’n Mens sou kon verwag dat jy [Kamfer se werk] heel maklik kan omsit in Nederlands, maar dit het ’n heeltemal eie idioom. En die Afrikaans waarin Kamfer skryf met baie Engels in bevat natuurlik ook volop sleng, straattaal, het Schaffer verduidelik. Hoe om dit dan om te sit in Nederlands was vir Schaffer ’n kwessie wat die keuses betref wat hy in daardie geval dan maak. Hy het daarvoor gekies om haar taal gewoon as ’n taal te beskou, dus nie iets as iets kurieus en eksoties nie.
Ronelda S Kamfer en Alfred Schaffer, die Nederlandse vertaler van Kamfer se mees onlangse bundel, Chinatown (2019), het onlangs as deel van Zuid-Afrikahuis se Boeken uit het Huis-reeks vrae beantwoord van Ama van Dantzig, ’n kreatiewe brugbouer, berig Willem de Vries.
Van die voorste digters in Afrikaans en Nederlands
Al drie deelnemers aan die gesprek (in Afrikaans, Nederlands en Engels) oor Chinatown is uit eie reg brugbouers. Kamfer skryf vanuit en oor wat Schaffer ’n ondervertelde Afrikaanse leefwêreld ag. Sy word wyd as een van die belangrikste hedendaagse digters in Afrikaans beskou. Van haar werk is ook al in Frans en Italiaans vertaal.
Schaffer is vanjaar die wenner van sowel die PC Hooft-prys vir sy oeuvre tot op hede as die Herman de Coninck-prys vir sy poësiebundel Wie was ik. Strafregels (2020). Hy word as een van die belangrikste hedendaagse Nederlandstalige digters gereken. Hy het al vier van Ronelda se poësiebundels in Nederlands vertaal, as onderskeidelik Nu de slapende honden (2009), Santenkraam (2012) en Mammie (2017). Chinatown het vroeër vanjaar by Podium verskyn.
(Angelie Sens, aan die stuur van Zuid-Afrikahuis en nou betrokke by Boeken uit het Huis, het genoem dat dit Podium tot eer strek dat hulle bundels vertaalde poësie publiseer waarin die Afrikaanse en Nederlandse tekste langs mekaar te lees is.)
Van Dantzig is ’n medestigter van ’n internasionale agentskap, Dr Monk, wat fokus op maatskaplike vernuwing en die skep van kreatiewe oplossings wat steun op volhoubaarheid en internasionale, kreatiewe samewerking in sowel Amsterdam as Akkra.
Nuwe stemme
Schaffer, wat benewens veelbekroonde digter en literêre vertaler ook letterkundedosent aan die Universiteit Stellenbosch is, het met Kamfer se poësie kennis gemaak toe hy saam met Antjie Krog verantwoordelik was vir ’n uitgawe van die reeks Nuwe Stemme 3 (2005), waarin Afrikaans digters debuteer. Die kennismaking het eindelik daartoe gelei dat Schaffer haar bundels vir Podium vertaal het.
In ’n vorige gesprek wat Zuid-Afrikahuis aangebied het waarin die fokus op Schaffer se skrywerskap was, het hy genoem dat waar dit die Afrikaanse digkuns betref, is die politieke bewustheid en uitgesprokenheid van byvoorbeeld Kamfer in Chinatown iets nuuts. By haar gedigte is hy as vertaler deurentyd bewus van die minder bekende konteks wat sy na haar werk bring, ook in die taalgebruik. Gevolglik het hy gevind dat hy veel nader aan die bronteks bly as wanneer hy werk van ander Afrikaanse digters vertaal. Schaffer noem tereg dat die konteks waaruit iemand soos Kamfer skryf, tot op hede nog nie soveel oor geskryf word nie.
Reaksie op vertaling
Kamfer sê sy was verras oor die reaksie in Nederland op Chinatown. Sy wou hê dit moes inspirerend wees, geniet kan word en iets wees wat mense hul mee kon assosieer. En om nou te wete te kom dat mense hulle dus wel daarmee assosieer, is vir haar die grootste kompliment wat enige skrywer kan ontvang. Dat daar mense is wat sê hulle verstaan dit, hulle ken dit, hulle het so gevoel. Dit is vir haar belangriker as enigiets anders, het sy benadruk.
Die invloed van Covid-inperkings
Hoe het Kamfer as kreatiewe persoon die afgelope anderhalf jaar ervaar? wou Van Dantzig by haar weet.
’n Mens het nie geweet waarheen die wêreld op pad is nie, en wat regtig, éintlik gebeur nie, het Kamfer gesê. Dit was vir haar ’n verwarrende tydperk gewees. Om tóé kreatief te wees was die laaste ding wat sy wou wees. Dit was só ’n vreeslike en onseker tyd vir almal dat sy meen as kunstenaar het sy eers enkele maande ná die aanvanklike grendeltye dinge begin verwerk.
Toe die pandemie aanbreek, is die ding wat haar die hardste getref het, al die vriende en mense wat sy geken het in gesondheidsorg, die kommer en spanning wat geheers het. En dan die ekonomiese implikasies van grendeltye in ’n land waar soveel mense reeds onder die bestaansminimum leef.
Aan die begin van verlede jaar was sy aan die skryf aan ’n ander boek en kon daarop fokus.
Iets wat haar die meeste opgeval het, is dat die oomblik toe die grendeltye ingestel is, almal op sosiale media gepraat het: Hoe werk ons nou? Dit het haar woedend gemaak dat soveel mense se hoofbron van kommer is hoe kan dit gekommodifiseer word, hoe daaruit geld gemaak kan word. Was dít die hoofsaak? ’n Deel van haar het so gevoel, het sy gesê. ’n Ander deel het gevoel die kunste het reeds aan die kortste ent getrek, veral in Suid-Afrika. Kunstenaars het nodig gehad om te werk en geld te verdien. Dis dus ’n baie ingewikkelde argument, sê sy. Dis die soort dinge waaraan sy ’n hele tyd lank bly dink het.
Onthoukuns
Al het sy hulpeloos gevoel, bekommerd was en besorg oor familielede oor die land heen, en mense in die algemeen, kon sy en haar man, die digter en kunstenaar Nathan Trantraal, vir die aanlyn publikasie Vrye Weekblad ’n projek saam doen, ’n reeks Suid-Afrikaanse portrette met vertellings in verskeie registers.
Sy vertel die reeks spruit uit die feit dat iemand wat sy geken het, middel-laasjaar aan Covid-verwante oorsake oorlede is. Dit het haar ten diepste geraak. Die projek het begin met die gedagte daaraan om iets te wil skep om die persoon mee te onthou. Daarna groei dit toe uit om nog meer daaroor te kan sê, oor hoe ingewikkeld dinge was. Met familie in die Kaap wat swaarkry, haar neef wat nie kon skool toe gaan nie, haar suster wat ’n deeltydse werk gehad het en toe werkloos was. Die portret-en-teks-reeks word toe ’n manier om mense te laat stop en dink dat ons álmal probeer oorleef, ook om te dink aan mekaar, hoe dit ander mense raak en ook jouself.
Is die tekeninge in die portretreeks van werklike mense of is dit versin? wou Van Dantzig weet.
Dit is beïnvloed deur regte mense en hul stories, maar die meeste daarvan is karakters wat Trantraal ontwerp het, het sy gesê. Sy sou ongemaklik gewees het daarmee om mense te laat teken wat sy ken en om dan hul toestemming te vra om hul stories te vertel. Sy bestempel die reeks as algemene sosiale kommentaar wat op ware ervarings gegrond is.
Al hoe meer ambivalent
Oor Nuwe Stemme 3 sê Schaffer Kamfer se werk was toe reeds heel opvallend en hy herinner hom die gedig "vergewe my maar ek is Afrikaans" met die herhalende reëls van "khaki go wif ewerything", ’n gedig wat ook in haar debuut staan. Hy het dit fantasties gevind, en volgens Krog getuig dit van ’n heeltemal aparte stem. Schaffer sê dit is nie net gewoon goeie poësie nie, hier is ook iets vernuwends ontgin. Dit was die eerste poësie van haar wat hy gelees het.
Kamfer onthou ’n slypskool in die Kaap wat sy bygewoon het, maar toe nog nie geweet het wie Schaffer is nie, Krog wel. Dit was die eerste keer dat iets van haar gepubliseer is en waar sy haar toekomstige vertaler ontmoet het.
Schaffer ag haar gedigte van toe al reeds baie direk en dat dit gaan oor dinge en temas wat afspeel in die Suid-Afrikaanse konteks, maar hy ag dit gewoon op ambagtelike vlak ook goeie poësie. Dit wil sê, dit is nie net maar pamflettisties nie, dit sit ook heel goed inmekaar, het hy verduidelik. Hy noem van haar gedigte grappig, maar dan op ’n heel konfronterende manier, en sê dit is iets wat sy uitgebou het in die bundels wat daarna gevolg het. Sy beken sy het ’n sin vir galgehumor.
Wat hom betref, het haar werk nog meer ambivalent geword. En wat Trantraal se werk betref, merk hy iets soortgelyks op: Dit is sowel konfronterend en hard as grappig; dit voel ongemaklik. Dit is iets wat albei baie goed kan doen. Schaffer sê Kamfer het dit verder uitgebrei, dat dit heel duidelik is in haar laaste bundel en die bundel voor dit, Hammie.
Op soek na die juiste register
Van Dantzig was nuuskierig oor Schaffer se ervaring daarvan om haar werk te vertaal.
’n Mens sou kon verwag dat jy dit heel maklik kan omsit in Nederlands, maar dit het ’n heeltemal eie idioom. En die Afrikaans waarin Kamfer skryf met baie Engels in bevat natuurlik ook volop sleng, straattaal, het hy verduidelik.
Hoe om dit dan om te sit in Nederlands was vir Schaffer ’n kwessie wat die keuses betref wat hy in daardie geval dan maak. Hy het daarvoor gekies om haar taal gewoon as ’n taal te beskou, dus nie iets as iets kurieus en eksoties nie. En as iemand sou sê daar moet méér Engels in, kry jy dan ’n soort Nederlandse millenniër wat hip-hop praat in die Nederlands en dít het heeltemal niks te make met die leefwêreld waarin dié poësie ontstaan het nie.
Schaffer sê dit was moeilik om vir sy vertaling die juiste toon vir die Nederlands te vind – dat dit wel soos spreektaal moes oorkom, maar nie geforseerd moes wees nie. Hy was daarop gerig om dienend te vertaal en nie met sy vertaling op die voorgrond te gaan staan nie.
Hy ag dit heel tegniese werk. As hy oor iets onseker was, kon hy Kamfer vra.
Sowel emosie as kuns
Schaffer het toegelig hoedat Kamfer se poësie sowel emosie as kuns daarin verenig, iets wat hy op ’n keer in ’n essay geskryf het oor een van die gedigte in Hammie wat hy aan die vertaal was en waarin die verteller met haar ma op pad was na die hospitaal en sê sy moet nog nie doodgaan nie.
Schaffer het die gedig geken as ’n leser. Hy het dit pragtig gevind en toe daaraan begin vertaal, iets wat ’n veel meer intense vorm van lees behels. Hy het vir Kamfer laat weet: "Sjoe, daardie gedig het my regtig laat huil."
Op ’n vraag of sy haar skryfwerk as ’n vorm van aktivisme benader om ander mee op te roep om hul uit te spreek oor wat in hul omgaan of waarmee hulle worstel, het Kamfer gesê die kort antwoord is nee. Om ’n aktivis te wees verg heeltydse, lewenslange toewyding. Sy skryf poësie om haarself uit te druk, en ook om lesers te laat dink en voel. Dis al vorm van aktivisme wat sy aan haar poësie koppel. Dis nie soseer iets polities nie, dis eerder ’n emosionele band, het sy gesê.
Toe laat sy weet dat Trantraal baie jaloers was en dat sy baie trots is, dat hy Schaffer nou ook wou laat huil met sy poësie! Dit was vir Schaffer ’n baie mooi oomblik, want dit gaan oor sowel die inhoudelike aspek as die feit dat sy gewoon eg besig is met kuns en dat dit dus ook konstruksie is. Schaffer vind dit dan ook heel tekenend van hoe sy werk, en dat daar waarskynlik lekker wedywering tussen die twee tuis is.
Hy benadruk dat hy altyd wel vir Kamfer vra as iets nie luk nie terwyl hy daaraan vertaal.
Tussen digter en vertaler
Help Schaffer se eie digterskap hom as vertaler of staan dit juis in die pad? wou Van Dantzig by albei digters weet.
Die vraag word baie keer gestel, maar self weet hy dit nie, het hy gesê.
Kamfer meen die feit dat hy self ’n digter is, dra beslis by tot die vertaling. Sy sê egter dit is nie soseer net omdat hy ’n digter is nie, maar die feit dat hy Schaffer is – ’n baie spesifieke soort skrywer. Sy meen hy verstaan haar werk op ’n manier waarop net ’n skrywer dit kan verstaan en dit is vir haar baie maklik om met hom te kommunikeer.
Sy beken dat sy baie senuagtig was oor Chinatown, oor die talle spesifieke konteksgebaseerde frases en woorde wat daarin voorkom.
Schaffer sê dit was moeilik om vir sy vertaling die juiste toon vir die Nederlands te vind – dat dit wel soos spreektaal moes oorkom, maar nie geforseerd moes wees nie. Hy was daarop gerig om dienend te vertaal en nie met sy vertaling op die voorgrond te gaan staan nie.
Haar vriendin Annemarié van Niekerk wat die manuskrip gelees het voordat dit gepubliseer is, het haar gerusgestel dat Schaffer so ongeveer Suid-Afrikaans is en dat hy gaan weet wat om te doen. Kamfer ag dit ’n baie spesiale soort band om te hê en sê sy het geen rede tot kommer oor die vertalings nie, dat hy die Suid-Afrikaanse konteks verstaan en dat hy baie sensitief is daarvoor.
Sy het vertel dat iemand haar ’n paar jaar gelede gevra het oor vertalings en dan spesifiek oor ’n man wat die werk van ’n vrou vertaal. Sy het ontsteld geraak en gesê: Maar hy is nie ’n man nie – hy’s Nederlands! Los net vir Alfred!
Sy raak baie verdedigend wanneer sy praat oor hom wat haar werk vertaal, het sy benadruk. Sy lig dit soos volg toe: Dis nie ’n geval dat niemand iets oor hom durf sê nie. As ’n skrywer voel sy net dat sy ’n band het met net ’n paar mense, enkele mense met wie sy saam skryf en werk en vertrou. Wanneer sy projekte doen waar sy met ander mense saamwerk, is sy altyd besorg. Sê maar sy hou nie van wat die persoon doen nie? Hoe kommunikeer jy dit? Kunstenaars het ego's en dit is altyd ’n kwessie. Sy voel haar baie gelukkig dat sy ’n vertaler het met wie sy ’n band het en wat haar werk verstaan. Hy speel ’n belangrike rol in haar werk as skrywer. Sy is baie dankbaar oor die pad wat sy saam met Schaffer loop, dat hy haar vertaler is.
Patriargie en feminisme in Chinatown
Van Dantzig sê die bundel bevat pragtige werk wat outobiografies is en noem dan dat skoonheid ’n ingewikkelde begrip is. Waaroor gaan Chinatown vir Kamfer?
Kamfer sê die bundel bestryk ’n baie interessante, invloedryke en belangrike deel van haar reis as ’n mens. Wanneer sy aan bundels poësie skryf, probeer sy dit telkens in temas begrond en dus daarop fokus. Sy benader ’n bundel soos wat ’n musikant ’n album sou: Jy maak musiek, jy skryf sekere liedjies wat by ’n tema pas en alles saam vertel ’n verhaal, al hierdie individuele dele.
Vir haar gaan Chinatown oor haar eie ervarings en haar hantering van geweld, kultuur en trauma. Sy was in dié tyd ook besig met navorsing vir haar meestersgraad en waarvoor sy ’n verhandeling moes skryf. Patriargie en feminisme het vir haar na ’n voor die hand liggende onderwerp gelyk en dit is dan ook waaroor haar werk handel.
Sy wou skryf oor die mans in haar wêreld terwyl sy grootgeword het om die impak en implikasies van daardie ingewikkelde verhoudings te bekyk, het sy gesê. Chinatown gaan vir haar oor iemand wat verskillende maniere verken waarop sy ’n onnatuurlike, gewelddadige kultuur deurgemaak het ten einde ’n bestaan te voer.
Uitgesproke teen geweld
Suid-Afrika is steeds die berugste land wanneer dit by seksuele geweld kom, het Van Dantzig gesê, en om Kamfer se werk te lees is om te sien hoe "normaal" dié onnatuurlikheid gemaak is.
In Suid-Afrika is daar talle skrywers wat oor hierdie goed skryf, en op verskillende maniere, het Kamfer gesê. Veral hierdie generasie van Suid-Afrikaanse vroue ag sy as baie uitgesproke. In Suid-Afrika doen veral vroue, veral skrywers, wonderlike werk om te praat teen geslagsgeweld in, teen die sisteme wat hierdie kultuur van geweld teen vroue in stand hou, het sy gesê. Ook dat vroue in Suid-Afrika nog altyd ’n baie diepgaande stem gehad het en wat gehoor word en dat hulle vir generasies moes veg om daardie stem te behou. Die rol van vroue in die stryd teen apartheid was baie belangrik en dit is ook iets waaroor mense moet aanhou praat, het sy gesê. Die geweld het ’n sosiale aspek daaraan, maar daar is ook ander goed.
Ander se stilte
Kamfer doen iets interessant met die stilte van ander mense in Chinatown, sê Van Dantzig. In die gedig "Contra 30" konfronteer haar ma haar pa oor bloedskande en hy sê dan hy sal dit nie weer doen nie. Van Dantzig sê sy kom ook van ’n konteks waar bloedskande en huishoudelike geweld algemeen is, maar dat mense nie daaroor praat nie. Ook in Ghana in Wes-Afrika moet daar nog behoorlik daaroor begin praat word, het sy gesê.
Kamfer sê sy het teen haar tienerjare geweet wat dit beteken om uit te praat, en sê sy het geweet dit gaan nie ’n probleem wees wat opgelos word nie – dat niemand haar sou kom red nie, dat die slegte mense sou tronk toe gaan en mens ’n gelukkige lewe sou lei nie. Terselfdertyd het sy gevoel sy kan dit nie vir haarself hou nie.
Sy het grootgeword by haar grootouers en het ingetrek by haar ouers toe sy heelwat ouer was. Die kultuur wat sy in Kaapstad gesien het, was baie ongewoon vir haar: Niemand wou wees wie hulle is nie; almal was gemeen. En daardie soort sosiale omgewing het haar as kind verwar, het sy gesê. Sy het nog altyd daarteen probeer veg en sou dus anders wees, en op ’n normale en gesonde manier.
Om vir haar ma te vertel van iets wat haar pa doen, was vir haar dieselfde as om te sê sy hou nie van hierdie kos nie, maar van daardie kos. Dit was dus normaal vir haar om haar stem te laat hoor oor wat sy gevoel het. Om vir haar ma daarvan te vertel, was ’n manier ook om vir haar te sê sy is daarvan bewus dat sý daarvan bewus is, dat sy weet haar ma het stilgebly, en om haar te laat weet dit was ’n probleem. As sy sou stil bly, sou almal bly maak of dit nie bestaan nie, het Kamfer gesê. Sy sou dus daaroor praat sodat mense weet dit bestaan. Dit was ’n manier van om nie weg te kruip nie. Sy vertel sy was baie jonk toe sy besef het sy moet daarmee werk, niemand anders sou dit vir haar doen nie.
Perspektiewe op die patriargie
Dié gesprek sny vir Van Dantzig aan wat Schaffer oor haar poësie sê, naamlik om direk, konfronterend en outentiek te wees in die manier waarop haar stem ontwikkel het. Van Dantzig noem dat poësie soos dié van Kamfer mense help om met sulke komplekse situasies om te gaan, soos die pandemie, seksuele geweld, ook dié binne families.
Vir Kamfer is die fokus in Chinatown dan ooglopend op haar ervaring van om te dink oor die patriargie uit ’n ander perspektief, onder meer die verskriklike soort man wat haar pa was en wat op sommige maniere ’n slagoffer was van wit patriargie oor die algemeen, hoedat hy toksiese gedrag oorgeneem het en hoe sleg hierdie manlikheid in die gemeenskap in die breë is. Ook wou sy deur middel van haar gedigte kyk na wat dit veroorsaak en wat dit skep.
Kamfer sê dit was baie moeilik vir haar om ’n volledige mens in so ’n gemeenskap te kan wees. Sy wou daaroor skryf, ook oor wit feminisme op dieselfde manier, hierdie twee magte wat haar ervaring omring as ’n swart persoon in die gemeenskap in die algemeen, en ook hóé feministe is.
Kamfer sê sy probeer oor haarself skryf as ’n volledige persoon met verskillende ervarings. Sy noem dat sy ’n tragiese aspek het, maar ook positiwiteit, dat daar goeie dinge is wat sy waardeer.
Sy vind dit wel baie moeilik en ongemaklik om te skryf oor liefde of oor hul dogter, oor mense wat baie naby is aan haar. Sy het al soveel gedigte probeer skryf oor Seymour, maar toe besluit dat sy dié poësie aan haar gaan oorlaat en dan kan sy oor háár kla wanneer sy groot is.
Poësie bied ander blik op wêreld
Kamfer sê mense skerts dat sy een emosie beleef en dis dat sy emosies haat. Emosies kompliseer wel soveel goed, sê sy dan. Jy kan nie helder dink as jy te veel voel nie. Sy wil eerder ontleed en eerlik wees, en helder. Wanneer sy daaraan dink om ’n gedig oor haar dogter te skryf, hoe kan dit nie deurmekaar wees as dit iets is wat sy dink en voel terselfdertyd nie? het sy gesê.
In die loop van die gesprek het sy verskeie gedigte voorgelees uit Chinatown, waaronder "Chinatown daddy", "bamboo", "ek soek nie ’n plek langs die tafel nie", "senretsukyaku", "my poems is nie confessions nie", "Red Virgin", "laat die wit meisies huil", en "Miss Militancy".
Op ’n vraag of sy haar skryfwerk as ’n vorm van aktivisme benader om ander mee op te roep om hul uit te spreek oor wat in hul omgaan of waarmee hulle worstel, het Kamfer gesê die kort antwoord is nee. Om ’n aktivis te wees verg heeltydse, lewenslange toewyding. Sy skryf poësie om haarself uit te druk, en ook om lesers te laat dink en voel. Dis al vorm van aktivisme wat sy aan haar poësie koppel. Dis nie soseer iets polities nie, dis eerder ’n emosionele band, het sy gesê.
Boeke het haar gehelp om kwessies te hanteer en die wêreld op ’n ander manier laat sien. Sy het die hoop uitgespreek dat poësie dieselfde vir mense sal beteken.
Eerlikheid en outentisiteit as skoonheid
Van Dantzig wou iets meer weet van hoe Kamfer skoonheid beskou en hoe sy dit wat sleg aan die wêreld is, in haar poësie navigeer.
Kamfer sê skoonheid is oop vir hoe jý dit definieer en dat almal, elkeen dit anders omskryf. Niemand wat sy ken, sal sê dit wat hulle as poësie definieer, is beeldskoon nie. Sy vind skoonheid in dinge wat eerlik is en helder, en sy is mal daaroor as mense hul outentieke self kan wees. Dít vind sy mooi. Ook vir haar om te skryf oor goed en te weet dit is iets wat iemand te bowe gekom het, is vir haar mooi.
In Suid-Afrika, in Afrikaans, is daar talle jongmense wat daarmee kan assosieer en dit was nog altyd vir haar spesiaal om gesprekke te kan hê met mense wat nou begin skryf, en hoor dit het hulle gehelp om sekere goed te artikuleer.
Skryfwerk en letterkunde
Sy skryf en besluit self wat is poësie omdat sý dit skryf. Sy is in beheer van daardie aspek van haar kreatiwiteit. Haar raad is om nie te probeer of opgeneem te raak in gewildheid, reg, of om ’n stem vir die stemloses te wil wees nie.
As ’n swart vrou is daar reeds talle etikette wat op haar toegepas word, selfs net aan haar teenwoordigheid, verduidelik Kamfer. As sy dan iets sê, dan is sy volgens mense "uitgesproke", en eintlik is sy glad nie uitgesproke nie, het sy gesê. As sy dan ’n mening huldig oor iets, word sy as ’n aktivis beskou. As sy die aandag vestig op verkeerde dinge in haar kultuur, wêreld of omgewing dan "wórd" sy hierdie dinge.
Vir haar was die enigste punt nog altyd net om te skryf, en letterkunde. As dit dan ’n uitwerking het, dan is dit goed. As sy iets skep, as sy poësie skryf, fokus sy net daarop – ’n mens kan nie regtig verander hoe die wêreld of mense jou beskou nie. Almal dra etikette en dit gaan daaroor hoe jy dit interpreteer en jy hierdie dinge internaliseer, het sy gesê.
Kuns en aktivisme
Vir Kamfer is ’n belangrike vraag hoe ’n digter daarvoor sorg dat ’n teks nie bly vassteek in aktivisme nie, hoe jy daarvoor sorg dat dit wat jy wil sê, poësie word.
In die kultuur van vandag en hierdie tyd waarin mense skeppend werk, sien sy kunstenaars word meegevoer deur narratiewe om in ’n sekere sin waarde toe te voeg aan sekere goed, toe te gee aan die eise van gewildheid, om op ’n bepaalde manier ’n stem te hê, om aan die regte kant van goed en van die argument te wees.
As ’n swart vrou is daar reeds talle etikette wat op haar toegepas word, selfs net aan haar teenwoordigheid, verduidelik sy. As sy dan iets sê, dan is sy volgens mense "uitgesproke", en eintlik is sy glad nie uitgesproke nie, het sy gesê. As sy dan ’n mening huldig oor iets, word sy as ’n aktivis beskou. As sy die aandag vestig op verkeerde dinge in haar kultuur, wêreld of omgewing dan "wórd" sy hierdie dinge. As ’n skrywer moet sy gewoon net afstand skep van daardie wêreld en besef dit is nie die werklikheid waarin almal bestaan nie, het sy gesê. Dat ’n mens nie daarin moet opgaan nie.
Boeken uit het Huis is ’n reeks skrywersgesprekke wat die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam en die Taalunie aanbied. Al die gesprekke is op die Zuid-Afrikahuis se amptelike YouTube-kanaal terug te kyk.
Francine Maessen het op 24 Junie met Marita van der Vyver oor haar boek ’n Baie lang brief aan my dogter gesels. Kyk die gesprek hier.
Lees meer oor Alfred Schaffer:
Persbericht: Wie was ik van Alfred Schaffer bekroond met Herman de Coninckprijs 2021
Bespreking van poësie in Suid-Afrika, Nederland en Vlaandere bring werke van Schaffer in fokus
Lees en luister meer oor Ronelda S Kamfer op Voertaal en LitNet:
Vrystaat Kunstefees: Literêre landskappe – Suid-Afrika versus België
Lees meer oor Zuid-Afrikahuis se Boeken uit het Huis-reeks:
Veelsydige Deon Meyer stel nuwe Bennie-en-Vaughn-boek in vooruitsig
Buro: MvH