in tekste, as alter ego’s van die hoofkarakter of op ’n heel onakkurate manier wat nie regtig verband hou met die spesie-aard van ’n spesifieke dier nie, het hy gesê.

Taal en kwessies 

T’Sjoen het hom gepols na sy gevoel oor die internasionale tendens met plaaslike aksente waarvolgens departemente waar taal en letterkunde gedoseer word verwag word om verder te besuinig.

Visagie het gesê hy vermoed die verminderde belangstelling in tale het te make met die band wat jonger mense het met die moedertaal.

“Ek dink die belangstelling is nog baie lewendig om vreemde tale aan te leer en iets nuuts te gaan verken buite hul eie moedertaal. En dat die persepsie daar is dat hulle tog reeds hulle eie moedertaal kan praat, gemaklik is daarmee en daarom liewers iets anders gaan studeer.

“Maar daar is ook ’n soort pessimisme wat ek by Afrikaanssprekende studente teëkom oor die stand of status van Afrikaans tans in Suid-Afrika. Hoewel Afrikaans eintlik baie goeie infrastruktuur het, baie beter as byvoorbeeld Zoeloe of Xhosa of enige ander Afrikataal in Suid-Afrika. Daar’s baie geld om die dissipline te ondersteun. In my departement het ons byvoorbeeld twee geborgde leerstoele wat ’n groot inspuiting is vir ons departement.”

Benewens aspekte soos dalende geboortesyfers en die rol van emigrasie, sonder hy ook die negatiewe persepsies uit staatsgeledere uit, onder wie die minister van hoëronderwys, Blade Nzimande, wat in die nuus was oor hy skynbaar tevrede daarmee was dat nóg Afrikaans nóg die Khoitale onder die land se inheemse tale gereken behoort te word. “Dit is eintlik die verwaarlosing ook van taal vanuit staatsgeledere wat mense nogal moedeloos maak, vir my ook soms.”

Literatuur haar sentrale posisie toe nié kwyt 

Visagie was tot onlangs lid van die Letterkundekommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en dien as voorsitter van die Afrikaanse Letterkundevereniging (ALV). T’Sjoen het hom gevra na die botsing twee jaar gelede met die nou voormalige voorsitter van die Letterkundekommissie, Hennie van Coller, na aanleiding van ’n rubriek wat Van Coller geskryf het waarin hy krities staan teenoor die feit dat daar soveel rand- en marginale figure in die Afrikaanse letterkunde en in jeugliteratuur voorkom.

“Ek het saam met ’n paar ander lede van die Letterkundekommissie beswaar gemaak teen die uitsprake en dit het toe ’n steeds groter beweging geword met meer stemme wat geklink het, onder andere die Hertzogpryswenner van twee jaar gelede, Fanie Naudé, wat die Hertzogprys in ontvangs geneem het vir sy kortverhaalbundel Dol heuning en in sy toespraak ook op die rubriek ingegaan het.”

By terugskoue het die debakel volgens Visagie ’n negatiewe beeld gevestig oor die Akademie wat skadelik was en dat dit steeds by hom spook, omdat dit eintlik gaan oor ’n tendens wat ’n mens wêreldwyd sien, ook in Suid-Afrika rondom woke-isme. Die vyandigheid teenoor “woke” lei tot allerlei reduksionistiese sienings van moeilik verkreë regte en vryhede wat nog steeds redelik kwesbaar is en nou op ’n redelik brutale manier eenkant gewerp word onder een sambreel, waarvolgens alles woke en daarom verkeerd is en sleg, en sodoende word alles in een haal by die deur uitgegooi. Dit val vir hom in die kader van boekverbranding, vernietiging van boeke soos in Hongarye en die sensuur van boeke in ’n Amerikaanse staat soos Florida, met boeke wat van die rak afgehaal word. Hy is besorg oor hierdie tendens en noem dat dit eweneens nie onbekend is in die Lae Lande nie.

T’Sjoen het verwys na kritikasters wat sê dat literatuur haar sentrale posisie kwyt is, maatskaplik gesproke, “maar blykbaar is literatuur tog so belangrik dat daar polemieke oor gevoer word en oorgegaan word tot boekverbranding of dat daar allerlei dispute is oor die rol van literatuur. Dan is dit weer bemoedigend op ’n manier om dit tog anders te bekyk, want dan sê dit iets oor die maatskaplike prestige wat literatuur vandag blykbaar tóg nog geniet.”

T’Sjoen het hom gevra oor ’n satiriese verhaal van hom wat op LitNet verskyn het.

“Met die botsing met professor Van Coller oor die rubriek wat hy geskryf het, het ek besluit om uiteindelik ’n verhaal te skryf waarin ek eintlik ’n bietjie satiries omgaan met die hele onverkwiklike debakel. Ek weet nie of ek myself noodwendig sal beskou as ’n kreatiewe skrywer nie. Ek het dit wel geniet om dié stuk te skryf. Ek dink wat wel vir my daar opgeval het, is dat soms, omdat ek myself soms te ernstig opneem, ek dit nogal geniet het om myself te amuseer en ook om hopelik ander mense te laat lag en op ’n satiriese manier te kyk na sake.”

T’Sjoen wou by hom weet hoe hy meen akademiese onderwys in die toekoms ten beste georganiseer kan word.

“Ek dink dit is nodig, maar ons moet ook daarteen waak om nie ons eie tradisie te verwaarloos nie,” het Visagie gesê. “Ons moet nog steeds fokus op narratologie, op die teorie van die liriek, die teorie van die drama, maar ook iets wat jy ook baie goed onder die aandag gebring het, naamlik om na te gaan hoe skrywers met mekaar onderlinge kontakte sluit en die effekte wat dit voortbring. Dis ’n baie sterk literêre fokus en dit moet bly.”

Die volledige Bruggenhoofden-gespreksreeks wat in die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere in Pinelands, Kaapstad, aangebied is, is op die Studio SASNEV-kanaal op YouTube terug te kyk.

Lees ook:

Bruggenhoofden: Anastasia de Vries lewer rigtende bydraes in kritiese herevaluering van tale, geskiedenis en gemeenskappe

Bruggenhoofden by SASNEV: Yves T’Sjoen lei saam met Louise Viljoen gesprekreeks in oor letterkundes

Bruggenhoofden: Alfred Schaffer, ’n digter en vertaler van die tussengebied

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top