Ek en my geliefde het elkeen ons eie fobie: hy vir hoogtes; ek vir noutes. Maar so tussen die vrese deur ontdek ons ongelooflike plekke hoog bó en onder die grond.
Ek en hy grap altyd so dat ons regtig die verpersoonliking is van daardie ou Cremora televisie-advertensie: “It’s (I’m) not inside, it’s (I’m) onnnnn top!” Hy voel veiliger binne; ek voel veiliger buite – en verkieslik hoër!
Die rede vir hierdie storie kom van ’n Instagram-pos van die Amerikaanse aktrise Viola Davis oor die nuwe Beam-ervaring by die Rockefeller-sentrum in New York. Die nuwe ervaring gee aan toeriste die kans om die bekende 1932-foto van konstruksiewerkers wat middagete eet terwyl hulle hoog in die lug op ’n ysterbalk sit tydens die konstruksie van Rockefeller Plaza 30, na te boots.
Toeriste word op die 69ste vloer ingegord voor die balk stadig bo die observasiedek uitstyg en dan 180o oor die stad uitswaai. Jy sit 244 m bo die stad met jou swaaiende voete...
Ek en my niggie wat in Londen woon, het dié observasiedek ’n paar jaar gelede gaan ervaar, terwyl manlief onder in ’n Starbucks gewag het. Ons kon nie genoeg kry van die koue windjie so hoog bo die stad en die bekende bakens wat ons al soveel keer in flieks en televisiereekse gesien het nie.
Ek is nie seker of ek die nuwe ervaring bo-op die swaaiende balk sal aandurf nie, maar dink sommer terug aan waar my liefde vir hoogtes en daardie gevoel van vryheid met ’n ligte briesie in jou hare vandaan kom. Ek was op hoërskool toe ek en my vriendinne ontdek het dat ons op die Umbra-gebou – op daardie stadium Upington se hoogste gebou met ses vloere – se dak kon gaan sit.
Ja, dis natuurlik die jare voor interkom en hekke en wagte en ons het lekker met ons fietse en poegies (klein motorfietsies) na ons gunsteling-wegneemeteplek Melk Salon in Scottstraat gery, slaptjips en ’n “Melksalon Special” (wat ’n tipe dagwood was) bestel en op die dak gaan sit en eet. Vryheid op sy beste.
Willis-toring, Chicago
Hoe lekker om op te gaan na die Willis-toring in Chicago se The Skydeck.
Gepraat van my geliefde wat onder wag. Met ’n besoek aan Chicago ’n jaar of vyf terug, roep die Willis-toring my naam. Ek kry uiteindelik vir liefie om saam te gaan, maar hy bly versigtig teen die muur afstap; kom nie naby die ruite van die observasiedek The Skydeck op 412 m hoog nie. Toe ek in die klein glasboksie wat teen die kant uitsteek klim, is dit suiwer paniek op sy gesig. Ek neem foto’s en kom wys ewe kordaat, maar die sweet op sy bolip laat my gou besef ons moet vaste grond onder sy voete kry.
Ek moes ook maar so alleen in die klein glasboksie in die Willis-toring gaan staan. (Foto: Dave Burk)
Londen vanuit die hoogtes
Ons eet koek en drink tee op die dak van die Tate Modern in Londen. (Foto: Tate Photography )
’n Paar maande gelede is ons gelukkig genoeg om Londen van twee hoë geboue te kan ervaar – albei op die suidelike oewer van die Teems, maar sowat 5 km uitmekaar. Eers eet ons koek en drink Earl Grey-tee met ons pinkies in die lug op die dak van die Tate Modern-kunsgalery en bekyk die stad teen laatmiddag, terwyl vliegtuie onophoudelike rookpatrone teen die vaal lug skilder. Daarna is dit moltrein en bus tot by die voormalige Battersea-kragstasie wat nou ’n luukse winkelsentrum is.
En dan “skiet” jy by die skoorsteen heel regs voor uit by Battersea met Lift 109.
Dis die tuiste van Lift 109, ’n hysbak met glasruite wat by een van die voormalige kragstasie se vier skoorstene “uitskiet” en jou 360o uitsigte oor die rivier en stad gee. Soos die hysbak opgaan, maak die ligte rooi ringe voor jy uiteindelik die donker nag om jou sien en die stad met al haar liggies aan jou voete lê.
Aan die einde van die reënboog
’n Maand of ses terug gaan bly ons oor in die luukse villa Rainbow’s End op Knysna op een van die twee Knysna-koppe. Ons skuif die deure van ons kamer oop en die kranse is loodreg see toe. Ek kan sien my man wil homself met sy japon se gordel aan die relings vasmaak, maar hy stem tog in om saam met my op die klein stoepie met oggendkoffie te gaan sit.
Ons was ook al in die boonste verdiepings van die Petronas-toring in Kuala Lumpur, die Burj Khalifa in Dubai en het selfs al in die Burj Al Arab Jumeirah-hotel in die hoogtes gebly. Ons het die vreesaanjaende karretjie oor die einde van die Stratosphere-toring in Las Vegas gery (nee, manlief het aan sy cocktail geteug op die 108ste vloer, veilig agter dik glasruite). En ’n paar jaar gelede saam met skoolvriende as ’n tipe Umbra-geboureünie by die Ritz Hotel in Seepunt se draairestaurant op die 23ste vloer gaan avokado ritz eet.
Sauvignon blanc in die wolke
’n Aand met die land se beste Sauvignon blancs in die FNB-gebou in Kaapstad bied pragtige uitsigte oor die stad in die nag.
Meer onlangs was ons by die prysuitdeling van die Sauvignon Blanc Assosiasie se Top 10 Sauvignons van die jaar in die FNB-gebou in Kaapstad, wat 139 m hoog staan. Die uitsigte oor Tafelberg, die hawe en die V&A Waterfront is asemrowend.
As jy bo-op Tafelberg staan, verstaan jy hoekom dit een van die natuurlike wonders van ons land is.
En vir ’n uitsig oor dié gebou en die groter Kaapstad, is daar ’n beter plek as van die bokant van Tafelberg? Of jy nou met die kabelkarretjie opgaan of stap, die natuurskoon is skouspelagtig en jy verstaan hoekom die berg ook een van ons natuurlike wonders is.
Die ondergrondervarings wat ek darem oorleef het, maar nie uit vrye wil weer sal herhaal nie, was almal ewe insiggewend.
Die Kangogrotte buite Oudtshoorn
Een van Suid-Afrika se sewe natuurwonders wat mense van regoor die aarde laat kom kuier, is iets wat jy nie kan misloop nie, hoor ons by die toerismekantoor op die dorp. Die grotte wat onder die Swartberg geleë is, was ’n skuilplek vir die San en in 1780 deur ’n plaaslike veeboer ontdek. Dis in 1938 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar en net die eerste 760 m is oop vir die publiek. Dis Afrika se grootste skougrot en ’n argeologiese hoogtepunt van enige besoek aan die Klein Karoo.
Die Kangogrotte se erfenistoer was al wat my engtevrees kon verduur.
Twee toere kan met gidse onderneem word: die erfenistoer van sowat 60 minute wat deur die eerste ses kamers stap en die uitdagende avontuurtoer van 90 minute wat beslis nie vir my geskik is nie! Laasgenoemde sluit die erfenistoer in en strek dan nog dieper in, in klein gangetjies waar ek sekerlik óf ’n paniekaanval óf ’n hartaanval sou kry, veral toe ek later hoor een van die gangetjies is die liefdestonnel gedoop, omdat dit jou oraloor “drukkies” gee.
Die feit dat daar miljoene tonne klip bo my kop is, het my natuurlik baie vlakker laat asemhaal – selfs in die saalagtige grotte. Maar die wonder van die formasies van stalaktiete en stalagmiete wat oor miljoene jare deur druppende water gevorm is, is iets wat ek nie sou wou misloop nie. Met ’n nou al geoefende diep asemhaal en stadig uitblaas, geniet ek die ondervinding terdeë en veral toe die Amerikaner voor my verklaar hoe pragtig ons land is. Toe swel my bors van trots en die paniekerigheid is vir eers vergete.
Tot die groep aanbeweeg vir die avontuurdeel en die gids sê: “Jy sal moet kruip, op jou maag of rug gly en heelwat klimwerk moet doen om ’n goeie idee te kry wat spelonkkruip nou eintlik is.”
Nee, dankie, sê dié gansie. Vars lug, melkskommels en ’n koel luggie teen my slape klink mos stukke beter!
Sudwala-grotte buite Nelspruit
Die akoestiek is natuurlik onverbeterlik.
’n Grot wat darem nie só diep en donker is nie, is die Sudwala-grotte buite Nelspruit. Ons het een aand tydens die Innibos Kunstefees ’n konsert daar gaan kyk, “Eggo’s in die grotte” met CH2, André Schwartz, Chris Chameleon en Demi Lee Moore. Die akoestiek is natuurlik onverbeterlik, die grotte pragtig verlig en ek het ’n 1,5 yskoue water onder my blad. Die musiek en stemme het my vrees verdryf en ek het skaars aan die engtes gedink.
We' Byan-grot in Myanmar
Ons het die hele Myanmar (die voormalige Burma) per bus platgereis. Van die suide se ruie, tropiese dele tot die droë noorde van Bagan met sy meer as 10 000 tempels oor minder as 100 km2. Ons het per boot gedryf op die Irrawaddy-rivier tot by Mandalay en toe weer suidwaarts na die We' Byan-grot.
Dis nogal snaaks, maar daar is my engtevrees vir eers op hok toe ons kaalvoet op die koel marmervloer in die maag van die grot staan en kyk na die Buddha-beelde in alle groottes, met hul gedrapeerde klede in goud geverf. Die reuk van brandende kerse en wierook in klein tempeltjies hang swaar in die lug, maar ná drie weke in die land is dit nou amper ’n gerusstellende reuk. Aanvanklik was dit te soet, amper verstikkend en wou ek wegtree na vars lug, maar mens raak dit gou gewoond.
As jy daar in die skemer staan en die koelte en vrede jou omvou, is die hitte en stof van buite die grot tydelik vergete.
Die Wieliczka-soutmyn in Pole
Die Wieliczka-soutmyn is een van die oudstes ter wêreld en dateer uit die 13de eeu. Die unieke ondergrondse kompleks van kamers en kapelle, tonnels en beeldhouwerke, geheel en al in sout gekerf, bied verrassende ondergrondse landskappe met mere en is op die UNESCO Wêrelderfenisgebied-lys ingesluit. Dis vriesend koud buite, het lekker gesneeu en ek voel heel gerus dat hierdie toer “nie so erg” sal wees nie.
Ja, ek het hierdie gangetjies in die soutmyn meters onder die grond oorleef!
Dis natuurlik voor ek die eerste bordjie minute later raaksien waarop trots aangekondig word dat vlak een 64 m onder die grond is...
Die soutmyne buite Kraków in Pole was ’n senutergende uitstappie vir my. Hier is een van die meer as 800 trappe wat jy tydens jou besoek op- en afklim.
Die myn strek tot 135 m onder die grond en is sedert 1978 op die UNESCO Wêrelderfenis-lys.
Gelukkig is ons vyf baie goeie vriende in ons groepie, want nie te lank nie of een dra my mus en serp, die ander my handskoene, nog een my baadjie en my geliefde alles andersins wat net nie my frokkie insluit nie: Ons is immers in die openbaar.
Mens kan nie glo hierdie katedraal is verdiepings onder die oppervlak nie.
Dis ’n wonderwêreld in wit sout. Die enigste plek waar ek effe rustiger voel, is die reuse-St Kinga-katedraal waarop jy afkyk en waarin jy kan rondloop.
Pragtige kerfwerk en standbeelde, alles uit sout.
Met die hitte onder die grond, die benoudheid op sy ergste, hoor ek hoe die kind agter my koggelend vir sy ma sê sy wou hulle mos meer as 800 trappe laat klim. Ek maak asof ek dit nie gehoor het nie – wat heel moontlik is, want sy blaas harder as ek – maar verwens myself dat ek die toer onderneem het.
Toe ons bykans drie uur later weer bo die grond staan en die koue my wange rooi brand en ons asems wolkies maak, moet ek natuurlik weer al my kledingstukke versamel en aantrek en besef my paniekerigheid is ’n lekker terg van almal werd en ek sal die eerste rondte drankies moet koop vir hul “ondersteuning” in my ure van nood!
Die ondergrondse waterwerke in Istanboel
Die Basilica Cistern (Yerebatan Sarnıcı of Yerebatan Saray in Turks) is ’n ondergrondse waterwerke wat uit die sesde eeu dateer en het wandelgange, pilare en mooi beligting, wat dit eintlik ’n sprokieswêreld maak.
Die ondergrondse waterstelsel in Istanboel dateer uit die sesde eeu. (Foto: http://yerebatansarnici.com/)
Blykbaar was 7 000 slawe verantwoordelik vir die konstruksie en dit het waterfiltrasie vir die Groot Paleis van Konstantinopel verskaf. Die pilare is uit verskillende soorte marmer gekerf en lyk nie almal dieselfde nie. Hoewel die waterwerke so groot soos ’n katedraal is (ongeveer 9 800 m2) en 80 000 m3 kan hou, is die watervlak vandag baie laag sodat toeriste oral kan stap. Ligte onder die water maak ’n kleurespel wat teen die plafon weerkaats.
Ons gids vertel daar word gereken daar is meer as 80 soortgelyke waterstelsels in Istanboel, maar hierdie een is die grootste en beste bewaar.
Dit was vir my so magies mooi daar dat ek nie kans gehad het om te dink dat ons onder dik lae klip onder ’n besige straat in die hartjie van Istanboel is nie.
Vorentoe
Nou is ons op pad Frankryk toe en ja, jy het reg geraai, die Eiffel-toring se uitkykpunt heelbo is ook heelbo aan my lysie van doendinge, terwyl my man baie veiliger voel op die bootjies wat op die Seine vaar of in die tonnels onder die stad. Maar meer daaroor in ’n volgende storie.
- Foto’s: Clifford Roberts, tensy anders vermeld