Bruggenhoofden: Alfred Schaffer, ’n digter en vertaler van die tussengebied

  • 0

Hoe bly neem ’n digter en vertaler van die orde van Alfred Schaffer sy sentrale plek in die kreatiewe tussengebied tussen Afrikaans en Nederlands in, in ’n era waarin so ’n groot verskeidenheid skrywerstemme, tale en temas in die polifonie van multikulturele letterkundes in Afrikaans en Nederlands al hoe meer aandag ontvang?

Willem de Vries het gaan luister na Yves T’Sjoen se gesprek met Schaffer op 23 Maart in die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) in Kaapstad.

Alfred Schaffer (Foto: Izak de Vries)

Wedersydse betrokkenheid

Schaffer is sowel veel bekroonde digter as bekendsteller en bloemleser van die werk van Afrikaanse digters en skrywers aan Nederlandse lesers en hy stel gereeld Afrikaanse studente bekend aan die werk van onder andere skrywers wat tans in Nederland en Vlaandere opgang maak.

Schaffer se betrokkenheid by letterkundes op die brug tussen Afrikaans en Nederlands kry ook aandag in T’Sjoen se gesprek met Schaffer hier. Hul geskrewe gesprek op Voertaal is deel van ’n komende publikasie uit die pen van die prolifieke navorser en literator T’Sjoen, te wete Twee overzijden. Kronieken en tweespraken (Academia Press, 2024), die derde publikasie wat deur Kwintet. Literaire dialogen tussen Afrikaans en Nederlands (W∞lf, 2023) en Breyvier. Over taal, burgerschap en Breytenbach (Skribis, 2023) voorafgegaan is. In Kwintet wy T’Sjoen ’n hoofstuk aan Schaffer as literêr-kulturele brugbouer en skenk daarin ook aandag aan onder meer liminaliteit en kulturele tussenruimtes.

In die gees van Twee overzijden, het T’Sjoen met Schaffer verder gesels as deel van ’n reeks SASNEV-gesprekke, getiteld Bruggenhoofden. In Januarie het T’Sjoen die reeks ingelei met ’n gesprek met die Stellenbosse literator Louise Viljoen. (Lees ’n berig oor die geleentheid.)

Schaffer se fasiliterende rol tussen Afrikaanse en Nederlandse letterkundes, sowel as sy eie deelname as skrywer, gesiene digter, vertaler en dosent is belig in die gesprek. Hulle het ook ingegaan op die funksies wat Schaffer op die brug tussen Afrikaans en Nederlands beklee.

Letterkundes en tydskrifte

Schaffer het die aandag gevestig op die belangrike rol van literêre tydskrifte in die bewusmaking van die werk van skrywers in ander taalgebiede en die rol van vertaling daarin. Hieronder tel tema-uitgawes met byvoorbeeld Oekraïnse poësie of Poolse digters, roman- en kortverhaalskrywers se werk.

Schaffer het vertel hy gaan vir Dietsche Warande & Belfort (DW B) ’n tematiese uitgawe saamstel oor Suid-Afrikaanse literatuur. Dit bied dan ’n manier om ’n verskeidenheid stemme van buite Nederland en België daar bekend te stel. Tevore het Nederlandse vertalings van verskeie Afrikaanse digters uit sy pen in DW B en elders verskyn.

Sopas het ’n uitgawe van De Revisor verskyn wat gewy word aan poësie en waarin van die meermale bekroonde digter Ronelda Kamfer ’n Afrikaanse gedig opgeneem is en wat Schaffer in Nederlands vertaal het. Schaffer is die Nederlandse vertaler van al Kamfer se bundels gedigte en van haar eerste roman Compoun (Wereldbibliotheek). Die oorspronklike het die Rapport Jan Rabie-prys in 2022 ontvang en in haar commendatio skryf Anastasia de Vries die roman is “’n déúrgekomponeerde werk uit die hand van ’n meesterstorieverteller met die taalgevoeligheid van ’n digter en die vernuf, tegniek en waarnemingsvermoë van ’n wêreldklasskrywer”.

Vertaalkeuses

Op ’n vraag van Viljoen uit die gehoor het Schaffer vertel dat in sy besinning oor ’n moontlike titel vir die vertaling het hy gevoel compound is te Amerikaans. Die vertaler Marius Swart, ’n kollega van Schaffer aan die Universiteit Stellenbosch, het voorgestel dat hy die Engelse woord behou maar die laaste letter weglaat. Vir Schaffer bied dit toe die oplossing. “Esteties dink ek dis pragtig en nóg sal jy mense hê wat vra: ‘Hoekom het jy daardie woord as die titel gekies?’ Jou keuse is heeltyd vir foreignisation of domestication. Ek hou toenemend van vreemdheid, maar jy wil ook sorg dat die Nederlandse leser nie ‘uit die teks val’ nie.”

T’Sjoen het gevra na uitdagings waarmee Schaffer te kampe had by die vertaling van ’n roman soos Kompoun.

“Wat ek ook op Voertaal skryf, is dat ek agterkom dat om prosa te vertaal op ’n manier makliker is as die poësie. Ek kom dit agter terwyl ek prosa vertaal. In daardie opsig is die vertaalwerk aan ’n roman, hoewel dit meer werk is en intensiewer, eintlik makliker.”

Vertaler tussen tale

Vir Schaffer is dit egter in ieder geval heelwat moeiliker om byvoorbeeld uit Kaaps vir ’n leserspubliek in Nederland en België te vertaal as uit Standaardafrikaans of Engels, omdat daar tot op hede nie ’n woordeboek beskikbaar is vir Kaaps nie.

As hy die werk aan Kompoun (’n roman) vergelyk met sy vertaling van die vermaarde digter Ilya Kaminsky se Deaf Republic (’n digbundel), val dit hom op dat in laasgenoemde as jy ’n Engelse woord nie ken nie, kan jy terugval op ’n woordeboek maar waar dit om Kaaps gaan, is die drietalige woordeboek (Standaardafrikaans, Engels en Kaaps) nog in aantog.

Wat vir hom kenmerkend is van Kaaps vandag is dan ook die hoë mate van Engels. Sou hy dit letterlik saam vertaal in Nederlands, kry die Nederlandse leser ’n hoë register in die Engelstalige gedeeltes. Dit klink dan heel spreektalig maar in Nederlands is dit dan die taal van ’n soort hip caffè latte-drinker in Amsterdam of Rotterdam. Dan is dit ook heel buite die konteks van Grabouw of Elsiesrivier of waar dan ook dit kan afspeel, het hy verduidelik.

Vertaling as leerskool

T’Sjoen het Schaffer gepols oor die invloed op sy vertaling van Kamfer se roman gegewe hy die vertaler is van haar vier digbundels wat dit voorafgaan. Het dit Schaffer gehelp by die vertaling van Kompoun dat hy die literêre idiolek en diskoers ken en daarmee sy eie weg kon vind?

Schaffer was dit met hom eens en het gesê omdat hy Kamfer se taal en tematiek goed ken en meer ervaring al had van vertaling het dit gevlot. Schaffer en Antjie Krog het by die saamstel van Nuwe Stemme 3 afgekom op Kamfer se poësie en nadat Krog met haar uitgewer by Podium gesels het, is Schaffer gevra om Kamfer se debuutdigbundel, Noudat slapende honde, in Nederlands te vertaal. Hy herinner hom dit nog as ’n harde leerskool om die vertaling tot stand te kon bring vir wat dit geword het. Dit bly ’n uitdaging om die taal en konteks deur te gee aan ’n doelpubliek van ’n taalgemeenskap wat terselfdertyd binne ’n groter geheel verskillend is. (En meer nog: Kaaps word byvoorbeeld verstaan as ’n oorkoepelende begrip waarbinne ’n verskeidenheid soorte Kaaps is.)

As hy nou opnuut Kamfer se debuutbundel weer sou vertaal, sou hy ander keuses gemaak het? wou T’Sjoen weet. Hy het die vraag gevra teen die agtergrond van vertaling as ’n soort outobiografiese proses – die woorde wat iemand kies is dalk anders vandag as 10 jaar gelede.

Schaffer het beaam dat dit waar is van sy skrywerskap én vertaalwerk. As hy nou ’n bundel sou bekyk uit 2000, sou hy ’n reël anders laat loop of ’n ander beeld kies, iets wat vir ’n vertaling ook geld. ’n Vertalerspoëtika ondergaan ook verandering. Hulle is dit eens.

Schaffer het verwys na die keuse vir óf ’n woordelys by ’n vertaling óf voetnotas, of om dit aan te bied daarsonder. Dit is oorwegings wat blyk verband te hou met sowel konteks as tydsgees.

Sou Schaffer soos by die pasverskene Nederlandse vertaling van Die getuienis (deur Robert Dorsman) van die Afrikaanse skrywer Francois Smith kies vir uitgebreide voetnotas om ’n aantal verwysings aan te kaart? wou T’Sjoen weet.

Schaffer meen dit is miskien wel iets anders as ’n woordelys, maar terselfdertyd voel hy die leser kan tog maar moeite doen om iets na te slaan om iets te begryp waar nodig.

Schaffer ag die afdruk van die vertaling naas die oorspronklike in die geval van ’n bundel of keuse gedigte ’n mooi gebaar aan die leser, hoewel hy as vertaler hom ietwat onbeskut voel dan ten opsigte van vertaalkeuses; in prosa word dit in die reël nie gedoen nie en voel die vertaler daarvan dus ietwat veiliger.

T’Sjoen het hom gevra hoe hy as vertaler ’n beeld konstrueer van ’n anderstalige literatuur vir ’n bepaalde doelpubliek en beperk dit in hierdie geval tot die voorbeeld van poësie. Ook Schaffer se literêre naambekendheid speel hierin ’n rol en kan selfs beeldbepalend wees vir die manier waarop skrywers en tekste oorkom in vertaling, meen hy.

Schaffer trek hom egter niks daarvan aan nie en sê dat as vertaler is hy eties daarop ingestel om so goed moontlik te werk te gaan, mede om reg te laat geskied aan die konteks waarin ’n bepaalde literatuur afspeel. Die jonger generasie digters van kleur het ’n ander verhaal te vertel en daarmee moet hy versigtig omgaan, ook met die publiek in Nederland en België wat totaal nie daarmee bekend is nie, het hy gesê. Syns insiens speel sy outobiografiese hoedanigheid nie sodanig ’n rol in hierdie verband nie. Uiteraard is daar rolspelers, maar as leser is ’n mens nie so besig daarmee nie, het hy gesê. En juis by vertaling stel Schaffer sowel die insette van ander mense op prys in die redigeerproses as by die finalisering van ’n manuskrip.

Skrywersbetrokkenheid

T’Sjoen wou graag weet hoe dit is om te werk met die teks van ’n skrywer aan wie hy vrae kan stel.

Hoewel hy die vrymoedigheid het om vir Kamfer vrae te kon stuur wanneer hy hom van iets wou vergewis, is Schaffer al 14 jaar in Suid-Afrika en is met veel taal, gebiede en mense van oraloor hier bekend, het hy gesê. Waar dit gaan om veral kulturele verwysing is dit vir Schaffer opmerklik presies hoe goed Kamfer haar gemeenskap ontgin en noem dat dit juis die kulturele vertaling is wat literêre vertaling so moeilik maak.

Waarom moet vertalings uit Nederlands in Afrikaans gesubsidieer word? het T’Sjoen gevra.

Of ’n groot uitgewer jou vertaling gaan uitgee of nie moet jou tog nie weerhou van die feit dat jy tog moet bly werk aan vertalings nie, het Schaffer gesê. Dit is eintlik een van die belangrikste maniere om van digby kennis te maak met ander kulture, het hy gesê, en verwys na ’n artikel vroeër vanjaar op Netwerk24 wat Antjie Krog geskryf het, dat die rykdom wat jy in Nederland het aan vertaalde literatuur maak dat die hele wêreld ook digby kom en meer vanselfsprekend raak. Schaffer het dit veral oor die sterk vertaalkultuur van Nederland en ook Vlaandere in hierdie verband.

Marksentimente en agentskap

T’Sjoen wou by hom weet oor kulturele agentskap en die mate van keuse wat hy sou hê om aan Nederlandse uitgewers vertalings voor te stel. Het hy inspraak?

Dit het moeiliker geword vir ’n Nederlandstalige uitgewery, ook in België, om vertaalde poësie uit te gee, het Schaffer te kenne gegee, en het die Poëziecentrum uitgesonder vir wat dit gedoen kry, ook uitgewerye soos Koppernik en Vleugels. Die drukname van NB-Uitgewers in Suid-Afrika gee wel minder poësie uit, het hy gesê. (En ’n poësieprys soos die Elisabeth Eybers-prys word byvoorbeeld nie meer uitgereik nie.)

Beelde van letterkundes

In Suid-Afrika is ’n groot aantal jong stemme wat gehaltewerk lewer, en dit geld eweneens die Nederlandse toneel, het Schaffer gesê.

Naas digter en vertaler is hy dosent, werksaam as promotor van letterkundes en gereeld gas op letterkundefeeste, sowel in Nederland as Vlaandere. Uit hoofde van sy akademiese werk konstrueer hy ook vir studente beelde van die literatuur. Watter aksente lê hy dan as hy dit het oor Nederlandstalige literatuur in ’n Suid-Afrikaanse konteks? wou T’Sjoen by hom hoor.

Vir Schaffer gaan dit oor die multikulturele Nederlandstalige wêreld en verskillende sigpunte daarop oor eeue heen. Dit is dus belangrik om aandag te vestig ook op skrywers wie se werk deel uitmaak van die Nederlandse emansipasie na ’n ander samelewing, en die koloniale erfenis uit ’n ander invalshoek as dié van ’n heersende orde.

Sy versugting is dan wel dat in 12 lesse van elk ’n uur lank ’n mens nie alles kan doen nie en dan uiteraard keuses moet maak waarin dit belangrik is om te laat blyk dat hy as dosent ’n verteenwoordiger is van ’n bepaalde agtergrond en konteks. Die klem is dus op die akademiese, maar dit is dan ook persoonlike keuses waarop hy fokus.

As jy in Amsterdam ’n klas aanbied, in Gent of Leiden, of jy doen dit by die UWK of Stellenbosch sal jy ook ander aksente hê, want jou doelpubliek is heeltemal anders, ook die kulturele konteks, selfs die akademiese kultuur wat daarvan deel uitmaak, het T’Sjoen opgemerk.

Taal en invloed

14 jaar in Suid-Afrika beteken ook dat Afrikaans Schaffer se Nederlands binnesypel, gee hy te kenne. Hy noem ’n keer toe in een van sy Nederlandse gedigte hy die woord branders gebruik het en die uitgewer meen dit kom neer op surrealisme, want is die brandweer dan op pad? Maar nee, hy het branding bedoel. Maar die opmerking oor surrealisme is interessant, soos ook dieselfde soort opmerking by teks waarin hy dit had oor mense wat oor die snelweg loop, iets wat bepaald vreemd sou opval in Nederland, hoewel alledaags in Suid-Afrika is. En dan besef hy dat hy ’n ander wêreld geïnkorporeer het en dat die Nederlandstalige, die Europese Nederlandse wêreld bekénd is, maar vir hom ook al ’n bietjie vreemd aan die word is, het hy gesê.

Tussen Schaffer se rolle op die brug tussen Afrikaans en Nederlands sonder T’Sjoen poësie uit as een van die belangrikste aspekte van Schaffer se literêre persoonlikheid. Benewens die PC Hooft-prys, het Schaffer al meerdere ander pryse ontvang, waaronder die Herman de Coninck-prys. Syns insiens is die feit dat Schaffer se digterskap sterk bepalend is vir hoe hy praat byvoorbeeld in ’n ouditorium, hoe hy oor literatuur skryf en selfs hoe hy vertaal, dat dit alles ontkiem in sy kreatiewe omgang met taal en hoe hy sy literêre oeuvre ontwikkel.

Schaffer se antwoord is bondig: Hy hou baie van poësie en daarom skryf hy ook oor poësie. Sy poëtika bepaal miskien deels ook sy keuses.

Hibriditeit bied vryheid

Viljoen het opgemerk dat wat vertaling betref, sy aan Krog se posisie dink, en hoedat sy met haar vertalings eintlik ’n bepaalde soort klank in Afrikaans wil inbring, onder meer haar vertaling van die ander inheemse digters van Suid-Afrika, dat sy Afrikaans op ’n manier wil verruim deur ’n bepaalde klank, sienswyse en denkwyse by die taal wil inbring. Sou Schaffer sê die keuses van werk wat hy vertaal, op ’n manier ook bepaal word deur iets wat hy in Nederland en in Nederlands wil laat hoor?

Dit het Schaffer herinner aan ’n opmerking van ’n kollega by De Bezige Bij waar dit gaan oor ’n bepaalde woord, dat dit die leser uit die gedig gooi, dus iets wat onfunksioneel dissonant aan ’n beeld, die teks, taal en/of die ritme is. Die keuse, vind hy, is derhalwe heeltyd vir vervreemding of domestikering en sê hoewel hy toenemend vreemdheid waardeer, wil hy ook sorg dat die Nederlandstalige leser nie uit die teks val nie.

T’Sjoen het ingegaan op Schaffer se liminale posisie wat hy koppel aan Astrid Roemer se boektitel Nergens ergens, ook die idee van soorte nomadisme.

Die gedagte aan die liminale is iets wat Schaffer soos ’n handskoen pas en talle skrywers wie se werke hy behandel met studente bevind hulle veelal in hierdie posisie. Hy bring daarmee ook Homi Bhabha se gedagte aan die derde ruimte in verband, waar hibriditeit kulture vernuwe en verander, ’n ruimte wat ’n soort vryheid bied. Schaffer vind dan ook eksistensieel aansluiting daarby: Jy kan dit negatief invul en sê jy is nêrens tuis, maar jy kan ook sê jy is óral ’n biétjie tuis. Dit gee ’n bepaalde vryheid wat Schaffer se karakter goed pas en dit sal wel alles beïnvloed, het hy te kenne gegee.

Die volgende Bruggenhoofden-gesprek in SASNEV vind plaas op Saterdag 20 April wanneer Yves T’Sjoen met die skrywer en akademikus Anastasia de Vries gesels.

Lees ook:

Chinatown: Schaffer en Kamfer oor die omsit van ervaring in digkuns en die Nederlandse vertaling van haar werk

In vertaling verlore? In vertaling gevind?

Alfred Schaffer, digter van drie wêrelddele

Ontvanger van P.C. Hooft-prys, Alfred Schaffer, ’n digter werksaam in die gebied tussen Afrikaans en Nederlands

Bespreking van poësie in Suid-Afrika, Nederland en Vlaandere bring werke van Schaffer in fokus

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top