...
Visagie het aan die hand van enkele gedigte uit die oeuvre van Alfred Schaffer aangetoon wat en hoe hy oor die drie wêrelddele van Nederland, Suid-Afrika en die Karibiese eilande skryf.
...
Die Nederlandse digter Alfred Schaffer wat in Suid-Afrika woon, is die afgelope week vereer vir sy deurlopende bydrae tot die Suider-Afrikaanse Neerlandistiek asook vir sy rol as kulturele bemiddelaar tussen Suid-Afrika, Nederland en België tydens die instelling van die Alfred Schaffer-erelesing.
Die eerste lesingreeks is Dinsdagaand in Kaapstad aangebied deur die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN) in samewerking met die Suid-Afrikaanse Stigting vir Nederland en Vlaandere (SASNEV).
Die Alfred Schaffer-erelesing sal voortaan driejaarliks plaasvind. Dit sal om die beurt in die suide en die noorde van Suid-Afrika (Namibië ingesluit) georganiseer word deur die SAVN-bestuur.
Die erelesing se fokus sal altyd op Suid-Afrikaanse Neerlandistiek wees, en sal verkieslik sterk aansluit by Schaffer se kreatiewe of navorsingsoeuvre.
Vanjaar se lesing is gelewer deur prof Andries Visagie wat verbonde is aan die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit Stellenbosch.
Twee ander gassprekers was prof Jerzy Koch en prof Orsolya (Orsi) Réthelyi wat op uitnodiging in Suid-Afrika is as deel van die SAVN se Rondreisende Kongres.
Koch is vertaler, digter, akademikus verbonde aan die A Mickiewicz-Universiteit in Poznań, die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit Stellenbosch. Hy is onder andere die outeur van ’n uitgebreide literatuurgeskiedenis van Afrikaans en het ook reeds twee Afrikaanse digbundels die lig laat sien.
Réthelyi is medeprofessor van Nederlandse studies en literatuur en vertaler. Sy is hoof van die afdeling Neerlandistiek aan die Eötvös Loránd-Universiteit (ELTE) en vise-dekaan van internasionale sake van die fakulteit Geesteswetenskappe ELTE.
Prof Sonja Loots van die departement Afrikaans en Nederlandistiek aan die Universiteit van Kaapstad het die sprekers aan die woord gestel.
Sy sê die SAVN glo dat hierdie lesingreeks ’n manier is om te sorg dat Alfred Schaffer se bydrae tot die Suid-Afrikaanse Neerlandistiek nog vir jare lank vrugte sal afwerp en almal tot nadenke kan stem. Dit kan hopelik ook dien as impuls vir vrugbare verkennings van die bande tussen Afrikaans en Nederlands.
“As digter, vertaler, navorser en dosent speel hy ’n sleutelrol in die bou van bande tussen Afrikaans en Nederlands en leef hy die sentrale doelstelling van ons vereniging op toegewyde en geslaagde wyse uit,” het Loots gesê.
Die aanbieder van die eerste erelesing, Andries Visagie, is iemand wat Alfred Schaffer se werk goed ken. Hy is vertroud met die Suider-Afrikaanse Neerlandistiekkonteks en iemand wat ’n persoonlike verhouding met Schaffer het.
Die titel van Visagie se lesing was “Alfred Schaffer, digter van drie wêrelddele”. Visagie het aan die hand van enkele gedigte uit die oeuvre van Alfred Schaffer aangetoon wat en hoe hy oor die drie wêrelddele van Nederland, Suid-Afrika en die Karibiese eilande skryf.
Visagie sê die titel van sy lesing kan teruggevoer word na die manier waarop Alfred homself soms soos volg aan die begin van die akademiese jaar by die Universiteit Stellenbosch aan sy studente voorstel: “Ek lyk miskien vir julle soos enige ander ou van die Kaapse Vlakte, maar sodra ek my mond oopmaak om Afrikaans te praat, hoor julle onmiddellik dat ek eintlik ’n Nederlander is.”
Schaffer is gebore en getoë in Leidschendam in Nederland, maar hy is ook die afstammeling van Arubaanse familie in die Karibiese gebied. Alle paaie lei uiteindelik terug na Afrika waar hy ’n permanente aanstelling as universiteitsdosent in die Nederlandse letterkunde by die Universiteit Stellenbosch gekry het.
Sy ma was van die Karibiese eiland Aruba, en sy pa was ’n Nederlander. Hy studeer Nederlands en toneelwetenskap in Leiden en behaal in 2002 sy doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad.
Hierna was hy in Amsterdam werksaam as ’n redakteur by die literêre uitgewers Cossee en De Bezige Bij, waar ook sy eie poësie gepubliseer word. Sy debuutbundel, Zijn opkomst in de voorstad, verskyn in 2000. Hierna verskyn nog etlike ander digbundels, soos Schuim (2006), Kooi (2008), Mens dier ding (2014) en Postuum. Een lofzang (2016).
Visagie het verwys na die koersverleggings wat Schaffer se blootstelling aan Suid-Afrika in sy digterlike praktyk en deelname aan die groter literêre bedryf, meegebring het.
Hy sê die kritici se klaarblyklike onvergenoegdheid oor die duister aard van Schaffer se poësie is veral ten opsigte van sy vroeër bundels nie ongegrond nie. Tydens ’n vorige geleentheid by SASNEV waar Alfred van sy gedigte voorgelees het, het hy self gesê: “Mijn poëzie is al hermetisch genoeg,” waarmee hy te kenne gee dat die kritiek op sy gedigte as duister, chaoties en verwarrend in ’n sekere mate korrek is.
Visagie sê tog het die Nederlandse poësie ’n groter verdraagsaamheid teenoor hermetiese oftewel moeilike poësie as byvoorbeeld in die Afrikaanse digkuns.
Hy is egter van mening dat die leser wat streef na ’n sekere leesvaardigheid om Alfred Schaffer se digbundels steeds beter te begryp, nie so geredelik voor ’n muur van duisternis of onbegrip te staan sal kom nie.
“Hermetiese poësie kom binne die oeuvre van ’n digter tot stand deur ’n subjektiewe proses van seleksie, poëtikale sintese en verwikkeling; dit dra uiteindelik die eiesoortige vingerafdrukke van ’n individuele digter,” het Visagie gesê.
Volgens hom hou Alfred Schaffer se hermetiese idiolek verband met die hoë vlakke van onbepaaldheid in die aanduiding van persone, tyd en veral die ruimte in sy verse.
“Dit wil byna voorkom asof hy die presisie wat naamgewing en deiksis aan die sprekers van ’n taal enigsins ophef. Stede en riviere word selde benoem en die aangesprokenes, die ‘jij’ en die ‘u’, bly vaag. Dit is die taak van die leser om die gepaste afleidings te maak.”
Visagie het in sy lesing ook verwys na Yves T’Sjoen se hoofstuk oor Alfred Schaffer in die boek Rakelings wat gewy word aan die literêre grensverkeer tussen Suid-Afrika en die Lae Lande. “Daarin vind ek deels bevestiging vir my waarneming dat Schaffer se poësie, die streng ondeurdringbaarheid aangevul word met ’n meer direkte segging al is daar steeds gedigte wat min toegewings aan die leser maak.”
Visagie sê van die lang titels van sommige gedigte ontlok soms meer as ’n glimlag en die humor dra by tot ’n verligting van die swaarder filosofiese besinning oor die herkoms van die “ek” en sy visie op ’n meer wesenlike voortbestaan vir hom op aarde.
Alfred Schaffer se digwerk is al dikwels bekroon, onder andere met die Paul Snoek-prys, die Awater-poësieprys, die Charlotte Köhler-prys, die Ida Gerhardt-poësieprys, die Jan Campert-prys en die Hugues C Pernath-prys, en sy gedigte is al in Engels, Frans, Duits, Spaans, Chinees, Sweeds, Turks en Indonesies vertaal.
In 2013 verskyn Kom in, dit vries daar buite by Protea Boekhuis, ’n keur uit sy eerste vyf digbundels, vertaal deur Daniel Hugo. Mens dier ding is deur Zandra Bezuidenhout in Afrikaans vertaal en in Desember 2018 deur Human & Rousseau uitgegee.
Lees ook:
Bespreking van poësie in Suid-Afrika, Nederland en Vlaandere bring werke van Schaffer in fokus
Alfred Schaffers kijk op poëzie zal na Zuid-Afrika nooit meer hetzelfde zijn
Buro: MvH