Daniel Hugo, ’n digter van vers en klank

  • 0

Daniel Hugo en Deborah Steinmair

’n Gedig, behalwe dat dit moet klink, is vir die digter en vertaler Daniel Hugo veral ’n spel met taal. Hy beskou dit as deel van die uitdaging vir die digter om die alledaagse taal te verhewig en te verdig.

Hugo se jongste bundel heet dan ook Klinkklaar, ’n woord wat onder meer "glashelder" en "verstaanbaar" beteken. Hy het die titel soos volg verder toegelig: "In die woord 'klink' is die klánk van belang, want ’n gedig is vir my in die eerste plek klank. Klank is belangriker as betekenis. So die 'klink' in 'klinkklaar' is van belang; die 'klaar', die helderheid, is vir my van belang in gedigte."

Hugo het op die afgelope Tuin van Digters-fees op Wellington met Deborah Steinmair, die redakteur van Klinkklaar, gesels en by die geleentheid verskeie gedigte voorgelees.

Hulde aan Eybers

Pas nadat hy die titel gekies het, het hy toe op sy rak ’n bloemlesing uit die werk van Elisabeth Eybers herontdek, een met die einste titel. "Daardie bloemlesing bevat ook ’n CD waarop Eybers al die gedigte lees, daarom die titel. Ek weet daar is nie kopiereg op titels nie – jy kán iemand anders se titel gebruik. Ek het lank gehuiwer en toe tog besluit ek gaan dit gebruik. En as iemand my daaroor vra – niemand het nog nie; ek verklap dit nou uit my eie hier – sal ek sê dit is my huldeblyk aan Elisabeth Eybers. Ek het ’n groot bewondering vir haar poësie. Ons is op dieselfde dag, 26 Februarie, presies 40 jaar uitmekaar gebore. So, dis my huldeblyk aan haar."

Jare gelede is ook van Hugo ’n opname gemaak en beskikbaar gestel, getitel Versalbum. Dié nuwe Klinkklaar tesame met sy voorlesings die oggend daaruit het ’n mens onder die indruk gebring dat ’n nuwe opname van sy voorlesings uit publikasies sedertdien ook ’n besonderse en klankryke toevoeging tot die Afrikaanse poësie inhou.

Die rol van rym

In Hugo se poësie is rym volop teenwoordig en Steinmair het hom daarna gevra.

Benewens klank, gee ook rym struktuur aan ’n vers. Dit help dus om die gedig te struktureer, het hy verduidelik.

"So die rym, saam met strofeverdeling en vaste versvorme, soos die sonnet en die villanelle en die kwatryn en die ballade, ensovoorts, gee daaraan ’n uiterlike struktuur.”

Hy het gesê dat rym die digter se gedagtes in ’n sekere sin rig, want, het hy geskerts, “’n digter het nie veel gedagtes nie; die bietjie wat hy het moet nog gerig ook word om die eindrym te haal".

Hy het ook genoem dat die vers na wense soepel moet verloop. "Jy kan nie die sinseinde en die reëleinde telkens laat saamval nie, dan raak dit stamperig, dan raak dit eentonig, dan ontwikkel die verse ’n soort dreun wat jy tog nie wil hê nie." Vir Hugo dra sy gedigte dan ook "meer ’n soort taalinhoud, nie ’n werklikheidsinhoud nie".

Taal en vertaal

Steinmair beskou William Butler Yeats as een van haar gunstelingdigters van alle tye en noem dat Hugo se Afrikaanse vertaling van “Memory” die oorspronklike oortref. Nadat hy die Afrikaanse vers gelees het, een van verskeie vertalings in die bundel, voel die Engelse teks vir haar "absoluut styf" en in vergelyking "’n bietjie lomp", het sy gesê.

’n Vertaling slaan ’n eie koers in, dikwels, het Hugo gesê. "En ’n mens vertaal ook net dit wat vertaalbaar is. Daar is van Yeats talle en talle gedigte, miskien die meerderheid, wat ek nooit vertaal sal kry nie. Dit was doodtoeval en geluk dat dit kon gebeur het."

Hugo word tot die Tagtigers gereken. Steinmair noem dat dié groep skrywers nie soseer oor kwessies dig en gedig het nie, maar ’n kwessie wat in sy digkuns wel aandag kry, is sy liefde vir Afrikaans. (Hugo is dan ook die redakteur van die onvolprese en interessante biografie van Afrikaans met die titel Halala Afrikaans. Lees ’n resensie van die boek hier.) In Klinkklaar is ’n gedig, “Onomastiek” (naamkunde), wat hy opdra aan die gerekende Afrikaanse taalkundige, -historikus en -sosioloog, en skrywer van verskeie skrywersbiografieë, wyle Jaap (JC) Steyn. Hugo het ná sy voorlesing van die betrokke gedig opgemerk dat dit baie jammer sal wees as die polities korrektes die oorhand sou kry en van die naam Hottentots-Holland ontslae sou raak. "Dit is ’n wonderlike klankryke woord en dit sê ook alles omtrent die herkoms van Afrikaans."

Bundelwerk

Hoe gaan hy te werk om ’n bundel daar te stel? wou Steinmair weet.

"Dit ontstaan uit ’n klomp los gedigte. En as jy dan nou oor die sestigtal gaan, dan besef jy jy moet begin orde skep daarin, want 50 is die minimum getal vir ’n bundel. En as jy dan tematies begin indeel, byvoorbeeld, dan sien jy maar hierdie afdeling kort nog ’n gedig, of in daardie afdeling is een of twee te veel wat jy met vreugde kan uitgooi en laat lê tot die volgende digbundel.

“Die afrondingsproses aan ’n bundel is inderdaad só dat jy kyk waar is leemtes wat jy kan vul en dan moet jy doelbewus daardie leemte probeer vul met ’n paar ryme. As jy ’n tema het, en jy sien daar is nog ’n dimensie wat jy moet byvoeg, is dit makliker. Dis ’n soort opdrag wat jy dan aan jouself gee."

Wanneer het hy besef het dat hy wil dig, en wie se poësie het die eerste tot hom gespreek? wou Steinmair weet.

"Ek het die eerste keer ’n gedig geskryf die eerste keer toe ek verlief geraak het. Dit was baie laat in my lewe, in standerd agt,” het hy skertsend gesê.

Invloede en hulde

“Die digter wat my beïnvloed het, van alle digters – want ek skryf glad nie so nie – was Uys Krige. 'Tram-ode' van Krige was die groot invloed, maar, let wel, die klánk. Dit is ’n veel vryer vers as wat ek ooit kon skryf of kán skryf. Hy gebruik wel rym, ’n baie wisselende rymskema en wisselende strofelengte. Dis ’n gedig met ’n geweldige vaart. Daardie gedig het vir my gewys wat met die taal gedoen kan word.

“Daarna was die groot invloed op my natuurlik DJ Opperman, en dit het my baie jare geneem om van die Opperman-klank ontslae te raak, want hy het so ’n sterk klank."

Hugo is, benewens letterkundige, digter, bekroonde vertaler en gewilde omroeper, iemand wat waardering het vir die formele en veral informele literatuurgeskiedenis.

Telkens is sy werk ook gerig op gesprekke en hulde aan ander digters en skrywers, of dit deur vertalings van hul werke is, voortdigtings daarvan, of parodie, wat ook hulde is. Dit het ook die oggend geblyk uit voorlesings uit Klinkklaar en ’n bloemlesing uit sy eie werk, Tuin van digters, waarin dan ook ’n naamregister is vir die onderskeie gedigte, wat meestal oor ander digters gaan. Hy het sy doktorale proefskrif oor die vernufsvers met JC Kannemeyer as studieleier voltooi en huldig hom in verskeie verse en bundels.

"Ek en Kannemeyer was goeie vriende, maar die laaste paar jaar voor sy dood nie. Ons het verskille gehad. Ek voel tog ek wil nog hulde bring aan Kannemeyer, want hy was my mentor. Hy was ook my promotor vir my proefskrif. Hy het my baie geleer van die letterkunde en ook van literêre mense, want daar was nie ’n groter bron van literêre anekdotes as John Kannemeyer nie.

“Wat my toe geweldig ontstel het, is ná sy dood is sy groot biblioteek oor die aardbol versprei, want daar is nêrens plek meer om volledige biblioteke te huisves nie. Opperman se biblioteek is byvoorbeeld geskenk aan die Universiteit Stellenbosch. Hulle het dit stuk vir stuk verkoop met Opperman se handtekening in en dies meer."

Temas

Oor temas in sy werk het Hugo verwys na die grotes van die poësie in die algemeen, dié van liefde, dood en die digkuns self.

"Miskien is dit ’n soort beswering, die gedig as ’n beswering teen die verganklikheid," het hy hardop gewonder. "Elke digter is ydel genoeg om te hoop op onsterflikheid, maar daardie onsterflikheid kan hy net ervaar solank hy lewe, natuurlik. Daarna sal hy nie weet daarvan nie.

"Die dood is ’n belangrike tema in my lewe, inderdaad miskien omdat ek vroeg in my lewe te doen gekry het met die dood van ’n broer van my wat 20 jaar oud was toe hy dood is en dit het tog seker ’n baie beslissende invloed op my lewe gehad. Want hy was ’n baie intelligente, mooi jong man gewees en sy hele loopbaan, sy hele toekoms is so kortgeknip."

Steinmair het daarop gewys dat juis ’n verganklikheidsbesef inhou dat mens iets van die lewe wil bewaar en vasvang, dat die betekenis in die vlugtigheid daarvan lê. Is dit wel so, syns insiens?

"Ja, dat jy waarskynlik intenser lewe. As jy aan die dood dink, hoe harder leef jy," het Hugo gesê. "Jou harder lewe kan natuurlik ook jou dood verhaas. Êrens moet ’n mens ’n balans vind. Maar dit ís een van die groot temas."

Oor "Gammams", een van twee gedigte vir sy ma wat op 1 September 2020 oorlede is, het hy gesê daar is ’n rivier met dié naam in Windhoek-wes naby die pastorie waar hulle grootgeword het. As dit dan gereën het, het hulle gaan roei. Ook in hierdie gedig gaan dit om "woord wek woord", het hy laat blyk, dat die klank van woorde en die taal self die impetus vir die gedig was. "Gammams het ek geassosieer met my ma, 'mams' ... Ons het haar nooit Mams genoem nie, maar... En sy was Marieta en daarom het jy die rietbegroeide oewers."

Hugo se pa was ’n predikant en ook hý wou ’n predikant word, "want pastoriekinders word maar wêreldvreemd groot; hulle dink dis die enigste ding wat jy kan doen en dis om ook maar predikant te word. Gelukkig het ek toe die lewe leer ken toe ek gaan studeer het om predikant te word en het ek toe nooit predikant geword nie."

Die Bybel se invloed op die taal van digters

Die Bybel bevat van die mooiste taal, het Steinmair opgemerk. Het dit ’n invloed op hom gehad?

Dit het beslis, en spesifiek die 1933/1953-vertaling, het hy benadruk. "Ek weier om enigiets daarna te lees, van 1983 en die jongste ene, want myns insiens is die poësie daaruit vertaal ter wille van sogenaamde begrip en verstaanbaarheid.

"Vir die moderne vertaler is dit belangrik dat die leser moet verstaan wat daar staan, selfs al is dit dinge van 2 000 of meer jaar gelede, ’n totaal ander samelewing, ’n totaal ander tyd, en tog wil hulle dinge nog steeds vir ons verstaanbaar maak. Asof geloof afhanklik is van begrip.

"Geloof is nié afhanklik van begrip nie. Geloof is wel afhanklik van ritueel en van poësie, klank. En dit is wat die ou vertaling, die 1933-vertaling, gegee het. Daardie vertaling het ook ’n geweldige bydrae gelewer tot die standaardisering van Afrikaans. Talle van ons idiome kom uit daardie ou vertaling, wat intussen wegvertaal is.

“Al die (Afrikaanse) digters sedert 1933 is beïnvloed deur die taal van die Bybel. Ook die taal van Breyten Breytenbach, ’n Zen-Boeddhis, is geweldig beïnvloed deur die Bybel.”

Hugo het daarop gewys dat diegene wat slegs die nuwe vertalings van die Bybel lees of ken, sekere verwysings in die Afrikaanse poësie nie gaan herken nie en dat sodoende ’n hele stuk kulturele dimensie sodoende verlore gaan.

Vir Hugo kom die skryf van ’n gedig voort uit iets wat hy hoor, ervaar, en voel selfs, “maar die eintlike inspirasie is die táál self”.

“’n Interessante rymwoord, of ’n interessante idioom wat jy kan verdraai of verletterlik, ’n metafoor wat by jou opkom, dít is die dinge waarmee ’n gedig begin, eintlik. Dan moet hy noodwendig êrens ’n draai deur die werklikheid maak, maar dit eindig dan weer as gedig – in die taal."

  • Foto's geneem by die 10de Tuin van Digters (deur Izak de Vries)
Lees ook:

Op reis in Darwiesj se poësie

In vertaling verlore? In vertaling gevind?

Huldigingsrede | Alfred Schaffer (Tuin van Digters-feesdigter 2021)

Muurmaskers in de lyriek – over ommuurde pandemietaaltuinen in Afrikaans

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top