
Op die hoek van Boulevard Ornano en Rue Belliard
Die Franse hoofstad word dikwels geassosieer met die blink vensters van die Champs-Élysées, die marmer-statigheid van die Louvre en die ryk aroma van varsgebakte croissants in die raserige Quartier Latin. Maar anderkant die toeristeglans – aan die uiterste noordelike grens van die 18de arrondissement naby Porte de Clignancourt – lê ’n plek waar die polsslag van die stad teen ’n ander ritme klop. ’n Groen ritme.
Ons struikel (v)oor La REcyclerie – ’n plek waar die verlede nie weggegooi word nie, maar hergebore word vir ’n tweede kans. Ons is stokflou gestap op soek na die antieke vlooimark van Saint-Ouen buite die stad. Dis Sondagoggend, dis vriesend buite en my geliefde se wange word al meer opgeblaas oor dié gesoek na die mark en dit sonder koffie of brekfis.
Van aanwysings kyk ek op my slimfoon – en nie waar ek trap nie – ek struikel en my tekkie beland eenkant op die sypaadjie. Toe ek iewers aanleun om my skoen aan te trek, is dit teen die muur van La REcyclerie.

Die binnekant
Dis die groen plante wat oor die geel naam rank en die potte binne met varings en palms – en natuurlik die reuk van koffie – wat my aandag aftrek; tekkie skoon vergete.

Oral is plante
La REcyclerie is in die ou Ornano-stasie. Dis egter nie bloot ’n kafee of ’n restaurant nie; dis ’n eksperiment in volhoubaarheid, ’n kulturele sentrum en ’n oase van groen midde-in die stedelike beton.
Wanneer jy by die deure instap, word jy begroet deur ’n mengsel van industriële sjiek en botaniese oorvloed. Met ons instap en oopmond-stilstaan, is daar ’n vriendelike kelnerin – kompleet met potlood agter haar oor en sakboekie in haar hand – wat die verwondering op ons gesigte sien. Mens kan skaars die veranderinge van buite na binne glo.

Ou meubels en versamelgoed kry hier ’n tweede kans.
Sy neem aan dat ons groentjies in die REcyclerie-veld is en begin verduidelik: “Om die nostalgie van La REcyclerie te verstaan moet ’n mens eers na die geskiedenis kyk. Hierdie gebou was oorspronklik die Gare d’Ornano, ’n stasie wat in 1969 – of in 1863, afhangend van wie jy vra – op die legendariese Petite Ceinture (Klein Gordel) geopen het. Hierdie spoorlyn was Parys se eerste ‘ringpad’ – ’n spoorlyn van 32 kilometer wat die stad omsirkel het lank voor die koms van die Metro in 1900. Die ringpad het vasgebyt, maar teen die 1920’s het verskeie busroetes veel vinniger vervoer verskaf en teen 1934 het die aantal passasiers op Petite Ceinture só drasties afgeneem, dat die stasie gesluit is.

Die klein biblioteek
“Hierna het die stasie vir agt dekades lank verlate gestaan, ’n tjoepstil getuie van die industriële era wat was. In 2014 is die terrein egter omskep in wat ons vandag ken. Die argitekte het die integriteit van die stasie behou: die hoë plafonne, die reusevensters wat die noordelike lig binnenooi en natuurlik die platform wat direk uitkyk oor die nou toegegroeide spoorlyn.”
Met die intrapslag aan jou regterkant is ’n man in die venster besig om ’n ou radio reg te maak. Daar is verskeie werkswinkels, maar sy verduidelik dat baie spesialiste hierheen kom en oor ’n koppie koffie aan radio’s, ou waaiers, flitse uit die Tweede Wêreldoorlog krap, alles as deel van hul bydrae tot die sirkulêre ekonomie.

Die werkswinkel
’n Klein donasiekassie staan op die toonbank. “Dié plek heet René se Werkswinkel (L'Atelier de René) en daardie nutsmanne help jou ook om jou eie items te herstel. Dit is ’n daad van verset teen die moderne ‘weggooikultuur’,” verduidelik sy terwyl ons verder stap.
Ek wens opslag dat ek drie van my antieke waaiers en ’n radio hierheen kon bring. Daar word jaarliks 377 items by René se Werkswinkel reggemaak, voeg sy half ingedagte by.
My geliefde kyk rond en sê die plek voel minder soos ’n formele besigheid en meer soos die werkswinkel van ’n eksentrieke kunstenaar wat weier om enigiets weg te gooi.

Selfs die toilette is komposvriendelik.
Die kelnerin sê ons is welkom om rond te kyk; die badkamers is agter regs en as ons ’n tafel soek, moet ons net wuif.

Mense stap rustig op die spore.
Sy kan sien ons het ander vrae en sê: “Vandag dien hierdie magiese stasie as ’n ‘derde plek’ (le tiers-lieu) – ’n ruimte tussen die huis en die werk waar gemeenskap, ekologie en kreatiwiteit mekaar ontmoet.”

So maak jy kompos.
Teen die mure hang daar borde met wenke vir kompos, hoe om dit tuis te maak, hoeveel herwinning jy self kan doen en ander groen wenke.
Die hele konsep berus op die drie R’e: reduce, reuse en recycle, en jy sien oral hoe dit hier in praktyk werk.
Selfs die dekor is ’n huldeblyk aan dié sirkulêre ekonomiebeginsels. Hanglampe is gemaak van ou kombuisgereedskap, die stoele is ’n eklektiese mengsel van vlooimarkvondste en oral waar jy kyk, is daar plante wat uit onwaarskynlike houers groei. Die middelpunt van die binnekant is die massiewe kroeg en oop kombuis, waar die energie tasbaar is.
Daar is ’n klein hoekie met boeke wat fokus op ekologie, selfdoenprojekte en volhoubaarheid. Dit is die ideale plek om met ’n koppie tee weg te sak en nuwe idees vir jou eie huis te kry. Die Wi-Fi is ook gratis en ek soek vinnig ’n paar stories op oor hierdie betowerende plek.

Ruim en gesellig
Anaelle Meudic skryf in 2017 ná haar besoek in Garden Collage-tydskrif – sy was ook maar skepties oor die plek se vooraansig en vreemde wesens wat buite op straathoeke rondhang: “Tot my verbasing het ek op ’n ruim, gesellige en uitnodigende vertrek afgekom. Die groot houttafels het aanvanklik ietwat ongewoon en selfs effens oorweldigend gelyk. Die driehoekige fasades herinner aan ou treinstasies, terwyl die glasdak en agtermuur vernuwing uitstraal. Dit bied ’n asemrowende, amper apokaliptiese blik op ou spoorlyne wat deur die natuur herwin is. Plante hang oor die vensters en rank teen die betonmure op – ’n mikrokosmos van 1 000 vierkante meter vol biodiversiteit en innovasie. Dit is die ideale plek vir besoekers en Parysenaars wat op soek is na ’n unieke en grensverskuiwende ervaring.”
Die spyskaart by La REcyclerie is ’n weerspieëling van hul filosofie: plaaslik, seisoenaal en met ’n zero-afvalbenadering. Moenie hier ingewikkelde fynproewerskos verwag nie; verwag eerder eerlike, hartlike geregte wat die planeet respekteer.
Daar is altyd ’n sterk fokus op vegetariese en veganistiese opsies. Die beroemde middagetespyskaart (Formule du Midi) verander daagliks op grond van wat beskikbaar is. Jy mag dalk ’n bakkie vars quinoaslaai met kruie uit die tuin, of ’n stewige lensiebredie kry. Oor naweke is die laatontbyt (Brunch de la Recyclerie) ’n instelling. Vir ’n vasgestelde prys, kry jy ’n oorvloed van vars sappe, tuisgemaakte konfyte, eiers en tuisgebak.
My geliefde is dors gestap en besluit op ’n plaaslike bier en ek loer na die wynlys wat fokus op natuurlike en organiese wyne, maar die koffie ruik te lekker en ek swig.
Selfs die gebruikte koffiemoer word nie weggegooi nie, maar gebruik as kompos vir die sampioene wat op die perseel gekweek word en 7,2 ton afval word hier in kompos verwerk, vertel die barista toe ek ons koffies gaan bestel.
Ek kyk nuuskierig af na die wêreld buite die reuseglasvensters. Ons besef gou die ware towerkuns lê buite.

Die pluimveehotel
Die ou perron is omskep in ’n terras wat uitkyk oor die spoorlyn. Langs die spore is daar nou ’n stedelike plaas – kompleet met hoenders wat kekkel, groentetuine wat in die Paryse somer gedy en byekorwe wat die stad se unieke heuning produseer.

Mense stap langs die ou spoorlyn.
Jy stap langs die ou spoorlyn en gaan groet die hoenders. Die plaas is ’n lewende laboratorium waar stedelinge kan leer oor permakultuur en hoe om kos in ’n beperkte ruimte te verbou. Oral staan daar groepies mense en gesels en idees uitruil. Mense sit kruisbeen op die ongebruikte treinspoor en hul gelag dans oor die spore.
Weer is ’n jong meisie by om te verduidelik dat La REcyclerie ontwerp is om jou aktief te betrek, nie net te voed nie. Daar is byna daagliks iets aan die gang – van jogaklasse en vlooimarkte tot dokumentêre vertonings en debatte oor klimaatsverandering. Dis ook ’n baie gewilde boekbekendstellingsvenue.

Dien insekhotel
In ’n stad wat soms oorweldigend kan voel weens sy grootheid, bied La REcyclerie ’n broodnodige dosis hoop en stilte. Dit is ’n plek waar die geraas buite vervaag en plek maak vir die geritsel van blare en die geklets van mense wat glo dat ’n beter wêreld moontlik is – een herstelde stoel en een organiese wortel op ’n slag.

Selfs ou tasse lyk mooi!
As jy jou in daardie geweste bevind en jou kop draai van die geraas van die Périphérique (die besige ringpad daar naby), of die spitsverkeer wat nooit van die “spits” ontslae kan raak nie, moenie by hierdie groen oase verbyloop nie.
Gaan in, bestel ’n tuisgemaakte limonade of varsgedrukte sap en kyk hoe die verlede en die toekoms in perfekte harmonie saamleef op ’n ou spoorwegperron.

Dis eers toe ons laatmiddag uitstap, dat my oog die hart oorkant die straat raaksien. Die plek het regtig my hart gesteel.
Kitsfeite
- La REcyclerie is op die hoek van Boulevard Ornano en Rue Belliard. As jy die trein vang, gebruik Metro: Lyn 4, stasie Porte de Clignancourt. Die beste tyd om te gaan is Saterdag- of Sondagoggend vir die atmosfeer, of ’n weeksdagmiddag as jy op soek is na ’n stil hoekie om te lees met ’n glas wyn of sterk koffie. Besoek https://www.larecyclerie.com/.
- Die span van La REcyclerie bevorder ’n verantwoordelike samelewing deur wêreldwyd projekte soos die Oasis (Niamey) en die Baobab (Durban) te ondersteun. In vennootskap met Veolia, fokus hierdie gemeenskapsentrums op volhoubaarheid. Die Baobab in Suid-Afrika bied ruimtes vir stadslandbou, werkswinkels en opvoeding oor ekovriendelike stedelike leefstyle. Meer inligting is beskikbaar by upcyclethefuture.com. In Niger fokus die Oasis op vroue-entrepreneurskap en omgewingsbewustheid. Beide inisiatiewe kombineer innovasie met gemeenskapsontwikkeling om ’n groener toekoms te bou.
Foto’s: Clifford Roberts

