Gaan verken die wonderlike oud en nuut van Dubai

  • 0

Dis wonderlik om te sien hoe die twee dele van die stad, oud en nuut, bymekaar inskakel. (Foto: Department of Economy and Tourism in Dubai)

Dis danksy ’n vriendin se seun se vertellinge oor die Dubai Esports en Aanlynspeletjiesfees wat van 25 April tot 11 Mei gehou word en waarheen hy graag wil gaan, dat ons besluit om op te lees oor wat alles in die stad te sien is. Ons vlieg met Emirates en staan vir ’n dag en ’n half oor en kuier in Dubai, voor ons aanskuif na die stad se meer besadigde buurman, Abu Dhabi, skryf Maryke Roberts.

Die kort video op ons Emirates-vlug vroegoggend het verskeie hoogtepunte uitgelig, maar omdat ons tyd beperk is, het ons ’n toer met Sun Tours bespreek om soveel moontlik te kan sien.

Om in die stad te reis terwyl almal vir hierdie gebeurtenis voorberei, voel asof die opgewondenheid van elke nuwe bouprojek, elke nuwe park wat aangeplant word, so ongesiens in jou ledemate kom sit.

Die Dubai Frame is ’n uitkykpunt, museum en monument in Zabeel Park. Dis die grootste raam in die wêreld en is 150,24 meter hoog en 95,53 meter breed. (Foto: Department of Economy and Tourism in Dubai)

Ons gids, Mohammed Atta, is ’n Egiptenaar wat sedert 2002 in Dubai woon en werk. Hy vra dat almal op die toer hulself en hul land van herkoms voorstel. Ons is werklik van elke uithoek van die aarde. “Dis presies wat Dubai is, ’n plek waar mense van regoor die aardbol saamkom en in vrede werk en woon. Hier is meer as 150 nasionaliteite saam. Die stad is 80 persent oorsese mense en 20 persent plaaslike inwoners. Die reëls is eenvoudig: Respekteer mense en respekteer die land se wette en jy is welkom,” vertel hy terwyl hy vinnig na die Emirates Opleidingsentrum langs die snelweg wys, wat in die vorm van ’n groot Boeing Airbus gebou is.

Hy draai om in sy sitplek voor langs die bestuurder en kyk om die beurt in elkeen se oë, voor hy sê: “Alles wat jy om jou sien, is in die laaste 53 jaar gebou, geplant en vermag.” Hy voeg by dat handel, eiendom en toerisme die stad se hoofbronne van inkomste is. Die feit dat jy geen belasting betaal, behalwe die vyf persent BTW nie, het natuurlik groot lokkrag.

Meer as 80 persent van die stad se water word uit seewater ontsout.

Smiddae wemel die strande van mense wat die dag se binne-wees kom afskud. (Foto: Department of Economy and Tourism in Dubai)

Hy wys ons die Dubai Trade Centre en sê 40 jaar gelede was dit die enigste gebou in dié area, die res was woestyn. Dis moeilik om te glo as jy na al die gevestigde buurte en geboue kyk. Dis hier waar die Dubai Esports en Aanlynspeletjiesfees gehou gaan word.

Daar is baie oe’s en aa’s toe ons by ’n gebou verbyry wat baie aan die boontjie-struktuur in Chicago, oftewel Cloud Gate deur Anish Kapoor, herinner. “Dis die Museum of the Future,” vertel Mohammed. Dit is die wêreld se grootste en opwindendste tuiste van toekomstige neigings en uitvindings. Die gebou is vol Arabiese skrif wat soos reuselinte om die rondings strek.

Die Museum of the Future is ’n indrukwekkende gebou van buite en binne en dit gaan die wêreld se grootste en opwindendste tuiste van toekomstige neigings en uitvindings wees. (Foto: Department of Economy and Tourism in Dubai)

Hy wys die rondings van die moltreinstasies uit en ek antwoord dat geen gebou hier nie ’n argitek se hart vinniger sal laat klop nie. Selfs iets so prakties soos ’n treinstasie moes ook mooi wees. “Dubai is nie verniet bekend vir sy argitektuur nie en met eiendom as een van die groot pilare waarop die stad se ekonomie berus, is dit te verstane.”

Kophou: Met sommige snelweë wat 16 bane het, moet jy mooi dink voor jy draai of reguit ry. (Foto: Clifford Roberts)

Een van die lekkerste maniere om die stad van ’n ander hoek te benader en by die mark te gaan kuier, is op een van die waterbootjies. (Foto: Department of Economy and Tourism in Dubai)

Hy voeg by dat die moltreinstelsel, wat op 9 September 2009 (9-9-9) net na die bekendstelling in minder as ses maande meer as 10 miljoen passasiers vervoer het, almal deur rekenaars beheer word en geen treindrywers het nie. Boonop het die mensgemaakte eilande van The Palms sy eie privaat treinstelsel en toe ons later daar verbyry, sien ek die snelweg en treinspoor se fondamente is in die vorm van boomstompe gebou. So ’n bietjie aweregse bouwerk in hierdie beton-oerwoud.

Oral langs die pad is reuseborde met die vorige sheikh of koning, Sheikh Zayed bin Sultan Al Nahyan, VAE-president van 1971 tot 2004, se foto op.

Ons klim uit by die nuwer moskee, Al Farooq Omar Bin Al Khattab, wat in 2005 voltooi is en op die Blou Moskee in Istanboel se planne geskoei is. Die luggie is heelwat koeler as wat ek verwag het, waarvoor ek dankbaar is, want woestynhitte is nie my gunsteling nie. Die moskee is in die rustige, luukse Jumeirah-woonbuurt geleë en dis heerlik om die stilte in te drink. ’n Pa en seun stap verby kafee toe; ’n jong man ry fiets en groet vriendelik.

Die nuwer Al Farooq Omar Bin Al Khattab-moskee naby Jumeirah-strand. (Foto: Clifford Roberts)

Ons stap vandaar om bene te rek en die vars lug te geniet. Mohammed vertel dat die reusehuise, waarvan heelwat soos hotelle of kantore lyk, baie aan oorsese mense wat hier werk, uitverhuur word. Net Dubai-burgers kan eiendom koop. “Sommige van hierdie huise word vir tot 150 000 Amerikaanse dollar per jaar verhuur.” Daar staan bote en Bentleys en Porche’e in die inritte en motorhuise en ek kan nie dink dat dié astronomiese huur regtig saak maak vir die inwoners nie ...

Ons ry in Umm Al Sheifstraat af, waar plastiese chirurge, haarsalonne, spa’s en tandartse in rye langs mekaar ingepak is. Elkeen se praktyk of besigheid groter en luukser as die vorige een. Die luukse motors voor in die parkering verdwerg amper ons toerbussie. Voor ons opdraai in Jumeirahweg, vang my oog ’n winkel waar ’n reuse-Spiderman-model op die dak sit. Hy lyk gereed om te spring. In die venster staan drie ander prenteboekhelde wat Hollywood nou al volksbesit gemaak het.

Die Jumeirah moskee is sekerlik die stad se bekendste en die een wat die meeste besoekers ontvang. (Foto: Department of Economy and Tourism in Dubai)

Ons stop by die Jumeirah Kunssentrum, maar hier mag geen foto’s geneem word nie. Ons gids daar wys ons die kerf- en weefwerk wat alles aan families behoort en waar kameelbeen, halfedelgesteentes, goud en silwer in oorvloed gebruik word. Hy sien die een vrou se frons op haar voorkop en voeg vinnig by dat die kamele almal aan natuurlike oorsake dood is.

Hy sê voorts dat die verskillende stene wat in hul borduurwerk gebruik word, almal verskillende astrologiese beskerming bring en dat elke huis een van die borduurwerk-palmbome het. Die een waarvan jy die meeste benodig, hetsy dit onder meer geluk, geld, gesondheid of kennis is, is die grootste op jou borduursel, wat in vloeibare goud gemaak word. “Hang die boom teen jou muur en jou hele familie is beskerm en van voorspoed gewaarborg,” verklaar hy.

Hy wys ons ’n paar en is baie trots op die Dubai-steen wat baie goed vir besigheid is. Die steen is ligpienk en amper deurskynend. Maar hy blaas gou die aftog toe hy sien dat nie een van ons platsak reisigers die geld het vir so ’n goue boom nie.

Die hotel wat soos ’n seiljag lyk, is pragtig teen sononder toe ons, ons tone in die water afkoel. (Foto: Clifford Roberts)

By Al Thanyanstraat is daar opgewondenheid in die bussie, nie net omdat die luukse Burj Al Arab-hotel voor ons pryk nie, maar ook omdat ons by die strand stop en Mohammed ons moeë lywe na die louwarm water aanpor. “Swem gerus, die windjie sal jou lekker afkoel,” gesels hy.

Ons stap lank op die strand, kyk hoe die son die lug goud verkleur. Die strand is ’n geroesemoes van gesinne wat kuier; verliefdes wat ingehaak in die goue gloed van sononder stap met hul voete in die vlakwater. ’n Man neem foto’s van sy meisie wat in ’n veelkleurige bikini poseer. Hulle trek soveel aandag dat mense later begin om hulle twee af te neem.

Die lewensreddershuisie met sy oulike gholfkarretjie langsaan is slaggereed, sou iemand uit die golwe gered moes word, en ek dink nie dis ’n slegte manier om jou brood te verdien nie.

Die hotel is amper so legendaries soos die hoogste toring, die Burj Khalifa. (Foto: Department of Economy and Tourism in Dubai)

As jy in die ouer gedeelte van die stad loop, kan jy eintlik enige plek in die wêreld wees. (Foto: Department of Economy and Tourism in Dubai)

Die wêreld se luuksstes, duurstes, hoogstes, mooistes is hier hotelle, woonstelle, oorde, akwariums. Jy kan in enige rigting draai en alles wat jou hart begeer, is daar, of dit nou ’n drankie op 500 meter in die lug is; onderdeur waterweë stap om seediere te bekyk; of fonteine te sien spuit op maat van musiek.

As die waterpark elders in die wêreld 15 glybane het, is hier dubbeld soveel. As die binnenshuise sneeupark se baan elders 50 meter hoog is, is dié by Ski Dubai 85 meter en 396 meter lank. As jy geld en tyd het, is dit heeltyd speeltyd hier.

By Atlantis The Palm, die legendariese oord deur Suid-Afrikaanse hotelbaas, Sol Kerzner, is daar ’n lang promenade wat my aan Seepunt herinner. Hier loop al wat leef en beef met die wind in hul hare, ’n dag se werk agter die rug en die polsende naglewe wat wag.

Die boomvorm-Palm Jumeirah-eiland is bekend vir sy luukse hotels, duur restaurante en asemrowende woonstelle. (Foto: Department of Economy and Tourism in Dubai)

Mohammed vertel dat daar drie palmeilande op drooggelegde grond beplan word. Jumeirah is die enigste een wat voltooi is. Die reusepalmbome is uit die ruimte sigbaar en huisves luukse woonstelle en hotelle en restaurante.

Skemer sak toe en die stad se liggies kom een vir een aan. Dit word ’n kleurespel op sy eie en selfs die snelweg waarop ons in die rigting van die Burj Khalifa, die wêreld se hoogste toring, ry, word ’n kunswerk in skakerings van geel en goud.

Die Esports-fees word tot 11 Mei by die World Trade Centre gehou.

By een stel verkeersligte sit ons vir ’n hele rukkie. Die bussie se vensters is almal oopgeskuif en almal in die bussie het effe ontwaak, of dalk net ontdooi jeens mekaar. Daar word opgewonde na landmerke gewys en ek moet lag toe daar by een halfgeboude gebou ’n voëlverskrikker uit strooi, kompleet met ’n geel hardehoed en rooi vlag, op die oop vloer waghou.

Grand Souq Deira: Die ou speserye- en snuisterymark is een van my gunstelingplekke. (Foto: Department of Economy and Tourism in Dubai)

Ons spoed voort op die 16 laan snelweg en Mohammed verduidelik dat ons nou na die ouer deel van die stad gaan om neute, lekkergoed en speserye te proe en te koop. Onderweg sien jy verskeie bote het liggies op wat aandetevaarte op The Creek aanbied.

Ek koop by die mark ook twee piepklein potjies saffraandraadjies van Iran, blykbaar die wêreld se beste.

Met kieste vol nougat, dadels en neute, kyk ons ’n uur later na die water-, musiek- en ligte-vertoning voor die Dubai Mall. Agter hou die Burj Khalifa wag. Die aandluggie is koel en die reusefontein se druppels beland op almal wat in die voorste rye al om die meer staan.

Jy kan die wêreld se beste speserye, neute en lekkergoed by die ou mark koop. (Foto: Clifford Roberts)

Toe ons laatnag by die hotel stop, is my broekspype nog nat van die seewater van ons sononderstap; my hare klam van die fonteinwater; en my voete vol seesand. My handsak bultend van pistasieneute met suurlemoen en nougat met Dubai-heuning. Dis ongelooflik om te dink dat ek soveel verskillende ervarings in een enkele dag kon geniet in ’n verwelkomende stad waar jou taal en kultuur en oortuigings deel van die hutspot word.

Kitsfeite

Lees ook:

Simposium poog om dialoog op Afrika-kontinent te bewerk

Hier respekteer almal mekaar

Openbare ruimtes word met kuns versier

Unieke uitstalling in Midde-Ooste fokus op Afrika-kuns

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top