Jy leef teen ’n slakkepas op Dwarskersbos

  • 0

Stadig nou!

Jy ry by baie plattelandse dorpies in en sien dalk ’n padteken vir kinders wat speel, trekkers, beeste of as dit naby ’n wildreservaat is, soms ’n teken vir ’n leeu. Dwarskersbos aan die Weskus se tekens vertoon vrolike – en minder vrolike – skilpaaie, en een uitbreiding se huisies is in die vorm van slakke gebou. Dis die rustiger lewe dié.

Op 'n slakkepas!

Die uitbreiding is ook heel gepas “Op ’n slakkepas” gedoop. Dis presies hoe jou lam kuite voel as die stadstres by die ruite uitwaai soos wat mooie Kaapstad met haar verkeersknope en toeters klein word in jou truspieëltjie.

Kom tot ruste.

Ons het drie salige dae op hierdie kusdorpie, net so anderkant Velddrif en Laaiplek, deurgebring. Ons naweekverblyf is dorp deur, op die teerpad anderkant uit, tot by die laaste uitbreiding wat sekerlik nie meer as ’n paar jaar oud kan wees nie.

Ontspan.

Ons wil saans braai, soggens vroeg op die strand stap, dan luilekker brekfis, kaartspeel, lees, slaap en weer braai.

’n Stappie in Bokkomlaan in Velddrif is soos ’n stappie terug in die verlede.

Die oorvol kattebak kan nie die reuk van varsgemaalde bone verbloem nie. In die historiese Bokkomlaan langs die rivier op Velddrif, ’n katspoegie terug, maak ons altyd ’n paar stopplekke, want hier hang vissermanne harders op om droog te word en dan as bokkoms te verkoop.

Bokkomrepies met ’n glasie koue witwyn is net die manier om ’n lang dag mee af te sluit.

Dis lekker as jy met ’n glas witwyn aan ’n fyngesnyde bokkom en ’n stukkie kaas van Kokerboom Kaas – ook hier van Velddrif af – kou.

Jy skandeer die kode met jou foon en leer die hele Bokkomlaan-geskiedenis.

Dié bokkomdroog-gebruik dateer uit die dae toe die vissermanne nog in die Bergrivier kon visvang en dan hul vangste op die wal verwerk het. Deesdae mag die vissermanne nie meer in die rivier visvang nie, omdat die vis van die see af inkom om hier te broei. Die laaste ongeveer 20 km van die Bergrivier is ’n getyrivier waar die see instoot. Vis word nou van die see af aangery om in Bokkomlaan te droog.

Heerlike peppermint crisp-tert by Columbine-koffiewinkel.

By Columbine Co. rooster Albert (Junior) Cornelissen sy eie koffiebone en behartig die daaglikse bediening. Ons het net vinnig gestop vir koffie, maar vinnig-vinnig sit ons buite op die stoepie en teug aan volronde cappuccino’s en eet dekadente peppermint crisp-tert wat my Britse skoonfamilie met helfte Brit, helfte Suid-Afrikaans se monde sal laat water. Neffens die koffieroostery is ’n klein vishuis waar bokkoms hang, vis verwerk word en kort-kort kom smeek ’n reuse-reier om ’n vissie.

My 93-jarige pa se oë blink as hy hier sit en die wêreld betrag. Toe twee reiers mekaar jaag, mymer hy ewe droog: “Nou is dit nie meer twee reiers nie, dis een reier en ’n vryer...”

Die Weskus in kort, kragtige woorde opgesom.

Ek kry ’n groot glimlag op my gesig toe ons by een van die restaurantjies op dié kort stukkie Bokkomlaan verbyry en “Velddrif CBD” op ’n bord sien. Dis eers as jy nader staan dat alles duidelik word: Dit staan nie vir die gebruiklike “Central Business District” nie, maar vir “Central Bokkom District”!

Velddrif uit, Laaiplek in. Laaiplek se bekendste slaghuis is die Weltevrede Slaghuis en teen die mure verkondig dit trots: “Betaal. Betaal se gat is kaal.” My geliefde lees proesend: “Koep. Koep se bek hang oep.”

Ons koop boerewors en volgens die gawe span agter die toonbank “die beste lamstjoppies op die Weskus”.

Met die koelboks tot barstens toe vol, druk ons deur Dwarskersbos toe.

Deli on Main is ’n lekker plekkie vir ontbyt en interessante brode om huis toe te neem.

Die eerste plekkie waar ons daar inloer, is Deli on Main – waar, soos een man my onlangs vertel het, “jy van snaakse-naam-brode tot brekfis met ’n twist” kan eet. En dan so half gemompel het: “Jy weet as die vroumense nou deesdae verjaar, bak hulle nie meer self nie, hulle gaan koek daar by die Deli saam.”

Heerlik!

Jaloesie? Ek wonder! In die venster en op die rakke pryk toekennings van KFM-radiostasie se Beste van die Kaap-kompetisie. Die deli het die afgelope paar jaar tweede en derde plekke verower en met die heerlike spyskaart, waarop die snoek springrolls my oog vang, is dit ook geen wonder die plek is volgepak nie.

John en Vanessa Woudberg het van hul bure se olywe ingelê en dis groot gunstelinge op die dorp. Ek koop ’n potjie of twee by Die See Kaia, waar allerhande interessanthede in hul klein winkeltjie te koop is.

Ons moet egter eers gaan afpak by ons selfsorg-akkommodasie, Noetzie, want die vleis, koffie, kaas en joghurt moet in die yskas kom. Ons koop wel ’n “snaakse-naam-brood” en vars tamaties voor ons aanry.

André Potgieter se tuisgemaakte brandrissiesous is legendaries en word regoor die land gekoerier. Ons is gelukkig om ’n botteltjie of drie te koop.

Die huisie is ruim en lig en het alles wat ons nodig het. Die yskas is gou stampvol, die wyn kry asem sonder die kurk en die toonbank met sy stoele om is die ideale kuierplek. Net voor ons die vuur aansteek, gaan stap ons op die strand, ’n klipgooi weg, om die paar uur se sit van die huis af tot hier uit ons stywe bene te stap.

Twee strandlopertjies speel aan-aan met die branders.

Dis daardie “wêlakepêla, jy kan my nie vang nie”-houding van wegdraf van die branders en dan skielik stop, omdraai en agter die terugtrekkende waters aanhardloop om in die nat sand vir iets te ete te pik.

Een van die waarhede wat jou op die Weskus begroet.

’n Kwikkie stap tussen die bossies met insekte in sy bekkie, glad nie gepla deur ons teenwoordigheid nie. Daar is ’n nessie iewers met oopbek-babas vir wie daardie insekte so styf ingepas word.

Ons gaan stap elke oggend en elke aand op die strand wat ’n katspoegie van ons verblyf is.

Die klank wat die uitrollende water oor die oop mosselskulpe op die strand maak, is ’n lae geroggel, amper ’n gerusstellende gesels.

’n Vrou sit op een van die bankies op die strand, ’n ander een stap met drie worshondjies, terwyl die son goue strale oor die sand gooi. Slakkepas inderdaad!

Die mis kom vroegaand ingerol en dis die koue wat ons na die warm vuurtjie in ons binnebraai dryf.

Die volgende oggend is luilekker. Ons het darem eers weer op die strand gaan stap voor koffie en ontbyt.

Jimmy en Louise Basson, eienaars van Die See Kaia

Dis met middagete by Die See Kaia dat eienaars Jimmy en Louise Basson by ons tafel kom uitvind hoe dit gaan en van hul spesialiteite vertel.

Wie se mond water dan nou nie as jy hierdie mooie melkskommel van Louise by Die See Kaia sien nie?

Dis Jimmy wat vertel van die slakke-ontwerp vir die uitbreiding oorkant die pad. Die dorp is blykbaar vervuil van die klein wit slakkies so eie aan die Weskus en omdat almal hier stadiger wil leef, is al dié hulde aan die skulpdiertjie glad nie onvanpas nie.

Skilpaaie word oral gehuldig.

Dis egter al die skilpadbordjies wat my selfs meer fassineer as die slakke. Louise vertel hier is hope skilpaaie in die veld en tussen die huise. Dis deel van jou “paspoort” as inwoner van die dorp om stadiger te ry, op die uitkyk vir skilpaaie te wees en as jy een in die pad sien, te stop en hulle langs die pad neer te sit. “Altyd in die rigting waarheen hulle op pad is, anders draai hulle net om en kruis weer die pad!” vertel sy.

Ek hoor ook by hulle van die oorsprong van die naam “Dwarskersbos”, want dis nogal ’n tongknoper as jou moedertaal nie Afrikaans is nie.

Blykbaar is die kersbos deel van die fynbosfamilie en baie algemeen hier op die Weskus. Weens die ongenaakbare suidoosterwind, wat sommige tye van die jaar bitter min kans gee vir windlose dae, staan die kersbosse later so skeef-skeep en vandaar die plaaslike mense van toentertyd se naam van “Dwarskersbos”.

Ons hoor egter by iemand anders by die tafel langsaan die baviaanskers (Euclea polyandra) is ’n meerjarige struik en deel van die Ebenaceae-familie. Die plant is endemies aan die Oos- en die Wes-Kaap en is deel van die fynbosbioom. Die struik word ook bobbejaanbessiebos, bobbejaankers, dwaaskers, dwarskers en kersbos genoem. Hoe ook al, dis lekker hier, dwarskerse of nie!

Iemand se sin vir humor staan in die veld vir almal wat verbyry, om te geniet.

Nie ver anderkant die afdraai na ons verblyf nie, is glo die beste plek om met jou 4x4 in die duine te gaan speel. Ons het nie ’n 4x4 nie, maar stap strandlangs soontoe.

Die son begin sak oor die baai en die natuur se reuse-verfkwas verf stroke geel, oranje, pienk en blou teen die lug. Daar sit honderde duikers en paartjies swarttobies met hul rooi bekkies en rooi bene op die lang wit strand.

Dit is ons pas!

Ons is alleen daar en sien die sandpad langs die strand waar jy op die sand mag ry. Een voertuig speel daar in die duine en kort-kort hoor jy ’n gilletjie van binne die kajuit as die kar erg swaai of sand opskop. Geen slakkepas nie, maar voorwaar die rustiger lewe as jy kans het om sorgeloos in die duine te gaan baljaar.

Drie dae later is ons goed deel van dié slakkepas en heel onwillig om terug te keer huis toe. Maar die windjie kom op en ek is nie lus om dwars gewaai te word nie!

Gaan die son op enige ander plek so mooi onder soos in die Weskus?

Kitsfeite:
  • Die dorpie is ’n lekker stopplek as jy in die blomseisoen wil gaan blomme kyk en met ’n ruim karavaanpark en verskeie vakansiehuisies beskikbaar, net die plek vir ’n sorgelose afpak. Die meeste huise het nie eers hoë heinings nie en almal lig ’n hand in ’n wuif as hulle verbyry en as hulle te voet is, is daar gewoonlik ’n paar vriendelike woorde.
  • Dwarskersbos is 171 km via die R27 van Kaapstad en 97,2 km via die R365 van Lambertsbaai.
  • Bespreek by Noetzie deur LekkeSlaap of Airbnb. Die huisie het alles wat jy mag benodig, bring net kos en drank en hout.

Foto’s: Clifford Roberts

Lees ook:

Blomtyd in die Weskus Nasionale Park

Clos Malverne: Oos, wes, tuis nie bes in hierdie geval

Porto, waar port nog port mag wees

Newtown: Voel die hartklop van Afrika

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top