Vrystaat Kunstefees: Literêre landskappe – Suid-Afrika versus België

  • 0

Die Vrystaat Kunstefees het die uitdaging rondom COVID-19-inperkings op slim maniere oorkom. Daar kan tans nie meer ’n gesellige byeenkoms in Bloemfontein wees nie, maar daar is nou ’n internetfees met tentakels op verskeie vastelande.

Só is ’n “Vlaamse week” op 19 April 2021 afgeskop. Dié week lange geleentheid is aangebied deur die Vrystaat Kunstefees in samewerking met Flanders Literature en die Algemene Afgevaardigde van die Vlaamse Regering.

Op 22 April is ’n praatjie aangebied met die titel “Literêre landskappe: Suid-Afrika versus België”. Die teenoormekaarstaan van die literêre denke is waarskynlik doelbewus gedoen (dit klink of Suid-Afrika se netbalspan die Belge uitdaag), maar uiteindelik is daar baie interessante parallelle tussen die twee landskappe getrek.

Saskia de Coster en Annelies Verbeke het die Vlaamse literêre landskap verteenwoordig. Ronelda Kamfer en Ingrid Winterbach het die Suid-Afrikaanse vlag laat wapper.

Ronelda Kamfer se toevoeging tot die paneel was welkom. Haar sterk, aktivistiese stem het ’n beduidende uitdrukking verleen aan die stem van jonger, swart skrywers van Afrikaans. Aanvanklik sou Diana Ferrus deel wees van die gesprek en Bibi Burger sou die fasiliteerder wees, maar beide was ongesteld en Kamfer het ingestaan. Sy het eers net die vrae gestel, maar Winterbach se wyse, indringende teenvrae het gesorg dat Kamfer nie bloot ’n skeidsregter was nie, maar ook ’n volwaardige deelnemer – soos dit hoort.

Die gesprek het van meet af gesentreer op die rol van die skrywer as vrou in die literêre landskap en het afgeskop met vrae soos: Is vroue se werk beduidend deel van die kanon? Word vroue genoegsaam op skole se leeslyste geplaas?

Die volledige gesprek is op video beskikbaar:

Hier volg ’n opsomming:

Die kanon

Uit Vlaandere was daar ’n duidelike boodskap: Manlike skrywers geniet steeds ’n groter status aldaar. Mans se aandeel aan die kanon is veel groter en daar is selfs die persepsie dat vroue te veel praat by letterkundige geleenthede – al bewys empiriese studies die teendeel.

Om die dominansie van manlike outeurs aan te spreek is daar ’n beweging, bekend as die Kollektief Nederlandse Vrouwe, begin wat onder andere weer boeke heruitgee van vroue wat in die vergetelheid verdwyn het.

“Maar wie bepaal die kanon?” vra Winterbach toe. In Suid-Afrika het ons ’n aantal baie sterk vroue wat altyd deel was van kanon – dink aan Elisabeth Eybers, Antjie Krog, Wilma Stockenström en Marlene van Niekerk. Nou is daar verskeie jong vroue wat opgang maak – een van hulle is juis Ronelda Kamfer – maar is dit die hele prentjie? Winterbach het haar uitgewer gevra, en ongeveer 50% van die boeke wat uitgegee word, is deur vroue geskryf. Tog, sê Winterbach, wen mans twee maal meer pryse as vroue.

In België is daar ’n koninklike kommissie om die kanon te bepaal. Dié kommissie doen baie moeite om te keer dat daar nie “blinde vlekke” sal wees nie – skrywers en boeke, dus, wat per ongeluk sou kon uitval. Die probleem is egter dat die kanon steeds vasgepen word op 50 boeke, dus is die vraag wat nou deur die vroue gevra word: Waarom nie die lys uitbrei nie? Die rol van die vroue op hierdie kommissie is dus skynbaar om die kanon aan te vul, nie om dit aan te val nie.

Vrouwees in ’n interseksionele bestel

Dié bevraagtekening van die kanon laat egter ook vrae oor interseksionaliteit ontstaan. In die Nederlandstalige lande is daar byvoorbeeld ’n groeiende bewustheid van transseksuele vroue se pogings tot deelname aan die literêre landskap, en in Suid-Afrika is ras steeds ’n baie belangriker drywer van ongelykhede.

Winterbach het byvoorbeeld vir Kamfer gevra hoekom sy en haar man (Nathan Trantraal) uitgesproke is teen baie van die ouer Afrikaanse werke in die kanon. Kamfer se antwoord was dit nie soseer gaan oor die kanon nie, maar oor die feit dat talle van die skrywers wat in daardie kanon opgeneem is, rassiste was. Vir haar as swart vrou is dit bitter moeilik, onmoontlik selfs, om die werke te lees van mense wat sou neersien op haar.

Geweld en mikroaggressie

Steeds word 98% van alle geweld deur mans gepleeg – dit geld vir beide lande – maar mikroaggressies vind ook nog geredelik plaas teen vroulike skrywers.

  • Die deelnemers ervaar byvoorbeeld dat hulle gevra sal word “Wie se vrou is jy?” Met mans gebeur dit nie dat hulle aan ’n lewensmaat gekoppel word nie.
  • “Wil jy eendag kinders hê?” word aan jong debutante gevra as hulle vroulik is, maar nie aan mans nie.
  • “Hoe voel dit om as vrou” te skryf?” word ook baie gereeld gevra aan vroue, “so asof ons met ons borste skryf” .

Dat nie een van hulle as “skryfster” wil bekend staan nie, is duidelik, tog is die moontlikheid geopper dat almal, mans en vroue, dalk die woord “skryfster” sou moet opeis om die stereotipe teen te werk.

Die inhoud van vroue se werk

Die persepsie bestaan dat vroue skryf vir die “liefdeshunkerende vrou”.

Daarmee saam mag vrouekarakters skynbaar nie te onguur wees nie, want dan verkoop ’n boek nie, maar manlike karakters kan maar doen wat hulle wil. Dié gesprekke vind blykbaar steeds plaas, ten spyte daarvan dat 80% van alle boekkopers vroue is.

Winterbach noem toe dat Caroline Ferreira, haar karakter uit die gelyknamige boek (geskryf onder die naam Lettie Viljoen), baie negatiewe resensies gekry het. ’n Manlike kollega het na dié karakter verwys as ‘n “kroegslet” omdat sy daarvan hou om mans uit te daag by die pool-tafel.

Dit is skynbaar steeds geregverdig vir manlike karakters om perverse seksualiteit te toon, maar veel minder die geval sou vroulike karakters sulke gedrag openbaar.

Dit laat die vraag ontstaan: Wat sou gebeur as ’n vrou ’n boek soos Lolita sou skryf? Sou dit ewe goed aanvaar word? Sou ’n vroulike karakter die verleier kon wees in so ’n situasie?

Opsommend

Dalk sou ’n gepaste afsluiting wees om te noem waarmee Annelies Verbeke die gesprek geopen het. Sy het gesê dat sy aan die begin van haar loopbaan nie so erg was oor feeste wat slegs vir vroue was nie, want sy wou “inklusief” te werk gaan, nie in afsondering nie. Die jare het haar egter geleer hoe belangrik dit is om bewustelik vir vroue ’n plek te maak, want as vrou word daar teen haar gediskrimineer.

Dit blyk nie net in Vlaandere ’n probleem te wees nie.

Uiteindelik was dit glad nie Suid-Afrika versus België nie, dit was Suid-Afrika en België wat saamgesels het teen onderdrukking.

Ronelda Kamfer se helder, beredeneerde stem het veel gedoen om te wys hoe dit steeds in ons eie land mank gaan aan rassisme, maar al vier die deelnemers het getoon hoeveel werk daar nog in ons breë samelewing gedoen moet word.

Ander gesprekke gedurende die Vlaamse week

Die eerste gesprek het gehandel oor die digbundel Weerbare weemoed van Luuk Gruwez (met Hennie van Coller).

Die tweede gesprek het gehandel oor Erwin Mortier se boek Wanneer gode slaap (met Antjie Krog).

Die derde gesprek was oor die titel Kameleon deur Charlotte Van den Broeck (met Daniel Hugo en Yves T’Sjoen).

Lees ook:

Geweld teen vroue op Vrouedag

Stemme: noord en suid

Gouden Ganzenveer-winnares Antjie Krog: “Bij toenadering tussen Nederlands en Afrikaans moet diversiteit voorop staan”

"Wanneer gode slaap": Fanie Olivier deel sy ervaring van vertaalwerk aan ’n groot Belgiese Eerste Wêreldoorlog-roman

Charlotte Van den Broeck: "Ik zie de vertalingen echt als een gedeeld auteurschap met de vertaler"

US Woordfees 2018: Vlaamse dichter Charlotte Van den Broeck

Hugo en T’Sjoen deel insigte en nuus oor Claus se grootse werk Het verdriet van België, wat binnekort in Afrikaans verskyn

Creating the worlds we want: The Vrystaat Kunstefees and cultural self-agency in global networks

Onderzoeker Aafje de Roest laveert tussen universiteit en hiphopscene

"Ik hou van het leven": Een interview met Astrid H. Roemer

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top