
Die voormalige ondergrondse hoofkwartier van die Japannese vloot, waar die Japannese desperaat geveg het tot die einde van die Okinawa-aanslag op 22 Junie.
- Foto’s: Clifford Roberts en verskaf
Die gebeure van die Tweede Wêreldoorlog word dikwels net in boeke en flieks en dokumentêre films aan mens ontbloot. Dit het soms van jou vriende en familie persoonlik geraak. Jy lees daagliks van die konflik tussen Suid- en Noord-Korea en iewers in jou geestesoog is daardie lande op ’n ander planeet.
Maar dan staan jy eendag danksy ’n bootvaart tussen die Japannese eilande op die drumpel van dié gebeure en die nagevolge ruk jou 80 jaar later asof jy dit self ervaar het.
Dis op ’n skeepsvaart oor die Oos-Chinese See van 13 dae op die luukse Norwegian Spirit waar jou ondervinding begin: Koreaanse en Japannese oorlogsveterane staan op die dek en kyk hoe die eilande naderkom. Hul oë waterig. Ander ouer passasiers wat weet hoe groot dié krom ooms se opoffering destyds was, kom skud eerbiedig blad.
Ons is baie opgewonde om die geskiedenis eerstehands te ervaar: die Slag van Okinawa en Hirosjima. Maar ander aan boord gaan nie op die spore van geskiedenis terugstap nie. Sommige kom die tropiese eilande met wit strande geniet; die pragtige uitsigte oor vulkaniese eilandjies; die lekker tee en kos uit die oseaan; die ondergrondse vulkaniese tonnels of pottebakkery waarvoor die streek bekend is.

Bo en onder: Ons het in Seoel in Suid-Korea by die Incheon-skeepsvaartterminaal opgeklim.
Ons het ’n pragtige kamer met ’n balkon, ’n Stateroom op die 11de dek. Ons het in Seoel in Suid-Korea by die Incheon-skeepsvaartterminaal opgeklim. Soggens vroeg kyk ons van ons balkon uit oor die nuwe hawe waar ons vasgemeer het; saans groet ons die stadsliggies op pad na die volgende hawe.
Oor die 13 dae vaart word daar by Suid-Korea se grootste eiland, Jeju, aangedoen; daarna by die Japannese eilande en hoof-eiland, waaronder eers Ishigaki, dan Naha, Hirosjima, Osaka, Nagoja en Shimizu, voor die skip vroegoggend op die 13de oggend in Tokio-hawe arriveer.
Ons roep Korea vaarwel en maak gereed om ver suid te vaar, sodat ons die Japannese eilande van die suidelikste een kan verken, voor ons uiteindelik in Tokio eindig.
Jy kan die dae op die skip so vol pak as waarvoor jy kans sien: Elke aand word die skeepskoerantjie, Freestyle Daily, langs jou kamerdeur ingeskuif. Daarin is die volgende dag se aktiwiteite aan boord en uitstappies aan wal. As jy aan boord bly, het jy verskeie eet-opsies, verskeie swembaddens – warm en koud, borrels of nie – tot jou beskikking.

Daar is verskeie swembaddens aan boord en hierdie een wat net vir volwassenes is, was ons gunsteling.
Aktiwiteite sluit van lyndans- of kameraklasse tot verfklasse, Bingo, tot kunsveilings of soesjidemonstrasies in. Jy kan selfs leer hoe om vrugte in pragtige kunswerke te kerf of jou vel te versorg. As jy net langs die swembad wil sit en lees, in die biblioteek saam met vriende wil kaart speel, of wynproe sal niemand raas nie.
Jy maak gou vriende aan boord en dis lekker om saans mooi aan te trek vir drankies voor ete saam met vriende, en dan saam koers te kies na een of ander vertoning. Daar is musiek, dans, Karaoke, kompetisies, komedie en vele meer. Norwegian Cruise Line is bekend vir hul topklasvermaak.

In die agtergrond is Star Bucks en hier in die skip se atrium gebeur allerhande lekker speletjies, vasvra en demonstrasies.
By elke kusdorp is daar verskeie uitstappies vir gaste beskikbaar. Almal val in groepe in, kry ’n plakkertjie met hul bus se nommer op en dan begin die landavontuur. Jy kan ook elke hawestad op jou eie verken, solank jy net saans betyds terug is voor die skip vertrek.
Ishigaki is ’n klein tropiese eiland en die verste suid van alle Japannese eilande. Ons verken die dorpie op ons eie. Met ons swemklere in ons rugsakke, kies ons koers na die Torinji- en Gongen-do-tempels wat uit 1614 dateer en eersgenoemde wat die eerste Boeddhistiese tempel in die Yaeyama-streek was. Gongen-do, ’n Sjinto- heilige plek (shrine), is na die 1771-tsunami herbou. Die vrede omvou jou daar onder die ou bome terwyl mense van regoor die wêreld hul dank kom betuig oor die goeie lewe wat hulle lei. Ná ’n lekker middagete by die ondergrondse kosmarkie – Ishigaki-beesvleis met noedels in ’n heerlike deurskynende sop en ’n yskoue Orion The Draft, ’n bier eie aan die Okinawa-eilande – is ons strand toe vir seelafenis in die kobaltblou branders.
Naha is ons volgende hawestad en hier heers groot opgewondenheid vir vele Amerikaanse gaste wat wil hulde bring aan oupas, pa’s en broers wat hier in die Slag van Okinawa geveg het. Dit het amptelik op 1 April 1945 begin en hier het die Amerikaanse weermag en die mariene korps se aanslag op die imperialistiese Japannese weermag vir bykans drie maande gewoed. Die Slag van Okinawa word steeds beskryf as die Tweede Wêreldoorlog se grootste amfibiese aanslag in die Stille Oseaan.
.......
Okinawa het ons die oorlogvuurdoop gegee. Jy voel minder broos vir die daguitstappie na Hirosjima, maar weet tog dat dit ’n somber dag gaan wees. Somber maar noodsaaklik, want as ons nie weet watter onmenslikhede die oorlog bring nie, kan ons nie leer nie.
.......
Die daguitstappie bestaan uit drie komponente: die voormalige Himeyuri-skool wat in ’n museum omskep is; die vredespark en -monument; en die voormalige ondergrondse hoofkwartier van die Japannese vloot, waar die Japannese desperaat geveg het tot die einde van die Okinawa-aanslag op 22 Junie. Jong Japannese seuns is ingespan as soldate omdat die Japannese nie genoeg soldate gehad het nie en skoolmeisies moes in ondergrondse tonnels as verpleegsters werk. Die aakligheid van die oorlog lê lank nadat jy die muwwerige tonnels verlaat het nog in jou geheue.

Die pragtige tuin wat jy voor die Hirosjima-museum besoek, bring ’n bietjie vrede voor die verskrikking wat wag.
Okinawa het ons die oorlogvuurdoop gegee. Jy voel minder broos vir die daguitstappie na Hirosjima, maar weet tog dat dit ’n somber dag gaan wees. Somber maar noodsaaklik, want as ons nie weet watter onmenslikhede die oorlog bring nie, kan ons nie leer nie.
Die besoek begin by ’n pragtige Japannese tuin, om ons siele tot rus te bring, verduidelik die gids. Sy weet Okinawa was uitmergelend en daarom die besluit om vir ’n uur of wat vroegoggend in die Shukkei-en-tuin te wandel. Die enigste oorblywende boom wat die atoombom oorleef het, staan windskeef langs die pragtige meer. Windskeef maar trots, fluister die gids naby my, toe sy verbystap. Ons stap oor klein klipbruggies, langs bonsais verby, sit onder gemanikuurde bome en word net stil.

Die Genbaku Dome, ’n geraamte van die praggebou wat in 1915 opgerig is op die walle van die Ota-rivier by die samevloeiing van die Hankawa- en Motiyasu-rivier. Dit was die teiken van die atoombom wat op 6 Augustus 1945 op die stad laat val is.
Hirosjima se museumbesoek bestaan ook uit drie dele: die Genbaku Dome, ’n geraamte van die praggebou wat in 1915 opgerig is op die walle van die Ota-rivier by die samevloeiing van die Hankawa- en Motiyasu-rivier. Dit was die teiken van die atoombom wat op 6 Augustus 1945 op die stad laat val is. Dan stap jy langs die rivier af, oor die Mtoyasu-brug vanwaar jy die koepel in die verte sien en voor jou, die kinder-vredesmonument. Dit lyk soos ’n reuse- krapagtige geraamte en heelbo staan ’n dogtertjie met uitgestrekte arms en ’n raamwerk van ’n voël word op haar kop en oop palms gestut. Dis Sadako Sasaki en die Origami-kraanvoël wat sy gevou het. Die monument is opgerig vir haar en die derduisende ander kinderslagoffers van die bom. Dan stap jy verby die vredesvlam wat ononderbroke brand sedert dit in 1964 aangesteek is. Dit sal aanhou brand totdat alle kernbomme op die planeet vernietig is en die planeet vry is van die bedreiging van kernvernietiging, vertel die gids.

As jy die Mtoyasu-brug oorgesteek het, staan jy voor die kinder-vredesmonument. Dit lyk soos ’n reuse- krapagtige geraamte en heelbo staan ’n dogtertjie met uitgestrekte arms en ’n raamwerk van ’n voël word op haar kop en oop palms gestut.
Die laaste deel van die besoek is na die vredesgedenkmuseum wat 10 jaar nadat die bom geval het, geopen is. Hier word die oorblyfsels van onskuldige mense se lewens ’n stille aanklag. Die gange is swart geverf, die ligte is dof en die beklemming om jou hart, groot. ’n Video illustreer hoe die loods van die Boeing B-29 Superfortress-bomwerper, wat die bom laat val het, oor die stad gevlieg het; sy uitsig en hoe die bom val en die stad in millisekondes platvee. Meer as 240 000 mense is in die twee atoombomaanvalle (Nagasaki, drie dae later) dood. Derduisende is in die komende jare weens radiasieblootstelling dood.

Die vredesvlam wat ononderbroke brand sedert dit in 1964 aangesteek is.
In Osaka staan die skip vir twee dae oor. Ons wil geen uitstappies doen nie. Die laaste paar dae se roerende besoeke aan geskiedkundige plekke het diep getref. Mens voel broos.
Ons slaap laat, eet lekker ontbyt op die boonste dek en gaan verken dan die stad. Dis ’n mengelmoes van oud en nuut, kultuur en kuns en ons doen ’n kort bootvaart om na die stad se bekende liggies te kyk. Groot uithangborde weerkaats op die rivier.

Osaka-kasteel is vol interessante Japannese geskiedenis wat duisende jare terugstrek en bied pragtige uitsigte oor die stad.

’n Jong Japannese meisie in tradisionele drag kom poseer by die kasteel.
Die tweede dag stap ons die honderde trappies binne en buite die Osaka-kasteel en van die boonste vloer kyk ons oor die stad uit. Die windjie roer jou kuif en die atmosfeer is lig en vrolik. Almal geniet die interessante Japannese geskiedenis wat in die kasteel uitgebeeld word en duisende jare terugstrek.
Toe ons by Nagoja vasmeer, besluit ons dis ons kans om die skip vir onsself te hê. Ons lees heeloggend by die volwasseswembad waar geen kinders, geen harde musiek en geen speletjies toegelaat word nie. Ná middagete is ons spa toe vir ’n lekker lyfmassering. Mens besef nie hoe ver jy elke dag stap nie!

Die skip staan vir twee dae in Osaka oor en ons gebruik een dag om die stad op ons eie te verken.

Die Fuji-Hakone-Izu Nasionale Park in die hartjie van ’n UNESCO Wêrelderfenisgebied se ou bome hou net langs die strand wag.
Die laaste uitstappie op die skeepsvaart is by Shimizu, vanwaar die Fuji-berg vir jou wink. Jy bekyk die berg van verskeie punte: eers van die Nihondaira-park uitkykpunt, wat ’n pragtige uitsig oor Suruga-baai en die majestueuse berg sowat 45 km verder bied; dan ry jy na die Fuji-Hakone-Izu Nasionale Park in die hartjie van ’n UNESCO Wêrelderfenisgebied en soos jy ry, kry jy kort-kort ’n kykie van die berg se piek en uiteindelik stap jy deur die heilige dennelaning, voor jy op die swart klipstrand in totale verwondering na haar staar.

Die Nihondaira-park het ’n kabelkarretjie na ’n heilige tempel.
Sy het heeldag ’n wit gebreide mus opgehad, maar vir ’n paar heilige minute lig sy haar mus, swaai ’n wolkserp om haar nek en laat toe dat ons haar afneem.
......
Geskiedenis en emmerlys gekombineer en dan is die skeepsvaart ook ’n hoogtepunt op sy eie. Mens is skoon hartseer as jy die skip vaarwel toeroep!
......
Geskiedenis en emmerlys gekombineer en dan is die skeepsvaart ook ’n hoogtepunt op sy eie. Mens is skoon hartseer as jy die skip vaarwel toeroep!

Die laaste uitstappie op die skeepsvaart is by Shimizu, vanwaar die Fuji-berg vir jou wink. Sy het heeldag ’n wit gebreide mus opgehad, maar vir ’n paar heilige minute lig sy haar mus, swaai ’n wolkserp om haar nek en laat toe dat ons haar afneem.
Kitsfeite
- Vir meer inligting oor die Asië-roetes aan boord NCL vir die res van 2025 – ’n groot jaar vir die 80ste herdenking van die einde van die Tweede Wêreldoorlog – besoek www.ncl.com.
- As jy eerder die Afrika-, Amerikaanse, Karibiese, Skandinawiese of Mediterreense kuslyne wil verken, bied Norwegian Cruise Line talle roete-opsies aan, wat wissel van drie dae tot 21 dae, maar jy kan ook langer vaar as jy roetes aanmekaarlas. Daar is meer as 400 bestemmings oor sewe kontinente en 52 vertrekhawens; altesaam 19 luukse skepe in die vloot.

Mens is skoon hartseer as jy die skip na 13 dae verlaat en dit van Tokio wegseil.